sy beginsels waarmee hy rekening moet hou. Hy durf nie toelaat dat Esna sy huwelik verongeluk nie.
In Dewalt woed ’n onbeskryflike storm. Dit voel of hy in twee rigtings getrek word, en of die krag daarvan hom in twee wil skeur. Maar dan maak sy hart allerhande verskonings waarom hy sy afspraak met Esna moet nakom … Hy verkies dat Esna liewer nie na sy huis toe moet kom nie, want dit kan net ’n onsmaaklike affêre tot gevolg hê. Dit sal ook nie billik teenoor Natasha wees om haar in hul huis te ontvang nie. Daar is vir hom dus net een weg oop: hy sal sy afspraak met Esna moet nakom en aan haar verduidelik dat hy getroud is en dat sy hom asseblief nie weer moet bel of probeer besoek nie.
Met hierdie goeie voornemens ry hy Leliesvlei toe. Ondanks sy besluit bruis daar egter ’n gevoel van opgewondenheid in sy hart omdat hy Esna spoedig weer sal sien. Sedert sy huwelik het haar beeld in sy geheue aansienlik vervaag, maar darem ook nie genoeg om sy liefde vir haar heeltemal te laat sterf nie.
Dewalt dink aan die brief wat hy vanoggend van die rolprentmaatskappy ontvang het en dit val hom by dat hy Natasha nog nie eens van die brief vertel het nie.
Ek sal die opwindende nuus vanaand met haar bespreek, besluit hy. Sy sal beslis die paar maande in Amerika geniet …
Dewalt hou voor die koffiekroeg stil en klim uit. Die volgende oomblik is Esna by hom. Met ’n uitroep van blydskap gooi sy haar arms om sy nek en soen hom net daar langs sy motor. Dewalt moet hom met alle mag staal teen die drang om haar in sy arms te neem en haar soen met vuur en hartstog te beantwoord.
“O, ek het so baie na jou verlang, my skat,” jok sy sonder om ’n oogspier te trek. “Ek kon nie anders nie, ek moes my verlowing met Pieter verbreek. Ek sien nie meer kans om sonder jou te lewe nie, Dewalt, my liefling. Aanvanklik het ek gedink dat dit Pieter is wat ek liefhet, maar dit was nie –”
“Laat ons liewer binne toe gaan, Esna,” val hy haar sag in die rede en dwing homself om haar arms, wat nog steeds om sy nek is, weg te neem. “Niemand moet sien hoe lieftallig jy my omhels nie. Die mense op Leliesvlei weet dat ek getroud is, al het jy dit miskien vergeet.”
Hulle stap die koffiekroeg binne en neem eenkant by ’n tafeltjie plaas.
“Jy dink tog seker nie dat ek my aan jou sogenaamde huwelik steur nie, my skat,” laat Esna stroperig hoor. “Ons het mekaar lief en dit is al wat van belang is.”
“Ek verstaan nou glad nie wat jy bedoel nie, Esna …”
Die kelnerin kom neem hul bestelling en albei swyg totdat hulle bedien is.
“Jy sê jy verstaan nie wat ek bedoel nie, my skat?” glimlag Esna so verleidelik dat Dewalt se hart sommer bollemakiesie slaan. “Dit is tog baie duidelik. As twee mense mekaar liefhet, trou hulle gewoonlik.”
“Maar ek is reeds getroud, ou meisietjie,” help hy haar reg.
“Ja, met ’n vrou wat jy nie liefhet nie. Watse geluk kan so ’n huwelik jou bring, Dewalt, my skat?” Sy kyk hom aan met haar groen oë wat lyk of hulle elke trek op sy gesig liefkoos. “Het jou vrou al ooit haar arms om jou nek gegooi en jou gesoen totdat die bloed warm en onstuimig deur jou are bruis? En wanneer jy haar soen –”
“Ek het jou vroeër oor die telefoon gesê dat ek nie bereid is om my vrou of my huwelik met jou te bespreek nie, Esna,” knip Dewalt haar dadelik kort voordat hy sy voornemens heeltemal vergeet.
“Is jy nou kwaad vir my, my skat?” vra sy met so ’n soet stemmetjie dat die streng uitdrukking in Dewalt se oë dadelik versag.
“Nee, ek is nie kwaad vir jou nie, my groenoog,” glimlag hy met ’n warmte wat uit sy hele wese straal. Hy neem haar sagte hand in syne en druk sy lippe saggies teen haar handpalm. “Jy weet dat ek nooit vir jou kan kwaad word nie. Dit is net … Wel, jy maak dinge vir my baie moeilik.” Hy sug moedeloos en los haar hand. Dan sluip ’n verdwaaldheid in sy blou oë. “Hierdie ding wat vandag met ons gebeur het, is ’n groot ramp.”
“Watter ding, my liefling?” vra sy en vly haar blonde kop lieftallig teen sy skouer.
Op dieselfde oomblik, terwyl Esna so intiem met haar kop teen Dewalt se skouer leun, stap Natasha die koffiekroeg binne. Haar donker blik dwaal vlugtig deur die vertrek – totdat dit eindelik op Dewalt en Esna rus. Sy voel hoe ’n hewige opstand in haar bruis. Sy wil eers omdraai en vlug, maar bedink haar dan en besluit om liewer verby Dewalt se tafel te loop sodat hy kan weet sy het hulle daar gesien … Sy sal maak asof sy salig onbewus is van hul teenwoordigheid, asof sy toevallig hier op hulle afgekom het.
Dewalt, totaal onbewus van Natasha se teenwoordigheid, streel die blonde kop teen sy skouer liefdevol. Die volgende oomblik kyk hy reg in Natasha se donker oë waar sy langs hul tafeltjie vassteek asof sy verbaas is om hom hier in die geselskap van ’n meisie aan te tref.
“Natasha!” roep hy sag uit met ’n mengsel van skok en verleentheid. Hy vergeet skoon van Esna se kop teen sy skouer en staan so vinnig op dat sy byna van haar stoel afval.
Natasha se wenkbroue lig vraend; hartseer en verwyt lê onverskuild in haar oë.
“Ek dink jy moet liewer gaan sit, Dewalt. Jy trek almal in die vertrek se aandag. Ek sal maar liewer elders gaan koffie drink –”
“Nee, wag eers, ek dink dit is beter dat ons liewer huis toe gaan,” val hy haar onthuts in die rede. Die verwyt in haar oë laat hom pynlik skuldig voel.
Natasha is egter nog glad nie gereed om huis toe te gaan nie. Daar is te veel dinge waarmee sy haar eers sal moet vereenselwig voordat sy huiswaarts kan keer. Daarom sê sy sag, met ’n vreemde verlatenheid in haar stem: “Ek is bevrees dis nie net ’n kwessie van huis toe gaan nie, Dewalt. So eenvoudig is dinge darem nie.”
Dan draai sy stil om en verlaat die koffiekroeg. Dewalt kyk haar vererg agterna en kan nie dadelik besluit wat om te doen nie.
“Was dit jou vrou, my skat?” vra Esna langs hom.
Hy knik en gaan dan weer langs haar sit. “Ja, dit was my vrou. Die duiwel het haar natuurlik hiernatoe gestuur.”
“Wel, ek is bly dat sy ons saam gesien het,” sê Esna ingenome. Sy haak haar arm deur Dewalt s’n, leun weer lieftallig teen sy skouer aan en vervolg dan met genoegdoening: “Jy kan nie stry nie, my skat. Noudat sy van ons weet, behoort dit vir jou makliker te wees om van haar ontslae te raak. Maar wie weet, dalk doen sy nog self aan die hand dat julle moet skei. Dan kan ons sommer dadelik trou.”
Hy kyk na Esna se pragtige, opgewonde gesig teen syne. Dis waar, flits dit deur sy gedagtes, ek sal haar graag as vrou wil hê. Maar soos Natasha pas gesê het: dinge is darem nie so eenvoudig nie. Daar is ook meer op die spel as wat dit vir Esna mag lyk … Ja-nee, dit is nie sommer net vir skei nie. Ek het geen grond om van Natasha te skei nie. Sy is die een wat van my sal moet skei …
“Waaraan dink jy so ernstig, Dewalt?” wil Esna doodonskuldig weet. Sy soen hom saggies in die nek en besef dat dit nie ’n maklike taak gaan wees om Dewalt van sy vrou af te rokkel nie. Maar die gedagte aan al sy geld en wat sy alles daarmee kan doen, spoor haar aan om nie moed op te gee nie. Sy sal veg vir wat sy wil hê.
“Ek dink sommer aan wat Natasha nou net gesê het. Dinge is beslis nie so eenvoudig soos wat dit vir jou lyk nie, my lief,” sê hy ietwat afgetrokke, en drink sy koppie leeg. “Ek dink ek en jy moet mekaar liewer nie weer sien nie –”
“Ek weier om na só ’n voorstel te luister,” val sy hom vinnig in die rede. “Noudat ons mekaar weer gevind het, is jou voorstel ongehoord. Ek wil jou elke aand sien, Dewalt. As dit miskien vir jou soms onmoontlik is om my te besoek, sal ek na jou toe kom.”
Dewalt sug. ’n Man kan soms groot probleme hê. Hy het Esna so hartstogtelik lief en hy sal haar graag elke dag wil sien, maar wat dan van Natasha? Hy kan onmoontlik ’n ernstige verhouding met Esna aanknoop terwyl hy nog met Natasha getroud is! Hy sal baie beslis tussen Esna en Natasha moet kies, en baie gou ook, besluit hy.
“Ek wil nie hier met jou stry nie, Esna. Laat ons liewer na ’n plek gaan waar dit meer privaat is,” stel Dewalt voor.