Malene Breytenbach

Verbode liefde


Скачать книгу

dit help nie om nou nog daaroor te mor nie. Dis soos sommige mense wat vandag nog die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog ophaal en die Britte daaroor verwyt. Die geskiedenis marsjeer voort – ’n mens moet vorentoe kyk.”

      Marian kyk takserend na Emile oor die rand van haar koppie. Hy kan soms so gevoelloos voorkom. Haar ouers is nie gaande oor hom nie, want hulle dink hy pas nie by haar nie.

      Hy kan hulle Skotse trots tog so ignoreer, en hy weier om Marian na enige van die Kaledoniese dae of danse te vergesel. Dat mans kilts dra, is vir hom snaaks, en hy kan doedelsakmusiek nie veel nie. Hy negeer haar Skotsheid, haar andersheid, en tog verklaar hy gereeld sy liefde aan haar. Miskien sal hy haar probeer vervreem van haar mense en hulle gewoontes sodra hy haar aan hom verbind het. Nee, sy sal so iets nooit toelaat nie.

      “Hulle sê twee derdes van die eilanders moes Mull verlaat,” vertel sy. “Daar is nou net ’n leë landskap waar baie mense eens gewoon het. Ek wil graag gaan kyk hoe dit daar lyk. Ek het grootgeword met verhale van Mull – die kastele, die lairds en die clans van die Hooglande.”

      “Ons kan soontoe gaan op ons wittebrood,” skimp hy.

      “Wittebrood? Jy droom, Emile Rossouw. Daar sal nie so iets in die afsienbare tyd wees nie.”

      Hy lyk soos gewoonlik afgehaal as sy sy verwagtinge kortknip.

      “O, wil jy eerder soontoe gaan agter daardie skrywer aan?” vra hy sarkasties. “Die man wat jou aggressiewe aantygings so netjies gehanteer het?”

      “Emile, moenie verspot wees nie. Ek wou al lankal gaan, en ek is beslis nie agter hom aan nie. Hy is ’n MacLean van Glenbogan, en as sodanig bly hy my vyand. Wat dink jy sal my ouers sê as ek met so ’n man moet deurmekaar raak? My pa sal mos ’n oorval kry, en my oupa draai in sy graf om. My oupagrootjie was ’n baba toe sy gesin daar weggejaag is, maar hy het sy kinders alles vertel van die ellendes wat die inwoners van Glenbogan moes verduur. Daar is mondelinge oorlewering van ons geskiedenis gedoen, van geslag tot geslag. My oupa het dit weer vir my vertel.”

      “Dink jy die MacLeans sal jou sommer verwelkom as jy daar aankom? Die skrywer het jou net gepaai. Ek twyfel of hy regtig wil hê mense soos julle moet kom kuier.”

      Sy vererg haar. “Kyk, Emile, ek het gesê ek gaan nie daardie man opsoek nie. Ek gaan nie Mull toe om sy onthalwe nie.”

      “Kom ek en jy gaan volgende jaar soontoe, Marian,” sê Morag dromerig. “Glenbogan-kasteel is heel in die noorde, nie ver van Tobermory af nie – dis die hoofdorp van Mull. Jy kan dit nie juis ’n hoofstad noem nie, want dis te klein. Ons kan daar rondreis; ek wil buitendien die Hebride sien. Ons ouers sal ons aanmoedig om te gaan. Ek wil ook graag die eiland Iona sien, waar Sint Patrick gewerk het en waar daar ’n beroemde klooster was voordat die Vikings dit vernietig het. Dis een van die heiligste plekke op hierdie aarde. Dit lê aan die weskus van Mull en veerbote neem toeriste soontoe.”

      Emile plaas sy hand oor Marian s’n. “Kan ek saamkom, al is dit nie ons wittebrood nie?” Sy stem is speels smekend, maar sy vermoed hy wil seker maak dat sy Iain MacLean van Glenbogan nie weer sien nie.

      “Nee, ek en Morag gaan om ons Skotse wortels te gaan opsoek. Ek gaan in elk geval nie op iets wat na ’n wittebroodsreis lyk sonder dat ek getroud is nie, baie dankie.”

      Sy sien hoe hy sy lippe opmekaar pers, en ’n diep frons kom sit tussen sy wenkbroue. Hy kan so knaend raak dat sy soms ferm moet optree.

      Die volgende dag probeer Marian ’n onderhoud met Iain MacLean gereël kry vir ’n koerantstorie, maar sy loop haar teen ’n muur vas. Sy agent verseker haar dat hy beslis geen tyd aan haar kan afstaan nie.

      Marian wonder of dit werklik so is en of hy bloot nie weer die meisie wat hom verwyt het, wil sien nie. Wie is sy, per slot van rekening? ’n Verslaggewertjie by ’n Suid-Afrikaanse koerant, wat hom aangeval het oor ongeregtighede wat sy voorgeslagte gepleeg het. Dit terwyl hy ’n bekende skrywer is, en ’n aristokraat daarby. Iemand wat gewoond is aan respek en bewondering, eerder as verwyte en onbeskoftheid – veral van iemand van ’n nederige afkoms soos sy. Hy dink seker met minagting aan haar en Morag.

      Sy lees ander joernaliste se boekresensies oor hom, en sien ’n paar dae later dat hy vertrek het na Amerika. Met intense belangstelling lees sy sy boek oor skeepswrakke en kom agter dat hy besig is om een van die skepe van die Spaanse Armada te soek, die galjoen die San Felipe de Valencia. Soos die San Juan de Sicilia het dit aan die kus van Mull gesink.

      Nadat die Spaanse Armada verslaan is, het twee skepe noord gevaar, lees sy. Die San Juan de Sicilia het in September 1588 in die baai van Tobermory ingevaar om voorrade in te neem en herstelwerk te ondergaan. Maar sy het ontplof, sodat driehonderd en vyftig bemanningslede dood is. Daar word geglo dat sy met ’n fortuin aan goue dukate gesink het. Vele onsuksesvolle pogings is aangewend om haar te vind. Die San Felipe de Valencia, wat net so ’n ryk skip was, het vermoedelik tydens ’n storm aan die kus naby die kasteel van Glenbogan in onstuimige water beland en weens die gevaarlike strome daar gesink. Volgens oorlewering het ’n aantal voorwerpe uitgespoel, waaronder deel van ’n mas en ’n klompie munte, maar die wrak van hierdie galjoen is nog nie geïdentifiseer nie. Die skrywer het al ’n grootskaalse soektog na dié ontwykende skip op tou gesit.

      Marian is gefassineer. Mull trek haar. Die MacLeans, wie se naam vir haar familie ’n vloekwoord is, trek haar soos ’n mot na ’n vlam aangetrek word.

      2

      “Alles is so pragtig hier,” sê Morag toe hulle met die veerboot van die Skotse vasteland na die hawe van Tobermory op Mull vaar. “Ons moes lankal hierheen gekom het. Hoekom het ons nie?”

      Marian glimlag en geniet die seebries wat deur haar kastaiingbruin krulle waai. “Oor ons uitgestel en uitgestel het terwyl ons gestudeer het en daarna professionele vroue wou word. En oor ons eers genoeg geld moes verdien om vir onsself te betaal omdat ons nie bakhand na ons ouers wou gaan nie.”

      “Arme Emile. Hy wou so graag saamkom. Hy sal jou mis. Waarom wou jy hom nie saamnooi nie?”

      Marian haal haar skouers ergerlik op. “Ek wil hom nie verder aanmoedig nie. Hy wil net verloof raak en ek is nog nie reg daarvoor nie. Miskien sal ek nooit reg wees daarvoor nie. Ek wil weer vry wees, sonder ’n klewerige aanhangsel.”

      Morag lag vrolik. “Klewerige aanhangsel klink darem baie sleg! Die arme man is dolverlief op jou, seker oor jy so mooi is – en moeilik om vas te pen. Dit maak mans mos mal as ’n vrou hard to get speel.”

      “Ek spéél nie hard to get nie. Ek is werklik besig om vir hom te vlug. Vergeet nou eers van Emile en kyk na die verruklike uitsig. Daar lê ons voorvaderlike tuiste droommooi voor ons.”

      Die jong man wat vir ’n groep Kanadese toeriste as gids optree, begin naby hulle hard praat met ’n swaar Skotse aksent. Marian draai haar kop en luister na hom.

      “Die eiland Mull se kuslyn is vierhonderd en tagtig kilometer lank,” vertel hy. “Dis ’n bergagtige gebied en die hoogste piek is Ben More, wat negehonderd ses en sestig meter hoog is. Mull is ’n natuurliefhebber se droom. Dis nou wel Oktober en somer verander in herfs, maar u sal nog betreklike goeie weer hê. Hier is baie wild en voëls, en in ons waters is daar dolfyne, walvisse, haaie en robbe.

      “Mull se kroonjuweel is die dorp Tobermory, in Gaelies ‘Tobar Mhoire’, wat St Mary’s Well beteken, waarheen ons nou op pad is. Dit sit in ’n amfiteater van heuwels en word die mooiste hawe in westelike Skotland genoem. Dis ook een van die veiligste hawens in die Hebride. Tobermory is geleë op die Aros-skiereiland en is die grootste dorp op Mull. In 1788 is die dorp deur die British Fisheries Society gebou, as ’n beplande nedersetting, en die enigste whiskydistilleerdery op die eiland is daar. Soos julle weet, is whisky moedersmelk vir ons Skotte.”

      Die mense lag gedienstig. Marian geniet sy geesdriftige verteltrant, al ken sy die meeste van die feite.

      “Tobermory se bevolking was eens oor die tien duisend mense, maar weens die Clearances en die aartappelhongersnood wat Skotland en Ierland getref het, het die meeste mense geëmigreer – totdat