om ’n woord te sê met ’n halwe glimlag sy kop van links na regs gedraai asof hy die hele vertrek met sy oë wou groet.
En toe leer hy ons mediteer.
Ek onthou daar was ’n pouse halftyd. Ons kon pepermenttee en Romany Creams in ’n vertrek langsaan geniet. Die groep was nou selfs stiller. Ek was lus om op my eie te wees en het in die binnehof gaan sit waar ’n fonteintjie geborrel het. Ek kan tot vandag nog – en ek sweer dit is waar – die geluid van daai fonteintjie onthou asof ek dit gister gehoor het; ek kan voel hoe warm die teebeker tussen my twee hande was; ek onthou dat ek afgekyk het en dat ek byna geskrik het vir hoe rooi my trui was. Ek het nog nie woorde soos “bewustelikheidspraktyke” of “neuroplastisiteit” geken nie, maar ek het dit nie nodig gehad nie. Iets was anders. Ek het dit met elke sel in my lyf geweet.
Die klokkie het weer gelui en ons het gaan sit vir ’n tweede rondte meditasie.
2
WORD WAKKER
“Ek maak net my gedagtes skoon van die stories wat ons onsself vertel. Daar is geen opspraakwekkende, heldersiende oomblikke nie. Soms doen ek dit terwyl ek in die bed lê. Of selfs in die bad.”
DIS ’N SONDAGOGGEND in die vroeë 1960’s. Die distrik Lichtenburg in die destydse Wes-Transvaal. Die Van Schalkwyks se plaas. Pa het sy das aan, ma haar deftige klere vir die oggenddiens in die Hervormde Kerk. Boet en sus mik al in die motor se rigting. Maar dan merk iemand op klein Johann is nog nie daar nie.
Dis niks ongewoon nie; dit gebeur elke Sondagoggend en die Van Schalkwyks weet al waar om hom te soek. Soos baie families destyds het hulle ’n deftige sitkamer gehad waar omtrent niemand ooit gekom het nie, buiten wanneer die predikant op huisbesoek was. Dit was ’n amper heilige ruimte met ’n dik tapyt, swaar gordyne en familieportrette. En daar lê Johann elke Sondagoggend voor kerk, salig op sy rug op die mat, sy oë toe. Besig om sy “kop skoon te maak”.
“My familie het al geweet waar om na my te kom soek. Hulle het seker gewonder wat de hel gaan aan,” lag Johann nou, meer as 50 jaar later, as hy daaraan terugdink.
Mens kry deesdae allerlei plekke waar hulle jou derduisende rande gaan vra vir ’n kursus om jou bewustelikheid en meditasie te leer. Van die kursusse is baie goed. Maar jy hoef nie regtig ’n sent uit te gee om wakker te word nie. Vra maar vir Johann.
As jy in die laaste drie dekades of langer tussen Suid-Afrika se meditasiepioniers beweeg het, lank voordat dié dinge wyd onder sielkundiges aandag begin trek het, is die kans goed dat jou paaie iewers met Johann s’n sou gekruis het. Deesdae werk hy as ’n boekhouer in Johannesburg, maar in die negentigerjare het hy in ’n stadium by dieselfde retraîte-sentrum in die Drakensberge ingewoon waar Heila en Rodney Downey op meditasie verlief geraak het. Hy het ná 2000 ’n sentrum naby Mooinooi in Noordwes op die been help bring, en by dié sentrums het hy oor die jare tientalle mense geleer hoe om bewustelikheid met behulp van meditasie te kweek. Maar self het Johann die wonder van bewustelikheid besef lank voordat hy sy voete in enige meditasiesentrum gesit het.
“Meditasie is iets wat ek gedoen het vandat ek ’n kannetjie was,” vertel hy my onlangs. “Ek het elke Sondag voor kerk in die sitkamer op ’n mat gaan lê en die gedagtes in my kop afgesluit. Die Vader weet waar ek daaraan gekom het, maar ek het dit elke week gedoen.”
Iets aan dié gewoonte het ’n sterk indruk op hom gemaak, sodanig dat hy dit dadelik herken het toe hy jare later as Tukkie-student in ’n tydskrif ’n artikel oor meditasie gelees het. “Ek het dit weer begin doen. Dit het net reg gevoel. Ek weet nie hoekom ek soveel aanklank daarby gevind het nie. Dalk omdat ek maar altyd so ’n rustige ou was.”
Oor die jare het hy talle formele vorme van meditasie aangeleer, maar die een tegniek waarna hy gereeld terugkeer, is die een wat hy self as jong knapie ontdek het. “Ek maak net my gedagtes skoon van die stories wat ons onsself vertel. Daar is geen opspraakwekkende, heldersiende oomblikke nie. Soms doen ek dit terwyl ek op die bed lê. Of selfs in die bad.”
Op die ouderdom van 62 oefen hy nou al meer as ’n halfeeu om by die geraas in sy kop verby te lewe. En as jy met hom gesels moet jy toegee, hy is een van daardie mense wie se rustigheid jou meteens erg bewus maak van hoe onnodig dol en gejaagd die res van die lewe om jou is. As jy hom uitvra oor die impak van jare se bewustelikheidspraktyke op sy lewe, sê hy dieselfde dinge wat jy by baie ervare mediteerders hoor – hoe hy minder by onnodige stryery betrokke raak, nie so maklik geïrriteerd raak nie, meer deernis vir ander mense voel.
Hy glimlag. “Party mense vra: ‘Is daar enigiets waaroor jy worry?’ Dan sê ek: ‘Hmn, nie veel nie.’”
TWINTIG JAAR terug was daar in Suid-Afrika net ’n paar mediteerders wat jou sou kon sê wat die woord mindfulness beteken. Deesdae kan jy dit nie vermy nie. Feitlik elke selfhelp- en selfverwesenlikingsprogram het een of ander element daarvan. Sielkundiges se oë vonkel as hulle daaroor gesels. Daar was al artikels daaroor in als vanaf Time en The New York Times tot Huisgenoot en Die Burger. Op winkelrakke sien jy boeke oor mindfulness en stres, mindful maniere om jou kinders groot te maak, mindfulness vir sportlui, mindfulness as hulpmiddel teen verslawing, selfs mindful verslankingsdiëte.
Dit kom ’n lang pad aan. Meer as 2 500 jaar voordat dit die Weste op hol geneem het, is meditasie en bewustelikheidspraktyke in antieke Indië tot ’n kuns verfyn. Ek is altyd effens benoud om antieke Indië in ’n gesprek soos hierdie te noem, want ek weet dit maak sommige mense skrik. Vir hulle wil ek hier uit die diepte van my hart die versekering gee: Niemand gaan van jou verwag om by ’n Oosterse geloof aan te sluit, spikkels op jou voorkop te verf of op ’n spykerbed te slaap as jy meditasie en bewustelikheid begin verken nie. Die Indiërs was bloot die eerste mense wat noukeurig rekord gehou het van hul ondersoeke na wat binne-in hul koppe aangaan. Sedertdien is soortgelyke ondersoeke op allerlei maniere in ander wêrelddele en kulture gedoen – en soos die verhaal van Johann van Schalkwyk wys, kan selfs ’n Hervormde seuntjie in die Mieliedriehoek dit op eie stoom doen.
Die destydse Indiërs het hierdie verkenning van hul gedagtewêreld en aandagvermoëns joga genoem. In die moderne Weste dink ons aan joga as ’n stel baie gesonde bewegings en posisies wat mens in ’n oefenateljee doen, maar vir die antieke jogi’s het dit iets anders beteken. Een van die bekendstes onder hulle was ’n man genaamd Patanjali, wat ’n teks genaamd die Joga-soetras geskryf het. Die naam beteken eintlik maar net “die Joga-geskrif” en dit begin met die volgende woorde: “Kom ons bestudeer nou joga. Joga is wanneer die lawaai in jou gedagtes tot bedaring kom. As jy dan kyk, sal jy die werklikheid sien.”
Soos jy sal merk, is daar niks vreeslik volksvreemd of omstrede aan wat hy daar sê nie. Hy herhaal maar net wat ons in die vorige hoofstuk gesien het. Daar is ’n geraas in jou kop en as jy dit sou stilmaak, sal jy die regte wêreld om jou helderder waarneem. Maar Patanjali voeg ook iets by. Hy sê daar is ’n metode om die blaffende honde in jou kop stil te maak. Hy noem dié tegniek joga en volgens hom behels dit om stil op jou bas te sit en kyk of jy kan agterkom hoe die geraas in jou kop werk. Geen strekoefeninge nodig nie.
Eeue later het Christenmonnike in die Weste met soortgelyke tegnieke vorendag gekom en dit “kontemplatiewe gebed” noem. Toe sielkundiges in Amerika so 40 jaar gelede begin om die Indiese tegnieke van destyds op te diep en in te span, het hulle dit die naam mindfulness gegee. In Afrikaans stry mense nog oor wat die mees gepaste vertaling is. Voorstelle wissel van “aandagtigheid” tot “bedagsaamheid” en is nie een vreeslik inspirerend nie. Die maklikste term is eintlik sommer net “bewustelikheid”, en ek gaan dit vorentoe meestal gebruik. Die woord maak nie regtig saak nie. Die sleutelelement waaroor almal saamstem is dit: As jy aandag gee aan jou gedagtes en die wêreld om jou, kan dit jou saai en stresvolle wêreld behoorlik omtower.
AS JOGI’S en monnike te hippierig vir jou smaak klink, is daar goeie nuus. Ook breinwetenskaplikes het die laaste paar dekades met toenemende entoesiasme die uitwerking van volgehoue aandag op mense se brein en gemoed bestudeer.
Dis nie iets waarvan mens naastenby genoeg in