eerlike mense hard gewerk het. Gaan vertel vir Abraham Klink dat daar ’n Here is wat ook gesien het en dat die dag gekom het wat die Here hulle boosheid sal ontbloot. Ek, Katryn Jonis, ek voel dit in my binnegoed, so help my God.’
“Doempies se oë het omgedop en ek kon die skrik op sy gesig sien. Hy’s met so ’n vaart daar weg dat sy kar se skopspore seker nou nog op Diepdrif se werf lê. Toe weet ek, meneer. Daar’s net een ding wat ’n man só laat lyk, en dis ’n skuldige gewete.
“Salmon en Pietertjie is toe kraal toe om te gaan melk en ek het die tweeling weer rivier toe gestuur vir water. Ek was nie lank in die kookhuis nie, toe hoor ek die meisiekinders se gille van die rivier se kant af. Toe weet ek daar’s ’n groot neukery. My kombuismes met die swart hef het by my hand gelê. Dis ’n mes wat Salmon vir my by ’n Wambo gekoop het. Ek het daai mes elke dag van my lewe gebruik, vir vleis werk of groente skil of brood sny. Ek het die mes gegryp en uitgehardloop, vas in Sonatjie. ‘Dis Koos Klink, Ma!’ het sy gehuil. ‘Hy’t vir Lizzie gegryp en op die grond vasgedruk!’
“Ek het vir haar geskrou: ‘Loop roep jou pa-goed by die kraal!’ Toe het ek begin hardloop. So ’n ent tussen die bome in sien ek die twee: Lizzie op haar rug met Koos Klink bo-op haar. Daar maak ek toe die fout om te skrou: ‘Hou, Lizzie, hou, Ma kom!’ Koos het opgespring, gulp oop en sy skaamte wat uithang. Hy’t soos ’n windhond tussen die bome weggeraak en ek is agterna.
“Meneer, ek erken vir meneer, en ek sal dit in die hof ook erken: die drif wat op daai oomblik in my hart was, was die drif om te moor. Wat die Klinke betref, het ek gevoel, het ek klaar met my mond gepraat. Vandag gaan ek met my kombuismes praat.
“Meneer sal nou sê ’n vroumens met ’n lang rok aan kan nie ’n man wat helfte haar jare is inhardloop nie, maar ek het daai middag gehardloop soos toe ek ’n jong meisiekind was en ek maklik ’n bokkapater van agter kon inhardloop en aan sy stert vang. Die gevoel wat oor al die jare in my hart opgehoop het teen die Klinke, oor al die dinge wat hulle aan my en my familie gedoen het, het my krag gegee. Ek het tree vir tree op Koos ingehaal en ons was al by die kraal op hulle bokwerf toe het ek hom.
“Maar meneer, nou gaan ek vir meneer ’n ding sê. Dit sal seker vir meneer moeilik wees om te glo, maar meneer móét my glo, asseblief. Die ding wat ek gaan sê, is die waarheid, so heilig en so waar as wat net die waarheid kan wees.
“Meneer, ek het nie vir Koos Klink gesteek nie. Dis nie omdat ek nie wóú nie, maar ek is platgeslaan voor ek dit kon doen. Iemand het van agter af gekom en my oor die kop geslaan dat die sterre voor my oë uitgeskiet het. Ek kan onthou dat ek geval het en dat die mes uit my hand gespat het, maar van daar af kan ek niks onthou nie.
“Toe ek bykom, was dit al donker. Ek het my oë oopgemaak en in die Klinke se bokke vasgekyk. Hulle het om my en omtrent bo-op my gestaan. Soos ek geroer het, het hulle geproes en teruggespring. Dis mos nou van ’n boerbok – hy vrek van nuuskierigheid. Behalwe vir die bokke was alles stil.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.