soms inwonende stilte-retraîtes aanbied. Kort voor lank het die Downeys hul tasse gepak om vir ’n paar dae hul ryk, blink lewe agter te laat en soos twee kluisenaars in die berg te gaan mediteer.
Vir mense wat nog nooit op ’n stilte-retraîte was nie, klink dit gewoonlik na een van die mees intimiderende dinge op aarde. Jy gaan bly op ’n plek vir enigiets van twee dae na drie maande, en nadat jy op die eerste dag instruksies ontvang het oor hoe om te mediteer, moet jy onderneem om vir die duur van jou verblyf nie ’n enkele woord met enigiemand te praat nie. Trouens, die meeste retraîte-gangers kyk die hele tyd stip na die grond voor hul voete sodat hulle nie per ongeluk met iemand oogkontak maak en subtiel kommunikeer nie. En in daardie stilte sit jy en mediteer, uur in en uur uit, dag ná dag.
Teen die tweede dag het Heila en Rodney begin vermoed hulle word mal. Die natuur om hulle was miskien rustig – buite die meditasiesaal het die Drakensberg se voëls gekwetter en die wind deur die ruigtes gesuis – maar die geraas in hul koppe was oorverdowend en hul knieë was seer van ure se stilsit. En tog, omdat elkeen stilweg geglo het die ander een geniet dit waarskynlik, het hulle om mekaar se onthalwe deurgedruk. Teen dag drie het albei begin merk dat die geraas in hul koppe bietjie begin bedaar; hulle kon ’n paar minute langer op ’n slag stilsit. Ná nog ’n ruk se sit het hulle patrone in hul gedagtes begin oplet waarvan hulle nie vroeër bewus was nie. Veral Rodney het iets onverwag agtergekom – as hy sy volledige aandag aan die pyn in sy linkerbeen gee eerder as om daarvan weg te skram, was dit asof die sensasie van tekstuur verander, asof hy deur die pyn begin sien en dit hom nie meer so erg pla nie. Teen die einde van die week was albei meegesleur.
Toe hulle ná vyf dae met hul tasse in hul motor klim om terug Kaap toe te ry, het hulle die eerste keer sedert hul aankoms reguit met mekaar gepraat. Albei het dieselfde gesê: Ons moet hierdie ding nooit laat vaar nie.
Die Maandagoggend, toe Rodney saam met die ander direkteure om die konferensietafel sit, het hy hulle van sy ervaring probeer vertel, maar hulle het nie veel belanggestel nie. “Ek het in daardie dae geleer om dit maar eerder vir myself te hou,” onthou hy. “Maar met die jare kon almal die impak op my lewe sien. Ek het beter in my werk gevaar en kon ander mense meer help. Ek was al hoe meer daartoe in staat om mense se beste eienskappe raak te sien en hulle te help ontwikkel. Uiteindelik sou vyf van my protégés besturende direkteurs van groot maatskappye in Suid-Afrika word.
“Voorheen was ek baie egoïsties en eiesinnig, maar soos ek geleer het om meer aandag te gee aan wat rondom my aangaan, het ek besef dat daardie lewenshouding, al maak dit jou hoe suksesvol, jou nie gelukkig maak nie. Die ding wat jou eintlik gelukkig maak, is om jou oë oop te maak vir die wêreld om jou en om vir ander mense iets te beteken.”
WEES EERLIK. As jy hoegenaamd normaal is, voel jy nie aldag baie lekker oor die lewe nie. Soms weet jy wat jou pla, maar by ander tye is jy net oor die algemeen ontevrede – so ’n lae-oktaan ontevredenheid wat onder die oppervlak prut. Party dae voel jy skuldig daaroor: Hoekom kan jy nie net al jou seëninge waardeer nie? Maar jy kan dit nie verhelp nie; al gaan dit op die oog af hoe goed, is jy pal besig om met die wêreld om jou fout te vind.
Jy is nie alleen nie. As daar iets is wat ons weet van die menslike spesie, dan is dit dat ons voorsate hulle eeue gelede al aande om in hul grotte oor die lewe gesit en bekommer het.
As jy ooit weer aan die Wesrand kom, doen jouself ’n guns en gaan besoek die Wieg van die Mensdom op die grens van Noordwes en Gauteng, daar waar so baie oermensfossiele oor die jare opgegrawe is. In dié gebied kry jy nogal heelwat insig in die oorsprong van mense se eksistensiële kriewelinge. Kyk byvoorbeeld na Australopithecus sediba. Hy was ’n oermens wat so miljoen jaar gelede in die grasvelde noord van Sterkfontein gelewe het. Sediba was ’n maer, krom kêrel met ’n klein koppie, in baie opsigte meer aap as mens. Eendag het hy doodluiters in die veld rondgeloop toe hy per ongeluk in ’n diep gat val en op slag sterf. Paleontoloë van die Universiteit van die Witwatersrand het so paar jaar gelede van sy beendere uitgegrawe en hom in 2010 met groot fanfare aan die mensdom onthul.
Sediba is waarskynlik nie ’n direkte voorsaat van die moderne mens nie, maar hy lyk baie soos die oermense van wie ons wel afstam. Daarom kan ons ’n paar belangrike dinge oor ons spesie leer as ons na hom kyk. Die opvallendste is dat hy maar ’n patetiese dier was. Hy was te swak om ’n bakleiery met enige ander dier te wen, hy was te stadig om vir roofdiere weg te hardloop en sy boomklimvaardighede was so swak dat sy familielede gereeld deur leeus, luiperds en krokodille opgevreet is voordat hulle na veiligheid kon skarrel. Mens wonder hoekom die natuur hoegenaamd die moeite sou doen om so ’n skynbaar nuttelose dier op te lewer. Die mees waarskynlike verklaring is dat die mens in sy vroegste dae ’n belangrike rol in die voedselketting vervul het: Ons was ’n maklik bekombare voedselbron vir roofdiere. Soos daai muise wat jy vir R3 elk by die winkel kan koop om vir jou troetelslang te voer, het mense waarskynlik net ontwikkel om vinnig voort te plant en kitskos vir groot katte te wees. As jy dink die mens staan aan die spits van die voedselketting, het jy helaas die kat aan die stert beet.
Maar as dit so maklik vir roofdiere was om mense te vang en op te vreet, hoekom het ons spesie dan nie vroeg al uitgesterf nie? Die antwoord is een woord: Stres. Mense het gaandeweg die vermoë ontwikkel om hulle dag en nag te bekommer. In wetenskaplike terme hou dit verband met die werking van die amigdala, die deel van jou brein wat jou heeltyd skrikkerig maak vir dinge wat moontlik verkeerd kan gaan. Dié ontwikkeling het jou oermens-voorsate in staat gestel om saans in hul grotte te lê en hulle te bekommer oor waar die leeus loop en in watter drinkgate die krokodille skuil. Dié kommervrate het die volgende oggend wye draaie om die roofdiere se woonplekke geloop en relatief lank gelewe. Hul meer sorgelose vriende wat enige plek in die veld rondgeflenter en by die krokodil se kuil gaan water skep het, het nie oorleef om voort te plant nie. So is die gene van oermense met stresneigings veel meer suksesvol voortgeplant en die eindresultaat is dat ons vandag ’n spesie is wat ons bekommer asof ons lewe daarvan afhang.
Deesdae is daar baie minder kans dat ’n leeu of swart mamba jou gaan bespring as jy by jou voordeur uitloop. Ons behoort nou te kan ontspan. Maar millennia se evolusie het ons ongelukkig so bedraad dat ons ons deurgaans bekommer asof daar ’n bedreiging om elke hoek en draai skuil. Of dit nou nodig is of nie, jy stres. Soms stres jy oor daai skewe kyk wat jou lewensmaat jou vanoggend oor ontbyt gegee het. Of oor ’n spertyd wat eers oor twee maande by die werk vir jou wag. Of oor ’n opdrag wat jou baas jou dalk gaan gee. Of oor die snaakse geluid wat dalk kan beteken die wasmasjien is stukkend. Of oor die hond wat oud raak en dalk binnekort kan doodgaan. Of oor die Springbokke wat weer kan verloor. Of oor jou kinders wat dalk met dwelms deurmekaar kan raak. Of oor die bure wat lyk asof hulle die naweek weer gaan raas. Of oor die koffie wat kan opraak. Jy kyk nuus en hoor in een bulletin stories oor terroriste in Sirië, nuwe kankergevare, ’n rassis wat iets op Twitter geskryf het – alles dinge waaroor jy weinig beheer het, maar wat jou bloeddruk opjaag.
En dan begin jy wonder, gaan jy ooit aan hierdie konstante stres kan ontsnap of is jy nou maar eenmaal so gemaak?
WALTER MUESSE, ’n Amerikaanse kenner van bewustelikheid en meditasie, vertel ’n storie wat dié konstante geraas en gekla in mens se kop nogal oulik illustreer. Soos baie van ons wat al grys hare het, is hy effens tegnologies gestrem. Eendag wou hy homself bederf deur ’n fliek by die DVD-winkel uit te neem. Toe hy by die huis kom, die skyf in sy masjien druk en daarna begin kyk, kom hy iets vreemd agter. Terwyl die aksie op die skerm afspeel, lewer twee stemme deurgaans kliphard onnodig kommentaar oor wat gebeur. Twee karakters sal byvoorbeeld besig wees om oor ’n muur te klouter terwyl hulle ’n skelm jaag, dan sê die stemme van iewers agter die kamera: “Ons het lank gewonder wie eerste oor die muur moet spring” of “Jy sal sien die een ou dra ’n blou broek en die ander ou dra ’n rooi broek.” Wat is dit, het Walter gewonder, een of ander vorm van postmoderne rolprentkuns? Die stemme het so geraas dat hy glad nie die storie kon volg nie.
Dis toe dat sy gesin nader staan en verduidelik DVD’s het ’n verstelling wat dit vir jou moontlik maak om ’n bykomende klankbaan te speel waarop die regisseur en van die akteurs vertel hoe hulle die fliek gemaak het. Dis eintlik gemik op mense wat klaar die fliek deurgekyk het en nou meer oor die storie agter die storie wil weet.
Vir Walter was dit ’n aha-oomblik. Hy het besef hy het die perfekte