die oop ingangsportaal is daar plek vir ’n tikster. Die plek word ná ’n hele paar maande ingeneem deur Huberte, wat diens aanvaar as onbetaalde klerk, tikster, telefoniste, sekretaresse en bode. Sy kon net met vier vingers tik. Rupert belas Huberte – “die enigste vroulike wese”, soos sy haarself beskryf – spoedig ook met bestuurstake. Sy bestudeer onder meer die Maatskappyewet om kennisgewings van direksievergaderings op te stel, briewe aan belanghebbendes uit te stuur en dergelike maatskappyreëlings vir die uitbreidende onderneming te tref.
“Ons het goed saamgewerk, want sien, daar is ’n goeie verstandhouding tussen ons. As hy in min woorde ’n ding vir my sê, ken ek die agtergrond so goed dat ek maklik die versoek kan uitvoer. Waar my spoed in tik te kort geskiet het, was die akkuraatheid van gegewens goed,” vertel sy.
In die praktyk was sy inderdaad die latere magtige Rembrandt Groep se eerste maatskappysekretaris.
Langsaan die kantoorruimte was daar ’n vertrek waar ses jong vroue, die eerste werknemers, om ’n blok plaasgeneem en met die hand die tabakhouers vir Voorbrand se enigste produk, pyptabak, van ’n vorm moes maak. Agter was ’n werkplek met ’n paar masjiene wat hulle van hul insolvente voorganger oorgeneem het, maar hulle het net die kerfmasjien gebruik. As werkvoorman is Carl Langenstrass aangestel.
’n Hele ruk gaan dit maar broekskeur met die nuwe onderneming, en kon die weeklikse lone Vrydagmiddae soms net met moeite betaal word. Een staaltjie waaroor Rupert en Hoogenhout hulle later sou verkneukel, maar wat ook illustreer hoe die nuwe onderneming op dun ys beweeg het, is ’n slag vertel in die teenwoordigheid van Mike Botha, wat ’n lang ruk Rupert se persoonlike assistent was.
By geleentheid moes Hoogenhout die weeklikse loontjek vir £25 by Volkskas se tak in Markstraat gaan wissel. Die bankklerk weier egter om die bedrag uit te betaal, omdat daar nie genoeg geld in die rekening is nie. Hoogenhout verduidelik dat Voorbrand se vroue Vrydagmiddae vroeër loop en dat die verkoopmanne wat kontant sou inbring, opdrag het om heeldag te werk en Vrydagmiddae eers om vyfuur terugkeer. Die bank bly egter adamant, en Hoogenhout is verplig om dr. Stals, toe ’n direkteur van Volkskas, in Pretoria te bel. Stals deponeer daarop ’n persoonlike tjek in Voorbrand se rekening en bel die Johannesburgse bankbestuurder om die £25 uit te betaal. Voorbrand kon met sy bedrywighede voortgaan.
’n Ander keer kon Voorbrand nie sy ouditeur, Meyernel, vir sy dienste vergoed nie. Die Pretoriase ouditeur is verplig om die verskuldigde bedrag van £5 af te skryf. Dit is iets wat Rupert nooit vergeet nie. Nadat hy na Stellenbosch verhuis het, bly Meyernel, ’n voorloper van die latere groep PricewaterhouseCoopers, ondanks die afstandsprobleme die ouditeur van die latere uitgebreide Rembrandt Groep.
Een van Voorbrand se ander probleme was om van snuifblaartabak ontslae te raak. Die joernalis J.J.J. Scholtz, destyds by Die Transvaler en later assistentredakteur van Die Burger, stel Rupert aan twee Indiërsakemanne voor: Yusuf Ahmed Cachalia, wat ’n tekstielwinkel gehad het, en Donath Desai. Dié twee help Rupert om met die hulp van ander Indiërhandelaars ’n afset vir die snuifblaartabak te vind.
’n Goeie vriendskap ontstaan tussen die Ruperts, die Cachalias en die Desais. Hulle besoek mekaar nie alleen aan huis nie, maar gaan by geleentheid ook saam bioskoop toe. Sowel Cachalia, broer van die aktivis Mauldi Cachalia, ’n leiersfiguur in die Transvaal Indian Congress, as Desai was sterk teen Britse imperialisme gekant en het later ’n prominente rol in die politieke verset teen apartheid gespeel.
Desai se dogter Zureena, ’n medikus, was in die jare sestig in die nuus vanweë ’n verhouding wat sy met prof. John Blacking, hoogleraar in die sosiale antropologie aan Wits, gehad het. Die veiligheidspolisie het na aanleiding daarvan dinge vir die gesin baie moeilik gemaak. Desai klop toe om hulp aan by Rupert, maar hy kon hom nie help nie. Artikel 16 van die destydse Ontugwet, wat verhoudinge oor die kleurgrens verbied het, was in daardie tyd in volle gang en selfs Rupert was onmagtig om iets daaromtrent te doen.8
Huberte Rupert vertel dat hulle dikwels by die Desais aan huis was. Sy meen dat die snuifblaarsukses waarskynlik Voorbrand se voortbestaan verseker het.
Snuiftabak was nie die enigste probleem wat Voorbrand te bowe moes kom nie. Verliese loop ’n paar jaar op; teen 1948 bedra dit sowat £30 000. Dit was “klein verliese as jy vandag daaraan dink – miskien ’n paar minute se reklame, maar dit was verliese”, vertel Rupert agterna.
Sy mededingers, bevoordeel deur bestaande kwotatoekennings wat nie vir nuwe toetreders tot die bedryf beskore was nie, het in die moeilike tye tydens en ná die oorlog vryspel gehad, “maar daar het ek ook geleer”.
Die vernaamste les is dat Voorbrand hoofsaaklik produkte verkoop het wat hy as C-produkte bestempel. Hy onderskei drie klasse produkte: A-produkte beskou hy as beter as sy teenstanders s’n, B-produkte gelykstaande aan en C-produkte swakker as dié van mededingers. Die les wat hy later by sy werknemers inskerp, is om slegs A-produkte of minstens B+-produkte te loods. Die enigste ander manier is nabootsing of afslagpryse, wat hy afkeur as normaalweg nie ’n opsie vir gehalte-entrepreneurs nie. Sy buitengewone groot klem op gehalte sou ’n opperste kenmerk van die groep word.
As nuwe tabakfabrikant kon Voorbrand in die oorlogsjare ook wat die pyptabak betref, geen permit kry om verpakkingsmateriaal in te voer nie. Mededingers, synde bestaande fabrikante, is egter toegelaat om materiaal in te voer waarmee hulle na Rupert se mening pragtige pakkies kon maak.
“Ons verpakking was net nooit reg nie. Die ander het ’n plastieksak gehad met ’n binnekant met ’n loodvoering en skuimrubber,” vertel hy.
Uit daardie vroeë leerskool spruit sy latere sorgvuldige en noulettende aandag aan verpakking en bemarking, ’n proses waaraan hy soms ure en dae kon bestee.
Voorbrand registreer verskeie handelsmerke wat Afrikaans en patrioties aangedoen het, soos Oom Bart (in die plek van die spotprenttekenaar T.O. Honiball se bekende karikatuur-figuur Oom Kaspaas, waarvoor die Nasionale Pers aanvanklik gebruiksreg weier), Patriot (in die plek van Voorloper), Landdros, Voorbrand, Spoor en Vonk.
Drosdy, ’n pyptabak, word geadverteer as: “’n Unieke ontdekking: tabak in ou wynvate beleë – medium-sterkte.” Die reklame vir Landdros lui: “Die goeie van die verlede verbeter tot dié beste in die hede – medium-sterkte.” Vir Patriot, wat in vier geure verkoop is, is daar vier kleure, geel, blou, rooi en groen.
Los tabak word bemark onder handelsmerke soos Oom Bart (“’n Gewilde, middelmatige sterkte swart en wit mengsel”) en Spoor (“’n Sterk, suiwer tabak”). Drie soorte Oom Kaspaas is aangebied: Magaliesberg, Transvaal en Kango. Vir Engelse kopers is daar Stop Press (“extra special edition”), Bandmaster, Carefree en Sunkist Golden Mixture.
Een van die Ruperts se goeie vriende in Johannesburg, die digter W.E.G. (Gladstone) Louw, gee die jawoord vir ’n reklamespreuk vir die pyptabak: “In ou wynvate beleë.”
Louw, wat op 21-jarige leeftyd met die gesogte Hertzogprys vir Poësie bekroon is, was in daardie stadium ook by die RDB werksaam, in die afdeling vir kuns en kultuur. Hierdie jonger broer van N.P. van Wyk Louw lewer, soos ander in die Ruperts se vriendekring, insette in die nuwe onderneming, wat Drosdy-tabak aanvanklik in ou wynvate berg. Die Ruperts leer Van Wyk Louw ook ken deur middel van Anna Neethling-Pohl, suster van sy tweede vrou, Truida Pohl. Die Rupert- en die Pohl-kinders het almal op Graaff-Reinet grootgeword.
Vriende in die Noorde stel Rupert in die oorlogsjare terwyl hy nog in Johannesburg was, sonder sy wete voor as lid van die Afrikaner-Broederbond. Ander lede van die AB uit daardie jare is die voorste letterkundiges Dirk Opperman en Van Wyk Louw. Rupert se naam is destyds, soos gebruiklik in die geheime organisasie, in ’n omsendbrief gesirkuleer. Hy word lid nommer 3088.
Dirk Hertzog, ook ’n lid, wys in sy memoires daarop dat die ledetal van die AB in die oorlogsjare, waarin genl. Smuts noodregulasies laat uitvaardig het wat staatsamptenare en onderwysers verbied het om tot die beweging te behoort, slegs ietwat meer as 2 000 was. Afrikaners soos hy was gebelg dat Smuts mede-Afrikaners met aansien weens hul AB-lidmaatskap gedwing het om uit die staatsdiens te bedank. Onder hulle was Wennie du Plessis (wat, in ’n ironiese nadraai, Smuts in 1948 in Standerton verslaan het) en prof.