Dis nie te lank nadat hulle teruggekom het van die Herzlberg af nie. Gelukkig is die volgende dag ook ’n nasionale vakansiedag en kan die seuns laat wakker bly. Allerhande sanggroepe tree buite die Jaffa-poort by die stadsmure op. In sy lewe het Simon nie kon dink dat die stoere Charedim sulke ongelooflik lewendige en mooi musiek kan voortbring nie. Die Maccabeats-groep laat ál wat leef, voetstamp en saam dans en sing. Marc haal al die passies uit met klein Chaya kraaiend van plesier op sy skouers. Selfs Yhoshi het sy sogenaamde verveeldheid te bowe gekom en kap dit uit saam met sy maats.
Simon raak ook betower en kort voor lank word alles oorboord gegooi om hartlik saam te dans en sing. Marc hou hom laggend dop. In ’n stadium haak Rivkah by Simon in en leer hom die ikoniese Israeliese hora-dans.
Toe dit middernag word en Chaya reeds lankal in haar waentjie slaap, staan hulle saam met baie ander op die Hurvah-plein om die manjifieke vuurwerkvertoning uit die Onafhanklikheidspark te aanskou.
Dit was vir Simon nogal moeilik om die verandering van emosies so vinnig te verwerk. Hy sou nog leer dat Israeli’s by troues en begrafnisse ewe veel huil en dans.
“Jode … Jode! Wat ’n rare spesie,” het hy meer as een maal by homself gemompel.
Hoofstuk 2
Jerusalem
Mei 2018
Iyar 5778
Simon is pas terug ná ’n dag lange navorsingsessie by Jerusalem se Hebreeuse Universiteit. Hy weet dat Marc en Rivkah nog albei by hul onderskeie werke is – Marc as senior lektor by die kunsakademie van die Hebreeuse Universiteit en Rivkah as paramedikus by Magen David Adom, Israel se weergawe van die Rooi Kruis.
Yhoshi is in een van die Hand in Hand-skole, waar Joodse en Arabiese kinders saam skoolgaan. Die onderwysers daar is ook beide Joods en Arabies. Marc het Simon een middag saamgeneem op ’n vlugtige besoek aan die skool toe hy Yhosh gaan haal het ná ’n spesiale lesing wat daar vir die senior leerders aangebied is.
As ’n mens deur die gange van die betrokke skool loop, kan jy byna die fout maak om te dink Jerusalem is die hoofstad van die ontwykende, vreedsame naasbestaan tussen Israeli’s en Palestyne. Yhoshi se skool is een van die ses Hand in Hand-sentrums vir Joods-Arabiese onderwys regdeur Israel. In elke klaskamer is daar ’n mengsel van Joodse en Arabiese leerders wat gelyktydig in Hebreeus en Arabies les ontvang, aangebied deur ’n Arabiese en ’n Joodse onderwyser.
“Omdat ek en Rivkah in ons werk daagliks albei met Jode en Arabiere te doen het, het ons gedink dat dit die beste ding vir Yhoshi sal wees. Hy is ver bo gemiddeld intelligent en ons het gereken hy sal dit kan hanteer,” het Marc verduidelik. “En dit blyk nogal baie suksesvol te wees.”
“Word al die materiaal uit ’n Israeliese oogpunt aangebied ten spyte van die Arabiese leerders?”
Marc het sy kop geskud. “Juis nie. Dit is die belangrike verskil tussen die Hand in Hand-skole en Israel se amptelike kurrikulum. Beide die narratiewe word aangebied.”
“Kan dit?”
“Hulle doen dit wel heel suksesvol. Die Joodse narratief vertel van 2 000 jaar in ballingskap, 1947 se VN-verdelingsplan, wat die Britse mandaat van Palestina in ’n Joodse staat en ’n Arabiese staat verdeel het, en Israel se onafhanklikheidsverklaring in 1948, die onmiddellike aanval van vyf omringende Arabiese state en Israel se verrassende oorwinning. Onder die Arabiese narratief vorm presies hierdie gebeure die Nakba, die katastrofe, wat daartoe gelei het dat honderdduisende Palestyne hul huise te midde van die gevegte verloor het.”
Simon het gefrons. “Werk dit?”
“Nu, ek meen so. Die idee is dat om albei die narratiewe te hoor, jong Jode en Arabiere sal help om die een die ander se wêreldbeskouing beter te verstaan. Persoonlik dink ek Yhosh het daarby gebaat gedurende die vier jaar dat hy nou daar is. Hy was die eerste twee jaar in dieselfde skool waar Natani nou nog is. Maar in September, aan die begin van die nuwe skooljaar, gaan ons hom weer na ’n Hebreeuse hoërskool stuur. Daar is meer ontwikkelingsgeleenthede.”
“Waarheen gaan hy?”
“Na Leyada. Dis die sogenaamde Hebreeuse Universiteit-hoërskool. Semiprivaat. Hy het ’n beurs gekry, anders sou ons dit nie kon bekostig nie. Dis ook langs die Givat Ram-kampus van my universiteit wat vervoerprobleme vir ons kan vergemaklik.”
“En Natani?”
Marc se gesig het versag. “Natani het akademiese uitdagings. Hy is in ’n laerskool naby ons waar ons weet daar word goed na hom omgesien. Baie van sy skoolwerk is rondom kuns en drama gesentreer.”
“Hy is ’n wonderlike kind, Marc. Dis of hy elke emosie van ’n ander persoon aanvoel. Hy is so tenger. Ek sou nooit dink hy is tien jaar oud nie – hy lyk meer na sewe …”
“Ek weet. Simon, hy het al twee ernstige breinoperasies gehad en die moontlikheid van verdere kankerontwikkeling hang altyd soos ’n donker wolk oor ons.”
“Sy artistieke vermoëns is absoluut buitengewoon.”
“Ek weet …” het Marc weer gesê en weggekyk voor sy vriend se ondersoekende blik.
By Simon kom hy egter nie so maklik verby nie. “En jy,” het hy volgehou, “wat van jou eie vermoëns? Steeds onder die Judaïsme begrawe?”
“Nee,” het hy geantwoord en Simon reguit aangekyk. “Ek sal jou mettertyd laat sien.”
Simon koop sy sigarette by die jong Jood van die winkeltjie op die plein wat hom nou al ken en die pakkie uithaal as hy Simon sien inkom.
Toe hy oor die plein terugstap, kom hy rabbi Chaim teë. Dié is net op pad terug van die yeshiva waar hy les gee in die Ou Stad om sy vrou, wat Chaya gedurende die dag oppas, te gaan haal.
Aangesien dit nog meer as ’n halfuur is voordat Rivkah van diens kom, nooi hy Simon vir koffie in die koffiewinkel onderkant die woonstel en oorkant Moshe Kempinski se winkel.
Hul koffie is nog nie eens bedien nie toe Moshe hulle gewaar en aangestap kom en hom by hulle aansluit. Hulle gesels ’n ruk lank oor Simon se navorsing.
“Ek is nou byna ’n maand hier,” sê Simon, “en ek het meer van hierdie landjie geleer as wat ek geweet het bestaan. Baie van my vrae het beantwoord geraak. Baie nie. Soos een bepaalde vraag …”
“Wat die Palestynse vlugtelingprobleem veroorsaak het?” sê-vra Moshe voordat Simon sy sin kan klaarmaak.
Hy kyk verbaas na Moshe. “Ja, eintlik is dit basies wat ek wou vra. Hoe het jy dit geweet?”
Moshe lag. “Dis een van die dinge waaroor elke denkende vreemdeling ná ’n tyd wonder.”
“Wel, ek was nou die dag in geselskap waar iemand die opmerking gemaak het dat die massiewe uittog van die Arabiere uit wat nou besette gebied is, nie as gevolg van Israel se uitdrywing was soos die PA beweer nie, maar die gevolg was van ’n strategiese besluit deur Arabiese leiers en die Arabiese leërs wat die Arabiere beveel het om pad te gee. Ek wou nie my opinie gee nie, want ek het nie ál die feite nie, maar dis mos nie waar nie?”
Chaim en Moshe wissel ’n vinnige blik.
“Dit is wel korrek, Shimón,” sê die rabbi versigtig, “en daar is genoeg getuienis daarvoor.”
“Uit Israeliese bronne, neem ek aan.”
Moshe skud sy kop. “Nee, daar is Arabiere wat jou dit ook kan vertel.”
“Werklik?”
“Ken. Ek kan jou hier in die Ou Stad, in die Arabiese shuks, aan ’n Arabiese vriend van my voorstel wat jou heelwat sal kan vertel.”
“Ek sou dit graag van ’n Arabier self wou hoor. Verskoon my dat ek dit so stel, maar ek was tot nou toe net aan Israeli’s uitgelewer wat ek vind hulle eie narratief het. Verstaanbaar. Maar nie noodwendig die uiteindelike