af besef, dat jou vermoë ons albei s’n oortref. En nou sien ek dit in Natani ook.”
Marc reageer nie daarop nie. Hy neem ’n slukkie van die wyn en kyk by Simon verby, uit oor die plein waar die lampe aangegaan het.
“Ek onthou daardie dag nie net weens die skok van my eerste kennismaking met naakskilder nie. Die dag het nog ’n ander skok ook ingehou.”
Simon kyk hom ’n rukkie nadenkend aan. “Nicola?”
“Wel, ja en nee. Maar méér as my toenemende beheptheid met haar.”
“Wat was dit?”
Dit neem ’n rukkie voordat Marc praat. “Dit was ook die dag waarop ek gehoor het my pa is gay.”
Simon frons. “Ek het gedink dat jy dit lankal geweet het?”
“Nee. Ek het wel soms toe ek ouer geword het, daaroor gewonder …”
“Hoe oud was jy toe hy weg is.”
“Sewe jaar.”
“Sjoe, en jy was die enigste kind?”
Marc knik.
“Hy is Grahamstad toe? Na die universiteit?”
“Dis reg. My ma het nooit vir my gesê dat hy saam met ’n ander man daar gaan woon het nie. En die kere dat hy by ons kom kuier het, is daar ook nooit oor dié dinge gepraat nie. My ma, veral, het nooit enigsins in daardie rigting iets genoem nie.”
“Hoe het jy dit dan op daardie spesifieke dag te hore gekom?”
Marc leun oor om hul glase aan te vul.
“Ek het in ’n soort verdwasing van die ateljee af by die huis gekom. Ek was nie regtig in staat om met iemand te praat nie. Ek wou net by myself wees om alles te probeer hanteer wat in my aan die gebeur was …”
Simon knik begrypend.
“Maar my ma het dadelik agtergekom dat daar fout is. Toe sy niks uit my kon kry nie, het sy na my kamer toe gekom, want ek het soontoe gevlug. En in ABBA se musiek, kliphard gedraai, het ek by myself en my gevoelens probeer uitkom.”
Hy kry ’n skewe laggie en kyk oor sy glas na Simon. “Toe vra sy wat met my by Simon gebeur het.”
“By mý spesifiek? Hemel!”
“Toe vra ek haar wat met my by Simon kan gebeur. Tóé sê sy: ‘Ek weet nie wat julle doen nie. Ek weet nie wat tussen jou en Simon gebeur nie.’ ”
“Vaderland,” prewel Simon.
“Dít het vir my die stukkies skielik inmekaar laat pas. My pa was gay en sy was bang ek is ook.”
“Dit begryp ek. Het sy dit toe erken?”
Marc knik. Hy kyk in sy glas rooiwyn na die ligborrels wat dit optel uit die weerkaatsing van die pleinlampe.
“Ek kon sien wat dit haar gekos het om dit te sê. Dit het nog meer tot my verwildering bygedra. Dit was net te veel vir een dag. Ek móés wegkom en sy kon dit eenvoudig net nie verstaan nie. Ek het geweet sy wou práát. Moes praat. En dit was die allerlaaste ding wat ek wou doen.”
“En jy het geloop.”
Marc knik. “Ek het.”
“Na Nicola toe.”
Marc kyk vinnig op. Daar is ’n bitter trek om Simon se mond. Hy sien dit.
“Ja,” sê hy onwillig.
Simon lag skamper. “Jammer dat jy nie toe al kon weet sy poseer naak vir my nie; slaap met my nie.”
Marc byt sy onderlip vas en skud dan sy kop. “Dit maak nie meer saak nie, Simon …” sê hy gedemp.
Simon het opgestaan. “Nicolatjie. My vrou. My eksvrou. Troos jou daaraan – sy slaap ook nie meer by my nie.”
“Simon …”
Simon vee met die agterkant van sy hand oor sy oë. “Vergeet wat ek nou gesê het, Marc, asseblief. Dis net ’n emosie wat Nicola nou, drie jaar ná ons egskeiding, nog in my opwek.”
“Ek verstaan.”
“Ja, jy sal verstaan. Maar kom ons los dit net daar. Ek moet in die bed kom, want môre gaan ek heeldag Chagall se werk in die Ein Karem-hospitaal bestudeer.”
Toe Simon weg is, gaan leun Marc oor die muurtjie van die balkon en kyk af oor die nou verlate plein. Hy laat toe dat die herinnering van daardie aand, ná hy van sy ma af weggeloop het, ongehinderd oor hom spoel.
Hy weet nie hoe ver hy geloop het voordat hy aan homself toegegee het dat hy na Nicola toe gaan nie. Maar toe kry sy voete rigting en hy stap vinnig onder die straatlampe deur – ver van die vensterverligte hoofstrate af, so asof hy bang is hy kom ’n bekende teë.
Nicola maak die voordeur oop asof sy hom verwag het.
“Kom in,” sê sy en haak haar arm deur syne. “Het jy vanaand al geëet?”
Eers weet hy nie, maar later onthou hy tog dat hy al geëet het.
Sy bring hom in na ’n warm plek met twee skemerlampe wat die vertrek in kolle teen die plafon verlig. Hy is bewus van blomme en boeke en skilderye. Dis ’n plek baie soos sy eie. Hy sug van dankbaarheid en gaan op die groot, sagte rusbank sit. ’n Kat wat daar lê, kyk hom swyend aan en vou sy voorpote behoedsaam onder hom in voordat hy weer sy groot groen oë toemaak.
“Ek bring vir jou … Wat wil jy hê? My ma-hulle is uit.”
Hy glimlag vaag.
“Wat wil jy drink, Marc?”
“Ek gee nie om nie.”
“Daar is hot chocolate in die fles.”
“Asseblief.”
Hy weet nie hoe lank sy weg was nie, maar toe sy terugkom, het sy ’n groot bruin erdebeker in elke hand.
“Hier.” Sy gee een van hulle aan en hy vou sy koulike vingers dankbaar om dit.
Hy drink en voel die warmte geleidelik deur hom sprei. Sy trek ’n diep stoel naby hom nader en kom met haar bene feitlik teen syne sit met haar elmboë op haar knieë gestut. Haar donker hare val om haar gesig. Die lamplig blink daaroor.
“Wat het gebeur, Marc?”
Hy antwoord haar nie. Hy sien hoe haar borste teen haar trui druk wanneer sy asemhaal.
“Het Lesley vanmiddag vir jou gesit?”
Hy lig sy oë na haar gesig. Hulle kyk lank na mekaar. Toe knik hy.
“Dis nie altyd so ’n skok soos die eerste keer nie, Marc. ’n Mens raak gewoond daaraan.”
“Dit was ongelooflik …”
Toe hy homself dit hoor sê, word die verskriklike noute in sy bors ligter.
“Vertel my.”
Hy huiwer, maar haar oë stel hom gerus.
“Daar was baie son. Baie lig. Maar dit was … asof die lig van binne uit haar uitkom. Ek kon nie verstaan dat daar so baie lig was nie en hoe die kontoere so duidelik omlyn kon wees nie …”
Hy bly ’n rukkie stil. “Onthou jy Degas se Woman in the Bath?”
Hy kyk vraend na haar, skielik verleë oor sy emosionele vertoning.
Sy knik en glimlag vir hom.
“Die lig op die meisie se voet en haar skouers en haar hand. Onthou jy?”
Nicola knik weer.
“Maar daar was die duidelike omlyning …”
Hy beduie en die onvermoë om hom uit te druk, frustreer