“Hy was nie naby genoeg nie. Die persoon naaste aan hom, Nahum Arush, het tweedegraadse brandwonde opgedoen. Hy was omtrent drie meter van die bomdraer af. Mure is gekraak en alle glas in die omgewing is versplinter. Die verwoesting was verskriklik. Die beton het bly staan, maar alle glas, spieëls, lampe, ornamente en meubels het in die slag gebly. Alles.”
“Dit moes groot skade vir die hotel se besetting tot gevolg gehad het. Was die mense nie daarna bang om hier te kom bly nie?”
“Betach! Dit het drasties gedaal. Ken, mense was bang. Daar het wel nog van die pelgrimstoere gekom uit solidariteit met die setlaars, maar ja, dit was moeilike tye. En dit het lank geneem voordat ons weer mense gerusgestel het.”
Hulle drink ’n rukkie hulle koffie sonder om te praat, tot Rivkah gedemp sê. “Maar daar was in Oktober van dieselfde jaar weer ’n aanval?”
“Ken, alles was net weer gerestoureer en ons gastegetalle het weer begin bykom.” Sy kyk na haar man. “Maar dit moet Menachem maar self vertel.”
Menachem glimlag effens, skud sy kop. “Ek het gesê my Engels is nie goed nie. Ek sal probeer. Ek sien die jong outjie die dag hier oorkant buite die petrolstasie. Hy was lank, ’n kop hoër as ek. Hy was blond, soos iemand van Swede of Noorweë. Hy het nie Arabies gelyk nie. Maar hy het geloop met so ’n lappie wat oor sy hand hang. Ek het na hom toe geloop, want dit was ’n bietjie snaaks.
“Ek vra: ‘Hoekom loop jy met ’n lappie oor jou hand rond?’ Toe hy begin loop, toe loop ek ook. Ná twee meter toe sien ek die bomdrade binnekant sy hemp. Ek moet toe besluit om my geweer te vat en te skiet. Ek was bang ek mis die kop, dan kom die koeël by die dinamiet en blaas ons albei op.”
Hy lek oor sy droë lippe en Tova gee ’n glas water na hom toe aan.
“Toe besluit ek om eerder op hom te spring. Ek het hom op die vloer gegooi. Toe ek sy arm baie styf vasknyp, het die kabel en die skakelaar uit sy hand geval. Die handdoekie was bedoel om die kabel toe te maak, dis hoekom hy dit heeltyd in sy hand gehou het. Ek het hom baie sterk vasgehou. Ek het geskree. Dit het ’n paar minute gevat toe kom help ’n jong man my en hy skiet hom, twee koeëls in die kop. Ons staan op van hom af. Toe kom die soldate van die kafeteria af aangehardloop en een van die soldate – dit was ’n fout – skiet hom van 25 meter af en alles ontplof.”
“Hy het die bom raakgeskiet!” roep Simon.
“Ken. Drie soldate – offisiere – is daar dood, en 17 gewond.”
“Sewentien!”
“Ken, 17 soldate is gewond. Dit was hier by die petrolstasie.” Hy beduie.
“Daar het net ’n kort rukkie tevore ’n bus stilgehou met 100 veterane wat by die beveiliging van die settlements in die omgewing kom diens doen het, en dié soldate was almal in die kafeteria. Die bomdraer was op pad soontoe,” verduidelik Tova. “Toe hulle Menachem met die man sien worstel, het hulle eers gedink dis net ’n bakleiery tussen twee plaaslike mense. Maar toe hulle besef wat aangaan, het hulle aangehardloop gekom en een het geskiet.”
“En jy?” vra Simon vir Menachem.
“Ek was ’n lang tyd in die hospitaal. Hier, jy kan voel daar is 5 mm-koeëltjies wat nog oral in my lyf vassit. Maar dit het nie my gees gebreek nie. Ek het sterker geword om te glo. Ons weet alles kom van HaShem af.”
“Dis hoekom julle hier is,” sê Rivkah sag.
“Ken. Ons is lief vir die naam settler, settlements. Toe Yehoshua oor die Jordaanrivier gegaan het die Beloofde Land in, het HaShem vir hom gesê hy moet in hierdie land settle. Dit is wat HaShem gesê het ons moet doen en ek hoop my seun en my kinders sal in my voetspore volg.”
“Tova,” vra Simon, “sien jy dit ook so? Dat dit God is?”
“Shimón, my vader het ál die jare gesê – ons wat sal veg om Hebron te behou, sal ons nie ook veg om Tel Aviv te behou nie? Dit is die Beloofde Land. Jy kan nie die land verdeel wat HaShem aan ons beloof het nie.”
“Jy weet, ek het ’n klomp mense, Jode, in Jerusalem en Tel Aviv hoor sê, wel, gee die land, die Wesoewer, eenvoudig maar op. Vir vrede. Julle stem nie met hulle saam nie?”
“Ons het al soveel grondgebied opgegee vir vrede, Shimón, en wat het ons daarvoor gekry? Hoe lyk Gasa wat ons opgegee het vir vrede nou vir jou? Hierdie grondgebied is die land wat HaShem aan die seuns van Israel beloof het. As jy die Bybel oopmaak, hoofstuk vir hoofstuk, in elke boek, sal jy vers op vers sien dat HaShem die land vir die seuns van Israel beloof het. Nie vir die seuns van Hamas, nie vir die seuns van Arafat en nie vir die seuns van Saddam nie. Dit is die land. Dit is die Bybel. Mense probeer die Bybel verander. Ons probleem is dat nie baie mense in die wêreld die Bybel glo nie,” sê Menachem.
“Selfs Jode wat in Israel woon?”
“Ongelukkig ja, Shimón,” antwoord Tova hom, “selfs Jode wat in Israel woon. En baie van hulle. Maar baie van die Tora-getroue Jode wat jy hier sal ontmoet, glo dat God hulle geroep het om in die land te settle as ’n vervulling van die profesieë in die Tenach, wat die kerk die Ou Testament noem.”
“Shomron, oftewel Samaria, en Judea is die Bybelse hartland,” verduidelik Marc. “Menachem en Tova vervul dié roeping deur hier in Shomron ’n hotel te open.”
Dis ’n ruk lank stil voordat Simon vra: “Wat beteken die naam van die hotel?”
“Tamarisk van Samaria.”
“Dis ’n soort woestynboom, is dit nie? Hoekom het julle dié naam gekies?”
“In die Bybel lees ons dat Avraham ’n tamariskboom by Be’er Sheva geplant het en die naam van Adonai, die Ewige, aangeroep het. Onder daardie boom het hy ál sy besoekers ontvang en hulle van Elohim Chai vertel. Die boom gee skadu en beskerming, en dra heuningsoet vruggies wat ’n mens kan eet,” vertel Tova hom. “En dit het die sagste, mooiste bloeisels in wit, pienk en pers. ’n Droom om te sien in die voorjaar soos nou. Dis hoe ons graag wil hê mense Heshel HaShomron moet ervaar.”
“Ek verstaan,” sê Simon gedemp.
In die sagter trek in sy oë sien Rivkah dat hy iets van die land begin verstaan.
Hoofstuk 5
Samaria/Shomron
21 Mei
7 Sivan
Kort voor nege-uur die volgende oggend daag Re’uven in ’n militêre jeep op.
“Kyk,” sê hy sonder omhaal, “dis die Wesoewer waar ons ry, né? Dit kan lewensgevaarlik raak …”
“Hoe so?” vra Simon.
Rivkah sien haar broer sy asem diep intrek, maar hy antwoord redelik kalm.
“Dis soos ek gesê het, die Wesoewer … en al is die brandvlieërs en die eindelose mortiere onder in die suide, raak die mense hier sonder veel aanmoediging opgewerk. Itamar en Elon Moreh lê alkant van Nablus. En Nablus is ’n terroriste-nes. Ek kan ook nie vir jou sê hoeveel ons van die leërbasis by Itamar te sien gaan kry nie, want alles is op red alert. Ek sal weer met hulle praat.”
“Ons wil eintlik graag by Elon Moreh uitkom. Ons wil Simon die settlements laat sien.”
Re’uven kry ’n ironiese laggie, maar hy reageer nie daarop nie.
Hy sê: “Klim julle almal by my in die jeep. Ek het ’n soldaat saamgebring om Marc se motor te bestuur tot by Elon Moreh, dan kan julle self daarvandaan verder na die Galil toe aangaan.”
“Het jy genoeg tyd daarvoor, Re’uven?” vra sy suster sag.
Hy sit sy arm om haar en trek haar styf teen hom aan. “Ek sal nie as ek nie kan nie, achot sheli,” sê hy net hard genoeg vir haar om te hoor. “Ek het ’n dag verlof geneem.”
En toe nog vlakker by haar oor: “Shlomit is swanger.”
Rivkah trek haar asem vinnig