vervang die filters in die masjiene nie gereeld genoeg nie, en sommige mans wat ’n wit tennisbroek ingestuur het, ontvang ’n gryswitte terug. Boonop word Hertzog se verbolgenheid aangevuur deur klagtes van mense dat hul klere nie betyds afgelewer word nie. Hulle maak planne dat Huberte die onderneming moet gaan bestuur, maar intussen het Rupert besluit om ’n nuwe loopbaan in Johannesburg te begin.
Volgens Hertzog het die droogskoonmakery goed betaal. “Maar mense wou nie geld sit in vuil wasgoed nie – jy kan net nie kapitaal kry daarvoor nie. Ons dog wel, hulle mag geld sit in drank. Ons koop toe ’n drankwinkel en sowaar, die eerste duisend pond wat ons kry, is van ’n dominee; hy het sy lewe lank teen die duiwel geveg en hy het toe sy duisend pond daarin gesit.”1
Danksy die winsgewendheid van Chemiese Reinigers word die aandele later verkoop aan Ons Eie Droogskoonmakers (OED) en Empire Dry Cleaners, wat aan Tommy Beckley en ene Van der Merwe van Johannesburg behoort het.
Met ’n terugblik merk Rupert op dat die woord “Chemies” minder gelukkig was – want mense stuur hul klere juis na droogskoonmakers om van chemiese stowwe ontslae te raak. Advertensies soos dié in Ons Reddingsdaad is dus vroeg ’n les vir ’n entrepreneur wat uiteindelik ook in die buiteland om sy gesofistikeerde bemarkingstegnieke en advertensieboodskappe bekend sou raak.
’n Beroep op sentiment is eweneens geen wenresep nie, soos ’n ruk daarna ook met ’n paar van sy tabakprodukte blyk. Hy let op dat die mededingers wat Chemiese Reinigers oorgeneem het, hul diens aan albei taalgroepe bied. Bowenal egter gee gehalte en dienslewering, ofte wel waarde vir geld, die deurslag vir ’n geslaagde sakeonderneming. Daarom sou dit ’n opperste stelreël in die Rembrandt Groep word: Die kliënt is koning!
Die droogskoonmakery verteenwoordig nogtans ’n begin wat geïnspireer is deur ’n droom én ysere wil om suksesvol te wees. Dikwels daarna sou Rupert ’n Vlaamse spreuk aanhaal: “Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg – die wil word self die weg.”
Hierdie wil word versterk deur die nasionalistiese en republikeinse ideale wat gedurende hierdie tyd onder Afrikaners aanwesig is. ’n Gepaardgaande poging om Afrikaners ekonomies op hul eie voete te laat staan, kry stukrag in hierdie tye – in sommige opsigte ’n voorloper van die swart bemagtiging wat in die jare negentig ná die African National Congress se bewindsoorname na vore sou tree, hoewel nie een wat op die oordrag van kapitaal met gunstige finansieringskemas of aandele-opsies berus het nie. Veral vind dit neerslag in die Reddingsdaadbond, ’n organisasie wat hom intensief vir ’n staanplek vir Afrikaners in die sakewêreld beywer, met die uitgesproke doel om alle Afrikaners tot ’n hegte eenheid saam te snoer ter bevordering van hul ekonomiese belange. Kapitaal moes vir Afrikanerondernemings gemobiliseer word.
In die atmosfeer wat in die oorlogsjare heers, word Rupert aangemoedig om hom by die RDB aan te sluit, onder andere deur sy vriend Daantjie Malan, seun van minister Charlie Malan van Humansdorp, wat toe in Johannesburg as prokureur by Van Wyk de Vries praktiseer.
Op uitnodiging van dr. Diederichs, wat die hoofleier van die RDB geword het, bedank Rupert gevolglik einde 1940 sy lektorspos in Pretoria. Hy staak sy studie, doktoraal sowel as in die regte en die handel, en roep die akademiese lewe vaarwel toe om hom met huitjie en muitjie in die sakelewe te begewe. Voortaan sou sy leerskool die harde praktyk wees.
Op 24-jarige leeftyd begin Rupert as hoof van die RDB se kleinsakeafdeling werk.
Die bond spruit uit Kestell se jare lange oproepe om die Afrikanervolk tot “’n ekonomiese reddingsdaad” te wek. Sy herhaalde pleidooie val oplaas met die eeufeesviering van die Groot Trek in 1938 op vrugbare teelaarde en word die regstreekse aanleiding tot die Eerste Ekonomiese Volkskongres ’n jaar daarna. Dié kongres lewer ’n deurslaggewende bydrae om die Afrikaner – die eertydse trekker, togryer, boer en landskoonmaker wat in die professies hoofsaaklik as onderwyser of predikant verteenwoordig was – tot die rol van sakeondernemer te beweeg.
Kestell, veldprediker in die Anglo-Boereoorlog, moderator van die Vrystaatse NG Kerk en rektor van die Grey-Universiteitskollege in Bloemfontein, was die seun van ’n Britse immigrant met Afrikaanse afstammelinge, lid van ’n familie wat hul wortels in Cornwall, Engeland, gehad het. Dié legendariese figuur speel veral in die jare dertig, toe ernstige kommer oor die armoede onder die Afrikaners heers, ’n allerbelangrike rol.
Die hartverskeurende armoede is die kumulatiewe gevolg van die verwoesting in die Anglo-Boereoorlog, toe honderde plase afgebrand en veestapels verwoes is, die Groot Droogte en die Depressie. “Terwyl buitelandse ondernemers met meerdere tegniese en bestuurskennis rykdomme uit Suid-Afrikaanse goud en diamante opgestapel het, het die Afrikaner ’n vreemdeling, en in baie gevalle ’n sukkelende vreemdeling, in sy eie land geword. Die stedelike, kapitalistiese struktuur wat uit die mynbou gebore is, het die oorhand oor die Boer gekry.” As werkgewer kon die Afrikaner hom in hierdie stadium hoofsaaklik in sy tradisionele bedryf, die boerdery, laat geld; in die stede waarheen honderde getrek het, was hy grotendeels werknemer.2
Van heelparty Engelssprekendes was daar bitter min empatie vir die nood van die arm Afrikaners. Die skryfster M.E. Rothman (M.E.R.) rapporteer hoe sir Carruthers Beattie, visekanselier van die Universiteit van Kaapstad, ongeërg aan ’n openbare vergadering vertel het armblankes is “intellektueel agterlik en dat daar iets inherents in die Afrikaners is wat veroorsaak dat die verskynsel (van armblankes) in hulle geval sulke verontrustende afmetinge aanneem”.3
Tog bevind die Carnegiekommissie in 1932 dat die intelligensievlak van die armblankes geensins van dié van die res van die bevolking verskil nie. Die kommissie se raming van die getal armblankes is sowat 300 000 uit ’n wit bevolking van sowat 1 800 000.
In 1936, so bereken die Stellenbosse ekonoom prof. C.G.W. Schumann, bedra die inkomste per capita van Afrikaners £86 teenoor £142 vir ander blankes. Die Engelse voorsprong was aansienlik.
’n Artikel in Wapenskou oor die Reddingsdaadbeweging deur Diederichs, in daardie stadium hoogleraar in staatswetenskappe en wysbegeerte in Bloemfontein, verwoord die nood onder die armblankes: “Hierdie ekonomiese swakte van die Afrikaner het oral noodlottig ingewerk – op die godsdienstige, kulturele, maatskaplike lewe. Daar is geen terrein van ons volkslewe waar die armoede hom nie terdeë laat geld het nie. Dis die armoede wat derduisende van hul kerk vervreem. Dis die armoede wat duisende onbevoeg maak om ons kultuurgoedere behoorlik te kan geniet om nie eens te praat van produksie op kultuurgebied nie. Dis die armoede wat gesinne uitmekaar skeur, duisende na die agterbuurte van die stede laat trek, misdaad en allerlei sosiale euwels bevorder. Dis die ekonomiese agterstand wat ons volk tot ’n volk van werknemers maak, afhanklik vir hul daaglikse brood van andere. En daardeur is dit die wortel van ’n afhanklikheidsin en minderwaardigheidsgevoel wat invreet in die siel van ons volk.”
Hy som sy betoog om die volk op te hef op: “Kortom, die Afrikaner moet ook besitter en beheerder word in die handel, die nywerheid, die bankwese ensovoorts. Hy moet vir hom ’n eie staanplek verower in die ekonomiese lewe van ons land.”
Kestell het hom die lot van die duisende armlastige Afrikaners sterk aangetrek. Hy sien die oplossing van die armblankeprobleem as “Saamwerk, Helpmekaar, Redmekaar”; regeringshulp moet alleen as tydelik beskou word.
Met die aankoms van die feeswaens in Oktober 1938 in Bloemfontein pleit Kestell voor ’n skare van 20 000 dat tot “’n aanhoudende reddingsdaad” oorgegaan moet word. Sy wekroep oefen ’n groot invloed uit op Rupert, wat daarna meermale vermeld het dat ’n kerkman hom tot die sakelewe gemotiveer het.
Só ’n groot invloed was Kestell se besieling dat Rupert baie jare later voor ’n oorwegend swart gehoor in KwaZulu-Natal in ’n uit-die-vuis-repliek op ’n toespraak van hoofman Mangosuthu Buthelezi steeds daarna verwys. “Ek het hom en al die Zoeloeleiers daar teenwoordig daaraan herinner dat my eie mense veertig jaar gelede vir ’n derde armblankes was. Maar dat ons onsself aan ons eie skoenveters uit die modder gelig het en dat ons vandag bereid is om hulle te help om hulleself te help.”
Dit is Kestell se denke wat hier herroep is, maar ook kom Rupert se siening van deelgenootskap sterk na vore.
Aan