huise binne en vermoor hul onskuldige vroue en kinders as hulle slaap nie.”
“Julle was seker in 2006 baie ontsteld met wat Sharon met die settlements in Gasa gedoen het. Julle het seker gedink dit gaan met julle ook gebeur?” val Marc vinnig in om die gesprek na veiliger waters te stuur.
Benny skud sy kop meewarig. “Die man wat ons altyd gehelp het, het teen ons gedraai. Arik Sharon. Wat ons hier bereik het tot in daardie stadium, het ons met sy hulp gedoen. Toe hy omdraai, was dit ’n harde slag vir ons.”
“Waarom dink jy het hy dit gedoen?”
“Dit was ’n geweldige teleurstelling vir ons. Hy was deel van ons in hierdie einste sinagoge by die begrafnis van ’n jong vrou wat vermoor is. Hier by die ark het hy gestaan en vir ons belowe: ‘Geen mag ter wêreld sal my ooit dwing om julle in die steek te laat nie.’ ”
“En tog het hy dit uiteindelik gedoen. Wat het hom laat verander?”
“Hoe hy grootgemaak is. Hy het geen aanknoping met die Tanach gehad nie. Ons het so baie gesprekke met Arik gehad. Maar hy het waarskynlik vasgevang geraak in ’n situasie wat hom verander het van wat hy eenmaal was. Dit het dalk te doen gehad met die dood van sy vrou, Lily, in 2000. Mense sê hy kon dit nie verwerk nie. Lily het dikwels saam met hom hiernatoe gekom.”
“Tog het julle in die 12 jaar wat daarna verbygegaan het, wondere hier verrig, Benny,” sê Rivkah.
Hy kyk na haar en ’n sagter lig kom oor sy gesig. “Weet jy wat die naam van hierdie sinagoge beteken?”
Sy knik. “Ek het dit gehoor toe ek hier was daardie tyd. Maar sê vir hulle.”
Dit kom uit Tehillim 102. “Ons, u dienaars, het elke klip van Sion lief, ons is bewoë oor sy puin.” Hy kyk Simon in die oë: “Dis hoekom ons hier is.”
Op pad na Afula, waarvandaan hulle verder sal reis Tiberias toe en waarvandaan Re’uven sal terugkeer Jerusalem toe, vra hy: “Julle slaap in die Ohalo-hotel oor?”
“Ken.”
Dis al laatmiddag toe hulle by Kinneret Village aankom. Dit is ’n pragtige plekkie langs die See van Galilea. Daar het Rivkah gereël dat iemand met hulle oor die wortels van die Sionisme sal kom gesels ter wille van Simon.
’n Ouer vrou staan hulle onder koeltebome te woord met die ligte geluid van die meer se klein golfies wat teen die sand uitspoel. Sy stel haarself as Tamar bekend. Sy praat vlot Engels, ten spyte van haar swaar Hebreeuse aksent.
Marc verduidelik van Simon wat ’n vriend uit Suid-Afrika is, in Israel vertoef om ’n verhandeling oor Marc Chagall te doen, maar ook graag meer van die wortels van die Sionisme te hore wil kom.
Die vrou se oë verhelder agter haar brilglase. “Suid-Afrika! My seun is met ’n Suid-Afrikaner getroud en woon in Bloemfontein,” vertel sy gretig. “Ek was al dikwels in die land. Waar kom jy vandaan?”
“Stellenbosch.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.