Nelia Engelbrecht

Die Poort 2: Reisigers


Скачать книгу

Eers dog ek sy is besig om die toonbank af te vee, toe sien ek die hele toonbank is eintlik ’n hengse touch screen. Gelukkig hou whatever sy ook al doen haar so besig dat sy nie opkyk toe ons saggies verby haar sneak nie.

      Ons loop in ’n breë gang af. Elke paar treë is daar nog pilare met water wat op of af beweeg.

      Wat is dit met al die water? sein Nomsa.

      Ek dink hulle gebruik dit om krag op te wek, antwoord Leo- nardo.

      Oukei, noudat jy die planeet se kragsituasie uitgefigure het – waarheen is ons actually op pad? sein ek.

      Ons soek die skool se eetsaal of kafeteria, sein Leonardo.

      Worry jy sowaar nou oor kos? sein Nomsa vies.

      Of course. Ek vrek vir ’n Steers-burger en tjips. Dit gaan baie lekkerder wees as daai droë oats-koekies wat Kali vir ons ingepak het.

      Hy smokkel met jou kop, Nomsa, sein ek. Tara het mos in ’n droom gesien haar ma sit in een of ander eetsaal. Dit is dalk ’n goeie beginpunt as ons haar wil kry.

      Ek loop amper in Tara vas toe sy skielik gaan staan. Wat’s fout?

      Sy’s nie hier nie. Sy is naby, maar nie in hierdie gebou nie.

      Ouch. Die merk teen my nek brand nog die hele tyd dofweg vandat ons by die skool is, maar nou is dit weer erger as vantevore. Ek kyk om.

      Vir ’n millisekonde sien ek ’n man met swart klere in die gang agter ons, maar toe ek my oë knip, is daar niemand nie. Jis, my verbeelding hol met my weg.

      Ons loop verby ’n paar toe deure waaragter ek stemme hoor. Seker klaskamers. Dan kry ons ’n sydeur en glip buitentoe. Die gloeiende plante langs die gebou ruik soos sjokolade. Iets soos hazelnut heaven, of peppermint crisp.

      Tara steek vas en wys na ’n aanwysingsbord. Nomsa, wat staan daar?

      Wetenskapsentrum, lees Nomsa die vreemde letters. ’n Pyl wys in die rigting van die gebou langsaan.

      Voel dit vir jou of sy in hierdie gebou kan wees? sein ek vir Tara.

      Ja … maar daar is iets … It feels as if she is underground.

      Oee-ee, sein Nomsa, dalk hou hulle haar in ’n dungeon aan – soos onder die kastele in die Middle Ages. Hulle sê die rotte was so erg daar onder, hulle het die gevangenes se tone …

      Nomsa! raas ek en vat aan die merk teen my nek. Hoekom kom en gaan die brandpyn so? Ek kyk weer om. Daar is niemand in die paadjie agter ons nie, maar as daar was, kon die persoon maklik agter een van die gloeiende struike in gekoes het.

      Ek het skaars weer omgedraai en agter die ander begin aanstap, of die merk begin van voor af brand.

      Kali, wat makeer? sein Leonardo.

      Ek weet nie, dit voel amper of iemand ons agtervolg. Elke keer as ek omkyk, sien ek iemand met swart klere, en voor ek my oë kan knip, verdwyn hy weer.

      Dit voel vir my ook kort-kort asof een van die Ander naby is, sein Tara.

      Oukei, sodra ons in die gebou is, sal ek dit uitcheck.

      Groot glasdeure skuif oop toe ons by die ingang kom. Binne lyk die wetenskapsentrum soos ’n mall, maar net sonder die shoppers en die winkels.

      Ons staan in ’n groot oop ruimte en rondom ons is daar ’n hele paar verdiepings met plekke wat soos kantore lyk.

      Reg in die middel van die oop stuk is daar nog twee hengse ronde glaspilare waarin water beweeg. Ek kyk op. Die pilare loop tot teen die hoë dak van die gebou. Bo, langs die pilare, is skylights waardeur mens die twee pers mane kan sien.

      Net toe kom twee van die Ander met pers outfits by die roltrappe af. Lyk of die mense in hierdie gebou se outfits met die mane gecolourcode is, sein ek.

      Ja, en hulle dra nie bandanas nie en hulle het almal hare, sein Tara.

      Uh-oh. Die twee mans kom reguit na ons toe aan. Hulle loop en praat, maar steek vas toe hulle ons sien. Die een vra iets en Nomsa spin ’n hele lang storie vir hulle. Die twee kyk fronsend na mekaar. Die een sê iets vir die ander een wat sy kop skud voor hulle wegstap.

      Wat het hulle gesê, Nomsa? sein Tara.

      Hulle het gevra wat ons hier soek, toe sê ek ons is nuut in die skool en meesteres Durnian het gesê ons kan maar eers bietjie rondkyk voor ons na ons klasse toe gaan. Dit het gelyk of die een ou my geglo het, maar die ander ou het nie baie convinced ge-

      lyk nie.

      Leonardo kyk oor sy skouer na die ingang. Ek dink julle is reg, ons word agtervolg. Ek hoor iemand net buite die glasdeure.

      Ek kyk na die glasdeure en zoom in met my Bewaker-senses. Ek hoor iemand asemhaal. Skoene wat oor klippies skuif.

      Ons moet trappe of ’n hysbak soek wat ondertoe gaan, sein ek.

      Ons begin vinnig linksom stap. Anderkant die groot glasvensters waar ons verbyloop, staan van die Ander by lang tafels en werk. Tussen glasbotteltjies en -buisies is daar masjiene op die tafels en party van die Ander loer daarin.

      Dit lyk soos laboratoriums, sein ek.

      Julle loop so vinnig, ek kan nie sien wat aangaan nie, kla Nomsa.

      Ek kyk om. ’n Donker figuur net binne die glasdeure los soos ’n Disprin op. Dan kop ek wat aangaan. Hy Reis elke keer weg as een van ons omkyk, sein ek.

      En ek is heel agter – hy gaan my eerste gryp, sein Nomsa benoud.

      Moenie panic nie, ek sal dit handle, sein Leonardo.

      En hoe nogal? sein ek terug.

      Voor hy kan antwoord, gaan staan Tara weer. Sy wys na twee breë staaldeure in die muur langs ons. Dit lyk na ’n hysbak met iets soos ’n rekenaarskerm wat langsaan teen die muur vas is. Op die skerm draai twee pers mane in die rondte.

      There is something familiar about this… I’ve seen it before, in one of my dreams. Tara vee oor die skerm. Die twee mane maak plek vir ’n keyboard met letters en syfers.

      Maybe moet jy ’n secret code intik, sein Nomsa.

      Jy beter dit moervinnig doen, want ons gaan binnekort company hê, sein Leonardo.

      Tara druk haar vingerpunte teen haar slape. There was something in my dream … a word … numbers …

      “Watch out!” roep Nomsa skielik.

      Ek vlieg om. Die Ander een is ’n paar treë van my af, met iets soos ’n stun gun in sy hand. Koue staalgrys oë kom vinnig nader. Supervinnig swaai ek my heupe en trek my knie tot teen my lyf op.

      Toe my been uitskiet, dryf sy momentum hom teen my voet vas. Sy gesig vertrek toe my tekkie sy ribbes tref.

      “Kom!” Leonardo pluk my aan my arm.

      Tara moes intussen die kode reggekry het, want die deure is nou oop. Leonardo stoot my agter Nomsa en Tara aan tot in die hysbak. Buite die hysbak het die Ander een intussen sy tweede asem gekry en hy storm nou op Leonardo af.

      “Leonardo!” roep Tara.

      Ek gryp haar arm vas toe sy by my verbyspring, terug gang toe. “Los hom, hy weet wat hy doen!” Aan die binnekant van die hysbak, langs die deure, is ’n paar knoppies met snaakse tekens op. “Nomsa, druk die een vir die kelderverdieping!”

      Anderkant die oop hysbakdeure lyk dit darem of die Ander een en sy stun gun nie kan byhou by Leonardo se supervinnige Bewaker-spoed nie.

      Net voor die deure heeltemal toegaan, spring Leonardo in die hysbak.

      “Eina, freakit,” sê hy terwyl hy sy regterhand vashou.

      “Jy is die een wat mos altyd sê harde handbene soek ’n sagte teiken – maar nee, jy slaan hom sowaar op sy kakebeen,” raas ek.

      “Are you okay?” vra Tara bekommerd.

      Voor hy kan antwoord, stop die hysbak