stap na Yeats en gee hom hand met die woorde: “Dankie, Jamie, dankie; dit is die grootste kompliment wat jy my kon gee.”
Lojaliteit is een van die faktore wat meegehelp het dat Distillers sowel as die latere Rembrandt van krag tot krag gegaan het. Nog ’n bydraende faktor is dat Rupert mededingers met wetenskaplike deurbrake voorgespring het. As opgeleide wetenskaplike het hy voortdurend nuwe tegnologieë benut.
Distillers se eerste tegniese bestuurder was Gerhard Schröder, wat baie gou ondanks die taamlik primitiewe omgewing ’n laboratorium aangelê het. Schröder, ’n perfeksionis wat aan die Institut für Gärungsgewerbe in Berlyn opgelei is, het die laboratoriumwerk grotendeels opgedra aan Baumgartner, wat sy doktorsgraad in plantfisiologie summa cum laude aan die Universiteit van Freiburg verwerf het. Baumgartner meen dat Rupert nie ’n beter persoon as Schröder kon gevind het nie: “Gerd Schröder was getroud met Distillers. Hy het nooit gerus totdat ’n taak perfek afgehandel is nie en hy was altyd bereid om enige tyd van die dag of nag aan diens te wees.”10
Schröder, ’n doelgerigte en harde werker wat hom deur niks laat stuit nie, benodig op ’n dag ’n voertuig om wyn in Kaapstad af te lewer, maar net die motor van Fanie Botha, die latere minister, was beskikbaar. Hy vra Botha om van Stellenbosch na hom in die Paarl te ry, en toe Botha by hom aankom, sê hy daar skort iets met sy wiele. Toe Botha uitklim, spring Schröder agter die stuurwiel in en ry weg. Die ontstelde Botha bel Rupert en kla steen en been oor sy gekaapte motor. Rupert ontbied Schröder na sy kantoor, maar die hardkoppige Duitse vakman weier om te kom. Daarop lees Rupert hom die leviete voor: “Mnr. Schröder, u kom dadelik na my kantoor of u word afgedank!” Schröder sien toe in wie die baas van die plaas is, en hy gehoorsaam. Van toe af, sê Rupert, was Schröder een van sy lojaalste werknemers.
Reeds in 1947 bestel Schröder uit Frankryk, land van die sjampanjemeesters, masjinerie en gistingstenks wat Distillers in staat stel om die enigste moderne, ten volle outomatiese vonkelwynaanleg in die land te bedryf. Vier soorte vonkelwyn is onder die handelsmerk La Residence geproduseer.
Onder Rupert se aanmoediging word brandewyn van ’n baie goeie gehalte gemaak, waardeur die hele plaaslike brandewynbedryf ’n hoër plato bereik. In 1949 behaal Distillers die hoogste punte van alle Suid-Afrikaanse maatskappye wat aan die Rykswynskou (Empire Wine Exhibition) in Londen deelneem. Die prestasie word in 1950 herhaal, die jaar waarin Oude Meester aangewys word as die beste brandewyn wat in die Britse Gemenebes vervaardig is.
Rupert, wat van 1948 sy aandag toenemend sou toespits op die tabakbedryf wat met Rembrandt se stigting momentum verkry het, ontwerp die bekende handelsmerk van Oude Meester vir Distillers. Later stel hy ook die naam Amarula voor vir die roomlikeur wat ’n wêreldtreffer geword het.
In daardie stadium was brandewyn en spiritualieë Distillers se grootste geldverdieners. ’n Remmende faktor was dat die maatskappy van die KWV vir rabatbrandewyn afhanklik was en in die eerste vyf jaar ’n allokasie van net 1,3% kon kry.
Rupert hoor in 1951 die eerste keer van koue of “beheerde” gistingsmetodes, ’n proses wat onder leiding van die Duitser Wilhelm Geiss in Kalifornië ontwikkel is. Sy personeel bestel onmiddellik vier hoëdruktenks uit Duitsland. Die nuwe tegnologie, tesame met sy klem op gehaltebeheer, stel Distillers in staat om wyne van ’n voorspelbare gestandaardiseerde gehalte, geskik vir die massamark, te produseer. Handelsmerke soos Grünberger Stein, gebottel in die spesiale Bocksbeutel-fles wat die Franke in Duitsland gebruik het, en Kupferberger Auslese het baie gewild geword.
Net soos in die geval van tabak bring Rupert aanvanklik ’n wye reeks handelsmerke op die mark om uiteenlopende smake te bevredig. Sommige was in mededinging met mekaar, ’n tegniek wat hy meermale volg om almal binne die groep op hul tone te hou. Mettertyd is handelsmerke egter, soos ook met tabak, verminder en op die suksesvolstes gekonsentreer.
Die drankmaatskappy sou ’n grootse suksesverhaal word – en wêreldberoemd met van sy wyne en brandewyne. Van die bekendste handelsmerke11 was (met die 1951-pryse per bottel, omgesit in rand, wat toon watter uitwerking inflasie sedertdien gehad het):
Oude Meester Brandewyn R1,25
Richelieu Brandewyn R1,10
Old Master Medium Sherry 43c
Theuniskraal Riesling 54c
Stellenheimer Rooderust 37c
La Residence Vonkelwyn R1,09
Van der Hum R1,01c
Terwyl ’n suksesverhaal in die drankbedryf ontvou, het die dramatiese uitbreiding van Rupert se tabakryk sowel as ’n opspraakwekkende bieroorlog voorgelê.
Hoofstuk 7
Rembrandt: ’n Meesterstuk gebore
Buig of bars, Rupert wou sigarette vervaardig. Hy strewe hierdie droom van hom met deursettingsvermoë en doelgerigtheid na. Dit loop daarop uit dat die stigting van Voorbrand in 1941 gevolg word deur die stigting in 1946 van die Rembrandt Tabakvervaardigingskorporasie van Suid-Afrika Beperk, waarin Voorbrand opgaan.
Tabak en drank sou die basis van die toekomstige sukses van die Rembrandt Groep vorm. Rupert verduidelik: “As ’n jong man het ek besluit dat tabak en drank die beste groeipotensiaal het, want as ’n jeugdige tydens die Depressie van die jare dertig het ek opgelet dat mense nie minder rook nie en, indien enigiets, waarskynlik selfs meer drink.”1
Gevolglik konsentreer die groep ten aanvang bowenal op tabak en drank, maar ook omdat die eerste aandeelhouers hoofsaaklik wyn- en tabakboere was.
In daardie tyd was daar geen sprake van die gesondheidsrisiko’s van tabak wat ’n paar dekades later ’n oorheersende strydvraag in die hele tabakbedryf geword het nie.
Rupert spits hom in die beginjare veral op die tabakbelange toe terwyl Hertzog grootliks na die drankbelange omsien. Hertzog bly nietemin meer op die agtergrond, en hy noem meermale teenoor sy vriende en familielede dat dit beter so is, want ’n span kan net een kaptein hê: “Anton is die boegbeeld.”
Die klemverskuiwing van Voorbrand na Rembrandt is uit eie reg ’n belangrike innovasie.
Rupert het lank oor ’n nuwe naam nagedink: “Agter ’n goeie naam is daar net soveel arbeid (dinkwerk) soos agter die hele produk.” Hy besef dat Voorbrand nooit sou deug vir die sigaret waarmee hy die wêreldmark wou verower nie; veral nie die kieskeurige Afrikanermark wat so maklik die eie wantrou nie. Aanvanklik dink hy aan Cigarette Cézanne, maar laat dit vaar toe die nuwe ingewing kom.
Een nag droom hy van Rembrandt se skilderye. Toe hy wakker word, weet hy dadelik wat die naam van sy maatskappy sal wees.
Hy maak sy vrou wakker om haar van sy besluit oor die naam in te lig: “Ons nuwe sigaret se naam is Rembrandt!”
Sy hou nie juis daarvan om in haar slaap gesteur te word nie; tog gebeur dit meermale dat hy smôrens vieruur wakker geword het met ’n oplossing vir ’n probleem wat in sy onderbewussyn gesluimer het.
“Ons was so opgewonde daaroor dat ons nie weer aan slaap gedink het nie,” vertel Huberte. “Ons het tee gaan maak en die nag nie weer ’n oog toegemaak nie. Ons het al twee sommer geweet die naam is doodreg.”
Rembrandt is immers ’n naam met universele trefkrag en ’n simbool van gehalte. Dit kom eg voor en so emosioneel aangrypend soos die werke van Rembrandt Harmenszoon van Rijn (1606-’69), die grootste kunsskilder van sy tyd en skepper van die wêreldberoemde Nagwag, wat in die Rijksmuseum in Amsterdam hang. Rembrandt was onmiddellik herkenbaar en het goed in Afrikaans en Engels en inderdaad alle tale geklink. En geen seksionele byklank kon daaraan gegee word nie.
Rembrandt se sterfdag, so blyk dit later, is ook Rupert se geboortedag: 4 Oktober.
Die geïnspireerde keuse van die naam is die begin van ’n groot nuwe avontuur wat die Ruperts en hul medestanders op ’n wentelbaan rondom die aarde plaas.
’n Briljante skuif wat Rembrandt grootliks sou bevoordeel, is reeds ’n ruk tevore gemaak. Dit was toe Rupert teen die einde van 1945 op sy eerste oorsese sakebesoek