Ettie Bierman

Wanneer 'n droom waar word


Скачать книгу

simpel? betig sy haarself. Die man keur nie jou aanstelling goed nie. Hy wil jou nie op sy plaas of in sy huis hê nie. Hy dink jy’s ’n kansvatter … En jy sit leepoog en staar na sy bobene en plat sespakmaag? Skaam jou. Jy het gehoor hy het ’n vaste meisie. Het jy dan geen trots nie? Hy kon nie eens jou naam onthou nie. Hy het na jou verwys as “die koerantmeisie” – en hy het dit nie vleiend bedoel nie.

      Sy gryp vies haar handsak en stap uit, die blink van die dag skielik dof. Margo Vermeulen is alles waarop sy gehoop het, alles wat in vleiende koerantberigte of tydskrifartikels oor haar geskryf is. Om saam met haar te werk sal wonderlik wees. Maar die kleinseun is ’n ander proposisie. Sy het gevind hy kan baie aangenaam wees, selfs sjarmant. Maar so vinnig soos handomkeer kan hy verander en dan is hy outokraties en krities, asof sy ’n dom skoolkind is aan wie alles in eenvoudige terme verduidelik moet word.

      Sal sy in dieselfde huis as hy wil woon, elke dag saam aan tafel sit? Veral as hy so oorkrities is en kort-kort oor haar skouer wil loer om fout te vind?

      Vita, die aand toe sy bel om te hoor hoe die onderhoud afgeloop het, is bemoedigend en positief.

      “Ek het mos vir jou gesê Margo is ’n engel. Een van die wonderlikste mense wat ek ken. Ek sou maklik met Deneys getrou het net om haar as ’n skoonma te hê. Maar geen pad wat ’n mens loop, is sonder duwweltjies nie, sussie. Dit het jy self ook al geleer. ’n Mens moet die suur saam met die soet in die lewe neem. As jy ’n droomjop wil hê en ’n droomboek wil skryf, moet jy jou pienk bril opsit. Deneys is nie so sleg nie; hy kan baie gaaf wees as hy wil. Jy sal hom gelukkig min te sien kry. Hy vlieg lang ure en is soms drie tot vier dae weg, selfs ’n week as hy op die Comores-roete is.”

      “Dis goeie nuus,” antwoord Carmia. “Maar wat doen ek wanneer hy terugkom?”

      Vita lag. “Jy kyk vir hom.”

      “Kýk vir hom?” frons Carmia. “Hoekom?”

      “Omdat hy die allerfraaiste ding op twee bene is,” terg Vita. “Het jy al mooier gesien? Met so ’n beeldskone mansmens sien ’n meisie baie foute oor. Selfs as hy ’n boelie is, en inmengerig. Hy bedoel dit goed. Deneys is baie geheg aan sy ouma, en hy is bekommerd oor haar welstand. Dis al familie wat hy het en hy is oorbeskermend teenoor haar. Jy sal dit gewoond raak. As hy sien jy is nie ’n fortuinsoeker wat misbruik maak van haar goedheid nie, sal hy jou uitlos om jou ding te doen.”

      Eers ’n skelm en ’n kansvatter, nou ’n fortuinsoeker?

      “Ek is lus en vergeet die hele storie,” sê Carmia vies. “Só verleë is ek nie! Ek kan huise of tyddeelskemas gaan verkoop, of vryskutwerk doen. Maar ek hou van Margo en ek weet sy het my nodig. Ek kan haar nie nou in die steek laat nie.”

      “Natuurlik nie,” beaam Vita. “Aanvaar die werk, gaan Skamanga toe en doen jou bes. En as jou beste nie goed genoeg is nie, as jy en Deneys mekaar wil verwurg, gee jy agt en veertig uur kennis, klim op ’n vliegtuig en kom rig Andy se wildeperde af of voer die hanslammers. Ek mis jou, sus, en ek verlang. Dit sal fantasties wees om jou hier te hê.”

      “My nuwe werk betaal so goed, dalk kry ek genoeg gespaar om met my eerste vakansie ’n vliegkaartjie Brisbane toe te koop.”

      “Ek spring nou al op en af! Wanneer begin jy werk?”

      “Margo wil hê ek moet so gou moontlik begin, maar daar is allerhande reëlings om eers af te handel. Ons het ooreengekom oor tien dae, dan is dit ook die begin van die nuwe maand.”

      “Gaan jy jou meubels verkoop?”

      Carmia huiwer, wetend dat haar suster haar weer ou Daantjie Draadsitter sal noem, wat nie kan besluit nie en altyd ’n agterdeur “vir ingeval” wil oophou.

      “Ek het besluit om in die SeeSter se Soekgids te adverteer en voorlopig die woonstel te verhuur, met meubels en al, ingeval dinge skeefloop. As ek dalk oor ’n maand of drie werkloos sit, sal dit my nie onkant vang sonder ’n dak oor my kop nie.”

      “En waarmee gaan jy nuwe klere en juwele koop?”

      “Die koerant sal my ’n klompie pensioengeld uitbetaal.”

      “Koop broekpakke; dit lyk altyd goed saam met ’n bloes of kamisool. Net nie met daardie vlooimarkbehangsels waarvoor jy so ’n voorliefde het nie. Kry vir jou pêrels, ’n goue ketting en ’n ryk ou om vir jou diamante te koop. Die Vermeulens is top of the range, met duur smaak. So ook die res van die mink-and-manure-kliek, wat nogal snobberig kan wees. Moenie lyk of jy onder ’n klip uitgekruip het nie.”

      “Ek het reeds begin.” Carmia vertel van die denimpak, en nog een in ’n sandkleur wat op die uitverkoping is.

      “Min, maar darem. Moenie ’n bikini vergeet nie – Skamanga is loopafstand van die strand. En by die herehuis is ’n lieflike swembad, soos iets uit Hollywood. Margo hou daarvan om buite te onthaal. Skemerkelkies, ’n buffetete of ’n visbraai. Jy sal ook genooi word, en dis ’n goeie geleentheid om vir jou ’n miljoenêr te vang.”

      “Ek soek nie ’n man nie; ek is gemaklik met my eie geselskap. Ek klim eerder in die bed met ’n interessante boek as met ’n vervelige, sweterige man wat net een ding op sy brein het.”

      “Hoe klink dit jy praat uit ondervinding?” vra Vita verbaas. “Jy het albei ervaar en jy verkies ’n held tussen die bladsye eerder as tussen die lakens? En ek dag nog heeltyd my babasussie is ’n onaangetaste maagd!”

      Toe Carmia nie reageer nie, begin Vita raad gee oor haarstyle en grimering.

      Dan wil sy weet: “En Deneys? Hoe lyk hy deesdae? Nog so lenig en asof hy eerder op ’n loopplank hoort as in ’n stuurkajuit?”

      Carmia grinnik. “Of in ’n modetydskrif, by ’n advertensie vir Levi’s.”

      “Nee, Brut of Midnight Poison-naskeer,” skerts Vita. Sy huiwer, voor sy gemaak ongeërg vra: “Het hy dalk na my gevra? Gevra hoe dit met my gaan of so iets?”

      “Nee.”

      “O …”

      Haar suster klink so afgehaal dat Carmia byvoeg: “Ek glo nie hy weet ons is susters nie.”

      “Het jy hom nie gesê nie?” vra Vita verbaas. “Hoekom nie?”

      “Ons het min gepraat, net in verband met die werk en niks persoonliks nie.”

      “En Margo, het sy dit nie genoem nie?”

      “Blykbaar nie.”

      “Ek wonder hoekom …”

      “Hy het jou glo nog nie vergewe nie en ek dink Margo wou ekstra komplikasies vermy. Deneys is klaar negatief ingestel, en as hy moet weet ek is familie van jou, sou dit die skaal nog verder teen my geswaai het. Dis ’n kwessie van: los slapende honde nog ’n rukkie onder die kombers.”

      “Deneys gaan woedend wees as hy uitvind.”

      “Ek sal solank my valhelm blink vryf.”

      “Probeer hom verlei om hom sodoende sag te maak.”

      “Ek glo nie dit sal so maklik wees nie.”

      “Hoekom nie? Het hy ’n meisie?”

      “Margo is nie seker nie, maar daar is blykbaar iets tussen hom en die bure se dogter.”

      “Tasha Alexander?” vra Vita suur. “Wat sien hy in daai kat? Leëkop … Al waarin sy belangstel, is om haar naels in hom in te slaan.”

      “Is jy tog nie jaloers nie?” spot Carmia.

      “Op Tasha? Ag, asseblief … Sy kan Deneys met liefde erf, ek wil hom nie terughê nie. Hy’s te befoeterd. Tipiese bedorwe rykmanseuntjie. Ek is bly ek is van hom ontslae; ek kyk nie terug nie. Ek is tevrede met my lewe.”

      Hoekom dan so heftig protesteer? Om haarself te oortuig? wonder Carmia.

      “Ous, het jy nog steeds ’n sagte plekkie vir hom?” vra sy reguit.

      Vita