section>
Susanna M Lingua
Keur 11
Melodie
1
__
’n Aangename gevoel van opwinding stu oorweldigend in die twee en twintigjarige Lizelia Heyns op toe sy Rome vanuit die lug in die verte sien nader skuif. Sy dink aan die wonderlike vakansie wat hier in die vreemde, waar dit tans somer en heerlik warm is, op haar en haar moeder wag.
Die gedagte aan haar moeder laat haar onwillekeurig terugdink aan die hartseer en kommer wat sy die afgelope vier maande beleef het. Sy dink aan die rampspoedige motorongeluk wat haar vader se lewe geëis het en haar moeder, weens talle beserings, twee maande lank aan ’n hospitaalbed gekluister het.
Die dokter het Irma Heyns twee maande gelede uit die hospitaal ontslaan en voorgestel dat Lizelia haar Italië toe neem waar sy hopelik vinniger sal aansterk. Hulle het ’n besonder koue winter in Suid-Afrika gehad, en die dokter het gedink dat Italië se sonnige klimaat Irma sal goed doen.
Lizelia het die arts se voorstel heelhartig gesteun, want dit was selfs vir haar duidelik dat haar moeder, wat by dieselfde skool as sy onderwys gee, eers baie goed sal moet aansterk voordat sy weer in die tuig sal kan staan.
Die skoolhoof was so vriendelik om aan hulle albei ’n maand verlof toe te staan, maar Lizelia het getwyfel of hulle genoeg geld sou hê om die vakansiekoste vir al twee te dek.
Haar ma het egter volstrek geweier om alleen na Europa te reis. Gevolglik moes sy al haar spaargeld gebruik om haar moeder op hierdie reis te vergesel …
Die liggies flits bokant die sitplekke en die passasiers word versoek om hulle sitplekgordels vas te maak, aangesien hulle binne ’n paar minute op Fiumicino-lughawe sal neerstryk.
Lizelia se blou oë helder dadelik op toe sy die groot lughawe ver onder hulle opmerk. Die lugwaardin, wat tydens die reis opgemerk het hoe swak en uitgeput Irma daar uitsien, help hulle vriendelik om met hulle aankoms op die lughawe ’n taxi te kry wat hulle onverwyld na hulle hotel neem.
Lizelia is die lugwaardin dankbaar vir haar behulpsaamheid. Sy voel juis soos die spreekwoordelike vreemdeling in Jerusalem, want nie sy of haar moeder verstaan ’n enkele woord van hierdie vreemde land se taal nie.
Dit voel vir Lizelia of die noodlot haar darem goedgesind is, want die bestuurder van die Ambasiatore Hotel kan gelukkig ’n geradbraakte Engels besig.
Ná al die formaliteite afgehandel is, vergesel ’n portier hulle na hulle kamer wat op die eerste verdieping geleë is. Lizelia sug hoorbaar van verligting toe hulle eindelik alleen in die kamer is.
“Ek dink dit is raadsaam dat Mams nou eers gaan rus,” doen sy besorg aan die hand. “Mams is so bleek soos die dood, en dit van skone uitputting.”
Sy verwyder een been se deken en maak haar ma met liefdevolle hande gemaklik. Hierna bestel sy vir hulle tee. Irma het ook net haar tee gedrink, toe raak sy aan die slaap.
Lizelia voel ietwat onrustig terwyl sy die slapende vrou stil betrag. Sy wonder meteens of dit ’n wyse besluit was om haar moeder so ver te laat reis. Maar dan dink sy weer aan die vier weke wat haar moeder hier in die warm sonskyn sal kan aansterk, en sy voel weer opgeruimd.
Sy kyk deur die venster na die vreemde stad. Dan val dit haar by van die stadskaart van Rome wat ’n vriendin vir haar gegee het. Sy haal die kaart uit haar tas, sprei dit op haar bed oop en bestudeer dit met groot konsentrasie. Dit duur etlike minute voordat sy weet waar die Ambasiatore Hotel geleë is. Noudat sy dit weet, vind sy dit glad nie moeilik om al die plekke op te spoor wat sy graag wil besigtig nie.
Lizelia bestee ’n volle uur aan die kaart. Sy memoriseer ’n groot gedeelte van die stad, maar besluit om die kaart veiligheidshalwe altyd in haar handsak te hou. Sy vou dit versigtig toe en gaan sit dit in haar handsak.
Peinsend gaan staan sy voor die kamervenster en staar na die stilvloeiende water van die Tiberrivier wat agter die hotel verbyvloei. ’n Paar tree van haar kamervenster af merk sy ’n mooi brug wat oor die rivier strek. Verder as dit kan sy nie sien nie, maar sy besluit om vandag nog met ’n deeltjie van die stad kennis te maak.
Lizelia draai van die venster af weg en merk dat haar moeder diep en rustig slaap.
Sy sal beslis nie gou wakker word nie, besef Lizelia, en besluit om intussen ’n kort wandeling langs die rivier te onderneem. Die tasse sal sy later uitpak wanneer haar moeder wakker is.
Met die breë band van haar handsak gemaklik oor haar skouer, verlaat Lizelia die kamer sonder om haar moeder te steur. Sy kan nie meer wag om hierdie beroemde stad te besigtig nie.
Rome lê deurdrenk in heerlike warm sonskyn, en Lizelia kan byna nie glo dat hulle net gisteraand nog in die snerpende koue op Johannesburg-lughawe gestaan en bibber het nie. In een kort nag het hulle van wêreld en klimaat verwissel.
Sy stap stadig en op haar gemak om die hotel se hoek na die brug wat sy vroeër deur haar kamervenster opgemerk het. Sy staan ’n ruk op die brug en kyk hoe die water stadig onder haar verbyvloei en sierlik deur die eeue oue stad kronkel. Dan stap sy verder. Sy wil vandag nog gaan kyk hoe lyk die veelbesproke park Villa Borghese.
Die vriendin wat vir haar die kaart gegee het, het twee jaar lank aan Rome se konservatorium vir musiek gestudeer en het haar van al die besienswaardighede in Rome vertel. Sý was gaande oor die Villa Borghese, en aangesien dit so naby aan die hotel is, besluit Lizelia om sommer dadelik soontoe te stap.
Lizelia slenter tydsaam in die rigting van die park terwyl sy alles om haar met belangstelling bekyk. Sy kan nie juis in vervoering raak oor die ou geboue nie – sy is ’n kind van die twintigste eeu. Maar sy moet darem erken dat sy van Rome se mooi, kunstige vywers hou, veral die beeldhouwerk.
Sy doen eers aan by die legendariese Fontana di Trevi met sy beelde van watergode en perde wat wild met hulle pote in die lug kap, en water wat soos ’n waterval oor kunstige rotsnimfe stroom. Hier is ’n mens veronderstel om iets te wens en daarna ’n muntstuk in die water te gooi – dit verseker glo dat jou wens bewaarheid word!
Lizelia kan nie help om te glimlag toe sy aan hierdie unieke manier van geldmaak dink nie. Dit verhinder haar egter nie om self ook ’n muntstuk in die fontein te gooi nie. Maar voordat sy iets kan wens, val haar oog op twee mans wat ’n entjie van haar af op ’n bankie sit. Die een man, baie deftig geklee, dra ’n donkerbril en sy skat hom niks ouer as in sy vroeë dertigs nie. Die ander kêrel is beslis al middeljarig.
Sy hou die jonger man ongemerk dop – nie net omdat hy die aantreklikste man is wat sy nog ooit gesien het nie, maar omdat daar so ’n harde, stroewe en onverbiddelike trek om sy mond is, en hy so hooghartig en ongenaakbaar lyk. Die man interesseer haar op ’n vreemde en onverstaanbare manier.
Drie meisies en twee luidrugtige jong mans kom ’n entjie van haar af staan. Die vrypostige wyse waarop die mans haar van kop tot tone betrag, laat haar besluit om maar liewer terug te gaan hotel toe. As haar moeder môre beter voel, kan hulle saam in die park gaan stap, besluit sy.
Irma slaap nog rustig toe Lizelia by die hotel aankom, dus is sy genoodsaak om alleen ondertoe te gaan vir middagete.
Daardie aand kan Lizelia nie aan die slaap raak nie. Die kamer is vreemd, die geluide wat van buite af deur die oop venster kom is vreemd en om alles te kroon, dwaal haar gedagtes knaend na die man met die donkerbril wat so bitter ontevrede gelyk het met die lewe.
Sy kan die man net nie plaas nie. Hy het nie vir haar gelyk na die soort man wat gewoonlik in parke rondsit nie. Inteendeel, hy het vir haar meer gelyk na ’n gegoede sakeman wat ’n vreeslike grief teen die lewe koester.
Dit is lank ná middernag toe Lizelia eindelik aan die slaap raak – ’n rustige, droomlose slaap.
Irma voel die volgende oggend heerlik uitgerus en gesond genoeg om ontbyt in die eetkamer te gaan nuttig. Sy en Lizelia het al twee koel, deftige broekpakke aan – gereed om die heerlike sonnige dag hier in Italië se hoofstad te geniet.
“Mams sien vanoggend daar goed uit,” merk Lizelia