alt=""/>
SIT OP JOU BAS
Jy hoef nie die vertrek te verlaat nie. Sit net daar en luister. Of moenie eens luister nie, sit net daar en wag. Of moenie eens wag nie. Wees net stil en alleen. Uiteindelik gaan die wêreld hom vrylik aan jou bied. Dit het geen keuse nie. Dit gaan in ekstase aan jou voete kom baljaar.
– Franz Kafka
TIENUUR DIE AAND van my eerste dag op retraîte het Rodney my voorgekeer waar ek na die voordeur mik om te ontsnap.
“En nou?” het hy gevra.
“Uhm,” het ek geantwoord. “Ek dink nie dit werk regtig vir my nie.”
Wat ek eintlik wou sê was: “Goeie donder! Ek dink ek raak mal.”
The Dharma Centre, Heila en Rodney Downey se plek, is ’n Victoriaanse gebou wat van buite net soos enige ander woonhuis in die straat lyk. Maar as jy eers binne is, kom jy gou agter hier is iets anders aan die gang. Omdat hulle albei onder ’n Koreaanse Zen-meester studeer het, is groot dele van die sentrum volgens temas uit die Verre Ooste ingeruim. Daar is ’n Zen-tuin van gruis wat mense af en toe stadig hark. Daar is ’n klein Japannese teehuisie (een van daai met die dun mure wat soos papier lyk) waar jy privaatgesprekke met ’n instrukteur kan hê oor hoe dit met jou meditasie gaan. En daar is ’n enorme groentetuin waar retraîte-gangers soms in stilte die spinasie, tamaties, beet en appelkose bewerk wat vir die gemeenskaplike etes aangeplant is.
Maar die belangrikste plek is ’n groot saal eenkant op die erf. In dié saal vind jy rye ronde swart pofkussings waarop mense aldag en heeldag sit en mediteer. Beginnende kort ná vyfuur soggens sit hulle ’n halfuur op ’n slag kruisbeen sonder om te roer. As jy al die halfure van stilsit bymekaar tel, beloop dit so tussen ses en sewe uur se meditasie per dag.
En selfs as jy nie in die meditasiesaal is nie, handhaaf almal op die retraîte ’n gees van diepe aandagtigheid. Die retraîte-gangers bestaan uit uiteenlopende mense – jong meisies wat na studente lyk, middeljarige mans wat waarskynlik by die huis tandartse of ouditeurs is, afgetredenes uit nabygeleë dorpies, en wat nog. Jy sal nie weet wat enige van dié mense se eintlike storie is nie, want almal loop met hul oë pal op die grond voor hulle en sê nie ’n woord nie. Kos word gemaak, badkamers word geskrop en keer op keer vind almal hul weg na die meditasiesaal sonder dat enigiemand iets sê.
“Kyk,” wou ek eintlik vir Rodney sê, “’n halfuur se meditasie elke Donderdagaand in Londen was oukei. Maar hierdie is ’n perd van ’n ander kleur. My knieë en bene is lam. Ek voel of die gedagtes in my kop beserk geraak het. Een oomblik wil ek almal om my vloek, die volgende oomblik wil ek aan die slaap raak. En boonop weet ek vir ’n feit my vriend Jan hou vanaand ’n partytjie langs die Eersterivier en as ek nou ry kan ek nog voor middernag daar wees wanneer die verrigtinge net begin opwarm.”
Maar mens is mos te ordentlik om reguit te praat, so al wat ek kon uitkry, was: “Dit werk nie so goed vir my nie.”
Terugskouend besef ek Rodney was wys. Hy het nie ’n drama van my ontsnappingspoging gemaak nie, net mooi verduidelik die pad tussen Robertson en Worcester is gevaarlik so laat op ’n Saterdagaand, so hoekom gaan slaap ek nie, druk die laaste paar ure deur en ry dan die volgende middag terug nie? So is ek maar terug na my matrassie op die solder waar ek tussen al die ander manlike retraîte-gangers geslaap het.
Toe ek die oggend wakker word, was ek effens kalmer en het ek besluit om tot ná middagete deur te druk om die retraîte enduit te sien.
Dit was op pad uit die volgende middag dat ek die eerste keer regtig met Heila gesels het. Sy is in ’n meer senior instrukteursposisie as Rodney gekwalifiseer en was die eintlike leier van die retraîtes, maar ek het nooit die kans gekry om met haar self te praat nie. Sy het naby die voordeur agter haar lessenaar gesit en toe ek verbystap, het sy met ’n vonkel in haar oog opgekyk. “Ek hoor jy het probeer wegloop.”
Ek vertel haar toe ek wil nog mediteer, maar ek is nie seker of dit die plek vir my is nie. Sy het gelag en gesê daar is ’n paar ander plekke in Kaapstad wat ek kon uittoets. En so is ek daar weg, vas oortuig dat ek die Downeys nooit weer sou sien nie.
Hoe kan mens dit verklaar? Drie maande later was ek weer voor hul deur om nog ’n retraîte te probeer. Vandag, 16 jaar later, is Heila Downey steeds my persoonlike instrukteur. En die eerste belangrike les wat sy my geleer het, het ek al in my eerste naweek by hulle opgetel: Meditasie is nie maklik nie.
EK WIL niemand afskrik nie. Maar ek weet wel baie mense pak meditasie deesdae aan in die hoop dat dit altyd lekker en ontspannend gaan wees. Dié wanopvatting word dikwels in sjampoe-advertensies en gesondheidstydskrifte versterk. Wanneer daar iewers ’n artikel oor meditasie verskyn, is daar gewoonlik ’n prentjie by van ’n sexy jong dame wat kruisbeen op ’n strand of ’n jetty sit, geklee in ’n swembroek of leotard, met ’n salige glimlag op haar gesig. Tik maar die woord meditation in Google Images in en jy sal sien wat ek bedoel.
Die werklikheid, daarenteen, is heeltemal anders. Meditasie behels dat jy lang tye roerloos sit, of jy lus is of nie. Jou lyf raak soms seer en jou gedagtes loop mal draaie met jou. Dit kan geweldig ongemaklik raak. Maar dit is juis as mens deur daardie ongemak bly sit dat meditasie jou help leer om iets moois in die mees onverwagte plekke te vind.
In Tibet is daar ’n legende oor ’n ou wyse man wie se studente hom gevra het om hulle die toppunt van sy wysheid te leer. Hulle was oortuig hy kan hulle iets van die geheime van die kosmos vertel, maar al wat hy gedoen het, was om te buk, sy kleed op te tel en sy agterwêreld vir hulle te wys. Sy geplooide boude was vol eelte van letterlik jare se sit op sy meditasiekussing. Sy boodskap was duidelik: As jy wys wil word, sit stil op jou alie en kyk wat gebeur.
Die tyd het nou aangebreek om prakties te raak. Hierdie en die volgende hoofstuk bevat dus aanwysings oor hoe om te mediteer. (As jy die raad mooi volg, gaan jy dit hopelik kan doen sonder om met eelte op jou boude op te eindig.) Ek weet maar te goed hoe mense boeke soos dié lees. Almal hou van die staaltjies en die interessante inligting oor breinwetenskappe, maar as dit by die paragrawe kom wat jou vra om ’n oefening te doen, slaan die meeste mense dit gewoonlik oor. Ek weet, want dis wat ek doen.
Tog wil ek opreg vra dat jy dit oorweeg om van die tegnieke op die proef te stel. Die geringste tikkie bewustelikheid in jou dag is waardevol, maar ’n meditasiepraktyk sit jou bewustelikheid op steroïede. Daar is geen beter manier om jou brein wakker en jou oë oop te maak nie. Ek het die laaste twee dekades baie wyse mense leer ken en loshande die meeste van hulle stem saam as jy bewustelikheid wil kweek, gaan jy een of ander tyd moet leer om te mediteer.
Daar is verskeie vorme van meditasie, ingesluit metodes waar jy eksotiese dinge visualiseer en snaakse ligte sien, maar dis nie die tipe meditasie wat ons gaan doen nie. As jy mediteer soos wat ek verduidelik, gaan jy nie van jou sitplek opstyg nie, jy gaan nie visioene sien nie en jy gaan nie spookstemme hoor nie. Jy gaan net leer om jou wonderlike lewe helderder waar te neem.
Een van die beste beskrywings wat ek al gehoor het van hoe bewustelikheidsmeditasie mens help, kom van Klasie Wessels, ’n Johannesburger wat in die veld van persoonlike en leierskapsontwikkeling werk. Hy vergelyk mens se raserige gedagtes met ’n wilde perd. Dit hardloop die wêreld vol en hoe meer jy dit onder beheer probeer bring, hoe wilder skop dit teë. Uiteindelik is daar twee fases in die proses om daai perd aan jou kant te kry. Eers moet jy hom kalmeer sodat jy sy leisels kan vashou. En tweedens, nadat jy die perd getem het, kan jy hom na bestemmings ry waar jy allerlei nuwe ervarings kan hê.
Ons gaan dus nou na ’n paar meditasietegnieke kyk waarmee jy die mal perd van jou gedagtes tot bedaring kan bring sodat jy sy leisels in jou hande kan neem. Dan sal ons in latere hoofstukke kyk hoe jy met daai perd na wonderlike nuwe plekke soos medelye, dankbaarheid, vrygewigheid en vrede kan reis.
Reg? Hier gaan ons.
Voordat jy gaan sit
Sommige mense kan sommer op ’n stoel of meditasiekussing neerplons en begin mediteer. Maar baie kan nie. Veral as jy iemand is wat baie in jou kop lewe of erg angstig is, raai ek jou aan om jou eerste meditasiesessie met sowat vyf dae uit te stel. Doen