mense, en veral die ouer vrouens, het vir Katryn baie kwalik geneem. Hulle het vir ou ant Siena gestuur om met haar te kom praat. Sy onthou die antie se woorde asof dit gister was.
“Die oppraatkrag is nie joune om te gee en terug te hou soos jý wil nie, Katryn. Dit behoort aan al die Namas. Jy is net die uitgesoekte een na wie die mense kan kom as hulle hulp nodig het.”
“Ek stry nie, antie. Ek weet dat die krag aan al die Namas behoort, en ek sal dit gee aan elke Nama wat daarvoor kom vra. Maar solank die krag in my liggaam is, sal geen Klink iets daarvan kry nie.”
“Jirre, Katryn! Hoe kan jy met gevoude hande staan en kyk dat ’n onskuldige kind sterwe? Dis mos haat wat so praat!”
“Ja, antie Siena, haat uit die hel uit. En as jy wil weet hoe daai haat uit die hel uit losgekom het, gaan vra vir Abraham Klink. Hý het dit daar gaan uithaal.”
Die antie het opgestaan om te loop. “Ek verstaan jou nie en ek verstaan nie die haat tussen jou en die Klinke nie. Maar onthou net: as daar ’n dag kom wat dit voel of die Here en al sy mense die rug op jou gedraai het en die eensaamheid jou wil doodwurg, dink aan wat jy aan Joey Klink se dogtertjie gedoen het.”
Dié woorde het haar groot laat skrik, en sy het soggens benoud opgestaan en holrug deur die dag geloop soos sy gevrees het vir die straf wat haar sal tref. Maar vreemd, in plaas van straf het die wonderlikste seën kort daarna oor die Jonisse gekom. Sy sal nooit die oggend vergeet wat mister Vlok, wat nou al bestuurder op Grootderm was, vir haar en Salmon na sy kantoor ontbied het nie.
Saam met hom in die kantoor was ’n vreemde man. Mister Vlok het hom voorgestel as ’n beampte van Kleurlingadministrasie. Volgens die man het die administrasie die eerste van ’n paar plase hoër op langs die rivier by Diepdrif uitgemeet, en hy het dié plaas vir hulle aangebied. Die administrasie sal hulle geldelik ondersteun om hulle daar te vestig.
Die man het nog lank gepraat en toe het hy gesê: “Maar Salmon en Katryn, daar is één ding wat julle moet weet: Alles wat ek vandag hier vir julle aanbied, sal tot niet gaan as julle nie bereid is om hard te werk nie. Ons is besig met ’n proefneming; ons wil kyk of kleurlinggesinne op hulle eie voete kan kom as hulle die kans kry. Ons begin by julle, en julle moet weet ek het nie sommer julle name uit ’n hoed getrek nie. Ons het lankal vir meneer Vlok gevra om vir ons ’n huisgesin uit te soek om mee te begin, en hy hou vol dat hy niemand anders ken wat hy so sterk kan aanbeveel as vir julle twee nie. Hy het gesê: ‘Los die klomp net vir Katryn Jonis. As harde werk ’n familie bo kan laat uitkom, sal sý toesien dat hulle bo uitkom.’ ”
Die man het ’n oomblik stilgebly om die heuning behoorlik te laat trek en toe gevra: “Wat is julle antwoord? Gaan julle die kans waag?”
Katryn glimlag as sy dink dat sy nooit eens sy vraag geantwoord het nie. Sy het so aan die huil gegaan dat sy nie ’n woord kon praat nie. En natuurlik was die beste van alles dat hulle kon wegkom van die Klinke af.
Sy maak haar oë toe en voel hoe die spanning uit haar lyf verdwyn as sy dink aan daardie eerste weke en maande op Diepdrif. Langs daai rivier het hulle sweet weggegooi. Die dae was te kort, en sy en Salmon en die kinders het groot stukke van die nag gesteel om die dae langer te rek.
Baie nagte het Pietertjie haar wakker gehuil as sy bene so pyn van heeldag agter die skraper loop om beddings gelyk te sleep vir die lusern. Dan het sy sy bene met bokvet en bloekomolie ingevryf en gesê: “Ek weet jou lyf is seer, my kind, maar onthou net, hy is seer omdat jy vir jouself werk. Dis nie die witman se lande wat jy gelyk maak nie, maar jou eie lande. Soos jou lyf nou pyn, het my en jou pa se lywe baie nagte gepyn van vir die witman werk. Ons het hierdie omtes gelyk gesleep solat die witman sý lusern kon plant en sý skape en bokke vet voer en sý sakke vol geld maak, terwyl die deel wat ons gekry het nie aldag genoeg was om van kos te koop nie.
“Hou aan en hou uit. Een van die dae, as die lusern blou in die blom staan, lag ons almal. En teen die tyd dat jy aan vrouvat dink, loop jy nie meer agter ’n skraper nie, maar ry jy op ’n trekker.”
Dit het elke jaar beter gegaan. Die reën het nie een jaar oorgeslaan nie, en elke winter kon hulle met hulle vee uittrek buiteveld toe. As die kos in die buiteveld min geraak het, het hulle teruggetrek Diepdrif toe. In die somermaande het die bokke aan die doringbome langs die rivier gevreet. Die slagvee wat hulle aan die myn verkoop het, het hulle met lusern vet gevoer. Hulle het ook met ’n karakoelboerdery begin, en die karakoeltroppie het so mooi aangekom dat hulle gou kon begin lammers slag vir die velletjies.
Die eerste jaar op Diepdrif was sy bang vir die goedgaan met hulle. Sy het geglo dit kon nie so aanhou nie. Sy het by Salmon daarop aangedring dat hulle by elke moontlike geleentheid Kuboes toe moes gaan, na eerwaarde Schmidt se kerk toe.
“Ons moet nooit ophou om vir die Here dankie te sê nie, Salmon. Toe die Here Diepdrif vir ons gegee het, het Hy nie net vir ons voorspoed gegee nie, maar Hy het ons ook weggevat van die Klinke af. Hy het ons dubbeld geseën.”
Later het haar vrees verdwyn en sy het begin glo dat dit nooit weer sleg sal gaan nie. En toe dáárdie geloof op sy sterkste was, het die stroom teen hulle gedraai.
Dit het daai winter waterloop gereën. Die opslag het soos hare op ’n hond se rug gestaan en in die buiteveld was die blomme so dig dat jy nie kon loop sonder om op iets te trap nie: gansogies, gousblom, stinkkruid, sporrie, hoendermissies, hongerblom, pietsnotjies. Party dae het die blomme se soet reuk jou skoon kopseer gegee. En die vygies! Plate en plate pienk en geel en wit, só helder dat dit eintlik jou oë seermaak.
Die bokke was vet en die meeste van die ooie het tweelinge gelam. Sy kon sien hoe die kinders uitswel van bokmelk drink, en hulle het die wit bokmelkbotter op die asbrode geplak. Salmon en Pietertjie het eendag ’n vet heuningnes in ’n klipkoppie gekry en toe sê sy nou weet sy hoe dit voel om in die land van melk en heuning te lewe, nes in die Bybel.
Hulle het ’n bietjie vroeër as ander jare teruggegaan Diepdrif toe, want sy het gesê hulle moet betyds wees vir die groot Nagmaal op Kuboes. Pietertjie en die tweeling het hulle hande vol gehad met die aanjaag van die klomp vet hamels wat hulle vir die kerkbasaar gegee het.
Ná die basaar het eerwaarde Schmidt na hulle kampplek toe gekom en haar en Salmon spesiaal kom bedank vir hulle bydrae. Met dié ruim gawe, het hy gesê, was hy verseker van sy salaris tot aan die einde van die jaar.
Maar toe hulle daardie Maandag met die donkiekar van Kuboes af op Diepdrif aankom, het die skoknuus hulle voor die bors getref soos die skop van ’n steeks muil. Kleurlingadministrasie het Bruinwater, die plaas langs Diepdrif, aan Abraham Klink en sy familie toegesê.
’n Paar dae nadat die Klinke op Bruinwater aangekom het, het twee van die lusernmiedens op Diepdrif in die nag aan die brand geslaan. Nog twee dae later het al die afgeslagte karakoelvelletjies van die droogstellasie af verdwyn. Dié dag moes sy by Salmon en Pietertjie pleit en keer dat hulle nie die Klinke met kieries gaan takel nie.
“Dis net wat hulle soek, Salmon. As jy met ’n kierie se knop aan ’n Klink raak, sal Koekemoer uit die Port kom en julle kom oplaai en vir jare en jare in die tronk laat toesluit.”
Salmon was verby radeloos. “Maar Katryn, sê dan vir my wat ons moet doen. Moet ons stilsit en toekyk dat die duiwelskinders ons plaas onder ons uitbrand en ons profyt stuk vir stuk steel?”
“Ek weet, my man, ek weet hoe jy voel,” het sy geantwoord. “My hart sê ook vir my ons moet die vuilgoed gaan uitmoor, maar my verstand sê vir my ons moet ons inhou. Net één baklei met die Klinke kan maak dat ons alles verloor wat ons hier op Diepdrif opgebou het. Ons moet ons vee en ons lande beter oppas en op die Here vertrou. Eerwaarde het juis nou die Sondag uit Hebreërs gelees waar die Here sê: ‘My kom die wraak toe.’ Ons moet glo dat die Here die boosdoeners sal bykom.”
Salmon het brom-brom sy kierie langs die huis neergegooi en vir Pietertjie gesê: “Jy’t gehoor wat jou ma sê. Sit neer jou kierie.”
Dis in daardie dae dat sy met die Here begin twis het. Haar geloof dat Hy die Klinke vir hulle wandade sou straf, het al minder geword. Die Klinke het geen geleentheid laat verbygaan om die Jonisse skade aan te doen