nie te hore gekom nie, maar tienduisende Palestyne in die Gasastrook wat steeds as ‘vlugtelinge’ geklassifiseer word, is besig om hulle onder leiding van Hamas voor te berei vir gewelddadige demonstrasies genaamd The March of Return.”
“Ek veronderstel dis gemik op die dag van die inwyding van die Amerikaanse ambassade in Jerusalem wat daardie clown van ’n Donald Trump goedgedink het om te organiseer,” sê Simon.
Die twee Israeli’s bly ’n rukkie stil voordat Moshe keel skoonmaak en verder praat. “Hoe jy ook al oor die ambassade en Donald Trump voel, is jou saak …”
“Maar hoe kan die stomme sot op aarde te midde van soveel ontploffings wat wag om na ’n kant toe oop te skiet, Jerusalem die hoofstad van ’n verdeelde land kom maak?”
“Hy het dit nie die hoofstad kom maak nie, Shimón. Dit was duisende jare gelede al ons hoofstad.”
Toe Simon rooi in die gesig sy asem vinnig intrek om die stelling aan te val, praat die rabbi rustig.
“Maar jy wou eintlik weet van die Palestynse vlugtelingprobleem. Moshe sê hy kan jou aan ’n Arabier voorstel wat dit sal kan doen.”
Simon laat sy asem stadig uit. “Wel, is dit moontlik, Moshe?”
“Een oomblik,” sê Moshe. Hy trek sy selfoon uit sy hempsak en daar volg ’n kletterende gesprek in wat Simon reken Arabies moet wees, want hy kan hoor dis nie Hebreeus nie.
“Ons tref dit gelukkig. Sy 96-jarige ma is daar by hom in die winkel en hy roep ook ’n vriend by.”
“Ek sien. Ek neem aan hulle is almal Israeliese burgers.”
“Jy neem reg aan. Ek sal net by Dov hoor of hy die winkel alleen kan beman. Ek het drie-uur weer ’n groep wat kom.”
“Doen jy ook toere?” vra Simon ietwat boetvaardig oor sy effens vyandige aanslag.
“Nee, ek doen nie toere nie. Maar ek gesels gedurig met Christen-toergroepe wat meer wil weet van hul Hebreeuse wortels. Ek kom nou.”
“Moshe,” vertel die rabbi vir Simon terwyl hulle wag, “is eintlik ’n sielkundige, maar toe hy 20 jaar gelede uit Kanada aliya gemaak het, het hy en sy broer Shorashim, wat wortels beteken, geopen waar hy allerhande Judaica en boeke verkoop, maar hoofsaaklik ook doen wat hy nou net gesê het. Hy stuur boonop gereeld ’n nuusbrief uit oor alles wat veral in die Ou Stad aangaan. Dit gaan na honderde belangstellendes wat hom hier leer ken het. Hy is ’n goeie vriend van Marc.”
“Aliya maak?” vra Simon.
“Jode wat Israel toe immigreer van oor die hele wêreld. Dit beteken letterlik om ‘op te gaan’.”
“Beseder.” Moshe is terug. “Jy gaan saam, Rabbi?”
“Ek het ’n bietjie tyd.”
Hulle gaan die druk, nou gangetjies van die Arabiese shuk binne en kort voor lank haal hulle Ahmed se smal, diep winkeltjie. Dit ruik voortreflik na die talle verskillende speserye en kruie wat hy verkoop.
Moshe stel Simon aan hom voor en Ahmed is baie geïnteresseerd om te hoor hy kom uit Suid-Afrika. Op sy beurt stel hy hulle weer voor aan sy hoogs bejaarde moeder, Aisha, en sy vriend Sadek, wat net soos Ahmed diep in sy sewentigs is. Hy maak verskoning dat sy Engels nie goed is nie en Moshe beloof om as tolk op te tree.
“Ons tyd is min en die praat baie. Sal ons maar begin?” sê hy.
Almal knik bevestigend.
“Shimón wil graag weet hoe dit gebeur het dat daar ’n Palestynse vlugtelingprobleem is.” Hy knik in Simon se rigting.
“Ek het gehoor ’n Israeli sê met onafhanklikwording het soveel Arabiere wat hier gewoon het, uit die land gevlug omdat hul leiers gesê het hulle moet. Steek daar enige waarheid in?”
Die drie Arabiere kyk na mekaar en dis Sadek wat eerste praat.
“Ons familie het in daardie tyd in Bir Ma’in gewoon. Ek was nog maar ’n kind, maar ek weet dit was die Jordaniese leër wat gesê het ons moet padgee, want daar kom gevegte en ons sal in hul pad wees. My pa het altyd vertel dat hulle gesê het: ‘Weg! Ons sal jul plek in twee ure bevry en dan kan julle terugkom.’ Ons het net met ons klere aan gegaan en niks saamgevat nie, want ons was veronderstel om binne ure terug te wees. So, hoekom sou ons nou goed saamdra?” hy snork verontwaardig. “Ons wag tot vandag toe nog vir daardie twee uur.”
Die ou vrou se stem is krakerig toe sy praat en Moshe luister versigtig om te tolk.
“Ons het die geluide gehoor van ontploffings en ’n skietery in die begin van die somer in die jaar van die Nakba. Hulle het vir ons gesê die Jode val daai deel aan en dis beter dat ons uit die dorpies uit weggaan en terugkom as die skietery oor is. Dit sal sommer gou wees, het hulle vir ons gesê.”
Sadek knik. “My grootouers het in Ein Karem gewoon en hulle het altyd vertel hoe die Arabiese regimes oor en oor herhaal het: ‘Gee pad van die front af. Dis ’n kwessie van tien dae of op die meeste twee weke en ons sal julle terugbring Jerusalem toe.’ Hulle het vertel hoe motors met megafone op en af in die strate gery en die mense beveel het om pad te gee sodat die gevegte kan slaag. Hulle het in Arabies bly roep dat die mense hul huise moet ontruim.”
“In die Palestynse Nakba het die eerste oorlog tussen die Arabiere en Israel begin. Die Arab Salvation Army is daai tyd gestig en hulle het vir die Palestyne gesê: ‘Ons het na julle toe gekom om die Sioniste en hul staat te vernietig. Los jul huise en jul dorpe agter, want julle sal binne ’n paar dae veilig hierheen kan terugkom.’ Dit het ek oor en oor by my pa en my ooms gehoor,” vertel Ahmed.
“Ek kan dit vir die waarheid sê.” Aisha beduie met haar voorvinger, wat krom van die rumatiek is. “Toe die Nakba gekom het, het ons distrik se offisier – ’n Arabier, hoor! – bevel gegee dat as jy in Palestina agterbly, dan is jy ’n verraaier. En ek weet ook van die karre met die luidsprekers wat in die strate gery en gesê het die mense moet dadelik padgee. Ons sal weer kan terugkom.”
“My oudste broer was toe al ’n getroude man en hy het my meer as een maal die storie vertel. Hy het in Allar gewoon. Toe hulle die nuus kry dat die Jode op pad was na hulle dorpie, het die Arab Salvation Army – mag Allah hulle genadig wees – gekom en gesê: ‘Gee pad uit die dorp dat dieselfde nie met julle gebeur as in Deir Yassin nie. Die Sioniste moor voor die voet. Gaan weg, maar nie te ver van die dorp af nie, want die Jode sal net ’n klein rukkie daar in die dorp rondkyk en dan padgee en julle kan weer terugkom.’ Die mense het niks saamgevat nie, nie eens brood nie, en ’n ent die berg in gaan tent opslaan. Seker om te kyk wat gebeur.”
“Wat het in Deir Yassin gebeur?” vra Simon. “Ek het die naam al gehoor. Dit was die een of ander bloedbad?”
Die drie Arabiere kyk na die twee Jode en daar is ’n paar oomblikke stilte. Dis die rabbi wat die stilte verbreek.
“Op 9 April 1948 tydens die Onafhanklikheidsoorlog het ongeveer 12 vegters van Irgun, ’n Sionistiese paramilitêre groep, Deir Yassin met gewere en handgranate aangeval. Dit was ’n klein Arabiese dorpie omtrent 5 kilometer buite Jerusalem met omtrent 750 inwoners. Ongeveer 100 inwoners is tydens die aanval gedood.”
“Dis afgryslik,” sê Simon. “G’n wonder die mense was bang dit gebeur met hulle ook nie.”
Moshe skud sy kop meewarig. “Dis nie heeltemal die volle verhaal nie, Rabbi. Dit weet u ook. Dis ’n te lang geskiedenis om op alles in te gaan, maar kortliks kom dit daarop neer dat Jerusalem gedurende die Onafhanklikheidsoorlog met sy 150 000 Joodse inwoners heeltemal afgesny is van Tel Aviv, waar die Jewish Agency in daardie stadium gesetel was. David Ben-Gurion was daar. Veral die 2 500 Jode in die Ou Stad was in ’n staat van hongersnood as gevolg van ’n Arabiese blokkade.”
Hy kyk halfverskonend na Ahmed en die ouer man knik stadig. “Dit is so.”
“Joodse konvooie uit Tel Aviv met voorraad kon Jerusalem nie bereik nie, want die Arabiese magte het lokvalle oral langs die pad opgestel en ook beheer gehad oor sekere strategiese