Ebbe Dommisse

Anton Rupert: 'n lewensverhaal


Скачать книгу

’n garage en ’n markagentskap wat markprodukte by huisvroue aflewer. “Spandabelheid en wanbestuur het die twee ondernemings in duie laat stort, met my en dr. Verwoerd as borge by die bank,” vertel Meiring. Elkeen was R50 000 aan Volkskas en Sasbank verskuldig. Die banke was toe­geef­lik en het ’n deel van die skuld afgeskryf, maar Meiring moes sy motor en sommige van sy skilderye verkoop om die skuld te delg.3

      Die petalje het ook ’n merk gelaat op Verwoerd, wat deur bemiddeling van Fritz Steyn deur die banke tegemoetgekom is. Rupert is oortuig dat hierdie fi­nansiële mislukking die aanleiding daartoe was dat Verwoerd teen die kapitalis­me gekant geraak het. “Hy was bevooroordeeld teenoor die sakesektor omdat hy self ’n negatiewe sakeondervinding gehad het.” Een van die gevolge was dat die beleid van afsonderlike ontwikkeling wat Verwoerd later as eerste minister wou uitbou, misluk het onder meer omdat hy nie blanke kapitaal in die swart tuislande wou toelaat nie.

      TIB brei in die stigtingsjare mooi uit deur verdere aandelewerwing en die aan­koop van nog ondernemings. TIB se kapitaal is vroeg volskryf en dit lê ook die grondslag vir latere aandele-uitgifte en uitbreidings.

      In die drankhandel word die kroon daarop gespan met die stigting van Dis­til­lers Korporasie op 11 Junie 1945 – die eerste Afrikaanse maatskappy wat op die Johannesburgse Effektebeurs genoteer is.

      Distillers se eerste direksie is soos volg saamgestel: S.A. (Sidney) Schonegevel (eerste voorsitter, twintig jaar lank), Anton Rupert (besturende direkteur), Dirk Hertzog, C.C. (Oupa) Kriel, J.J. (Jurgens) Schoeman, J.F. (Freddie) Kirsten, P.C. du Toit en F.S. (Fritz) Steyn. In ’n memorandum waarin Dirk Hertzog reageer op kritiek dat die direksie deur die Nasionale Party beheer is, skryf hy: “Daar was geen NP verband nie en tewens SAP lede op die raad.”4

      Die geslaagde notering volg op ’n groot deurbraak vir die nuwe groep op 23 Maart 1945. TIB, as trustee van Union Distillers SA (Pty) Ltd, gaan ’n oor­een­koms aan om die grond, masjinerie en toerusting van die South African Farm Pro­ducts Protective Association Limited te koop. Dié Stellenbosse maatskappy was in likwi­dasie.

      Die terrein is geleë in die munisipaliteit van Stellenbosch aan die voet van Pa­pegaaiberg, oorkant die stasie en aan die noordekant begrens deur die Plan­ken­brugrivier. Dit is sewe hektaar groot en het ’n ligging langsaan die skilderagtige universiteitsdorp waaroor ’n mens net kon droom. Rupert se oog vir geleenthede laat hom nie in die steek nie.

      Die prys was vir daardie tyd nie min nie: £25 000. Die ooreenkoms word namens TIB onderteken deur Schonegevel, een van die oorlewendes van die Slag van Dellville-bos in die Eerste Wêreldoorlog waarin 2 400 Suid-Afrikaanse soldate op Franse bodem gesneuwel het. Die ooreenkoms maak voorsiening daarvoor dat die trustees kon optree namens ’n maatskappy wat nog gestig moet word.

      Op 11 Junie 1945 word die nuwe maatskappy, Distillers Korporasie (SA) Be­perk, onder die Maatskappyewet geïnkorporeer. Die kapitaal bedra ’n aansienlike £1 300 000, verdeel in 2 200 000 gewone aandele van 10 sjielings elk en 200 000 voorkeuraandele van £1 elk. Die wynboere se vertroue in Rupert was so sterk dat die aandele-uitgifte oorvolskryf is.

      Heftige en selfs neerhalende kritiek begroet die geboorte van die nuwe speler in die drankbedryf, wat met agt drankwinkels wegspring. In die tydskrif Wine and Spirit van die KWV, ’n belangrike koöperatiewe speler in daardie tyd, skryf die redakteur ietwat venynig dat hy die kritiek selfs vreemd vind, “. . . as we know that businesses without prospects of a future are usually left severely alone; left to their own fate”.

      Verder kritiseer hy die leierskap van die nuwe maatskappy oor sy gebruik van Afrikaans: “Why they should continually refer to the Afrikaans origin of the company, they alone know.”

      Vir Rupert is daar egter ’n goeie rede om ook Afrikaans te gebruik. Trou aan sy wortels en deurdrenk met die begeerte om te bewys dat Afrikaners in die ny­we­r­heid kan slaag, is hy nooit skaam of huiwerig om die vlag vir Afrikaans te hys nie.

      Daar is ook ’n ander beweegrede. Hy wou die wynboere, meestal Afrikaners, tot hul reg laat kom. En hy wou landgoedwyne bevorder, ’n droom wat hom lewens­lank besig hou en verwesenlik is deur onder meer die betrokkenheid van die Ru­perts by landgoedere wat gehaltewyn produseer.

      Hy kon in die beginjare nie veel vir die wynboere aanbied nie, maar daar was ’n sterk begeerte by hulle dat Afrikaners inspraak in die drankhandel kry. Die on­bevredigende situasie van destyds laat een van die boere opmerk dat die wynhandel in die hande is van “whiskydrinkers wat die wynbottels in die drank­win­kels regop laat staan”.

      Die gevoel dat sulke mense nie respek vir wyn het nie, is ’n vername rede waar­om Rupert met landgoedwyne begin, en waarom hy die wynboer die eer wou laat toekom. Sy eerste landgoedwyne kom van Montpellier, Theuniskraal en Alto. Hoewel die etikettering van wyne wat waarborg dat hulle van ’n spesifieke land­goed en sy wingerde afkomstig is, ofte wel appellation contrôlée, algemeen in Duits­land en Frankryk was, is die gebruik nie in Suid-Afrika toegepas totdat Rupert dit ingebring het nie.

      “Dit was ’n interessante bemarkingsidee,” vertel hy. “Dit het die boere inge­skakel, dit het hulle op die landkaart geplaas en hulle op hul voete gebring.”

      Teen 1946 het sowat twintig wynboere hulle aangesluit by die sambreelorgani­sasie wat as die Bergkelder bekend geword het. Die bekendstes van hierdie pioniers is Andries Jordaan van Theuniskraal, Tulbagh; De Wet Theron van Mont­pel­lier, Tulbagh; Manie Malan van Alto, Stellenbosch; baron Von Carlowitz van Uit­kyk, Muldersvlei; Danie Roux van Provence, Franschhoek; P. Bruwer van Mont Blois, Robertson; en P. Beyers van Riversmeet, Groot-Drakenstein.

      Landgoedwyne kry egter eers ’n kwarteeu later, in 1972, algemene erkenning en wetlike beskerming in Suid-Afrika.

      Rupert begin ook die idee toepas om die prys van goeie landgoedwyne op te stoot. Paul Sauer, latere minister en self ’n wynboer van die Stellenbosse spogplaas Kanonkop, kritiseer Rupert aanvanklik oor die duurder wyne. Maar sy ver­weer is moeilik weerlegbaar: “Gaan kyk watter wyn mense bestel wanneer hulle gaste onthaal. Hulle koop buitelandse wyne omdat dit duurder is. Hulle wil nie lyk asof hulle suinig is deur goedkoper wyne voor te sit nie.”

      Op die koop toe verken hy reeds van 1946 af moontlikhede om tot die bierhandel toe te tree – ’n vroeë verkenning op die terrein van nog ’n lonende produk wat uiteindelik sou uitloop op die bieroorlog, wat deur heftige botsings tussen uiteenlopende persoonlikhede en mededingende instellings gekenmerk sou word (sien hoofstukke 16 en 20).

      Distillers begin onder baie moeilike omstandighede, want die verwoestende Twee­de Wêreldoorlog was pas verby. Geld en goedere was skaars. Die verspreiding van boumateriaal is van regeringsweë deur ’n kwotastelsel gereguleer.

      Rupert se nuwe maatskappy moes van ou geboue gebruik maak. Hy kon ’n permit verkry om boumateriaal ten bedrae van slegs £5 000 aan te koop. Prioriteit nommer een was daarom die bou van tenks. Onderdakwerkgeriewe was maar prioriteit nommer twee.

      Daar kon ook nie aan ’n luukse kelder gedink word nie. Teenoor die moderne luukse kelders moes Rupert met veel meer beskeie hulpmiddele klaarkom in sy poging om in die drankbedryf in te breek. Afdakke is gebou om ’n mate van be­skutting te verleen. Dié is later toegebou namate stene beskikbaar geword het.

      Die administratiewe vleuel van die gebou bestaan uit vier klein afgeskorte kan­tore en ’n groot kamer. Rupert, sy sekretaris, J. van R. Maartens, en Hoogenhout het daar gesit. In die vierde kantoor was ’n paar klerke, onder wie Fanie Botha, die latere minister van arbeid.

      ’n Vroeë terugslag was die rantsoenering van rabatbrandewyn deur die KWV, wat kwotas vir proefspiritus vir die drankbedryf op grond van aankope in die ver­lede ingestel het. Hoewel Distillers in die begin 40 000 gellings per jaar in die voor­uitsig gestel het, word weens rantsoenering slegs 9 000 gellings aan hom toegeken op grond van sy oorname van die veel kleiner Forrer Broers.

      Gevolglik, ondanks aansienlike kapitaal en veredelingsgeriewe, was Distillers “all dressed up and nowhere to go”, soos Dirk Hertzog dit in ’n interne memorandum gestel het. “Dit het swoeg en sweet gekos om ten spyte van hierdie in­per­king van Regeringsweë tog suksesvol sake te doen.”5

      Distillers