Nelia Engelbrecht

Die Poort 2: Reisigers


Скачать книгу

Dik matte, designer banke en stoele, the works.

      Holy moly, sein Nomsa, watse stunning plek is dit dié?

      Gee vir my jou rugsak, sein Leonardo vir my.

      Hy sit die sak tussen die twee deure van die hysbak sodat dit nie kan toegaan nie. Slim, nou kan die Ander nie met die hysbak afkom om ons te volg nie.

      Someone is coming, sein Tara net toe die merk teen my nek begin brand.

      Ons skarrel vinnig agter ’n bank in. Ek loer versigtig om die kant van die rugleuning. ’n Paar vroue wat bottergeel pakkies dra, stap binne.

      Almal het oorfone teen hulle ore en mikrofoontjies voor hulle monde. Om hulle nekke hang goed wat soos selfone lyk.

      Dit lyk soos vertaal-gadgets, sein Leonardo.

      Maybe kom hulle van verskillende plekke op planeet Pers Maan en is hulle hier vir ’n konferensie of iets, sein ek terug.

      Ek koes baie vinnig agter die bank in toe die vroue in ons rigting begin stap. Soos Murphy’s Law dit wil hê, kom sit hulle juis en gesels op die bank waaragter ons wegkruip.

      Wat sê hulle, Nomsa? vra Tara.

      Nee, dié lot is obviously nie locals nie. Ek verstaan nie ’n woord wat hulle sê nie, sein sy terug.

      Jy sal ook nie, sein Leonardo. Behalwe as jy een of ander tyd ’n crash course in Italiaans en Frans gehad het.

      Jy meen hulle is van …

      Jip, voltooi Leonardo haar sin. Hulle is van il nostro pianeta terra, of notre planète terre … ons planeet aarde.

      3

      Ek skrik so groot toe ek dit hoor, ek zoom sommer totally uit. Tot in Parys, die stad van die liefde, waarheen ek en Zak nog eendag wil gaan.

      Kali, fokus!

      Ek wou nog bietjie saam met Zak langs die Seine loop, toe Leonardo se kwaai stem my terugbring tot agter die bank op planeet Pers Maan.

      Dis hier waar hulle die vroue aanhou wat hulle ontvoer het, sein Tara.

      Hoop blink in haar oë. My ma is ook hier, ek kan dit sense.

      As hulle die vroue aanhou, hoekom klink hulle dan almal so happy? vra Nomsa.

      Sy’s reg. Die volgende groepie wat inkom, gesels net so vrolik met mekaar. Dit lyk beslis nie of hulle teen hulle sin hier gehou word nie.

      Wat sê die Italiaanse vrou? Of for that matter die Franse een? sein ek vir Leonardo.

      Ek het nie eens geweet hy kan Frans praat nie, maar nou ja, as mens loshande die slimste van almal in Bospoort Hoër is, is dit seker nie snaaks nie.

      My Frans is nie so hot nie, maar dit klink of hulle praat oor wat hulle alles vandag gaan doen.

      Dit klink amper soos ’n vakansie, sein Nomsa. Maybe vat hulle die vroue op trips …

      Kyk daar! onderbreek Tara haar.

      ’n Baie mooi donkerkopvrou in ’n outfit met die kleur van flou koffie staan voor in die vertrek. Waar sy met ’n pointer na die muur wys, verskyn ’n skerm met vreemde letters en woorde. Sy begin praat. Die vroue se vertaalgoeters werk obviously, want dit lyk of hulle haar verstaan.

      Nomsa luister ’n oomblik voor sy begin sein. Lyk my dié klomp is groep drie, want dit is wat heel bo-aan op die screen teen die muur staan. Anyway, hulle begin met kunsklasse en ’n gym-sessie en dan gaan hulle spa toe. Mind you, ek kan doen met ’n manicure. Maybe kan ek vir my sulke geel klere iewers kry en in-slip as hulle …

      Nomsa, concentrate! raas Tara.

      Ja, ja, oukei … Ná ete is daar iets met stories te doen – ek weet nie of dit beteken hulle gaan boeke lees of fliek nie. Dan gaan hulle in die tuin loop – maybe kan ons vir tannie Mercia snatch as hulle buitentoe gaan.

      Nee, ons kan nie, sein ek. Tara se ma is nie deel van hierdie groep nie en buitendien, ons kan nie tot dan wag nie. Die Ander kan enige oomblik ondertoe kom.

      Mens kan nie die hysbak van hier af sien nie, maar as een van die vroue om die hoek loer, sal hulle sien my rugsak keer dat die hysbak se deur toegaan.

      Net toe tel my Bewaker-senses ’n fyn piepgeluid op. Die vrou wat in charge is, kyk na iets wat om haar pols vas is en soos ’n klein rekenaartjie lyk. Sy raak daaraan. ’n Manstem praat in hulle taal.

      Die man sê iets van intruders en die hysbak, sein Nomsa. Ek dink ons het moeilikheid.

      Die vroue begin met mekaar praat en rondkyk. Dan loop die vrou met die bruin klere hysbak se kant toe. Ons beter wegkom voor sy die rugsak wegvat en die Ander ondertoe kom, sein ek.

      Wegkom waarnatoe? Ons is vas, sein Nomsa paniekerig.

      In daardie gang af, sein Leonardo en wys regs van die ontvangstoonbank. As ons ons Kragte gebruik en vrék vinnig hardloop, sal die vroue nie veel meer as ’n blur sien nie.

      Oukei, sein Tara, maar wat van Nomsa? Sy’s stadiger as ons.

      Moenie worry nie, ek sal haar ’n lift gee.

      Leonardo Contarini, as jy my oor jou skouer probeer gooi, gaan ek …

      Nou!

      Stoele, tafeltjies en lampe vlieg saam met ’n hele klomp geel outfits by my verby. ’n Splitsekonde later staan ek by die ander om die eerste draai in die gang.

      Nomsa begin dadelik skel toe Leonardo haar grond toe laat sak. Dink jy ek is ’n bloody sak papmeel wat jy net oor jou skouer kan gooi as jy lus het?

      Freakit, maar jy’s ondankbaar, sein hy terug.

      Volgende keer …

      My ma is hier naby, val Tara hulle in die rede en begin drafstap.

      Wait for me, kla Nomsa.

      Roer jou gat, jy wil mos self loop, sein Leonardo vies.

      Die merk teen my nek begin brand en iewers in die gang agter ons kom voetstappe en stemme nader. Gou, hier in! sein ek en stoot die naaste deur oop. Ek maak die deur saggies toe nadat ons almal in is.

      Dit lyk soos ’n walk-in closet, sein Nomsa terwyl sy rondkyk.

      Rye en rye relings met geel outfits staan in die middel van die vertrek en op die rakke teen die mure is skoene en ander opgevoude klere.

      It’s more like a storeroom, sein Tara en wys na die rakke waarop houers met vertaalgoeters staan.

      Wat dit ook al is, ek dink ons moet bietjie shopping doen, sein ek en hou die naaste geel outfit voor my. Kies dit só dat dit oor ons klere kan pas, want as ons weer bo kom, moet ons dit uittrek om weer soos die skoolkinders te lyk.

      Nomsa kyk vir Leonardo op en af. Jy beter hoop hulle cater vir groot aunties ook, anders gaan jy nie mooi inblend nie. Jy moet anyway maar ’n low profile hou – dan dink hulle maybe net jy is ’n groot plaas-auntie met muscles en plat boobs.

      ’n Plaastannie nogal … Ouch, my arme ego, sein Leonardo terwyl hy begin rondsoek.

      Gelukkig kry ons gou elkeen ’n geel outfit wat pas. Selfs Leonardo kry een wat net-net vir hom pas. Hoe lyk ek? vra hy toe hy dit aanhet.

      Soos ’n outsize skoenlapper, sein ek terwyl ek deur toe loop. Ek hoor niks in die gang nie. Die merk teen my nek brand ook nie meer nie. Ek dink dis veilig, sein ek.

      Let’s go. I will lead the way – my mom is close by, sein Tara.

      Hoe verder ons loop, hoe meer ruik ek dit. Suurlemoen en roosblare. Komkommer en gemmer. Spa-geure. Onthou breek ’n stukkie van my hart af. Net nadat ek ’n Bewaker geword het, het my ma my vir ’n facial in Bospoort se mall gevat omdat ek uitgefreak het oor al die nuwe Bewaker-dinge.

      Nou kyk, ek en my ma baklei die meeste van die tyd, maar op hierdie oomblik sal ek wat wou gee om langs haar met ’n groen komkommermasker aan in die mall te sit.

      Tara