wat die operasie moet uitvoer?”
“Dokter Carini sou die operasie uitgevoer het, meneer die baron,” sê sy sag met ’n bewerige stem, terwyl die trane weer stadig oor haar wange begin rol, “maar daar sal nie ’n operasie kan wees nie. Dit sal beter wees as ek my liewer daarmee versoen en nie bly hoop op ’n wonderwerk wat tog nooit sal plaasvind nie …”
Hartseer oorweldig haar en sy begin weer saggies te snik.
“Wat is die wonderwerk waarop jy gehoop het, signorina?” dring die baron se stem ná ’n paar sekondes tussen haar snikke tot haar deur.
Sy vee haar trane af en sê met ’n onvaste stem: “Daar is nie ’n spesifieke wonderwerk nie. Ek het maar net gehoop dat ek iewers die geld sou vind om vir die operasie te betaal. Maar daar is niemand in Suid-Afrika by wie ek om hulp kan aanklop nie.”
“Het jy nie ’n verloofde of familie wat jou kan bystaan nie, signorina?” wil die edelman sonder veel belangstelling weet.
“Daar is geen gegoede familie waarvan ek weet nie, en ek het ook nie ’n verloofde nie,” sê sy met ’n hartseer stem. “Ek was al die jare aan die onderwyskollege te besig met my studie om aan kêrels te dink, en die afgelope jaar wat ek onderwys gegee het, was my lewe ook te vol en bedrywig om regtig aandag aan mans te gee. Ek het niemand behalwe my moeder nie.”
Daar heers ’n kort stilte, dan hoor sy die baron met sy mooi, diep stem sê: “Ek het nou net aan ’n oplossing gedink waarby ons albei moontlik kan baat vind, signorina – dis te sê as jy kans sien om Italië jou tuiste te maak. Jy sien, ek het al verskeie verpleegsters in my diens gehad vandat ek blind geword het. Maar hulle is meestal so irriterend dat ek vinniger van hulle ontslae raak as wat my sekretaris hulle in diens kan neem. In elk geval, vertel my wat jou moeder se naam is, wat die naam van die hospitaal is waar sy haar op die oomblik bevind, en wat die naam van die dokter is wat haar behandel.”
Lizelia verskaf al hierdie besonderhede en wonder heimlik wat die oplossing is wat hy in gedagte het. Hy weet immers dat sy ’n onderwyseres is, dus kan hy haar nie as verpleegster in diens neem nie.
Lizelia is nog besig om die edelman se woorde te bepeins, toe hoor sy hom al weer sê: “Ek sal weer vanmiddag by die hotel met jou in verbinding tree, signorina. Moet jou dus nie langer oor die operasie bekommer nie.” Hy staan langsaam, versigtig van die bankie af op en vervolg effens hooghartig: “Sal jy asseblief so vriendelik wees om my lyfbediende nader te wink?”
“Ek sal hom gou vir u gaan roep – hy sit nie ver van ons af nie,” sê Lizelia, en vervolg ietwat huiwerig: “Ek weet natuurlik nie wat die oplossing is wat u vir ons albei in gedagte het nie, meneer die baron, maar ek wil u graag bedank vir u vriendelike belangstelling in ’n vreemdeling se probleme …”
“Moet asseblief nooit voor my werknemers sê dat ek vriendelik is nie, signorina. Hulle sal sekerlik dink jy is geestelik versteurd,” val die edelman haar met ’n stroewe stem in die rede.
Lizelia kyk hom ondersoekend aan en sê effens verward: “Ek … e … verstaan nie wat u bedoel nie.”
“Ek sou sê dit is baie duidelik,” hoor sy hom weer sê. “Sedert ek my sig verloor het, was ek nog nooit ’n vriendelike mens nie. Dit is ook nie uit vriendelikheid dat ek na jou probleem geluister het nie. Ek was oortuig dat jy hartseer veins net om geld uit die een of ander swakkeling te kry, en ek was vasbeslote om jou slinksheid aan die kaak te stel.”
“O, ek sien,” sê Lizelia ontnugter. “Ek is jammer dat ek u optrede verkeerd vertolk het, baron.”
Sy roep Mario met ’n ligte handgebaar nader, sien hoe hy haastig aangestap kom en wend haar dan weer na die edelman. “Ek sê dan maar tot siens, baron, en onthou net, u maak die lewe vir uself onaangenaam deur so sinies en agterdogtig te wees.”
Nog steeds ontnugter en teleurgesteld, stap Lizelia haastig van die twee mans af weg voordat hulle haar kan groet. Sy is vasbeslote om nooit weer aan die lang, donker, aantreklike baron te dink nie. Sy besef dat sy ’n gek was om haar probleme met hom en sy lyfbediende te bespreek. Maar dit het haar ’n les geleer: Sy moet die mans van hierdie stad liewers vermy asof hulle aan ’n aansteeklike siekte ly; hulle is ongetwyfeld almal soos die hardvogtige baron.
Lizelia voel nou nog meer verlate en eensaam – noudat sy besef hier is niemand in die hele stad op wie sy kan vertrou nie. Sy stap werktuiglik in die rigting van die hospitaal sonder dat sy eens daarvan bewus is. Haar ongelukkige gedagtes is so vol van die onbetroubaarheid van sommige mense en die haglike posisie waarin sy haar op die oomblik bevind, dat sy blind is vir ander dinge.
Eers toe sy die hoofingang van die hospitaal binnestap, besef sy hoe diep ingedagte sy al die tyd was. Sy kyk op haar polshorlosie en merk dat daar darem nog genoeg tyd vir ’n besoekie aan haar moeder is. ’n Verpleegsuster in wit drag groet haar met ’n vriendelike “Buon giorno, signorina,” wat haar sommer dadelik laat beter voel. Sy beantwoord die suster se groet ewe vriendelik op Engels, en stap dan na die sykamer waar haar moeder lê.
Lizelia gaan die siekekamer saggies binne. Dan voel sy meteens hoe vinnig haar hart van loutere vreugde begin klop: Haar moeder is nie meer in ’n koma nie!
Sy beweeg vinnig na haar moeder se bed, neem Irma se hand liefdevol in hare en sê effens uitasem: “Ek is so bly om te sien Mams is nie meer in ’n koma nie. Dit was aaklig om Moeksie so bleek en stil te sien.” Lizelia buk oor en soen die sieke saggies op haar bleek voorkop.
’n Moeë glimlaggie verskyn om Irma se mond. Sy gee haar dogter se hande ’n sagte drukkie en fluister: “Dokter Montesi was flussies hier by my. Hy het my van die operasie vertel, maar ek het hom gesê dat ons nie genoeg geld het om vir die operasie te betaal nie en dat dit beter sal wees as ons liewer dadelik teruggaan Suid-Afrika toe.”
“Wat het hy van Mams se voorstel gesê?” vra Lizelia bekommerd.
“Presies dieselfde as wat hy glo vir jou gesê het, my kind,” kom dit sag en moeisaam van Irma. Dan sluit sy haar oë, want dit voel nog steeds of haar kop wil bars van pyn.
“As ek maar net weet wáár om vir ’n lening aan te klop,” sê Lizelia hardop vir haarself.
“Daar is geen plek waar jy kan aanklop nie, my kind,” hoor sy Irma sê, “net die Suid-Afrikaanse ambassade. Maar ek verkies dat jy liewer nie by die ambassade gaan hulp vra nie. Ons kan dit nie bekostig om ’n lening aan te gaan nie. En as die operasie nie slaag nie en die ergste gebeur met my, sal jy vir die lening verantwoordelik gehou word. Ek wil liewer huis toe gaan. Ek dring daarop aan.”
“Daar is nie tyd vir huis toe gaan nie, Mams. Die spesialis het my verseker dat die operasie so gou moontlik uitgevoer móét word. Hy het ook gesê dat Mams nie ’n vliegtuigrit sal oorlewe nie. Ek sal dus ’n plan moet bedink om die geld te bekom. Maar moenie bekommerd wees nie; ek sal wel aan ’n plan dink.”
Lizelia probeer haar moeder gerusstel, maar in haar hart weet sy dat dit net by woorde sal bly. Dan dink sy weer aan die verbitterde edelman se belofte dat hy van ’n oplossing weet waarby hulle albei moontlik sal baat vind. Die man se siniese houding stoot haar nou wel af, maar om haar moeder se ontwil is sy bereid om selfs van hom hulp te aanvaar.
Lizelia gaan sit op die stoel voor die bed en vertel vir Irma van haar kennismaking met die adellike baron en sy lyfbediende.
“Die baron het gesê hy sal weer vanmiddag by die hotel met my in aanraking kom. Ek vermoed hy het een of ander betrekking vir my in gedagte,” sluit sy haar verduideliking af.
Irma verduur so baie pyn dat sy nie alles hoor wat Lizelia sê nie. Eintlik weet sy op die oomblik nie eens waarvan Lizelia praat nie.
Ná ’n rukkie kom ’n suster die siekekamer binne en gee die pasiënt ’n inspuiting wat haar dadelik aan die slaap laat raak. Lizelia besef dat dit sinneloos is om langer langs haar moeder se bed te sit, daarom staan sy saggies van die stoel af op en stap tydsaam terug hotel toe.
Ná middagete gaan strek Lizelia haar op haar bed uit om ’n rukkie te rus voordat sy weer hospitaal toe gaan om haar moeder te besoek.