Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 6


Скачать книгу

      “En dokter Falkenstein dan?”

      “Hy is nie werklik ’n Falkenstein nie. Dokter Falkenstein is my ginekoloog en omdat hy ’n rare van het, het ek hom gevra of hy familie is van die Falkensteins van Kaiserburg. Hy het my vertel Otto en sy vrou, Henriëtte, het hom aangeneem, maar hulle het later ’n eie seun, Dieter, gehad,” vertel Amalia, haar stemtoon vreemd stroef.

      “Is Dieter dan die kroonprins van Kaiserburg?” vra Gretha belangstellend.

      Amalia swyg, ’n sluier van herinneringe in haar oë. Sy sug ongeduldig. “Ek neem so aan, ja, maar ons het niks met die Falkensteins te doen nie. Ek het jou gesê ons gaan by tant Hanna Pieterse by Blumenstrauss kuier.”

      “Blumenstrauss – ’n bossie blomme. Dis ’n mooi naam, maar waar op aarde is Blumenstrauss?”

      “Dis deel van die landgoed van die Falkensteins. Ek onthou die plek: Heinrich het die huis vir sy vrou laat bou toe daar sprake was dat Kurt sou trou. Heinrich se vrou, Helga, het nie kans gesien om onder dieselfde dak as haar toekomstige skoondogter te woon nie. Destyds was Heinrich al sieklik en die moontlikheid was groot dat Helga hom sou oorleef. Blumenstrauss is gebou en ná Heinrich se dood het Helga daar gaan woon. Hanna Pieterse het haar tot haar dood toe versorg en lewenslange reg op die huis gekry.”

      “Lekker! Ek wed tant Hanna sal ons alles oor die Falkensteins kan vertel,” sê Gretha ingenome.

      Amalia kyk haar met ongewone strengheid aan.”Jy gaan tant Hanna onder geen omstandighede in kruisverhoor neem nie, meisiekind. Sy is ’n vrou van sewe en sewentig – ’n oumens wat rus en vrede nodig het. Dit was uiters vriendelik van dokter Falkenstein om ons toe te laat om by Blumenstrauss te gaan kuier, maar ek wil nie hê ons moet vir tant Hanna ’n oorlas wees nie.”

      “Wat het Blumenstrauss met dokter Falkenstein te doen? As hy net ’n aangenome seun is, het hy …”

      “Hy het Blumenstrauss by Helga geërf. En dis nou oorgenoeg vrae, Gretha. As ons nog van plan is om vandag te vertrek, moet ons ons tasse in my motor kry,” sê Amalia, ineens haastig, en sy staan op.

      “Tannie se motor?” Gretha spring onthuts op. “Ek ry met my eie motor, tant Amalia. Ek het spesiaal nuwe buitebande gekoop en my motor laat versien. Ek ken tannie mos: tannie wil net tot vervelens langs die strand gaan stap, terwyl ek ’n taxi moet bel as ek êrens heen wil gaan.”

      “Maar Grietjie-kind, jy weet my motor is altyd tot jou beskikking,” sê Amalia paaiend.

      “En tannie weet ek is doodbang om ’n groot motor te bestuur.” Gretha lê haar hand pleitend op Amalia se arm. “Kom nou, tannie, ek is darem nou mondig en selfonderhoudend. En ek bestuur al meer as drie jaar lank my eie motor. Ek beloof ek sal nie jaag nie.”

      “As dit ’n belofte is … Ek ry voor en steek jy my verby, draai ek om huis toe. Ek het ongelukkig ondervinding van jou roekelose bestuurdery.”

      “Dit was nog toe ek geleer het om te bestuur,” sê Gretha geraak.

      “Ons sal vannag êrens in ’n hotel oornag. Ek ry nie in die donker nie,” stel Amalia nog ’n eis.

      “Ja, tannie. Goed, tannie. Solank ons voor Kersfees op Donkerbaai arriveer,” antwoord Gretha en stap uit om haar bagasie te gaan haal.

      “Snip!” roep Amalia haar agterna, maar dan versomber haar uitdrukking weer. Waarom wil sy teruggaan Kaiserburg toe? Hulle wat saak gemaak het, is nie meer daar nie – behalwe Hanna Pieterse. En herinneringe. Sulke hartseer herinneringe, wat haar ’n leeftyd lank laat vlug het. Miskien is dit waarom sy moet teruggaan: om ’n graf te vind vir haar herinneringe; om haar verlore drome vir goed te begrawe. En tog: sy kan ’n graf grawe, maar sy sal met leë hande langs die graf staan, want herinneringe leef in jou hart.

      Gretha bring haar motor voor die ingang van Kaiserburg tot stilstand en staar bewonderend na die granietingang waarop die naam Kaiserburg in gegoteyster-letters aangebring is. Haar oë soek verder, en toe gewaar sy die kasteelagtige klipwoning op ’n hoë rots wat grys en donker teen die asuur lug uittroon. ’n Huis van geheime, dink sy, en sy ervaar ’n rilling van opwinding vermeng met ’n tikkie vrees wat koud langs haar ruggraat afgly.

      “Ek het geweet jou motor gaan jou in die steek laat,” praat Amalia vies deur die oop motorvenster langs haar. “Kom ons stoot jou motor uit die pad uit, Gretha. Kyk, daar lê Blumenstrauss op die duin aan die voet van die rots.”

      “Het tannie nie ’n siel nie?” vra Gretha onthuts. “My motor makeer op die aarde niks nie. Ek het net stilgehou om Kaiserburg te bewonder.” Sy vergeet van haar ergernis en vervolg entoesiasties: “Dis ’n huis uit ’n sprokiesboek, tannie! Al daardie torings en skoorstene en die groot horlosietoring … Die donker granietklip laat dit soos ’n spookhuis lyk. Spook die Falkensteins in die ou huis, tannie?”

      Amalia staar haar oomblikke lank oorbluf aan en dan kry haar ergernis die oorhand. “Ek is tot die dood moet moeg en honger en dors, en jy mors ons tyd om na ’n ou kliphuis te kyk! Om liefdeswil, kind, onthou dat jy mondig is en gedra jou soos ’n volwassene. Toe, kom!”

      “Tannie het die romantiek van ’n honger weeluis!” roep Gretha haar uittartend agterna en skakel haar motor aan.

      Sy sal tant Hanna Pieterse moet bearbei, want as dit van tant Amalia afhang, sal sy nooit die binnekant van Kaiserburg sien nie, dink Gretha terwyl sy ’n kronkelpaadjie na Blumenstrauss toe volg. Dalk kan sy met oom Otto se seun, Dieter, bevriend raak. Is hy reeds getroud? Wel, dan kan sy met sy vrou vriende word. Sy gaan beslis nie ses weke lank by Blumenstrauss kuier sonder om een maal ’n besoek aan Kaiserburg te bring nie.

      Sy bring haar motor langs dié van Amalia voor die wit gekalkte woning tot stilstand, klim uit en staar verras na die blomtuin wat die huis omring. Blumenstrauss is beslis wat sy naam sê: ’n bossie blomme, dink sy en glimlag beïndruk.

      “Kom nader! Kom nader!” nooi ’n helder, jeugdige stem.

      Gretha draai haar kop en staar verras na die groot, stewige vrou met sneeuwit, krullerige hare; groot, vriendelike, grysblou oë en die warm somerson in haar glimlag. Sy kom flink in die tuinpaadjie aangestap en maak die tuinhekkie oop.

      As dit tant Hanna Pieterse is … Gretha skud haar kop ongelowig. Te veel somers het vore van tyd op Hanna se gelaat uitgekalwe en die las van jare het in ’n skof op haar skouers kom lê en haar nek vorentoe gedruk, maar ’n lag van immer lente glans uit haar oë en weerkaats in die jeugdigheid van haar glimlag.

      “Tant Hanna! Tannie sien daar goed uit,” sê Amalia hartlik en soengroet haar gasvrou.

      “Goed of oud?” skerts Hanna en draai na Gretha toe wat huiwerig nader kom. “En jy is Gretha. Welkom by Blumenstrauss, hartjie. Ek verlang al hoeka na die geselskap van ’n jongmens.”

      “Hallo, tannie,” groet Gretha en kry ’n spontane drukkie en ’n soen op haar wang.

      “Vergeet julle bagasie. Julle lyk al twee warm en moeg. Kom ons gaan soek eers iets te drinke en te ete,” nooi Hanna gasvry, haak by Amalia in en stap vooruit.

      Gretha talm in die voortuin,oorweldig deur die verskeidenheid blomme en struike. Sy het reeds die donkergroen van ’n natuurlike woud links van Kaiserburg gewaar, maar sy het nooit verwag om soveel blomme so na aan die see te sien groei nie. Haar oë soek verder en dan merk sy die hoë klipmuur wat tussen die see en Blumenstrauss gebou is. Die muur keer die meeste van die koue suidoostewinde af, besef sy.

      Die gedreun van ’n motorenjin laat haar vinnig opkyk. Sy sien ’n luukse, metaalgrys motor vinnig nader ry, wonder nog of sy die bestuurder herken, en storm boos nader toe die motor enkele sentimeter van hare af stilhou. Die bestuurder klim uit sy motor en Gretha versluk haar aan haar ergernis toe sy in die lang, breedgeskouerde man se purperblou oë vaskyk.

      “Jou … jou …” hyg sy, uitasem van woede.

      “Chauvinis of gonnabeentjie?” vra hy en glimlag treiterend.

      “Ek ken verskriklike vloekwoorde, want ek