Ebbe Dommisse

Anton Rupert: 'n lewensverhaal


Скачать книгу

spring self in om Tegniese Beleggings se aandele te verkoop. ’n Keer­punt op pad na die eerste £5 000 word bereik toe dr. P.C. du Toit, ’n geneesheer van Boshof in die Vrystaat wat ’n vriend van Oupa Kriel was, ’n mooi klompie aan­dele by hom koop. FVB se 2 000 aandele in Voorbrand kon gevolglik vroeg in 1943 teruggekoop word, ook danksy die wins wat uit die verkoop van Che­miese Reinigers gemaak is, en daardeur word beheer verseker. Toe FVB jare later ontbind is, was daardie 2 000 aandele meer werd as al sy bates.

      Die belang van Kopersbond is intussen ook deur Rupert-hulle teruggekoop. En danksy die welwillendheid van Voorbrand se direksie is Rupert toegelaat om aandele in Tegniese Beleggings te plaas.

      Met die stigting van Tegniese Beleggings kom die eerste tekens na vore dat Rupert aan die beweeg is. Die beleggingsmaatskappy lê die fondament vir een van die skouspelagtigste uitbreidings in die Suid-Afrikaanse nywerheidswese, die Huis van Rembrandt.

      Hoofstuk 6

      Lokstem van die druif

      Die begin van die nuwe beleggingsmaatskappy wat Rupert se voertuig sou word om toegang tot die drankbedryf te verkry, is weliswaar be­skeie, soos die geval met tabak was. Die nominale kapitaal van Teg­niese en Industriële Beleggings Beperk beloop net £5 000. Maar die beleggingsmaatskappy, spoedig bekend as TIB, sou binne drie jaar groei tot die moedermaatskappy van die Rembrandt Groep, wat toe reeds £1 miljoen sterk was.

      Toe die £100 000-kerf bereik word, word Rupert besturende direkteur van TIB, maar nie voordat alle geld wat hy by Voorbrand verdien het, terugbetaal is nie.

      Rupert gee in 1942-’43 aan die Reddingsdaadbond £700 se verskuldigde salaris wat aan hom betaal is, terug in die vorm van Voorbrand-aandele. Vyftig jaar later, op 16 Junie 1992, is bereken dat daardie aandele, as dit in Tegkor-aandele met die heersende markwaarde van R34,24 omgeskakel sou word, toe reeds R5 493 500 werd was.

      By die stigting van die beleggingsmaatskappy sê Dirk Hertzog vir Rupert: “Man, Anton, ons eerste klein onderneming (Chemiese Reinigers) was nou nie juis ’n mislukking nie en ek vertrou jou en kan darem my naam aan jou leen.” Sy woorde word aangehaal in die eerste uitgawe van Tegniek, die Afrikaanse sake­tydskrif waarmee Rembrandt begin het en wat later die bekende Finansies & Teg­niek in die Naspers-stal sou word. Inderdaad was Tegniek uit eie reg ’n belangrike poging om Afrikaners insig en inligting oor die sakelewe te gee, aangesien Afri­kaanse koerante in daardie jare feitlik geen sakenuus gepubliseer het nie, nie eens beurspryse nie. Sakenuus spesifiek vir die Afrikaanse sakegemeenskap het hoof­saaklik gekom uit Volkshandel, die tydskrif waarmee J.G. (Kaalkop) van der Merwe van Heilbron vroeg in die jare veertig begin het.

      TIB begin in Maart 1943 sonder sy eie kantore. Dit was oorlogstyd en geld was skaars. Rupert huur ruimte by die handelskunstenaar Kobus Esterhuysen in Jo­hannesburg. Die kantoor het slegs ’n naambord buite gehad. Daar was ’n staalboek­rak, maar geen telefoon nie. Wanneer jaarvergaderings gehou is, moes stoele ge­leen word om sitplek aan almal te verskaf.

      Geen salarisse of direkteursvergoeding word in die eerste jaar betaal nie. Hu­berte Rupert is ’n lang tyd die onbetaalde sekretaresse, tikster, klerk en boodskap­per. Sy beginsel geld: “Solank ons nie ons eie kapitaal het nie, moet koste vermy word.”

      Die jong egpaar kry verblyf in ’n gemeubileerde woonstel in Joubertpark wat hulle 15 ghienies per maand kos, die helfte van Rupert se salaris, voordat hulle na ’n huis in Aucklandlaan 59 in die voorstedelike Auckland Park trek.

      Hulle deel die woonstel in een stadium met Rupert se jonger broer Jan, wat toe ’n prokureursklerk in die firma Van Wyk De Vries, Malan & Steyn was, asook met Kobus Esterhuysen, wat op die balkon moes slaap. Esterhuysen, broer van Joubero Malherbe, grande dame van die Suid-Afrikaanse musiekwêreld, was die ontwerper van die land se banknote en hy doen in die begin vryskutwerk vir Voor­brand.

      Huberte werk nie die hele tyd by TIB nie. Sy is ’n slag ook die sekretaresse van die Hoër Meisieskool Helpmekaar. ’n Studentemaat, Marié Opperman, help as sekretaresse van die beheerliggaam van die meisieskool en die seunskool. Sy is die eggenote van die digter Dirk Opperman, die “bonkige Zoeloelander” wat later ook ’n huisvriend van die Ruperts op Stellenbosch sou word, en hulle ontmoet hom toe hy ’n ruk lank onderwyser in Afrikaans van die seunskool was. En sy doen vryskutwerk by die SAUK voordat sy weer by TIB inval.

      “Ek moes self uitspring om vir Anton te help,” vertel sy.1 “Totdat Hanneli vyf jaar oud was, het ek self al ons klere gemaak. Ek moes die lakens omdraai wanneer hulle skif geraak het van baie gebruik. Maar dit het ons nie gepla nie, want ons was Depressiekinders. Ons het geweet waarin jy woon, het niks te doen met die kwaliteit van jou lewe nie. Wat ons wel gepla het, was dat Anton ’n ding sou maak waarop daar geen wins was nie.”

      Sy het in daardie tyd twee groepe vriende, die een haar tydgenote en die ander almal ouer as sy.

      “In Johannesburg was dit ’n geroesemoes van mense gewees, maar vreeslik interessant. Jy het soveel stimulasie absoluut nodig. Ek moes my dissiplineer om in die sakewêreld in te gaan en belang te stel en mense te onthaal en iets te weet waarvan hulle praat. Dis hoekom dit ’n genade was dat ek gratis vir Anton-hulle gewerk het, sodat ek die besigheid van binne kon leer ken. Die mense wat dinge so maklik het, weet nie wat hulle mis en watter bevrediging dit bied om swaar te kry, maar te weet dat jy die ding kan doen nie,” sê sy later.

      Haar noue betrokkenheid by Rupert se sakeondernemings sou oor dekades ge­handhaaf word. In ’n vroeë stadium kry sy in Johannesburg ’n aanbod van Voor­trekkerpers om daar vir ’n groter salaris as haar man s’n te gaan werk, maar sy wys dit van die hand – “want ek moes vir Anton verniet werk en ek ken hulle opset. Maar elke ding wat jy vermag het, was ’n avontuur gewees.”

      Daaraan voeg sy toe: “Al die jare het Anton my as sy klankbord gebruik. Wan­neer daar ’n probleem was, het ek geluister, die probleem saam met hom beleef. Maar dan sou hy dit op die ou einde self oplos.”

      Dinge was stram, maar die sakepioniers byt vas. Nadat TIB op 16 Maart 1943 geregistreer is, sou dit uiteindelik ontwikkel in ’n maatskappy met verspreide belange in tabak, drank, steenkoolmyne, wolmakelaars, tee en koffie. Anders as wat soms in sakekringe vertel word, begin Rupert dus baie vroeg in sy loopbaan diversifiseer.

      Weens die invoerbeheer en die gepaardgaande gebrek aan masjinerie vir siga­retvervaardiging, asook Voorbrand se teleurstellende vertoning wat produkte betref, moontlik omdat te veel op Afrikanersentiment staatgemaak is, wend Ru­pert en sy vennote hulle in hierdie vroeë stadium tot die drankbedryf. Hy en een van sy mededirekteure, Coenie (Oupa) Kriel van Wolgroeier Afslaers (WGA), besluit in September 1943 om aktief tot die drankhandel toe te tree. Teen dié tyd het Voorbrand se verliese opgeloop en hy besef dat die sterk mededingende tabak­bedryf hulle nie ’n genoegsame vastrapplek in die nywerheidswese gee nie. Daar moes wyer gekyk word, ook suidwaarts.

      Hy en Kriel begin navraag oor moontlikhede doen en ontmoet Canzius Pre­to­rius, rekenmeester van die Koöperatiewe Wynbouersvereniging (KWV), in Okto­ber 1943 in die Paarl. Hy sê die enigste moontlikheid om die bedryf te betree is om die Kaapse dranksaak van Forrer Broers te koop.

      In samesprekings wat gereël is met die Forrers, Joe en Herman, broers van Ne­derlandse oorsprong, bekom Rupert-hulle ’n belang van 50% vir £17 500. Forrer Broers se ouditeur, Roux van der Poel (stigter van die latere ouditeursfirma Theron & Van der Poel), “het ons baie gehelp”, vertel Rupert.

      In die Noorde het geld vir kapitaaluitbreidings skaars geraak weens die mislukking van instellings soos Kopersbond en Spoorbondkas. Rupert wend hom dus tot die meer bestendig welvarende gemeenskap van die Boland en begin aan­dele vir vyf sjielings elk verkoop, by name aan die wyn- en uitvoerdruiwe-boere, wat die groot steunpilaar van sy sakeryk sou word. Die beleggers is uitsluitend Afrikaners; niemand anders stel belang nie.

      Rupert moes toe tegelyk sakebelange in Kaapstad en Johannesburg behartig, en hy begin per trein tussen die twee stede pendel. Die jaarkaartjie vir die treinrit van duisend myl wat hy aanskaf, kos hom £50, en oor naweke bring hy twee nagte en ’n dag op die trein deur. In een jaar slaap hy 63 nagte, langer as twee maande, op die trein.

      In sy werwingsveldtog kry Rupert