gevaarlike woorde wat jy nou daar sê, Katryn. Ons sal maar versigtig moet wees dat jou gevoelens nie in die hof na vore kom nie. Dit kan jou saak ontsettend benadeel.”
“Meneer, net so min as wat die son wat opkom sy lig kan versteek, so min kan ek dit vir mense wegsteek hoe ek oor die Klinke voel.”
Hy sug en skud sy kop.
“Dit moet ’n ontsettende twis tussen julle gewees het. Waar kom dit vandaan? Wie het dit begin?”
“Abraham Klink het dit begin, meneer. Die nag toe my pa sterwend aan die bloedhoes gelê het, het hy klippe op ons huis se dak gegooi en my pa en sy nageslag tot in sy graf in vervloek. Maar dit was nog nie die ergste nie. Hy het my pa se graf geskend, sy nagvuil daarop uitgemors! Waffer soort mens doen dít, meneer? Dan praat ek nog nie van al die skades wat hy ons Jonisse aangedoen het nie. Waar Abraham Klink se haat vir ons vandaan kom, weet ek nie, dit moet jy maar vir hom gaan vra. Soos ek hier sit, meneer, kan ek voor die Here sweer dat ek en my familie nog niks aan daai mense gedoen het nie. Voorwaar niks nie, behalwe dat ek nie Joey Klink se voorkind wou oppraat nie. Maar meneer, as ’n mens aan jou doen wat die Klinke aan die Jonisse gedoen het, dan moet hy nie kom oppraat vra die dag as sy kind op sterwe lê nie.”
Hy kyk fronsend na haar. “Wat is oppraat?”
“Meneer, nou ja, dis ’n ding wat ek glo die mense hierlangs nie sal ken nie. Oppraat is ’n ding wat Elotsê, ons Namas se God, so een-een op ’n slag aan die Namavrouens gee. Dis ’n krag wat so sterk is dat jy ’n sterwende kind na die lewe kan terugpraat. Jy praat daai kind aan om te lewe en as jy praat en aanhou met praat, dan lig die kind sy kop op en raak hy gesond. Daai oppraatkrag is in my. Ek sal elke sterwende Namakind wat na my gebring word oppraat, maar vir Abraham Klink se kleinkind wou ek nie my mond oopmaak nie.”
Dis stil terwyl die advokaat in sy boek skryf. Toe sit hy sy pen neer en kyk lank na haar.
“Jy sê jy kan nie skrywe nie, Katryn, maar een ding is seker: jy kan praat. Môre sal ons moet praat oor die moord op Koos Klink.”
. Hoofstuk 4 .
Toe advokaat De Villiers die volgende oggend inkom, dra hy sy bruin koffertjie in die een hand en ’n groot swart boks in die ander.
“Kom ons kyk ’n bietjie wat ek hier het.” Hy sit die boks op die tafel neer en haal ’n vierkantige masjien uit. “Katryn, hierdie is ’n stemopnemer. Verstaan jy hoe ’n grammofoon werk?”
“Ek kan hom speel, meneer, maar ek weet nie hoe hy werk nie.”
“Nou ja, hierdie ding werk amper soos ’n grammofoon. Sien jy hierdie blink draad op die rolletjies? Dis die plaat. As ek die opnemer aanskakel en jy praat in die mikrofoon, word jou stem op die draad opgeneem. As jy klaar is, neem ek alles huis toe, laat die rolletjies terugloop en vanaand sit ek rustig agteroor en luister na wat jy vertel het.”
“Ek sien, meneer. Dis nogal ’n slim ding, of hoe?”
“Ja, dis omtrent handig.”
Hy skuif die masjien reg en druk hier en trek daar. Toe sit hy die mikrofoon voor haar neer en beduie hoe sy dit by haar mond moet hou.
“Katryn, nou wil ek hê jy moet goed dink oor wat presies daardie Vrydagmiddag gebeur het. As jy klaar gedink het, moet jy die storie hier in die mikrofoon vertel.”
“Dink is so by so nie nodig nie, meneer. Van daai middag af is dit al wat ek heeltyd doen: ek dink.”
“Nou maar goed, dan is jy gereed om te begin.”
Sy knik en trek haar kopdoek reg.
“Een ding moet jy baie goed verstaan, Katryn: jy moet niks uitlaat nie. As jy party dinge meer as een keer vertel, is dit heeltemal in orde. Jy moet net niks uitlaat nie.”
“Ek sal perbeer, meneer.”
Hy skakel die masjien aan en tel sy koffertjie op. By die deur kyk hy om en sê: “Gesels rustig, hoor, niemand sal jou steur nie. Ek kom oor ongeveer ’n uur terug.”
Sy wag tot sy nie meer sy voetstappe in die gang hoor nie. Toe buig sy nader aan die mikrofoon. Sy begin praat. Sy vat die storie by sy begin en sy lê hom stap vir stap uit: alles wat die Klinke aan hulle gedoen het, van haar pa se graf desjare op Kortdoorn tot by hulle boerdery vandag op Diepdrif.
“Maar nou moet ek meneer eers van Doempies Pieterse vertel, die slegding uit die Kaap wat hom kom flaai hou het by my dogter Fluitjie. So het dit aangegaan tot Fluitjie by hom ingetrek het, en nou is Mêrie al ’n kruipkind. Soos ek geweet het, sou die neukery een of ander tyd begin. So vroeg in die jaar kom Fluitjie een middag huil-huil met Mêrie by die huis aan en sê sy kan dit nie langer uithou by Doempies Pieterse nie. Hy het glo in die laaste tyd sakke vol geld wat sy nie weet waar hy dit kry nie, maar daarvan sien sy en die kind niks. Hy hang alles aan sy lyf op, en as sy vir hom geld vra vir nodiggeite, sê hy sy moet vir haar ma geld vra. Solank haar ma meen hy’s te sleg om met haar te trou, moet haar ma maar sorg dat sy en haar kleinkind kos in die maag kry.
“Mister Vlok het glo vir Doempies ’n baaisiekel uit die Port uit gebring en met dié ry hy baie middae daar weg en dan sien sy hom eers weer die volgende dag. Toe sal sy uitvind sy kuierplek is by die Klinke op Bruinwater. Sy’t hom ingevlieg daaroor, toe sê hy die Klinke is goeie mense en sy moet die oorsaak van die twis tussen die twee families in haar ma se huis gaan soek.
“Meneer, ek het my dogter nie verwyt nie en ek het nie vir haar gesê dat ek haar van die eerste dag af teen Doempies Pieterse gewaarsku het nie. Ek het net vir haar gesê sy weet waar’s haar kamer en sy weet daar’s kos in hierdie huis. Dit was nie net lekker om my kind terug te kry nie, ons het ook ’n ekstra paar hande op die plaas baie nodig gehad.
“Ek het eers gemeen Doempies se geheul met die Klinke was net ’n nuwe manier om ons by te kom, maar Salmon het verder gedink. ‘Nee, my vrou, ek dink daar’s ’n heel ander duiwel aan’t uitbroei,’ het hy gesê. ‘Neuk hulle nie dalk met diamante nie? Waar sal Doempies skielik so baie geld vandaan kry?’
“Ek het vir Salmon gesê ek sal bly wees as dít die waarheid moet wees, want in ons wêreld hou jy deesdae nie lank as jy met diamante deurmekaar raak nie. Nou-nou kom tel die diamantspeurders jou op en dan hoor of sien niemand weer van jou nie. Jammer, meneer, ek praat so lank, maar ek kom nou by daai Vrydagmiddag waarvan meneer wil weet.
“Die Klinke het ons al suffel skade aangedoen, maar daai middag . . . Ai, meneer moet tog saam met my bid dat daar nooit weer so ’n middag oor my lewe sal kom nie. Dit was al namiddag toe Sona en Lizzie af rivier toe is om te gaan water skep. Toe kom hulle vaal in die gesig aangehardloop om te sê hulle het op ’n karakoelooi afgekom wat naby die paadjie lê, die stomme ding se hakskeensenings is afgesny. Salmon en Pietertjie het die skaap keelaf gesny en huis toe gebring en toe moet ons kort voor sononder staan en slag.
“Ons is nog by die slagbank besig toe ons ’n mouterkar hoor dreun, ’n vreemde kar. Toe hy voor ons stop, het my bene so byna onder my geswik toe ek sien wie sit agter die stuurwiel. Niemand anders nie as Doempies Pieterse. Hy skree so by die venster uit: ‘Hoe’s dit vandag? Hoe’s dit vandag? Hoe lyk die man wat te sleg is om met jou dogter te trou vandag vir jou?’
“Meneer, ek kon hom nie antwoord nie, want van skrik het die woorde in my keelgorrel vasgeslaan. Fluitjie het hom bygeloop en geskree: ‘Wie se mouterkar ry jy? Is dit die myn s’n?’ Toe sê Doempies: ‘Myn se moer! As ek mouterkar ry, ry ek my eie kar. Ek kom julle net wys. Jy vat my kind en jy loop uit my huis uit weg en jy vertel vir almal langs die rivier ek’s te armgat om vir julle te sorg. Hoe lyk dit nou, huh?’
“Mêrie ruk toe los uit Fluitjie se hand, die armpies in die lug, en skree: ‘Pa, Pa!’ Sal daai vreksel nie ’n kardoes lekkers deur die venster na die kind toe gooi nie! ‘Hier’s vir jou niekerbôls, Mêrie. Sit een in jou mond en druk twee in jou ore dat jy nie kan hoor as jou ouma begin vloek nie,’ en toe lag hy daai skollielag van hom.
“Meneer, toe ek sien hoe hy sy eie kind behandel, toe gaan my gorrel oop. Ek het net daar vir hom