internasionale sakeryk van miljarde sou groei.
Welmenende vriende beskou dit as dwaasheid dat Rupert met net £10 in sy sak, en feitlik eiehandig, die gedugte tabakbedryf aanpak, wat vir 90% deur United Tobacco Company (UTC) oorheers word. Sommige reis van ver om hom van die plan te laat afsien. Mense soos die joernalis Willie Muller van Port Elizabeth, ’n medestudent in Pretoria, wou van hom weet “wat op die aarde hy nou aanvang”.6
Rupert is op aandrang van Jan de Kock, hoofbestuurder van die Magaliesbergse Tabakkwekersvereniging (MTKV), deur Stals genader om die nuwe taak te onderneem.
De Kock, wat die MTKV tot ’n modelkoöperasie vir tabakboere van Rustenburg en omgewing help uitbou het, was ’n sleutelfiguur in die oprigting van die Tabakbeheerraad, wat die bemarking van tabak op die voordeligste wyse vir tabakplanters en -verbruikers wou reguleer.
Hierdie dinamiese ondernemer in die tabakbedryf, ook die hoof van die sambreelliggaam van tien koöperasies, die Sentrale Koöperatiewe Tabakmaatskappy, het so ’n hoë dunk van Rupert gehad dat hy met niemand anders as die gewese jong Tukkiedosent by Voorbrand sake wou doen nie. Hy grond sy standpunt daarop dat die tabakbedryf een van die moeilikstes is om ’n greep op te kry, en as dit nie iemand met karakter en deursettingsvermoë is wat die taak onderneem nie, gaan ’n volgende Afrikaner dit nie probeer doen nie.
’n Hegte vriendskap ontstaan tussen die twee nadat Rupert die bestuursverantwoordelikhede van Voorbrand oorgeneem het. De Kock stel ook een van MKTV se jong manne, Corrie Coetzee, ’n gradeerder, tot beskikking van Voorbrand om met die vervaardiging van pyptabak te help.
Die nuwe maatskappy pak die stryd aan met ’n aantal lede van die direksie wat diep spore in die Suid-Afrikaanse sakelewe sou trap. Dit dui boonop ’n tendens aan wat latere, ook buitelandse direksies van die Rembrandt Groep kenmerk: Rupert kon knap medestanders om hom saamtrek.
Die eerste voorsitter van Voorbrand se direksie is dr. Stals, wat in 1948 as minister van onderwys, gesondheid en volkswelsyn in die Malanregering aangestel is voordat hy in 1951 oorlede is. Een van die eerste direkteure is dr. Diederichs, later minister van finansies en uiteindelik staatspresident, wat Stals ná sy kabinetsaanstelling in 1948 as voorsitter van Rembrandt sou opvolg. Kopersbond het twee verteenwoordigende direkteure, Barend J. Pienaar, ’n ruk lank konsul van Suid-Afrika in Milaan, en Johannes Jacobus Fouché. Ander direkteure is Ivan Makepeace Lombard, bekende Afrikaanse kultuurfiguur aan die Rand, wat die naam Voorbrand uitgedink het; William Bedford Coetzer, die geoktrooieerde rekenmeester wat later voorsitter van Federale Mynbou en Gencor sowel as direkteur van tot sestig maatskappye was; dr. Etienne Rousseau, later voorsitter van Sasol, wat ’n wêreldleier met die grootskaalse vervaardiging van olie uit steenkool geword het; en C.C. (Oupa) Kriel van Wolgroeiers Afslaers (WGA). As sekretaris en publieke amptenaar dien Anton Rupert.
Op versoek van Diederichs bly hou Rupert tot einde Januarie 1942 toesig oor die RDB se kantoor. Sy salaris by Voorbrand word vasgestel op £500 per jaar, £41 13s 4d per maand. En twee aandele in die maatskappy word aan hom toegeken.
’n Ruk ná die stigting probeer een van Voorbrand se direkteure, Fouché, om Rupert na die kapitaalkragtiger Kopersbond weg te lok. Hy bied hom ’n hoër salaris aan, maar Rupert wys die aanbod van die groothandelsmaatskappy, wat naderhand ondergegaan het, van die hand.
In die vroeë stadium van Rupert se toetrede tot die tabakbedryf is daar reeds vier ander sigaretmaatskappye in die Suid-Afrikaanse tabakmark, wat ’n jaarlikse wins van £2 miljoen oplewer, maar waarin ’n sestigtal sigaretsoorte om markaandeel meeding. Tabakboere kla steen en been dat hulle swaar kry weens die wurggreep wat prysvasstelling op die bedryf uitoefen. Daar is bereken dat die netto wins wat UTC, ’n filiaal van British-American Tobacco, jaarliks aan sy oorsese moedermaatskappy oorbetaal het, méér beloop het as die totale jaarlikse bruto inkomste van almal wat die tabakblaar hanteer, onder wie die boere, meesal Afrikaners.
Die situasie roep om sterker mededinging, en Rupert sien ’n geleentheid daarin. Die Depressie en die Tweede Wêreldoorlog het dinge op ekonomiese gebied weliswaar baie bemoeilik. Mense was arm en geld was min. Hy redeneer desondanks tereg dat mense sekere basiese behoeftes het, en daarin moet voorsien word. Tabakverbruik is een hiervan. Dit was nie iets wat deur die oorlog beïnvloed is nie.
Hy begin ’n studie maak van maatskappye wat depressiebestand is en bevind dat tabakmaatskappye wêreldwyd van die heel beste vaar. Onder hulle is die grootstes in die VSA soos R.J. Reynolds, Lorillard, American Tobacco en Liggett & Myers. Hy bestudeer ook maatskappye in Spanje, Italië, Japan en China. In Frankryk besit die staatsmonopolie Seita bekende handelsmerke soos Gauloise en Gitanes. In Brittanje is daar onder meer Players en British American Tobacco asook Imperial Tobacco, wie se voorsitter, lord Winterstoke, hoof van die Willsfamilie, in 1901 die rykste man in Brittanje was op Cecil John Rhodes na, wat sy fortuin in Suid-Afrika gemaak het.
In Voorbrand se tabakfabriek bevind Rupert hom in die oorlogsjare in die middestad van Johannesburg. Die Voorbrand Tabakmaatskappy se standplaas is ’n gehuurde perseel in Kommissarisstraat 200, tussen Mooi- en Goudstraat, digby His Majesty’s Theatre en die destydse radiokorporasie, dus naby die latere Carltonsentrum.
Die nuwe maatskappy kon sonder geld of toerusting geen sigarette, die groot geldverdiener, vervaardig nie en spits hom aanvanklik op pyptabak toe. In die oorlogsjare het valutabeheer en invoerbeperkings boonop die inbring van sigaretmasjiene en verpakkingsmateriaal verbied.
Voorbrand ontvang as nuwe toetreder tot die tabakvervaardigingsbedryf ’n maksimum allokasie van 1% van die Tabakbeheerraad, en dit is vir pyp-, snuif- en sigarettabak. Die sigarettabak moes ’n hele paar jaar opgeberg word terwyl slegs die pyptabak verwerk is. Dit is eers sewe jaar later gebruik toe Rembrandt oplaas in 1948 die Suid-Afrikaanse sigaretmark betree.
Die “Afrikaanse indringer” in die tabakbedryf kom te staan teen gedugte mededinging en leer ken die harde werklikheid, onder meer fluisterveldtogte en kwaadwillige gerugte.
Reeds in 1941, kort nadat hulle met die klein tabakfabriek begin het, ontvang Rupert-hulle ook ’n aansienlike aanbod van UTC se grootbaas, M.E. Risien, om uit te verkoop – vir £50 000, op voorwaarde dat Voorbrand onderneem om nie sigarette, die lonendste produk, te maak nie. Klaarblyklik sou dit UTC se reeds oorheersende posisie in die mark verder versterk. Voorbrand wys die aanbod van die hand, want Stals reageer pront: “Ons verkoop nie ons eersgeboortereg nie.”
Rupert, hoewel altyd hoflik en bedagsaam, toon vroeg ook die staal wat sy werknemers sowel as mededingers mettertyd met ontsag vervul. Dit gebeur juis in ’n voorval waar hy met Risien te doen kry. By ’n geleentheid waar tabakvervaardigers byeenkom om oor bedryfsprobleme te beraadslaag, vra die man van UTC half spottend aan Rupert: “En hoe gaan dit met klein Voorbrand?” Rupert is dadelik gereed met ’n antwoord aan sy ouer mededinger: “Mnr. Risien, volgens alle wette van waarskynlikheid het ons ’n goeie kans om u te oorleef.”
Risien sou daarna nooit weer so met Rupert praat nie. ’n Ironiese nasleep van die voorval – die soort gebeurtenis wat Rupert aan “die billikheid van die Voorsienigheid” toeskryf – is dat Risien se seun jare daarna ’n betrekking by Rembrandt gevra het. Daar was toe geen geskikte vakature nie.
’n Medestander wat ’n lang pad met Rupert sou saamloop, sluit hom in hierdie vroeë stadium by Voorbrand aan: sy rekenmeester, Daan Hoogenhout. “Soos my geslag kom hy uit die jare van depressie, toe ’n derde van ons mense armlastig was,” herinner Rupert die rouklaers veertig jaar later in ’n huldeblyk op Hoogenhout se begrafnis. “Selfs hy, as seun van ’n onderwysman, het menigmaal, met ’n donkiekarretjie se groente, mark gehou op die dorpsplein.”
Daniël Marais Hoogenhout, twee jaar jonger as Rupert, het aan die UP buitemuurs ’n B.Com.-kursus gevolg en van die Voortrekkerpers na Voorbrand oorgekom. Hy was ’n kleinseun van die taalstryder C.P. Hoogenhout.7
Rupert en Hoogenhout deel ’n vertrek by die ingang van die gebou – “ons eerste klein fabriekie” – wat Voorbrand betrek. Hul twee kantoortjies, eintlik afskortings van kartonbord, is so klein dat elkeen net een stoel agter en een stoel voor sy lessenaar kon inpas. Die dak laat stof deur en toe Hoogenhout een