myself eerder as dankbaar beskryf.” En soms voeg hy by: “Het jy dit al oorweeg om te leer mediteer?”
Dit was donker op sy stoep. Rondom die groot boom in die tuin het iets begin beweeg. Klein goedjies wat soos Krismisliggies aan en af flikker, het al om die boom gedraai in ’n wolk wat al helderder gloei. “Wat op dees aarde?” het ek gevra.
“Kom kyk,” het John gesê en soontoe gestap.
Dit was die eerste keer dat ek Nieu-Engeland-vuurvliegies in lewende lywe sien. Klein gedroggies soos torre, maar met fosforspatsels op hul lyfies wat soos engelliggies gloei.
Sonstraaltjies in die donker.
EK WAS terug in Suid-Afrika toe John vir my ’n lang brief skryf.
“Liewe vriend en broer, hierdie lewe wat vir ons gegee is, is so waardevol, selfs meer as wat ons in ons wildste verbeelding kan raai. Dis baie onwaarskynlik dat ons in die eerste plek hier op aarde is, dat ons elke oggend kan wakker word, kan inasem, ons voete op die grond kan plaas, die wind in die boomtakke kan sien. Elkeen van dié oomblikke is bitter aangrypend, selfs al is dit alledaags.”
Hoe doen mens dit? Hoe maak jy soos John jou oë oop sodat jy opnuut die wonder van jou lewe raaksien?
Dalk is jy – jy wat nou hierdie boek lees – bewus daarvan dat jy ’n hoogs onwaarskynlike wonderwerk is. Dat jy bestaan omdat die heelal 14 biljoen jaar gelede ontplof het in die magtigste knal wat nog ooit gehoor is, so hard dat dit nou nog regdeur die ruimte weerklink; dat jou selle en bene en hare aanmekaar gesit is van atome wat gevorm is in die hart van sterre wat der miljoene jare gelede al ophou bestaan het; dat elke asemteug wat jou longe binnestroom ’n proses binne jou lyf aan die gang sit wat so kompleks is dat al die wetenskap in die wêreld dit nie kan nadoen nie.
Maar is jy ook bewus van die wonderwerk in die alledaagse dinge wat jy al begin miskyk het? Die stof wat jy soms op jou matte opskop? Die goggas in jou tuin? Die lyne op jou vriende en kollegas se gesigte? Die opregte bedoelings in jou brose hart?
Die meeste van ons weet dat daar opwindende dinge in die buitenste ruimte gebeur, maar het al vergeet hoe om die wonder van ons alledaagse lewe raak te sien. Dink byvoorbeeld aan iets soos ’n vaas – daai ou porselein- of glashouers wat in jou ma se sitkamer staan en wat mens gebruik om blomme in te sit. ’n Vaas is maar ’n saai ding. Al wat dit interessant maak, is die blomme wat mens daarin sit. Daarsonder gaan dit terug kas toe want dit beteken nie veel nie.
In die sestigs het ’n Amerikaanse sielkundige genaamd Arthur Deikman ’n studie gedoen waar hy mense aangesê het om ’n halfuur lank met hul volle aandag na ’n blou vaas te staar. As jou gedagtes dwaal, het hy vir die deelnemers gesê, bring dit weer terug na die vaas. Ná so twee minute gaan jy voel jy het nou regtig alles gesien wat daar aan die vaas te sien is. Kyk dan met selfs meer aandag of jy nog iets kan opmerk. As jy ná tien minute mal van verveling wil raak, kyk selfs nader. Let op na elke kraak en spikkel en kol. Kyk na die vaas asof dit die belangrikste ding op aarde is.
Die resultaat was insiggewend. Ná ’n halfuur het mense liries oor die vaas begin gesels. Hulle het gesê dit voel asof die vaas ’n lewe van sy eie het, asof die vorm en patrone verander as mens lank genoeg daarna kyk. Hulle was nie een op dwelms nie en hulle was nie tot hallusinasies geneig nie. Hulle het bloot geleer dat aandag enigiets in ’n wonder kan omskep.
Deikman het sy bevindings as volg opgesom: Soos wat ons deur die lewe gaan, raak ons al meer gewoond aan die dinge om ons en gee ons nie regtig meer daaraan aandag nie. Dit geld vir vase, dit geld vir jou huweliksmaat, dit geld vir als. Jy dink ná ’n ruk jy het als gesien wat daar aan hulle te siene is, jy verstaan die lewe en jy sluit jou af vir die moontlikheid dat dit iets nuuts kan oplewer wat jou gaan verras. Ons gee ons aandag eerder aan die “belangriker gedagtes” wat heeldag deur ons kop maal. Die lewe buite ons koppe raak saai en vervelig.
Maar ons kan daai verveling op sy kop keer. Ons moet net leer om aandag te gee.
DALK HET jy al die Engelse woord mindfulness gehoor. Dis deesdae ’n gonswoord in die populêre sielkunde. Almal van dieetkundiges tot sake-ghoeroes belowe dat jy jou lewe met dié tegniek kan verander. Toe ek 18 jaar gelede die eerste keer begin mediteer het (die tegniek waarmee mens vir jouself mindfulness of “bewustelikheid” leer), was dit nie iets waaroor jy te veel kon praat nie. Mense sou dink jy het een of ander klap weg. Maar dis een van die opwindendste en mees belowende verwikkelings van die nuwe millennium dat mindfulness oor die afgelope twee dekades veld gewen het in die hoofstroomsielkunde, in opvoedkunde, in teologie, in die sakewêreld, in boeke en in flieks. Wetenskaplikes en breinkenners het die effek daarvan al aan die wêreld se toplaboratoriums bestudeer en die waarde daarvan word aan die voorste universiteite onderrig. Ek het oor die jare die voorreg gehad om met tientalle wyse mense oor hul reis met meditasie en bewustelikheid te praat en saam met hulle te mediteer – sielkundiges en dokters, dominees en Boeddhiste, huisvroue en sakeleiers, hippies en professore. Hulle het my toegelaat om saam met hulle te leer en hopelik klink ek nie te dweperig nie as ek sê dat dit my verander het van ’n redelik toksiese, onbedagsame, afgestompte mens na iemand wat deesdae sy bes doen om minder skade aan te rig en saggies oor ons brose planeet te beweeg.
Rare goed gebeur as jy dié reis aanpak. Jy stap eendag deur die parkeerterrein by jou werk en meteens moet jy ’n oomblik stilstaan, die skoonheid rondom jou is so oorweldigend, die vreugde wat asof van nêrens in jou bors opwel, maak jou byna duiselig. Of jy staan langs die sterfbed van ’n geliefde en jy kan elke oomblik van die rouste hartseer met ’n oop hart vashou, jy kan die brandgevoel van trane in jou oë waardeer vir die warm bewys van liefde wat dit is. Jy begin al meer besef al gebeur wat ook al, al loop alles eendag skeef, diep onder die oppervlak is die wêreld verstommend mooi en sag.
Hierdie boek is ’n poging om van daai wysheid te deel. Ek is ongelukkig nie self ’n wyse meester nie, so ek gaan meestal ander mense se stories en wenke oorvertel. Tussendeur sal ek ook deel wat ek uit my eie foute geleer het. Moet dit asseblief nie as iets prekerig beskou nie; ek het erge voete van klei. Hierdie boek is ’n brief van een bedremmelde soeker aan ander bedremmeldes. Ons almal wil ’n bietjie helderder lewe. Ons almal wil uit ons sluimering ontwaak.
En dit kan gedoen word.
1
JOU KOP RAAS
“Voorheen was ek baie egoïsties en eiesinnig, maar soos ek geleer het om aandag te gee aan wat rondom my aangaan, het ek besef dat daardie lewenshouding, al maak dit jou hoe suksesvol, jou nie gelukkig maak nie. Die ding wat jou eintlik gelukkig maak, is om jou oë oop te maak vir die wêreld rondom jou en om vir ander mense iets te beteken.”
DIE OUDERDOM van 32 is ’n bietjie jonk om ’n krisis van die middeljare te beleef, maar dis hoe oud Rodney Downey was toe dit hom getref het. Hy het eendag op die stoep van sy massiewe herehuis in Somerset-Wes gaan sit, met sy beeldskone vrou, die voormalige model Heila Downey, aan sy sy, oor sy hektaar-grootte erf gekyk, en hardop gewonder: “Is dit dan nou al wat daar aan die lewe is?”
Dit was 1978. Rodney was een van daardie “goue seuns” wat jy soms in die korporatiewe wêreld raakloop. Hy was skaars 30 toe hy ’n direkteur geword het van een van Suid-Afrika se suksesvolste handelsmaatskappye, ’n bekende klerekettingwinkelgroep. Soms het hy op raadsvergaderings langs die voorsitter gesit.
Maar hier was hy en Heila nou op hul stoep aan die frons. Hulle het op ’n baie jong ouderdom al die status, rykdom en voorspoed gehad waarvan hulle kon droom, maar steeds het die lewe hol gevoel. Hoe dan so?
In daardie jare sou min mense aan meditasie as ’n oplossing vir dié soort gemoedsbekommernis gedink het. Maar Rodney het jare vantevore ’n tydjie in Londen deurgebring en ’n organisasie teëgekom wat mense meditasie leer, The School of Philosophy. Hy het navrae gedoen en vasgestel daar is ’n tak in Kaapstad. En so is die egpaar Downey daarheen om te kyk of meditasie hulle ’n paar antwoorde kon gee. Die instrukteurs het hulle ’n rukkie stil laat sit en aanbeveel dat hulle meer bewustelik met die lewe omgaan. Dit klink nie na veel nie, maar die gogga het gebyt. Veral