vir ’n hele leër. Skamanga-landgoed lyk soos iets uit Garden & Home, en dan kan jy ontslae raak van daardie neerdrukkende woonstel en agtertangse meubels.”
“Jy moes dit eers met my bespreek het voor jy beloftes gemaak het.”
“Dan het jy nou nog gesit en wik en weeg en tot die jaar toet uitgestel. So gaan ’n ou se lewe verby sonder dat jy iets konstruktiefs bereik.”
“Ek het nie eens behoorlike klere nie!”
Vita is min gepla. “Koop vir jou.”
“Waarmee?”
“Met geld, my liewe suster.”
“Wat ek waar kry?”
“Uit die verkope van jou agtertangse meubels. Skies as ek jou gevoelens seermaak, maar jy kan beter doen as plywood-meubels wat met spoeg aanmekaargeplak is. Raak ontslae daarvan. En van jou kerkbasaarklere. En van meneer Arno du Plessis en kie. Bel Margo môre. Asseblief … Ek plaas geen druk op jou nie. As julle twee nie kliek nie, as julle om een of ander rede nie tot ’n vergelyk kan kom nie, is daar geen skade gedoen nie. Dan soek ons eenvoudig vir jou ander werk. Belowe?”
Dis soos in hulle koshuisdae toe Vita altyd die leier was in hulle eskapades en haar bangbroeksussie rem-rem saamgesleep het. En tog het alles altyd goed uitgewerk. Daarsonder sou Carmia nêrens gekom en niks gedoen het nie. Vita se instink was nog altyd in die kol. Dis dalk tyd vir ’n bietjie skietgee en haar vertrou.
“Ek is miskien glad nie die soort persoon wat Margo soek nie,” aarsel Carmia steeds.
“Jy is. Glo my,” dring Vita aan.
“Ek sal bel,” gee Carmia bes. “Maar ek belowe niks. Dalk kry meneer Jordaan vir Arno voor stok en kom vra hy om verskoning.”
“Ja, en dalk leer olifante vlieg.”
Carmia gaan die volgende oggend soos gewoonlik kantoor toe. Sy stel uit. Tot ná sy ’n berig gedoen het oor munisipale waardasies. En ’n stadsraadvergadering. En die slaggate in die paaie …
Totdat sy Arno toevallig aan die onderpunt van die gang sien loop. Dis asof dít die sneller trek en haar aktiveer. Hoekom het sy nog nooit voorheen besef hoe oninspirerend haar werk is nie? Is dít wat sy die res van haar lewe wil doen? En vir afwisseling bevat en bevoel word deur ’n orige man?
Skielik is sy haastig. Sy wag nie vir haar etensuur nie. Sy soek die selfoonnommer wat Vita haar gegee het en stap uit op die balkon aan die agterkant van die gebou. Hier is die ontvangs beter en sy sal nie gesteur word nie.
’n Sagte, gemoduleerde stem antwoord – dié van ’n lady, soos haar ma sal sê.
“Mevrou Vermeulen?” verneem Carmia.
“Vita!” roep die stem verras uit. “Hoe gaan dit met jou, kind?”
“Dis nie Vita nie, mevrou. Dis … e … haar suster.”
“Carmia, natuurlik! Jammer, maar julle stemme klink baie eenders. Sy het gesê jy sal bel – as jy jou moed kan bymekaarmaak.”
“Ek hét toe, ja … Môre, mevrou.”
“Môre. Ag, sê sommer Margo – ’n afkorting vir Margaret. Dis makliker vir jou en ’n kompliment vir my. Dit laat my jonger voel.”
So, dís hoekom Vita haar ook sommer op haar voornaam noem, nie mevrou nie en beslis ook nie tante nie.
“Hoe gaan dit by die koerant, Carmia?”
“Nie te goed nie …”
“En dis hoekom jy jou moed bymekaargemaak het?”
“Ja,” erken sy.
“Ek het ’n assistent dringend nodig, maar jy sal seker vooraf wil sien waarvoor jy jou inlaat?” Sy wag nie vir ’n antwoord nie en gaan vriendelik voort: “Ek moet môremiddag tandarts toe gaan – ’n beproewing vir my, daardie spuitnaald … Ná die tyd sal ek lafenis nodig hê, in die vorm van ’n koppie sterk, swart brousel om my kafeïenvlakke op te stoot. Ken jy die Vlieënde Dolfyn in Wesstraat?”
“Die koffieplek? Ja. Dis nie ver van ons kantoor af nie.”
“Kan ons mekaar daar ontmoet? Dit spaar jou die lang reis uit Ballito toe.”
“Dankie,” stem Carmia in.
Sy hou van die sagte, vriendelike stem. En sy en Margo het klaar iets gemeen wat haar meer op haar gemak laat voel: sy het ook ’n redelose vrees vir tandartse en spuitnaalde.
“Deneys bring my stad toe, die liewe kind. Ek bestuur nie meer nie, en hy het sake in Durban om af te handel. Tot hoe laat werk jy?”
“Tot halfvyf.”
“Piekfyn. Ek sal hom sê om my halfses te kom haal. Dit sal ons kans gee om mekaar te leer ken en besigheid te gesels. Sal dit jou pas?”
“Sekerlik.”
“Moet ek ’n rooi angelier op my lapel dra?” skerts Margo.
“Dis nie nodig nie. Ek het al soveel foto’s in koerante en tydskrifte gesien, en op boeke se buiteblaaie, ek sal u … jou dadelik herken, Margo.”
’n Mens kan nie anders as om van Margo Vermeulen te hou nie, dink Carmia. En dit sal inspirerend wees om vir so ’n beroemde en suksesvolle skrywer soos sy te werk. Sy voel weer daardie tinteling in haar are roer, ’n bruising van afwagting en opwinding. Dis die regte ding wat sy doen, al het Vita haar daarin geboelie.
Dit gaan werk. Sy voel dit … wéét dit.
Op pad terug na haar lessenaar in die algemene kantoor keer die nuusredakteur haar voor. “Daardie brief in my laai, meisie … Kan ek hom maar opskeur?” vra hy vaderlik.
Carmia druk haar selfoon in haar sak en skud haar kop. “Nee, meneer Jordaan. Ek het goed nagedink. Stuur hom maar deur na die redakteur toe.”
Hy frons. “Gaan dit nog steeds oor Arno?”
Carmia skud haar kop. Sy wil nie verder derms uitryg nie. Dis beter om weg te gaan sonder verwyte en kwade gevoelens. Sy het tog in ’n mate lekker gewerk hier en goeie ondervinding opgedoen.
Dit was ’n trapklip, anders was sy minder bekwaam vir joernalistieke werk. Selfs al val die onderhoud met Margo Vermeulen plat, het sy genoeg ervaring om vir ’n interessanter pos iewers anders aansoek te doen.
Toe Carmia die volgende middag by die Vlieënde Dolfyn instap, voel sy soos ’n ander mens. Vir die onderhoud het sy oë toegeknyp en ’n nuwe denimbroekpak op ’n uitverkoping gekoop – eerder ’n halfnommer te groot as styfpassend. ’n Langtermynbelegging en deel van haar nuwe beeld, het sy besluit.
Daarby dra sy ’n ligblou sybloes wat sy by Vita geërf het. Haar hare is stemmig agteroor gekam en vasgebind. Sy het ’n stringetjie pêrels aan en min grimering, net genoeg om die sprinkeling sproete oor haar wangbene en effense wipneus te verbloem. Sproete is onprofessioneel en laat haar oë soos ou wyn lyk – meer gelerig as bruin. “Katoë,” het haar ma kleintyd getroos en belowe hulle sal donkerder word later, soos sy ouer word. Maar hulle het nie.
Sy herken Margo dadelik. Sy lyk ’n bietjie ouer as op haar foto’s, maar steeds treffend, met die verfynde grasie van ’n ballerina: haar hare laag in haar nek geknoop, goue hangoorbelle en ’n helderkleurige Meksikaanse sjaal om haar skraal skouers. Op die tafeltjie voor haar lê ’n bruin leerhandsak en Gucci-donkerbril. ’n Lady met ’n skeut boheemse kunstenaar, dink Carmia geamuseerd.
Margo het peinsend voor haar uitgestaar, maar sy kyk op en haar gesig verhelder toe Carmia langs haar tafeltjie gaan staan. “Carmia? Ek kan sien jy en Vita is susters. Kom sit. Koffie?”
“Dankie. Jammer as ek laat is. Het u … het jy lank gewag, Margo?”
“Nou net gekom, ’n halfminuut gelede.”
“Ek het al soveel van jou boeke gelees, dis ’n eer om jou te ontmoet.”