kon dink nie. Dié wat doodgeskiet is, was byna almal vegters van Hamas en Islamitiese Jihad.”
“Ek het gehoor toe jy vir Simon vertel het, Abba, maar hoekom het hulle nie rubberkoeëls en waterkanonne gebruik nie. Of traangas?”
“Weet jy, Natani, navorsing wat gekyk het na lande wat dit wel in skarebeheer gebruik, het bevind dat rubberkoeëls ernstige gevolge kan hê. Dit kan tot 3 uit 100 mense se dood veroorsaak en permanente gestremdheid by 15 uit 100 tot gevolg hê, veral as hulle in die nek of kop gewond word. Dit kan ook blindheid veroorsaak.”
“Ek het dit nie geweet nie. Maar wat van waterkanonne?”
“Dit kan ook ernstige beserings veroorsaak. Weet jy hoe geweldig sterk daardie strale is? As Tzahal met rubberkoeëls, waterkanonne en traangas op die skare losgetrek het, sou daar uit 40 000 mense baie meer mense dood en beseer gewees het. Baie sou verstik het aan die rook en traangas. Daar was baie kinders op die grens daarso, nè? Onthou, Hamas het vroue en kinders in die voorste rye geplant. Daarom het Tzahal skerpskutters gebruik wat opgelei is om die gewapende aanstigters te kan uitken en onskadelik stel.”
“Maar, Abba, hulle sê dan daar is ook onskuldige mense geskiet.”
“Ken. Dat daar ook agt ander mense getref is, is baie jammer, maar tussen soveel duisende mense kan iemand maklik in die pad van ’n koeël kom wat nie vir hom of haar bedoel was nie. Dink daaraan – 40 000 mense. Natuurlik sou daar ook onskuldiges geskiet kon word.”
“Soos daardie baba wat die koerante van praat.”
“Natani, daardie baba is nie deur ’n koeël getref nie. Sy was ’n pasiëntjie wat hier in een van ons hospitale behandel is vir ’n hartsiekte. Haar ouers moes haar nie na daardie gevaarlike plek geneem het nie. Sy is waarskynlik aan rookinaseming dood. Of sy was dood toe hulle haar daarheen gebring het.”
“Abba! Mense sal mos nie so iets doen nie!”
Marc sug en trek Natan se kop teen sy skouer aan en vryf sy hare om hom te kalmeer.
“Ongelukkig sal mense, Natani.”
“Gaan jy grens toe, Abba?”
“Ek glo nie, babbelossie. Die kans is baie skraal.”
Toe sy uiteindelik vir Natan in die bed het en Marc sy eie voorbereiding afgehandel het én Yhoshi ook bed toe gegaan het, kom Rivkah met twee bekers warmsjokolade by Marc sit. Die dag was lank. Hulle strek hul bene behaaglik oor die bank uit.
’n Rukkie drink hulle in stilte. Hulle luister na die naggeluide wat van die plein af kom. Hulle hoor mense lag en gesels, en ’n kind wat luidkeels protesteer. Iewers speel iemand op ’n klarinet. ’n Hond huil teen die maan. Daar is balsem in die voorjaarnag se lug. Die lewe gaan doodgewoon voort.
“Ek wonder hoe dit met Shimón se kuier by die Arabiese student gaan,” sê sy.
Marc sit sy arm om haar en trek haar op die rusbank teen hom aan. “Hy moet asseblief maar sy eie afleidings maak. Ek gaan nie meer met hom redeneer oor wat hier gebeur nie.”
Sy vryf haar kop teen sy skouer en toe hy na haar afkyk, sien hy die warmsjokolade het haar mond glinsterend bruin gevlek. Haar oë is ’n intense donkerblou. Hy buk af en soen haar lank en innig.
“Marc …”
“Hmmm?” kom hy terug uit begeerte wat heftig in hom begin roer het.
“Ek het nuus vir jou.”
“Jy is weer swanger?” grinnik hy met sy gesig in haar hare, nog klam en geurend van die stort.
“Lo. Dis nie ’n grap nie. Ek is opgeroep om vir drie dae met MADA grensdiens te doen. Daar is heelwat soldate wat beseer word. Minder ernstig, maar tog. Ons het ’n klein kliniek daar.”
Hy kom regop. “Opgeroep – jy? Of most likely, vrywillig?”
Haar gesig verkleur effens. “Beseder. Ek gaan vrywillig, maar MADA is baie besig daar. Die klippe, petrolbomme en brandvlieërs wat gedurig oor die drade kom, is gevaarlik. Die soldate doen allerhande soorte beserings op.”
“Vir jou ook gevaarlik, nè?”
“Ons is nie so naby nie.”
“Ek is bly jy het dit nie voor die seuns gesê nie, want dit sou Natan lelik ontstel het. Hulle het heelmiddag gesit en kyk na wat daar aangaan.”
“Ek weet, maar dis net vir drie dae. Ons maak maar beurte. Wie weet hoe lank dit nog gaan aanhou.”
“Jy dink Tzahal sal tot die aanval oorgaan?”
“Nu, as hulle aanhou met vuurpyle en mortiere, of dit op groot skaal begin doen, sal hulle. Tzahal wag eintlik net dat hulle dit doen, want dan gaan hy groot verwoesting onder hul ammunisie- en wapenopslagplekke saai.”
“Dis wat ek ook dink.”
“Daar sal natuurlik op die vyfde ook weer ’n hernude uitbarsting wees op Nakbadag.”
Marc sug. “Inderdaad. Watter dae sal jy weg wees?”
“Op die 17de, 18de en 19de.”
“Vanaf oormôre dus?”
“Ken.”
“Jy sal dit dan ook net maak om terug te wees op die 20ste wanneer ons met Simon ons toertjie wil onderneem.”
“Ken. Ek het dit so bewerk. Ek het mos lankal gereël dat Abba en Imma hier by die kinders sal bly solank ons die week weg is.”
Hy trek haar in sy arms en vryf met sy ken in haar hare. “Jy het nou net gesê hoe gevaarlik dit is. Jy gaan nie daar probeer hero speel nie, nè?”
“Shahid word.” Haar hand kruip onder sy T-hemp op.
Hy sluk. “Hoor jy wat ek sê, my vrou?”
Sy lag teen sy nek. “Ek hoor jou, my luitenant.”
Hy kry haar wandelende hand in syne beet en byt die vingers saggies.
“Sal ons dan maar gaan lê?” fluister hy.
“Ek kan nie dink hoekom nie.”
Toe tel hy haar in sy arms op en dra haar na hul bed toe. Dit laat haar tevrede sug.
Buite in die groot iep hoe-hoe ’n naguil.
Gedurende Rivkah se afwesigheid kuier Marc en Simon een aand nadat die kinders bed toe is, oor ’n merlot. Dis een van die paar wat Simon uit Suid-Afrika saamgebring het.
Die goeie rooiwyn lei tot ’n byna salige gemoedelikheid tussen hulle. Dit is iets wat byna versteur geraak het tydens Simon se effens aanvallende houding ná sy besoek aan sy Arabiese kennis. Dis ’n student aan dieselfde universiteit waar Marc klasgee, maar ’n uitgesproke pro-Palestynse aktivis.
“Weet jy,” sê Marc, “toe ek daai aand op die lughawe vir jou staan en wag en jou daar deur die ingang sien kom het met jou sakke en jou hoedjie, was ek vir ’n oomblik weer terug in die ateljee daar in Blaauwklippen se houthuis …”
Simon skommel sy wyn stadig in die glas en hou dit op teen die goue lig van die laaste son oor die plein.
“Met Baruch …” sê hy gedemp
Die herinnering aan Baruch is so hewig dat dit hulle oomblikke sonder woorde laat.
Totdat Marc weer praat: “Toe ek jou so sien, het ek gedink aan daardie dag toe ek die eerste keer ’n naakmodel geteken het …”
“Ja,” grinnik Simon, “ons was almal so jonk … Veral jy.”
“En naïef.”
“Ek onthou hoe moeilik dit vir jou was. Hoeveel velle van jou pogings jy so van