is duidelik ’n moeë trek op sy aantreklike gesig toe hy aan die ander kant van die lessenaar gaan sit. Natasha se hart gaan uit na hom, maar sy weet ook dat sy niks tot sy geluk kan bydra solank hy agter Esna aanhardloop nie.
“Ek het vanoggend voorsorg vir jou toekoms getref, want ek weet nie waar ek oor ’n maand of oor ’n jaar sal wees nie,” sê Dewalt. Hy hou ’n inlegstrokie van die bank na haar uit en vervolg saaklik: “Ek het hierdie bedrag in jou rekening betaal. Dit behoort jou in staat te stel om gerieflik te lewe.”
Natasha kyk na die bedrag wat uit ses syfers bestaan en wonder of sy nie maar liewer die geld moet weier nie. Met Esna as minnares sal sy bankrekening nie baie lank gesond bly nie.
“Ek dink jy moet hierdie geld liewer hou, Dewalt,” sê sy bedaard. “Ek het ’n gevoel dat jy dit een van die dae nodig gaan kry –”
“Toemaar, ek weet wat jy bedoel,” val hy haar gesteurd in die rede. “Ek sal jou aanraai om jou sarkasme vir jouself te hou. Ek het glad nie lus om weer daarna te luister nie. Die geld wat ek in jou rekening betaal het, is om die veilige en kommerlose toekoms wat ek jou voor ons huwelik belowe het, te waarborg.” Hy kom regop, kyk haar deurdringend aan en vra met ’n moeë stem: “Is jy nog van plan om nie van my te skei nie, of het jy darem al intussen van besluit verander?”
Natasha staan van die stoel af op. “Ek sal daardie geld veilig belê en net die rente gebruik. Die kapitaal sal onaangeraak bly totdat die dag aanbreek dat jy dit nodig kry,” sê sy bedaard sonder om sy vraag te beantwoord.
Dewalt trek sy oë op skrefies en vra afgemete: “Presies waarom het jy met my getrou, Natasha – as dit dan nie vir my geld was nie?”
Natasha swyg lank en Dewalt dink dat sy hom nie gaan antwoord nie. Toe sê sy eindelik: “Om dieselfde rede waarom jy met Esna wil trou, Dewalt.”
Dewalt verbleek merkbaar. Sy blik versag dadelik en ook sy stem is meer simpatiek toe hy ietwat verward sê: “O, ek begryp. Maar dit was nie in ons ooreenkoms nie.”
“ ’n Egskeiding was ook nie in ons ooreenkoms nie,” sê sy sag. “In elk geval, dit lyk of jy haastig is. Ek sal maar liewer gaan.”
Net toe Natasha omdraai om die vertrek te verlaat, sê Dewalt: “Ek gaan vir twee dae weg en sal nie môreaand tuis wees nie. Maar wanneer ek Vrydagmiddag tuis kom, sal ons orde uit hierdie chaos moet skep en besluit wat elkeen van ons gaan doen.”
“Dit sal nie nodig wees om vir my te wag nie, Dewalt,” sê sy en maak die deur oop. “Jy moet maar besluit wat jy wil doen en dan so maak.”
“Moet nou nie moeilik wees nie, Natasha,” sê hy ergerlik. “Ons was byna vyf weke getroud. Dink jy nie dit gee my die reg om te weet wat jy met jou lewe gaan aanvang nie?”
“Jy bedoel ek kan dalk swanger wees en dan wil jy weet wat ek met jou kind sal doen.”
Dewalt word meteens doodsbleek. “Mag die Vader dit verhoed. Dit sal beslis die kroon oor al die ellende span –” sê hy met ’n stem wat skor is van spanning.
“Toemaar, Dewalt,” val sy hom sag in die rede, “as dit wel die geval is, sal ek sorg dat jy nie daarvan weet nie. Moet dus glad nie eens aan so ’n moontlikheid dink nie.”
Sonder om te hoor wat Dewalt verder te sê het, verlaat Natasha die vertrek en gaan sit weer buite.
Die volgende twee dae dink Natasha baie aan die toekoms. Sy weet dat sy nooit geldprobleme sal hê nie, maar sy weet ook dat geen geld vir haar verlore geluk kan vergoed nie. Al haar toekomsdrome was om Dewalt geweef en hy was die spil waarom haar hele lewe gedraai het. Nou lyk dit of hy uit haar lewe gaan verdwyn.
Donderdagmiddag, terwyl Natasha in die groot sitkamer voor die vuur sit, wonder sy of sy nie haar huweliksprobleme met haar skoonpa moet bespreek nie. Miskien kan hy Dewalt ompraat om van Esna af te sien. Sy wil nie spoke opjaag nie, maar sy het ’n vae vermoede dat sy swanger is.
Nee, ek is bevrees dit is heeltemal onmoontlik, besluit sy by haarself. Voor ons troue kon Dewalt en die oubaas nie stryk nie. Buitendien is oubaas Lafras vir my nog te vreemd. Ek sal tog nie met hom oor Dewalt en Esna kan gesels nie.
Natasha sit ’n lang ruk en peins. Dan besluit sy om maar te wag en kyk wat Dewalt wil maak. Die gelui van die telefoon dring vaagweg tot haar deur, maar sy steur haar nie daaraan nie. Mevrou Hugo sal wel antwoord.
Toe Natasha net weer haar gedagtes vrye teuels gegee het, verskyn mevrou Hugo in die deur en sê dat die oproep vir haar is. Sy bedank die ouer vrou en stap dan haastig na die studeerkamer toe. Tot haar verbasing is dit haar skoonpa wat praat.
“Natasha, my kind,” sê oubaas Lafras, “wat gaan in jul huis aan dat Dewalt nou hier in Johannesburg met daardie Le Clus-vroumens rondflenter? Weet jy dat hulle saam hier is?”
Natasha voel hoe haar wange van verleentheid brand, maar sy sê moedig: “Ja, Pappa, ek weet hulle is Johannesburg toe.”
“En jy laat hulle maar gaan?” roep die oubaas ontsteld uit.
“Jy verstaan nie, Pappa …”
“Jy het gelyk, ek verstaan nie watse soort vrou jy is om toe te laat dat jou man met ’n ander vrou rondrits nie. Ek sal dit waardeer as jy hierdie dinge aan my wil verduidelik.”
“Eintlik is daar nie veel om te verduidelik nie, Pappa,” sê Natasha moeg. “Ons was skaars tuis van Sonskynbaai af, toe bel Esna le Clus vir Dewalt. Pas na die oproep het hy haar in die koffiekroeg op Leliesvlei gaan ontmoet. Dieselfde aand het hy saam met haar in Durban gaan jolyt hou. Nou ja, die volgende oggend het hy my om ’n egskeiding gevra.”
Die oubaas swyg etlike oomblikke en vra dan met ’n stem wat styf en gespanne klink: “Gaan jy van hom skei, Natasha?”
’n Sug van moedeloosheid ontsnap uit haar bors, ’n sug wat selfs oubaas Lafras se oor nie ontgaan nie. Tog slaag sy daarin om haar stem kalm en bedaard te hou. “Ek het vir hom gesê ek weier om van hom te skei, Pappa. Ek het aan hom probeer verduidelik waarom daardie Le Clus-meisie hom nou ewe skielik terug wil hê, dat sy hom maar weer sal laat staan sodra die syfers van sy bankrekening nie meer na haar sin is nie, maar hy is siende blind en horende doof.”
Die oubaas bly weer ’n lang ruk stil. Dan sê hy met ’n klank van besliste finaliteit in sy stem: “Ek sal met Dewalt gaan praat, my ou dogter, maar ek kan nie belowe dat hy na my sal luister nie.”
Sonder om vir Natasha te sê dat mevrou Hugo hom die oggend gebel en alles van Dewalt en sy minnares vertel het, groet die oubaas en plaas die gehoorbuis ingedagte terug op die mikkie.
Na haar gesprek met die oubaas voel Natasha vreemd verlig. Sy weet dat Dewalt nie na sy pa sal luister nie, maar sy koester nogtans die hoop dat die oubaas hom tot ander insigte sal bring.
Terwyl Natasha daardie aand in die bed lê, wonder sy of Dewalt en Esna al as man en vrou in een van Johannesburg se hotelle bly. Hierdie gedagte bring so baie pyn mee dat sy dit haastig op die agtergrond skuif en liewer dink aan die naweek wat voorlê. Maar ook die naweek, besef sy, hou vir haar geen aangename vooruitsigte in nie, want Esna gaan glo ’n naweekgas op Die Arendsnes wees.
Verbeel jou, sy vrou én sy minnares onder een dak! sug sy. Is dit nou hul manier om ’n egskeiding van my af te dwing? Natasha lê nog lank hieroor en tob voordat sy eindelik van skone uitputting aan die slaap raak.
Saterdag is dit bitter koud. Dit het die vorige dag op die hoogste pieke van die berg gesneeu en daar waai ’n ysige wind skuins teen die berg af. Die drywende wolke skuif elke nou en dan voor die son in en waar Natasha deur haar kamervenster na die koue wêreld staan en kyk, wonder sy wat ’n mens op so ’n onplesierige dag kan doen.
Sy besluit egter dat ’n mens op só ’n dag maar net voor die kaggel kan sit – wat sy dan ook na ontbyt doen. Dewalt het die vorige aand lank na middernag eers van Johannesburg af hier aangekom, maar het weer vanoggend vroeg gery terwyl sy haar aangetrek het. Sy het hom nog nie met ’n oog sedert sy tuiskoms gesien nie.
Sy laat sak die tydskrif waarin sy