Jan Huisamen

Katryn


Скачать книгу

is en ’n kakiebroek wat bokknieë om sy effense krom bene maak. Op sy kop is ’n breërandhoed, ewe met ’n pienk flaminkveer in die tiervelband gesteek. Sy gesig is in ’n meelewende glimlag geplooi soos hy met die ander mense gesels.

      Die jongetjie wat agter in die winkel werk, loop verby. Katryn roep hom nader en vra sag: “Piet, wie’s die oom wat daar met antie Maria staan en gesels?”

      “Dis mos oom Abraham Klink. Hy en sy vrou, antie Sophy, het van Sendelingsdrif se wêreld af hiernatoe getrek. Hulle rondehuis staan sommer daar by ons. Dis seker nou al ’n maand of twee, het jy hulle dan nog nie gesien nie? Dis nou goeie mense daai. Almal wat met hulle blad gevat het, hou van hulle. Wil jy dagsê vir die oom?”

      “Alte seker, ja.”

      Sy vat haar suikersakkie winkelgoed voor hulle uitloop stoep toe. Dit maal deur haar kop: het sy nie dalk ’n fout gemaak nie?

      Piet groet die mense een vir een en sy groet agter hom aan.

      Abraham Klink draai om. “Môre, Piet!” Sy oë trek op skrefies soos hy lag. “En dié mooi meisiekind? Stel ’n man dan voor lat ek hoor.”

      “Dis Katryn Goosen, oom Abraham. Sy’s die dogter van oom Willem wat mos laas week aan die bloedhoes dood is.”

      Met die noem van haar pa se naam sien Katryn die verandering wat oor Abraham Klink kom. Sy het nie ’n fout gemaak met die stem nie.

      Hy ruk sy hand terug. Al die vriendelikheid is weg uit sy gesig. In sy donker oë sien sy iets wat sy in haar ganse lewe nog nooit in iemand se oë gesien het nie.

      Sy mompel ’n groet en draai om, struikel amper teen die trappies af. Op ’n drafstap vat sy die pad Kortdoorn toe. Wat gaan aan? Wat het haar familie gedoen om soveel haat in iemand te sit?

      Iewers slaan ’n horlosie. Dit moet baie ver wees, want Katryn hoor die horlosie net as dit doodstil in die selle is, en as die karre in die strate ook stil is. Daar hoor sy dit weer. Sy tel die slae . . . twee, drie, vier.

      Nou is dit amper opstaantyd op die plaas. Ag, wat sal sy nie betaal as sy net vir ’n paar minute agter Salmon se rug kan inskuiwe nie. Hierdie tronk se naam moet eintlik wees “die plek van groot verlang”. Daar is ander name wat ook sal pas, soos “die plek van ledigheid” of “die plek van vrees”, maar geen swaarkry is so groot soos die swaarkry wat verlang oor jou bring nie.

      Sy verlang na haar plaas en sy verlang na haar kinders, maar van almal verlang sy die meeste na haar man. Toe sy ’n jongmeisie op Kortdoorn was, het die jongetjies die paadjie na Willem Goosen se huis snuif getrap, maar sy was souerig vir hulle. Sy het haarself belowe dat die man aan wie sy eendag haar lyf sal gee, eers langs haar in Kuboes se kerk voor eerwaarde Schmidt sal staan. Die kinders wat sy in die wêreld sal bring, sal nie voorkinders wees soos so baie ander jongmeisies in die Richtersveld s’n nie. Die mense het al begin praat dat sy ’n oujongmeisie raak, maar sy was as-aan.

      Maar met Salmon Jonis het sy nie rekening gehou nie. Van die dag kort ná haar pa se dood wat hy voet oor die drumpel van hulle sinkhuis gesit het, het sy nooit weer na ’n ander man gekyk nie. Elke keer wat hy aan haar gevat het, kon sy voel hoe haar voorneme verflou.

      ’n Prikkeling kom oor haar lyf toe sy dink aan daardie Oujaarsdans by haar oompie-goed op Grootderm. Toe die Namastap begin, het sy vir haarself gesê: Katryn Goosen, as Salmon Jonis vanaand met jou stap, sal jy moet vashou. Jy sal moet sorg dat julle nie ’n voet buite die vuurkring sit nie.

      Maar wat, soos die aand gevorder het en die dans al vroliker, het sy al minder omgegee. Toe hy haar oplaas uit die ligkring stuur en hand om die lyf na die digte bome by die rivier lei, het sy sonder ’n woord saamgegaan.

      Die Maandagoggend het sy haar goed gevat en by hom in sy enkelkamer op Grootderm gaan intrek. “Saterdagnag het jy my lyf vir jou gevat, maar nou vat ek vir jóú. As jy ooit wil weet hoe dit voel as ’n hele es kole op jou kop omgekeer word, moet jy net met gedagtes in jou kop na ’n ander vroumens kýk.”

      Nege maande later is Fluitjie, hulle oudste dogter, gebore. Dit was eers ná die geboorte van Pietertjie dat hulle Kuboes toe is om in die kerk wettiglik te trou voor die eerwaarde. En drie jaar later was die tweeling daar, Sona en Lizzie.

      Toe sy by Salmon ingetrek het, het hy al ’n tydjie by CDM se boerdery gewerk. Dit was vroeërs meestal die melkery, varke, hoenders en groente, en sy het sommer gou ook werk gekry. Mister Vlok, wat toe nog ’n jong man was, was een van die voormanne by die varkboerdery.

      Soos hulle gesin aangegroei het, het Salmon aansoek gedoen vir ’n huis, en sy onthou vandag nog hoe gelukkig hulle daar in die muurhuis op Grootderm gebly het. En hoe hard hulle gewerk het. Soggens donkermôre was sy en Salmon uit en weg, en dan moes Fluitjie en Pietertjie dinge raakvat by die huis. Nadat Fluitjie die huis aan die kant gemaak het, moes sy en Pietertjie die groentetuin natmaak.

      Hulle kon met die tyd saam ’n troppie bokke aanskaf, en dit was Lizzie en Sona se werk om die vee veld toe te vat om te wei. Dit was tog te ougat om te sien hoe goed die twee kleintjies met die bokke en die lammers gewerk het.

      Salmon het een klagte gehad, en dit was haar spaarsamigheid. Hy het haar dikwels verwyt: “Katryn, ons Jonisse kon baie lekker gelewe het as dit nie vir jou alewige spaardery was nie. Van die dag wat jy met daai verdomde poskantoorboek by die huis aangekom het, eet ons nie ordentlik nie. En die kinders dra flenterklere. Die mense wys al vinger na ons en sê hulle weet nie wat die Jonisse met hulle verdienste maak nie.”

      Toe hy weer op ’n dag so kla, het sy vir hom met die oë beduie hulle moet uit. Hy’s ewe gehoorsamig buitentoe, want hy’t geweet sy praat nie oor grootmenssake voor die kinders nie.

      “Kom, ons loop af rivier toe,” het sy gesê en in die paadjie voor hom uit geloop.

      Hulle het onder die groot ou wilgerboom op die wal gaan sit. Voor hulle het die bruin waters verbygekabbel, en om hulle was die getjirp en gefluit van voëls. Die vinke was aan’t nes bou in die takke wat laag oor die rivier hang.

      “Salmon, kyk vir my, moenie kop wegdraai nie. Kyk in my oë as ek met jou praat. Ek wil diep uit my hart uit praat, en ek wil nie môre moet oorpraat nie. Jy praat so ’n praat een keer en dan praat jy hom klaar.

      “Jy ken my storie: dat my oupa Barend ’n witman was en my ouma Nama en dat hy haar dour anderkant Ploegberg by haar mense gaan afvat het. Dis hoekom my oë blou is soos ’n witmens s’n. My ouma het nie lank gehou nie, en later jare, toe my pa al jongman was, het my oupa met ’n witvrou getrou en ’n klomp kinders by haar gehad. Ek en daai kinders het saam grootgeraak hier op Grootderm, en dis waar ek geleer het van die vloek wat op jou rus as daar ’n bietjie bruin kleur in jou vel is. Jy is altyd tweede, jy is altyd agter, jy is altyd laaste. Daar is deure waar die witkind kan instap, maar jy moet omdraai. Ry jy met die motorkar, is jou plek op die agterseat, en ry jy met die lorrie, sit jy agter op die bak. Die enigste keer wat jy voorgestoot word, is wanneer die vuilwerk gedoen moet word. As die loon betaal word en die kos uitgeskep word, kry die witman die eerste en die meeste.

      “Ek het myself geblo dat ek my oupa se wit kinders sal wys dat ek nêrens vir hulle sal agterstaan nie. Alles wat hulle doen, sal ek net so goed doen, en nog beter ook. Ek het dit reggekry ook, maar wat my neus in die kraalmis gesmeer het, was die skool. Toe die meester die skool op Grootderm kom begin het, kon húlle gaan en ék moes buite bly. Toe het ek geweet die vloek van ’n bruin vel is te groot om van jou af te skud. Barend Goosen se wit kinders het my verbygegaan en my hier teen die rivier agtergelaat. Daar was vir lank ’n wrok in my hart, en as dit nie vir jou en ons kinders was nie, sou daai wrok my binnegoed weggevreet het.

      “Maar Salmon, ek het geleer daar is één manier waarop ons byna gelyk met die witman kan kom, en dis met geld. As jy voor die toonbank staan, praat jou geld net so hard as sy geld. Dis hoekom ek wil hê ons moet spaar. Want dis geld wat ons van die witman kan losmaak. Eerwaarde praat al lankal van die plan wat Kleurlingadministrasie glo het om plasies langs die rivier aan hardwerkende Namafamilies te gee. As daai kans kom, moet ons hom gryp. Ons kan nie lees of skrywe nie, maar ons kan met bokke werk en ons kan lusern plant. En ons kan tel. Gee vir ons ’n plasie en voor jy kan sê