Marzanne Leroux-Van der Boon

Israel-reeks 11: Hooglied


Скачать книгу

ek kry die lewe geteken. Ek … ek kon dit op die papier ook sien. Ek kon dit voel in my hande, Nicola.”

      Sy leun vooroor en neem sy warm gesig spontaan tussen haar hande. Sy steek haar vingers deur die digte swart krulhare teen sy slape. “Dis goed, Marc. Ek is bly.”

      “Jy is nog mooier as sy.”

      Sy laat haar oë sak.

      Hy vat haar hande om haar polse vas en voel die klop van haar bloed in sy vingers.

      “Sal jy dit doen? Sit?”

      Sy skud haar kop.

      “Moenie!” sê hy dringend.

      Sy kyk weer op en hy voel haar asem teen sy wang. “Ek sal nie, Marc. Ek sê mos ek sal nie.”

      “Moenie, Nicola,” sê hy weer.

      Sy bewende mond ontmoet hare net vir ’n oomblik. Toe trek sy sy kop teen haar skouer en hou hom vas met haar arm om sy nek geslaan. Haar hare val teen sy gesig.

      Ná ’n rukkie staan sy op, tel die leë bekers van die vloer af op en sit hulle op die koffietafel neer. Hy hou haar dop toe sy voor die musieksentrum hurk en ’n CD daar uittrek. Sy gesig word warm toe hy dink aan haar liggaam onder die sagte trui. Sy hou die CD na hom op. Hy kan nie sien wat dit is nie, maar hy knik en sy sit dit op.

      Hy herken die musiek al kan hy dit nie identifiseer nie omdat die duister onthou van die ander openbaring weer in hom teruggekom het.

      Sy kom weer oorkant hom sit. Haar mond is sag en vol. Hy onthou die aanraking daarvan. Hy wil met haar praat oor sy pa. Maar die woorde steek in hom vas.

      “Het jy al met jou ma daaroor gepraat?” vra sy asof sy aanvoel dat alles nie tussen hulle gesê is nie.

      Hy skud sy kop. Hy kyk vinnig na haar omdat hy wil praat, maar kan toe nie.

      Sy het dit gesien, want sy wurm haar voorvinger in sy geklemde hand en lê haar kop teen syne.

      “Oester, my oester, wat is dit dat jy so gou weer toegaan?” vra sy sag.

      Hy glimlag flou. “Ek gaan nie toe nie.”

      “Nie?”

      “Nicola?”

      “Ek hoor jou, dierbare hart, maar as jy nie sê nie, kan ek nie luister nie.”

      “My pa was gay.”

      Sy vat sy hand vinnig vas. “Hoe weet jy?”

      “My ma het vanaand vir my gesê.”

      “Vanaand? Hoekom?”

      “Ek … Sy’t gesien ek’s deurmekaar … Ek wás toe ek by die huis gekom het. Nie deurmekaar nie, net …” Hy beduie magteloos. “Maar sy het gedink …”

      “Wat het sy gedink?”

      “Sy het gedink daar is iets tussen my en Simon.”

      Sy maak ’n geluidjie, maar sê niks.

      “En toe, oor sy dit dink, toe weet ek vir seker daar is iets wat haar juis dít laat dink het. En toe …”

      “Marc …”

      “Toe vra ek haar reguit.”

      “Wat het sy gesê?”

      “Net ‘ja’.”

      Terwyl hulle praat, het albei weer nader aan mekaar gekom en nou laat sy haar kop teen sy skouer sak. “Dit verander tog nie wat jy aan hom gehad het nie.”

      “Nee,” sê hy stil.

      “Hoekom is dit dan so erg?”

      Hy skud sy kop.

      “Marc?”

      “Wat dan van my?”

      “Maar jy is mos jý. Hoekom moet dit jóú dan verander?”

      “Ek is deel van hom – verskriklik deel van hom,” sê hy byna onhoorbaar.

      Hulle staan saam op en hou mekaar styf vas. Haar sagte wolmou-arms is om sy nek. Sy hande is laag agter haar rug bymekaar gevat. Haar gesig is teen hom sodat hy haar mond teen sy nek voel oopgaan.

      “Jy is jy.”

      “Is ek?” vra hy en sy lyf sug van verligting teen hare.

      “Ja. Ja!”

      Sy lig haar gesig en hy soen haar sag. Maar die mees vertroostende is om haar vas te hou. So warm teen hom, so styf in sy arms.

      Sy lag.

      “Wat?” vra hy dronk.

      “Jy maak my seer.”

      Hy verslap sy arms en sy skud haar soet hare teen hom los. Die vel oor haar wangbene is ligbruin in die lamplig en haar oë is diep en donker.

      “Ek is jammer.”

      “Is jy?” vra sy en hulle lag en laat mekaar gaan en sak dronkerig op die bank neer.

      “My ma weet nie waar ek is nie,” sê Marc toe hy uit sy beneweling kom.

      “Dis amper elfuur.”

      Hy skrik. “Sy sal bang geword het.”

      Sy vroetel onder die kussings op die bank en haal haar selfoon uit.

      “Laat haar weet jy leef.”

      Hy neem dit by haar en sukkel om sy ma se selnommer te onthou. Hy skakel eers verkeerd.

      “Mamma,” sê hy toe hy oplaas haar stem hoor, “ek kom nou, hoor?”

      Hy druk die aansluiting dood voor haar verligting hom kan ontspoor. Of voordat sy kan vra van wie se foon hy dan bel.

      Buite is dit bitter koud en sy bring hom haar blou denimbaadjie. Hy trek dit sonder teenstribbeling aan.

      “Moenie weer in jou skulp terugtrek nie, my oester-oester.”

      Hy kyk na haar, maar in die flou lig wat deur die venster val, kan hy nie die uitdrukking op haar gesig sien nie.

      “Ek sal nie.”

      Marc sit ’n rukkie ingedagte, halfverslae oor hoe helder die herinnering na hom toe terugkom. En toe dink hy ook aan die gesprek wat hy en Simon die vorige jaar in Stellenbosch gehad het – juis oor Nicola en oor Marc se verhouding met haar toe hy ’n sensitiewe 17 jaar oud was. En oor die feit dat sy Simon, met wie sy jare lank getroud was en by wie sy twee kinders gehad het, uiteindelik verlaat het.

      Hy het vir die eerste keer vir Simon vertel hoe hy te wete gekom het dat Nicola terselfdertyd met hulle albei ’n verhouding gehad het.

      Simon het hom ’n rukkie stil aangekyk toe hy klaar gepraat het.

      Toe sê hy: “Vergeef my dat ek dit uit jou gewurm het, maar ek wou weet hoe sy gelyktydig met jou ’n verhouding kon hê wat jou so totaal oorrompel het, terwyl sy al meer as een maal met my geslaap het. Ek verstaan nou iets daarvan.”

      “Hoe so?”

      “Sy was verlief op jou werk en sy het nodig gehad om te weet wie die mens daaragter is. Maar sy het ook ander minder verhewe behoeftes gehad wat vervul moes word en dit kon ek doen.”

      “En tog het sy jou verlaat?”

      Simon skud sy kop. “Dis nie so eenvoudig soos ek netnou gesê het nie – ryker man, mooier huis. Ek dink dat sy sonder dat sy dit besef het, in my bly soek het na die soort mens wat sy in jou gewaargeword het. Die pêrel waaroor jy so pynlik waak.”

      “Nee, Simon, ek dink nie …”

      “Já, Marc, ek weet,” val hy hom in die rede. “Nou wéét ek. Die dinge wat jy van haar onthou, is die mens wat sy is. Sy het daarvan vergeet in die eerste jare van babas en nuwe ervarings. Maar met verloop van tyd het sy begin soek, want daardie pêrel is nie in my nie. Ook nie in my werk nie. Ek het haar van