was. Van die eerste kopers wat vertroue in Rupert toon, was Frank le Roux en Paul Roux van die Paarl, stigters van die KWV.
Rupert ry met sy klein motortjie die Boland plat saam met De Wet Theron, wat ’n klomp van die wynboere goed geken het. Hy verkoop die DKW eers nadat ’n winkeleienaar in Linden in Johannesburg die motortjie staan en bekyk en reguit sê: “Rupert, ek sal nie met jou sake kan doen nie.” Hy skaf uiteindelik ’n tweedehandse Studebaker aan.
Teen Januarie-Februarie 1944 beloop die uitstaande skuld op die koopsom van die Forrer Broers se onderneming nog £9 000, geld wat Rupert nie gehad het nie. Dit is nogtans wat entrepreneurs betref niks ongewoons nie: hulle is, anders as die populêre mening, dikwels nie mense wat met hope geld begin of toegang tot groot kapitaal het nie. Hulle is eerder ondernemers wat geleenthede raaksien en met passie die benutting daarvan nastrewe.
Desnieteenstaande druk die nood in ’n stadium wat Huberte as ’n “donker tyd” in die Ruperts se lewe beskryf.
Op Saterdag 29 Januarie 1944 bevind die Ruperts hulle in Kaapstad toe hulle tyding kry dat sy moeder die vorige aand oorlede is. Sy het ’n swak hart gehad en was in Port Elizabeth vir ’n operasie, maar sterf voordat dit uitgevoer kon word.
Mev. Hester Rupert, die sesde van Oom Kootjie van Eeden se tien kinders (ses dogters en vier seuns), was met haar oorlye betreklik jonk. Sy was pas 50, terwyl haar jonger suster, Johanna Sophia, die latere tant Hanna (Stefaans) Nel, haar met baie jare oorleef het. Op sy tant Hanna se 103de verjaardag op Jansenville, wat Rupert in 1999 bygewoon het, kon sy nog uit haar kop die geboortedatum van elke kind en kleinkind van die naaste familielede korrek meedeel.
Huberte beskryf haar skoonmoeder as “’n lieflike vrou”. Voor haar dood, toe sy en Rupert sy moeder op Graaff-Reinet gaan groet het, was Huberte se laaste woorde aan die ouer vrou: “As my moeder nie meer daar is nie, dan sal ek nie sonder een wees nie, want u is soos sy.”
Rupert besluit die Saterdagoggend nadat hy die tyding ontvang het om dadelik na Graaff-Reinet te vertrek, ondanks die probleem dat brandstof in die oorlogsjare gerantsoeneer is en hulle nie meer koepons gehad het om tussen 6 vm. en 6 nm. petrol te kry nie. Hulle ry na Oudtshoorn waar een van sy direkteure, Jurgens Schoeman, sakeman en boer van die plaas Vadersgawe, die motor se petroltenk vir hulle vul, en is betyds vir die begrafnis.
Op pad vra Huberte dat Rupert eers stilhou sodat sy kan klaar huil oor haar skoonmoeder. Sy het geweet sy was nou, hoewel vroeg in die twintig, die moeder van die huis, want Koos, jongste broer van Rupert, was net veertien jaar oud.
Toe hulle op Graaff-Reinet aanland, stap Koos na Huberte en slaan sy arms om haar: “Jy vat my saam, nè?” Sy het reeds met Rupert afgespreek dat sy vader nie vir Koos sou kon sorg nie en antwoord dadelik: “Ek het dit reeds met Boetie Anton bespreek. Jy kom na ons toe.”
Rupert moes taamlik gou vir onafgehandelde sake na Kaapstad terugkeer en sy vrou bly op Graaff-Reinet agter om na die reëlings om te sien. Sy reël onder meer dat Koos saam met hulle terugkeer na Johannesburg, waar hy later aan die Hoërskool Helpmekaar sou studeer. Toe Anton-hulle Kaap toe trek, woon hy in by die Wesselse op Krugersdorp en voltooi sy matriekjaar aan die Hoërskool Monument.
Toe Rupert enkele dae ná die begrafnis by ’n hotel in die Paarl inteken en die middagkoerant oopmaak, sien hy ’n berig dat sy goeie vriend Jan de Kock, die hoofbestuurder van die Magaliesbergse Koöperatiewe Tabakvereniging wat hom so standvastig bygestaan het, saam met die MKTV se voorsitter, Nick Combrinck, in ’n rivier tussen Pretoria en Rustenburg verdrink het.
Die aanloop van die brug waaroor De Kock-hulle moes ry, het weggespoel. Hulle kon die relings sien, maar nie die verspoelde padoppervlak nie en hul motor is meegesleur. Twee seuns het lewend uit die ongeluk gekom. Die een was M.H. (Tienie) de Kock, later regter van die Kaapse hooggeregshof en voorsitter van die Wes-Kaapse tak van die Raad op Nasionale Gedenkwaardighede. ’n Gedenkplaat ter herinnering aan Combrinck en De Kock – “heengegaan in vloedwater-motorramp, Sterkstroom, middernag 2-3 Februarie 1944” – is in die MKTV se hoofkantoor op Rustenburg aangebring.
Vir Rupert was dit ’n dubbele slag: In een week het hy sy moeder en een van sy beste vriende verloor. De Kock was immers die man wat by dr. Stals, wat ’n bestuurshoof vir Voorbrand gesoek het, aanbeveel het dat daar net een persoon is wat die taak sal kan verrig, “daardie jong kêrel Rupert”.
Terwyl Rupert-hulle nog besig is om aandele te plaas, tref nog ’n terugslag hulle. Daan Hoogenhout, latere finansiële kundige van die Rembrandt Groep, deel hom mee dat hy bedank. Hoogenhout en sy vrou, vroeër sy sekretaresse, het besluit om in Botswana te gaan boer. Sy broer Imker Hoogenhout, konsul van Suid-Afrika in die Kongo, het ’n Griekse vriend gehad wat in so ’n boerdery wou belê.
Daan Hoogenhout doen egter reeds weer in 1945, toe die boerdery misluk en sy vrou ’n baba verwag, aansoek om terug te kom. Hy word as rekenmeester van Distillers Korporasie op Stellenbosch aangestel. In 1948 keer hy terug na die tabakgroep.
Kort ná die sware verlies van sy moeder en vriend ry Rupert en De Wet Theron een oggend in Maart 1944 na De Doorns, die vrugbare vallei in die Hexrivierberge wat om sy uitvoerdruiwe bekend is. Hy moes daardie dag die uitstaande bedrag van £9 000 aan die Forrer Broers betaal, en die oggend om agtuur weet hy nog nie waar hy dit gaan kry nie. Dit is een van die nouste van nou gapings waardeur hy in die begin van sy loopbaan moes kom – maar hy hét, deur daardie dag £11 000 se TIB-aandele te verkoop aan ’n paar boere wat ’n byeenkoms van belangstellendes op De Doorns bygewoon het. “Ek het ’n paar etikette (vir wynbottels) aan hulle gewys en my idees aan hulle verkoop. Ek het ’n droom aan hulle verkoop.”2
Hy ry via Wellington en Bainskloof – die Dutoitskloofpas is nog nie gebou nie – na Kaapstad terug en kon voor die bank se sluitingstyd die geld inbetaal.
Daardie aand bel Rupert vir Huberte in Johannesburg om die blye nuus mee te deel. Dit is die eerste langafstandoproep wat sy van hom ontvang. Sy waardeer dit ten seerste: “Die feit dat hy dit so belangrik geag het om dit vir my te vertel was ’n kleinood wat ek met my saamgedra het, want ons was saam in die ding.”
Rupert, wat sy loopbaan deur ’n hoë prys op lojaliteit stel, sou nooit die steun vergeet wat hy in die jare veertig van veral die wynboere, maar ook van tabakboere, gekry het toe hy dit broodnodig gehad het nie. Daardie lojaliteit en voortgesette betrokkenheid by ’n bedryf wat ’n betreklike klein opbrengs toon vergeleke met die bestuursaandag wat daaraan bestee word, sou weer sterk na vore kom tydens 1979 se herstrukturering van die Suid-Afrikaanse drankbedryf.
Die koop van TIB se aandele word mettertyd ook ’n wederkerige voordeel. Verskeie aandeelhouers van Rembrandt uit die beginjare het miljoenêrs geword, sommige multimiljoenêrs. Die rykdom van ’n hele aantal ander welgestelde Bolandse families, dus inderdaad ook in groot mate die welstand van die Boland self, rus op die fondament van Rembrandt-aandele.
Een Paarlse boer het vir elk van sy vier kinders £2000 se aandele gekoop. Kort ná die eeuwisseling was elke kind se aandele R132 miljoen werd.
’n Afgetrede hoogleraar in ginekologie het in 2001, toe Rupert ná sy val in sy woning met sewe gebreekte ribbe in die hospitaal was, per brief uit Johannesburg laat weet hy was in 1944 op De Doorns die dag toe Rupert daar aandele verkoop het. Hy wou verder gaan studeer en het nie aandele gekoop nie; sy neef, wat ’n Packard wou koop, ook nie. Maar hulle was nie daarvan bewus dat die ginekoloog se moeder wel £500 se aandele gekoop het nie. Teen die eeuwisseling het die ginekoloog en sy suster “lekker geleef” uit die opbrengs van daardie aandele.
Een persoon wat later spyt was dat hy nie aandele gekoop het nie, was Piet Meiring, die Suid-Afrikaanse inligtingshoof by wie Rupert in Johannesburg kers opgesteek het oor die feesuitgawes wat hy tydens die Voortrekker-eeufees aangegaan het. Meiring skryf in sy herinneringe dat hy die dag onthou toe Rupert, wat daar naby by Voorbrand was, hom weer op kantoor besoek het. “Ek het, soos ’n dwaas, nie geswig vir sy voorstel dat ek aandele in die nuwe maatskappy koop nie.”
Dit berou Meiring erg juis omdat hy in die oorlogsjare saam met dr. Hendrik Verwoerd in groot skuld gedompel is. ’n Kollega van hulle by Die Transvaler, Rammie