Johannes Bertus de Villiers

Kalmte in die malle gejaag


Скачать книгу

>

      

      Human & Rousseau

      “As iemand my sou vra wat my beste raad vir vandag se mensdom is, dan sou ek eenvoudig antwoord: Om hemelsnaam, stop vir ’n oomblik. Hou op werk. Kyk om jou rond.”

      – Leo Tolstoi

      VIR HEILA, RODNEY EN JENNIFER

      INLEIDING

      EEN VAN my vroegste herinneringe is van ’n wintersoggend byna 40 jaar gelede toe ek as ’n seuntjie op die vloer van ons woonkamer in Beaufort-Wes gespeel het. Ek was so twee of drie jaar oud, en soos enige herinnering uit daardie vroeë jare, is hierdie een effens deurmekaar. Ek kan nie heeltemal sê hoeveel daarvan waar is en hoeveel ek oor die jare bygedroom het nie. Maar een ding waaroor ek seker is, is dat dit ’n wintersoggend was. Die sonlig het met sagte, goue strale deur die venster op die mat geval soos dit net vroeg op ’n wintersoggend doen. En oral in die dik staaf lig wat van die venster tot by die vloer gehang het, het honderde stof­spikkeltjies gesweef wat soos goudstof geblink het.

      As mens so klein is en alles in die wêreld is nuut, kan jy jou mos ure lank aan ’n kat verkyk, of aan die patrone op ’n houtdeur, of aan die simmetrie van ’n gehekelde tafeldoek. Ek onthou dat ek daardie dag heeltemal gefassineer was deur die ontelbare goue spikkeltjies wat in die helder lig by die venster rondgesweef het. Van die veerligte stofkorreltjies het op die lugstrome in die vertrek stadig grond toe gedaal, terwyl ander weer opgesweef het in die dak se rigting.

      “Mamma, wat is daai?” het ek vir my ma geroep, en omdat sy waarskynlik besig was om te stryk of Huisgenoot te lees, het sy nie te veel aandag gegee nie; sy het gedink ek vra wat is die lig wat by die venster inskyn. “Dis sonstraaltjies,” het sy geantwoord.

      Jare lank daarna was ek dus oortuig “sonstraaltjies” is die naam van die goue spikkeltjies wat vroeg soggens in die lug by vensters draal. Omdat ek al die woord “sonstraal” iewers in ’n liedjie by die Kinderkrans gehoor het, het dit vir my een of ander geestelike konnotasie gehad, en ek het begin vermoed die stof­spikkeltjies is iets hemels, soos mikroskopiese engeltjies wat op wintersoggende deur ons venster daal om in ons woonkamer te kom kuier. In die Kinderbybel was daar ’n prentjie van Jakob wat met sy kop op ’n klip slaap terwyl ’n breë goue leer bokant hom na die hemel strek en skitterende engele daarlangs op en af klim. Dit het my laat dink aan die spikkeltjies wat so in hul goue baan op en af tussen die hemel en ons woonkamer reis.

      Later het ek opgelet mens kom hulle oral teë. By Ouma en Oupa se huis in die Paarl kon jy soggens sonstraaltjies voor die hoë sonkamervenster met ’n uitsig op die agterplaas en die perskeboord sien. Op die mat by die speelskool, as jou aandag tydens storietyd dwaal en jy in die venster se rigting loer, was hulle daar. Jy kon omtrent nie wegkom van die piepklein engeltjies wat in hul honderde deur al wat ’n venster is val en rondom jou kom speel nie.

      Ek weet nie wanneer ek opgehou het om na dié klein wonder­werkies op te let nie. Iewers het ek seker uit ander mense se gesprekke afgelei die woord “sonstraal” verwys eintlik na die stroom warm lig wat van die son af aarde toe skyn. Die goue engeltjies is eintlik stof wat op die mat beland het sedert daar laas gestofsuig is en wat so klein is dat hulle deur lugstrome opgeskep word en voor die venster rondsweef. Nie naastenby so interessant soos engeltjies nie.

      As iemand my vandag sou vra of daar nog steeds op winters­oggende goue spikkeltjies voor vensters rondsweef, weet ek nie. Ek het jare laas die moeite gedoen om te kyk. Ek beweeg meestal in huise rond waar die vloere geteël of gelamineer is, en in daardie huise word alle potensiële engeltjies elke week met ’n mop en One Step uit die weg geruim.

      Ek wens ek kon beter onthou hoe dit gevoel het om drie jaar oud te wees. Om elke oggend in jou bed orent te sit en met ’n bonsende hart te wonder wat gaan vandag gebeur wat ek nog nooit voorheen beleef het nie? Dalk wag daar engeltjies in die woonkamer of dalk wag daar ’n spook agter die kas. Deesdae raak jy meestal wakker van ’n wekker se geskree. Jy is dankbaar as jy een oomblik van stilte in jou gemoed kan beleef voordat gedagtes oor die dag se skedule jou kop binnestroom. Jy steier na die stort, knyp jou oë dig toe sodat die sjampoe hulle nie brand nie, vloek as jy besef jy het gister vergeet om suiker te koop en gaan nie vandag die granola kan eet wat jy die afgelope vyf jaar elke oggend eet nie, en haas jou na ’n werk wat, selfs al is dit hoe lekker, nie heeltemal so lekker is soos wat dit sou wees om langer te slaap nie.

      En as daar iewers in jou huis ’n ligkolom vol dansende hemelwesentjies tussen die gordyne deurval, het jy jare – selfs dekades – laas op pad na die deur stilgestaan om daaraan aandag te gee.

      EK WAS al in my laat dertigs toe my vriend John my gehelp het om weer dié liggies raak te sien. John was ’n Amerikaner van geboorte. As jong man het hy ’n graad in evolusionêre biologie behaal en toe by ’n projek aangesluit wat jong gegradueerdes na ander dele van die wêreld stuur om welsynswerk te doen. John en sy verloofde, Sonya, het albei na Zimbabwe gekom. Nadat hy ’n jaar of wat vir kinders in landelike skole natuurwetenskappe geleer het, is die twee weer terug na Amerika, waar hulle die knoop deurgehak, twee seuns gekry en in die stad Philadelphia nesgeskop het.

      Enigeen wat al so bietjie geleef het, sal jou kan vertel ’n lewe wat uitwaarts perfek lyk, kan nogtans na ’n effense teleurstelling voel. Teen sy vroeë dertigs het John als behaal wat mens van ’n jong kêrel kan vra. ’n Sjarmante professionele vrou met twee gesonde seuns. ’n Werk by ’n spoggerige en peperduur privaatskool waar hy sy eie biologielaboratorium kon bedryf en klas kon gee in ’n vak waaroor hy geesdriftig was. En tog het iets geknaag. Sy vrou het begin kla hy fokus te veel op sy werk en skeep sy gesin af. Sy werksprojekte het so baie en oorweldigend geraak dat hulle hom al minder vreugde gegee het. Hy het gedurig sy jong seuns gekritiseer – “Jy weet mos jy kan beter doen, hoekom neem jy altyd so lank?”

      Kortom, hy het al sy doelwitte bereik, maar daar was nie meer baie magic in sy lewe nie.

      Ten minste het sy baas nie gekla nie. John het lang ure gewerk en was ’n ambisieuse onderwyser wat gedurig nuwe klasuit­stappies en spesiale projekte vir sy leerlinge uitgedink het. Elke lente is John na ’n ander deel van die land om ’n plek in die ongerepte natuur te gaan soek waarheen hy sy leerlinge die daaropvolgende somer vir ’n opvoedkundige uitstappie kon neem. Soos die keer sowat tien jaar gelede toe hy na die deelstaat Nieu-Mexiko is om ’n plek vir daardie jaar se kamp te soek. As toegewing aan druk van Sonya en die kinders dat hulle meer van hom wil sien, het John sy jongste seun, Julian, saamgeneem – hulle sou mekaar in die natuur bietjie beter kon leer ken.

      Ons het nie in Suid-Afrika plekke soos Nieu-Mexiko nie, maar probeer jou dit voorstel. Die vlaktes lyk baie soos die Karoo, dor, stowwerig en vol vetplante, maar in van die berge is daar woude vol hoë, welige bome. In die winter, en selfs in die vroeë lente toe John en Julian daar aangekom het, is dié bergwoude toe onder ’n sneeukombers. Hy het sy seun in ’n stewige viertrekvoertuig gelaai en hulle het vroeg een oggend koers gekies in een van dié berge se sneeubedekte klowe op. Jy moet jou storie ken as jy op die sneeu wil bestuur; jou motor kan maklik gly of vasval. Maar John was verantwoordelik. So ver hy gery het, het hy seker gemaak hy sien oral ’n stel motorspore, ’n bewys dat minstens een voertuig kort vantevore dieselfde pad gebruik het. Dieper en dieper die berg in. Wat kon moontlik verkeerd gaan?

      Nadat hy so ’n uur of wat al met die kloof langs die berg in gery het, het hy begin vermoed die sneeu raak selfs vir hul viertrek­voertuig te diep. Hulle sou binnekort moes terugdraai. Hy het vir Julian, wat maar pas vyf geword het, vertel hulle gaan aanhou ry totdat hulle op ’n plek kom waar die smal bergpaadjie wyer raak sodat hy kan omdraai sonder om van die pad af te ry. Maar die kilometers het verbygerol en die pad het nêrens wyer geraak nie. “Dit lyk nou miskien bietjie eienaardig,” het John uiteindelik vir Julian gesê, “maar ek dink nie ons gaan kan omdraai nie. Ek gaan net hier stilhou, die voertuig in trurat sit en dan gaan ons agteruit ry tot by ’n plek waar ons kan omswaai.” Hy het rem getrap, die hefboom geskuif, sy voet op die petrolpedaal getrap – en toe gebeur die ding wat John se perfekte lewe tot ’n einde sou bring. Die agterwiele draai, maar die voertuig beweeg nie.

      Hy het uitgeklim, agterom die voertuig geloop en met ’n sinkende hart besef wat gebeur het. Terwyl hy gedink