Susanna M. Lingua

Susanna M Lingua-keur 10


Скачать книгу

so doelbewus kom vernietig het.

      Mevrou Hugo het pas vir haar ’n koppie tee na die sitkamertjie toe gebring toe twee motors voor die deur stilhou. Sy gaan kyk gou wie by die voordeur is. Na ’n rukkie keer sy terug en sê bitter verontwaardig: “Meneer De Meyer is tuis en hy het my aangesê om twee kamers vir sy gaste gereed te maak.”

      “Gaste?” Natasha kyk haar vraend aan.

      “Ja, kindjie, drie gaste – Esna en twee mans. Aan hul praat klink dit of die twee mans ervare bergklimmers is. Hulle gaan glo netnou begin om die berg uit te klim. Ek het gehoor hulle sê so aan meneer De Meyer.”

      “Dewalt het die twee bergklimmers bepaald vir die skyn saamgebring,” meen Natasha. “Trouens, ek het gewonder of hy Esna sommer so openlik vir die naweek huis toe sou bring. Jy weet mos kwansuis nie van sy ontrouheid nie.”

      “In elk geval, ek wou jou maar net kom sê wat alles in die groot sitkamer aangaan, my kind. Dan wil ek ook weet of jy middagete saam met jou man en daardie vroumens wil kom eet. Die twee bergklimmers sal glo eers na sononder tuis wees,” verduidelik mevrou Hugo.

      “Moet my asseblief nie in die eetkamer verwag nie, tannie Rina,” sê ’n bleek en gespanne Natasha. “Ek meng my nie graag met Esna le Clus se soort nie. Ek sal liewer al my maaltye hier in die sitkamertjie eet – solank Esna le Clus ’n gas in hierdie huis is.”

      “Ek sal natuurlik aan tafel moet eet om te sorg dat almal bedien word. Maar glo my, ek gaan elke oomblik daarvan haat om in daardie blondekop se geselskap te verkeer. Maar wat moet ek vir meneer De Meyer sê as hy wil weet waarom jy nie aan tafel is nie?”

      “Hy is te behep met sy minnares om my afwesigheid op te merk, tannie Rina,” glimlag Natasha hartseer. “As iemand wil weet waarom ek nie aan tafel is nie, moet jy maar sê ek voel nie lekker nie.”

      Mevrou Hugo keer terug na die kombuis en Natasha maak die deur toe om Dewalt en Esna se stemme vanuit die groot sitkamer uit te sluit. Om heeldag na hul stemme te luister, sal vir haar net te veel wees.

      Soos afgespreek, eet Natasha in die sitkamertjie. Niemand kom verneem egter waarom sy nie lekker voel nie. Sy verwag nie dat Dewalt in haar gesondheid sal belangstel nie, maar sy voel dit sou darem net ordentlik en menslik wees om persoonlik te kom hoor hoe dit met haar gaan.

      Na ete blaai sy maar weer deur die tydskrif. Luide musiek kom nou vanuit die groot sitkamer waar Dewalt en Esna hulle bevind. Natasha wil net opstaan om die halfoop deur weer toe te trek, maar dan hoor sy ’n motor voor die deur stilhou. Sy staan traag op en kyk deur die venster – net betyds om oubaas Lafras en Irene uit die voertuig te sien klim.

      6

      Die klokkie het reeds vir middagete gelui. Dewalt en Esna kom die eetkamer binne en sien dat mevrou Hugo alleen op hulle wag. Sy kyk nie na Esna nie, want sy weet die meisie sal die veragting in haar oë sien.

      Dewalt se blik gaan vlugtig deur die vertrek. “Is mevrou De Meyer dan nie tuis nie, mevrou Hugo?” vra hy met ’n gesteurde frons.

      “Mevrou De Meyer voel nie gesond nie, meneer,” antwoord die ouer vrou en neem dan haar plek aan tafel in sonder om die aard van Natasha se ongesteldheid te verstrek.

      “Ek wonder of sy regtig siek voel,” merk Esna met ’n spotlaggie op. “Ek dink sy gee voor dat sy siek is omdat ek hier is. Sy sien bepaald nie kans om –”

      “Eet jou kos, my lief,” val Dewalt haar sag in die rede. “Ek het jou al herhaalde male gesê dat ek nie bereid is om my vrou of my huwelik met jou of enigiemand anders te bespreek nie. Jy moet dit asseblief so aanvaar.”

      “Ag, nou toemaar,” lag Esna sy vermaning weg. “Dit sal ’n seën wees as sy jou jou vryheid wil gee – dan kan ons trou en heeltemal van haar vergeet.”

      “Ons sal later hieroor gesels, Esna,” sê hy met ’n frons.

      Esna mag nou wel beeldskoon wees, maar sy beskik baie beslis nie oor Natasha se agtergrond en fyn maniere nie. En noudat Dewalt aan Natasha se verfynde maniere gewoond is, irriteer Esna se taktloosheid hom soms. Hy besef dat sy liefde al Esna se foute en swakhede behoort te bedek. Soos in die verlede, behoort hy dit nie raak te sien nie. Tog bly hy deurentyd van al die krapperige dingetjies aan haar persoonlikheid en optrede bewus.

      Dit is vir mevrou Hugo ’n groot verligting toe die maaltyd eindelik verstryk en sy van die tafel af mag opstaan. Sy weet nie hoe sy dit die hele naweek met Esna aan tafel gaan uithou nie. Toe sy Natasha nie verder kon verkleineer nie, moes almal aan tafel hoor watter mooi modeskeppings en ontwerpersjuwele sy in Johannesburg se winkels gesien het.

      Nou sal hier hopelik stilte om my wees, dink mevrou Hugo met ’n sug van verligting toe Dewalt en Esna na die sitkamer gaan, maar haar hoop word baie gou beskaam. Sommer met Esna se intrapslag in die sitkamer word die radio aangeskakel en luide popmusiek klink in die vertrek op.

      Mevrou Hugo gee ’n paar haastige bevele aan die huishulp en vlug dan na die privaatheid van die ander sitkamertjie. Sy het nog skaars ’n gemakstoel gehaal, of die voordeur gaan meteens oop en oubaas Lafras en Irene stap sonder waarskuwing binne.

      Nou gaan die vonke spat, flits dit deur haar gedagtes. Soos sy Esna se soort ken, sit sy nou styf in Dewalt se arms op die rusbank.

      Mevrou Hugo se voorspelling is ook net mooi in die kol. Dewalt het albei sy arms om Esna en soen haar hartstogtelik. Toe oubaas Lafras en Irene in die sitkamer se deur verskyn, is hy en Esna nie eens daarvan bewus nie.

      Die musiek is so hard dat Irene eers die radio moet afskakel sodat die oubaas homself hoorbaar kan maak. Toe die klanke so onverwags verstil, is dit of die twee op die rusbank meteens tot verhaal kom.

      Oubaas Lafras gee hulle nie kans om ’n woord te sê nie. Sy stem klap soos ’n sweepslag deur die vertrek toe hy bars uitroep: “Wel, ek het al skaamteloos in my lewe gesien, maar sowaar nog nooit so skaamteloos soos julle twee nie. Het jy geen beginsels, selfrespek of eergevoel nie, Dewalt? En wat soek daardie flerrie hier in Natasha se huis?”

      “Ek is nie ’n flerrie nie –” begin Esna onthuts.

      Dewalt het uit respek vir sy pa opgestaan, maar die oubaas gee Esna nie kans om meer te sê nie.

      “Nou goed, as jy dan nie ’n flerrie is nie, wat soek jy in hierdie huis en waarom laat jy toe dat ’n getroude man jou soen en beklou?” snou die oubaas haar met openlike veragting toe. “Toe, sê my dit, want net ’n flerrie flankeer met ’n getroude man en vernietig sy huwelik.” Die volgende oomblik draai hy na Dewalt, wat nog steeds bleek en bitter verontwaardig voor die rusbank staan. “Ek herhaal: wat soek hierdie flerrie hier in jou en Natasha se huis?”

      “Pa, Esna is nie ’n flerrie nie! Ek sal nie –”

      “Natuurlik is sy ’n flerrie!” val die oubaas hom met ’n kil stem in die rede. “Geen ordentlike en eerbare meisie sal haar doelbewus op ’n getroude man afdwing en sy huwelik vernietig nie!”

      “Esna en twee mansvriende is my gaste vir die naweek,” verdedig Dewalt homself ontstoke.

      “So, en gee dit jou die reg om haar te soen en te beklou – omdat sy ’n naweekgas is?” trap die oubaas hom woedend uit. “Ek is oortuig daarvan dat Natasha nie die twee mansgaste op hierdie ongeoorloofde wyse onthaal nie. Terloops, waar is jou vrou? Het jy haar vir die naweek weggestuur sodat jy met hierdie flerrie kan flankeer?”

      “Pa, Natasha is nie weg nie. Sy is tuis. En moet asseblief nie weer na Esna verwys as ’n flerrie nie. Pa beledig my gas –”

      “Ag, onsin. Haar soort kan ’n mens nie beledig nie, al wil jy ook,” maak die oubaas sy seun weer eens stil. Hy draai na Irene. “Ounooi, gaan kyk asseblief of jy Natasha kan opspoor en bly dan by haar.”

      Nadat Irene die sitkamer verlaat het, kyk die oubaas sy seun met ’n ysige blik aan en vervolg met ’n ewe kil stem: “Toe, nou wil ek weet wat hier aangaan. Jy gaan geen doekies omdraai nie. Sedert wanneer is sy weer in jou lewe?”

      “Ek