Скачать книгу

Die setlaars is met geweld en met pynlike skuldgevoelens deur hul mede-Jode daar uitgegooi. En nou? Hulle het alles vernietig. Nou is daar niks van oor nie. Nou kry Israel die skuld dat hulle in sulke haglike omstandighede lewe.”

      Marc is uitasem ná die lang, emosionele relaas. Hy neem hom voor om homself te bedwing. Ook omdat hy merk dat Natan hulle angstig dophou.

      “Daar is te veel mense op ’n klein stukkie grond. Wat kan jy verwag?” vra Simon.

      Marc, wat Natan se weerloosheid ken, bedwing sy emosie en praat sagter.

      “Ek kan miskien verwag dat die enorme Arabiese lande rondom hulle die Palestyne sal help met hul oorbevolking. Soos Israel ná 1948 gedoen het met die meer as 800 000 Jode wat uit Arabiese state verdryf is. Al word Hamas as ’n terroristebeweging beskou, ontvang hy miljoene dollars en euro’s uit goedgesinde lande van regoor die wêreld wat blindelings die Palestynse narratief glo. Wat doen hulle daarmee? Bou hulle hospitale, klinieke, skole, biblioteke of crèches? Of selfs net skuilkelders vir hul mense soos ons by elke huis in Israel doen? Nee, hulle grawe tonnels tot onder Israel en koop wapens aan van Iran en nou Turkye ook. Die res steek die leiers in hul sakke.”

      Simon reageer nie daarop nie. Natan het met die gemmerkatjie in sy arms langs hom op die rusbank kom sit. Die kind se nabyheid maak hom rustiger sodat hy stilbly. Chaya het teen Marc se knieë kom opstaan en suig driftig aan haar fopspeen. Hy leun oor na haar bottel tee wat op die toonbank staan, tel haar op sy skoot en gee dit vir haar om te drink.

      “Ek is nie lus vir argumenteer nie, Simon,” sê hy ná ’n rukkie, self kalmer. “Jy is nou hier in die land. Asseblief, vind by enige iemand anders as by my uit wat regtig hier aan die gang is. Ek kan my indink dat dit jou ontstel oor jy jare lank uitgelewer was aan die media se propaganda en blatante leuens. Ek kan nie jou sienswyse verander nie. Net jyself kan uitvind wat die werklike toedrag van sake is. Ons moet asseblief nie dat hierdie soort gesprekke ons vriendskap loop versuur nie.”

      “Ek is jammer,” sê Simon boetvaardig. “Dis nie my doelwit nie, maar jy is reg. Daar is ander mense ook met wie ek kan praat. In die universiteitsbiblioteek is daar ook elke dag Arabiese studente.”

      “By all means.” Marc hoop nie Simon lees die wanhoop op sy gesig nie. Hy hou hom met Chaya besig.

      “Dink jy daar kom oorlog?” vra Simon tog nog.

      “Nie met Gasa nie. Nie nou nie, in elk geval. Daar kan wel vergeldingsaanvalle van die IDF kom as hulle nie daarmee ophou om missiele op bewoonde gebiede af te skiet nie. Hulle is ook besig om geweldige skade aan te rig met brande wat hulle in die landerye oorkant die grens met hul vlieërs stig. Die selfoonoproep van netnou was om my te waarsku dat ons dalk opgeroep kan word vir reserwediens aan die grens.”

      “Jy?”

      Marc knik.

      “Maar jy is tog nie meer in diens nie.”

      “Dis my laaste jaar as reserwe. Ek word 39.”

      “Ek kan my jou nie as ’n soldaat voorstel in hierdie soort tonele wat ek van gister af op televisie sien nie.”

      “Ek kon ook nie, Simon. Ek beloof jou.”

      “En tog doen jy dit.”

      “Weet jy, ons weermag heet die Israel Defence Forces. Wat ons doen, is om ons land en ons mense te verdédig. Nie om ander lande aan te val en hulle te koloniseer nie. As ek opgeroep word, sal dit wees om die grens met Gasa te verdedig sodat die land nie deur duisende mense ingeval word met een gedagte voor oë nie – om Jode dood te maak.”

      “Abba?” Natan se skraal handjie vat sy arm vas.

      “Wat, my lief?”

      “Kan ons nou kyk wat daar by president Trump se ambassade gebeur?”

      “Natuurlik, babbelossie.”

      Toe hy opstaan om die televisie aan te skakel, druk hy ’n oomblik lank die donker krulkoppie teen hom aan.

      Hoofstuk 3

      Jerusalem

      15 Mei

      1 Sivan 5778

      Betogings op die grens tussen Israel en Gasa raak effens kalmer hierdie Dinsdag ná die vorige dag se gewelddadige skermutselinge waarin 60 mense gedood is.

      Hamas het intussen op Arabiese kanale verklaar dat 52 van die dooies aktiviste was; en het hulle elkeen tot ’n shahid in die bevrydingstryd verklaar.

      Die lug is verskriklik vervuil deur duisende motorbande wat aan die Palestynse kant van die grens verbrand word. Nog ’n bron van besoedeling en ergernis is die geweldige brande wat deur arson kites, oftewel brandvlieërs, asook brandballonne veroorsaak word. Nie lank nie of die landerye staan in ligte laaie. Kosbare natuurgebiede is ook gedeeltelik vernietig.

      Vroeër die dag is hoogs emosionele en gewelddadige begrafnisse gehou vir sommige van die Palestyne wat gedurende die vorige dag se oproer gesterf het. Foto’s verskyn in die Arabiese media van ’n Palestynse meisietjie wat snikkend verklaar dat sy gebid het om ook ’n shahid te wees. Daar is berigte in die media van ’n baba wat dood is. Daar is later vasgestel die baba wat sogenaamd van rookinaseming gesterf en van wie die media ’n groot ophef gemaak het, is vir hartprobleme in ’n hospitaal in Israel behandel. Waarom ouers met so ’n baba na die geweld op die grens gegaan het waar die giftige lug alleen haar dood kon veroorsaak, sal net hulle weet.

      Daar is wydverspreide internasionale veroordeling in die media van die IDF se verklaring dat sy lugmag 24 militêre teikens getref en 24 terroriste gedood het. Israel se minister van buitelandse sake blameer die Palestynse militante groep Hamas vir Israel se besluit om betogers te skiet wat die grensdrade vernietig en beskadig. Die IDF sê sy primêre plig is om seker te maak dat die massas, opgestook deur Hamas en die Islamitiese Jihad-terreurgroep, nie deur die grens breek en onskuldige burgers in Israel afmaai nie.

      Maandag se geweld het die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad vandag laat byeenkom om Israel se reaksie op “vreedsame betogings”, wat na bewering buite verhouding is, te bespreek. Amerika se ambassadeur by die VN, Nikki Haley, het Israel egter verdedig en gesê geen ander land in hierdie situasie sou met soveel selfbeheersing kon optree nie.

      Riyad Mansour, woordvoerder van die Palestynse staat in die VN, was egter siedend van woede en het die aanvalle ten sterkste veroordeel. Hy beweer Israel se besetting is die hoofbron van geweld in die gebied en diegene wat dit nie kan erken nie, leef nie in die realiteit nie. Hy het ook ’n beroep op Amerika gedoen om nie met toe oë na die situasie te kyk nie.

      Danny Danon, Israel se ambassadeur, het daarna in die Veiligheidsraad ook ’n spreekbeurt gekry. Hy was heelwat rustiger as die onstuimige Mansour.

      “Hamas-terroriste skuil agter burgerlikes,” het hy gesê. “As dit by die veiligheid van die Israeliese publiek kom, is die wêreld dikwels stil. Die Palestynse leierskap val ons aan en wil ons vernietig.”

      Hy het verder die Palestynse owerhede daarvan beskuldig dat hulle hul eie mense se dood veroorsaak deur vroue en kinders na die grens te stuur, terwyl hulle weet hoe gewelddadig en dus gevaarlik dit daar is, dat hulle die media manipuleer en altyd geweld kies.

      Die aand sit die Kriges na die uitsending van die Veiligheidsraad se vergadering en kyk. Toe Rivkah vir Chaya in die bed gaan sit en Yhoshi sy huiswerk gaan afhandel, bly Marc en Natan in die woonkamer agter. Marc het self ook voorbereiding om vir die volgende dag te doen, maar Natan het styf teen hom kom sit en Marc kan aan die frons op sy gesiggie sien hy het nodig om te praat.

      Met sy arm om die kind se skouertjies vra hy: “Beseder, babbelossie, sê maar vir my wat jou pla.”

      “Abba, was dit regtig nodig dat Tzahal so baie mense moes doodskiet?”

      “Hulle kon nie anders nie, Natani. As daardie mense deur die grensdrade gebreek en op die dorpe digby afgestorm het, sou daar groot bloedvergieting gewees