>
Katryn vrou van die Richtersveld
Jan Huisamen
Human & Rousseau
Opgedra aan my vrou Dalene
In 2002 het die Namas van die Richtersveld ’n oorwinning in die Hooggeregshof behaal met die grootste grondeis in die geskiedenis van Suid-Afrika, naamlik 200 000 hektaar. Vir die eerste keer sedert die anneksasie van Namakwaland in 1847 kon die Namas weer die Richtersveld hul eie noem, en die gemeenskap het by wyse van ’n referendum oorweldigend daarvoor gestem dat die grond kommunaal besit word en nie individueel nie. In 2011 is die Richtersveld Kulturele en Botaniese Landskap tot ’n Unesco Wêrelderfenisgebied verklaar.
. Hoofstuk 1 .
Katryn Jonis leun met haar skouers teen die muur van die sel, haar oë toe. Sy sit plat op die klapperhaarmatras en die koue van die sementvloer sypel deur haar dun katoenrok, maar dit hinder haar nie. Sy geniet die stilte. Nie dat daar in die tronk ooit werklik stilte is nie. Dis ’n aanhoudende kabaal van seldeure wat klap, bevele wat geskree word of mense wat deur die gange marsjeer.
Die stilte wat sy geniet, is die stilte hier reg om haar. Die paar vrouens wat die sel met haar deel, is vanoggend almal weggevat om in die hof te verskyn.
Hulle aanhoudende gepraat en vieslike gevloek irriteer haar, maar gelukkig los hulle haar uit. Toe sy eergister hier aangebring is, het hulle dadelik om haar saamgekoek, maar die oomblik toe hulle hoor wat die klag teen haar is, het hulle weggesluip en in hulle eie hoek gaan bondel maak. Sy hoor so af en toe dat hulle na haar verwys as die “kondêm” – die een vir wie daar geen hoop is nie. Die een wat aans aan die ent van ’n galgtou gaan sterf.
Hoewel sy nie wil hê dat hulle so om haar moet saamdrom nie, maak dit tog seer. Soos gister. Sy het op haar matras gelê en gemaak of sy slaap toe nog ’n vrou ingebring word. Sy hoor toe hoe die nuwe vrou vra: “En daai een wat so toe-oog lê, wat is haar charge?”
“Moord, my suster, moord. Sy’t mos twee oumense se enigste klong met ’n mes doodgesteek.”
“Hiert! Wat sê jy?”
“Dis wáár. Jy kan mos sien sy’s nie soos ons nie, kom doer uit Namakwaland uit. Ons hou ons maar eenkant.”
Ja, dink Katryn, die vrouens is reg. Die charge ís moord. Kortendag moet sy voor die halsregter verskyn op aanklag dat sy vir Koos Klink met haar kombuismes doodgesteek het.
Maar watwou Namakwaland, sy is ’n grootvrou van die Richtersveld, met opregte Namabloed in haar are. Daar waar sy vandaan kom, praat hulle darem nie van die môre tot die aand van hoer en suip en dronkmanspaarties nie. En dan nog met elke tweede woord Boontoe roep.
Al sit sy ongemaklik so teen die muur, kom die slaap. En met die slaap kom die droom.
Sy is tussen die doringbome op die wal van die Grootrivier. Sy hardloop. Só gemaklik hardloop sy ten spyte van haar lang rok dat dit voel of sy sweef. Die son vang kort-kort die mes in haar regterhand dat dit ’n blink lig maak.
Sy weet wie dit is wat voor haar uitvlug. Dis Koos Klink. Hy is halfpad jonger as sy en hy het nie ’n lang rok aan nie, maar sy haal hom in, want haar woede is groter as sy vrees.
Nou is sy naby. Sy sien die donker kolle wat die sweet op sy kakiehemp maak. Hy kyk om en sy lees die vrees in sy oë. Dit laat haar nog vinniger hardloop. Nog net ’n paar tree, dan het sy hom. Hy struikel en hou sy hande op om die steek af te weer. Sy lig die mes hoog . . .
En dan kom die slag. Net soos dit daardie middag langs die rivier gekom het, en nes dit elke keer in die droom kom.
Die enigste verskil is die sterre voor haar oë. Langs die rivier het die sterre voor haar oë verskiet, en in die droom raak sy met ’n ruk wakker.
Dis ounag, maar Katryn se vaak is heeltemal weg. Dis elke keer se storie as sy die middag geslaap het en die droom gedroom het.
Twee van die skollievrouens is skuldig bevind in die hof. Hulle gaan môre gevonnis word. Toe hulle gistermiddag terugkom, het hulle vreeslik te kere gegaan, op die polisie en die bewaarders geskel en die regter se ma onder haar rok uit gevloek. Dit het later vir Katryn gevoel of sy haar vingers in haar ore kon druk en hulle nooit weer uithaal nie.
Nou is dit stil. Net af en toe kom daar ’n snik uit die een hoek.
Katryn is al bang vir hierdie wakkerlê snags, want saam met die wakkerlê kom die gedagtes. En die verlangens. Eers het sy dit uit haar kop probeer wegdruk, maar sy het gou geleer: baklei teen gedagtes is ’n baklei wat sy nie kan wen nie. Nou laat sy dit maar oor haar spoel soos die Grootrivier se bruin water.
Haar gedagtes loop, hulle loop ver terug, tot by Kortdoorn se dae. In hulle sinkhuisie sit sy en haar ma by die sterfbed van haar pa. Die een maal wat die dokter by haar pa was, het hy gesê dis tering, maar hulle Richtersvelders praat van die bloedhoes.
Vir maande moes hulle haar pa se lyding aanskou. Die droë hoesbuie waaraan hulle so gewoond geraak het, was die afgelope twee weke nog erger. Hierdie laaste week bid hulle nie meer vir genesing nie. Hulle bid net dat die Here hom so gou as moontlik sal kom haal.
Katryn weet haar pa sal nie die nag deurmaak nie. Toe sy weer ná ’n lang hoesbui die skuim en bloed van sy mond afvee, kyk sy na haar ma. ’n Ligte knikkie van haar kop; die tyd om te groet het aangebreek.
Die trane wel in Katryn se oë op toe sy haar pa se klam hand optel, die palm hard en vereelt van jare se graafsteek. Oorkant haar vou haar ma sy ander hand in hare toe. Die geluid van ’n klip wat op die sinkdak val, skiet soos ’n skoot bokhael deur die kamer. Toe nog een, en nog een.
“Ag, Here, bewaar ons!” kerm haar ma. “Ontsien die boosdoener dan nie die dood nie?”
Net so skielik hou die aanval op.
Katryn hardloop deur toe. Sy sukkel met die werwel van die onderdeur, bars uit buitentoe, maar haar oë stuit teen die pikswart donkerte. Die hoonlag skeur deur die stilte van die nag.
“Vrek, jou hond, jou maaksel van ’n moordenaar! Moenie dink vrek sal jou laat loskom nie. In jou graf sal ek jou óók bykom, vir jou en jou hele nageslag. Vrek, vrek, vrek!”
Toe die voetvalle van een wat weghardloop.
Terug in die kamer val Katryn voor die bed neer. Sy buig oor haar pa, haar ma se gehuil hard in haar ore. Nog voor sy na haar pa kyk, weet sy. Die bloederige bol skuim voor sy neus en mond word nie meer in en uit gesuig nie. Hy is dood.
Die oggend ná die begrafnis loop sy en haar ma styf by mekaar ingehaak kerkhof toe, elkeen met ’n bossie blomme. Hulle praat nog steeds oor die aanval. Almal vir wie hulle daarvan vertel het, het net die kop geskud en gesê dit moet ’n boosaardige doodsgees wees, want geen mens sal so iets aan ’n sterwende doen nie.
Of dit mens of gees is, een ding weet Katryn: sy stem sal sy onthou. As hy praat, op die aarde of uit die lug uit, sal sy hom herken.
Sy druk die geroeste hekkie oop, laat haar ma eerste inloop en draai om om die hekkie toe te maak. Haar ma se hoë gil laat haar omswaai. Brommers styg op uit die hoop stink gemors op haar pa se vars graf. Mensedrek.
Sy voel hoe haar maag opruk van die stank. Daarmee saam kom die woede. Witwarm soos ’n meslem uit die vuur skroei dit deur haar.
Soos die dae aanloop, bly kook dit in haar. Die ontering van haar pa se graf vreet aan haar soos seepsoda. Haar ma huil en die mense kom troos, maar Katryn hou haar gesig klipstil. Sy sê nie ’n woord nie, maar sy kyk elkeen fyn deur. Wie van julle het dit gedoen?
Die Vrydag moet sy Grootderm toe vir hulle winkelgoedjies. Soos sy vir mister Scholtz oor die toonbank haar bestelling gee, hoor sy mense met die stoeptrappies opkom. Daar word oor en weer gegroet.
Meteens verstyf haar hele lyf. Dit voel of ’n hand vol haelkorrels onder haar klere teen haar rug afrol. Daar het ’n nuwe stem bygekom. Hy praat vriendelik, maar daar is by haar geen twyfel nie: dis hý.
Sy