jou voel, is agting en respek. Ek voel dat ons ’n suksesvolle huwelik op so ’n fondament kan bou. Jy het bepaald al gehoor dat ek onlangs ’n liefdesteleurstelling gehad het. My familie, en veral my pa, was bitter teen Esna gekant. Dus kan jy begryp hoe groot hul blydskap was toe hulle hoor dat Esna my vir ’n ander man gelos het. Sedertdien torring my pa tot vervelens toe aan my dat ek vir my ’n ordentlike vrou moet soek en trou.”
Natasha kyk hom met ’n onpeilbare uitdrukking in haar sagte oë aan. Hoe kan ’n mens ’n suksesvolle huwelik op so ’n wankelrige fondament bou? Sy weet nie of sy met hom kan saamstem nie.
“Ek het my natuurlik nie aan my pa gesteur nie, en sy gemor het al minder geword totdat jy met jou bedankingstorie begin het. Nou is hy weer die ene vuur en vlam dat ek moet trou, en ek sê jou reguit: ek is moeg vir die oukêrel se gelol. Daarom het ek besluit om sy raad te volg en te trou.”
“Ek verstaan,” sê sy versigtig. “Jy wil dus met my trou om jou pa tevrede te stel?”
“Nee, nie om my pa tevrede te stel nie,” help hy haar geduldig reg, “maar omdat jy, afgesien van Esna, die enigste meisie is met wie ek kans sien om intiem saam te lewe.”
“Nou goed, gestel ek trou met jou. Jy kry ’n heeltydse assistente en die vrou wat jy verkies, en later miskien kinders ook. Maar wat kry ek uit die transaksie?’’ wil sy eerlik en reguit weet.
“Jy kry ’n man wat vir jou al die weelde kan gee waaraan jy in jou ouerhuis gewoond was en ook ’n veilige en kommerlose toekoms,” verseker hy haar.
“Ek weet nie, ek sal eers daaroor moet nadink. Miskien moet –”
“Nee, ek wil nou ’n antwoord hê, nie môre of oormôre nie,” keer hy haastig.
Natasha kyk afgetrokke deur die venster na die grys wolke wat in die suide saampak. Dewalt se voorstel is vir haar ’n klap in die gesig – ’n belediging vir haar vroulikheid, haar beginsels en alles wat ’n huwelik ’n heilige instelling maak. Maar sy het hom lief en sy wil hom graag teen homself en teen vroue soos Esna le Clus beskerm.
“Nou goed, Dewalt, ek sal met jou trou, maar ek weet nie of dit sal uitwerk nie,” stel sy hom met ’n toonlose stem in kennis. “Ek glo nie dat so … so ’n huwelik kan slaag nie.”
Dewalt staan vinnig van die lessenaar af op en gaan voor Natasha staan. Hy glimlag selfvoldaan – soos enige man sal glimlag wanneer hy glo dat sy kennis van die vrouegeslag onbeperk is, en dat net ’n onnosele vroumens die veilige en kommerlose toekoms wat hy haar aanbied, sal versmaai. Wat sy kennis van vroue betref: hul liefde vir kosbare juwele, pelse en geld is die enigste liefde wat hulle ken.
“Dankie dat jy ingestem het om met my te trou, Natasha,” sê hy met vreemde erns. “As ek my bes doen om vir jou ’n goeie man te wees, moet ons huwelik slaag … jy sal sien. Maar sê my eers, wil jy ’n deftige huwelik met ’n groot onthaal hê, of sal ons sommer voor Leliesvlei se landdros trou?”
“Ek dink ’n stil troue sal in ons geval verkiesliker wees,” meen Natasha.
“Gaaf, dan trou ons sodra die draaiboek voltooi is,” stel hy voor. “Dit sal seker oor twee weke wees.”
Natasha knik instemmend – ’n knik wat haar toekoms nou finaal in ’n onbekende rigting stuur.
4
Mevrou Hugo is so opgewonde dat dit lyk asof sy vir haar eie dogter se huwelik voorbereidings tref. Dit was vir haar ’n groot teleurstelling toe sy hoor dat dit ’n stil troue sal wees. Net drie gaste gaan die intieme onthaal saam met die egpaar geniet – Dewalt se pa, sy suster en Rita Grové.
Waar die ouer vrou nou in die kombuis besig is om die nagereg voor te berei, is daar ’n sagte uitdrukking in haar oë terwyl sy dink aan Natasha, die vleiende wit baadjiepak met die fyn kantkamisool daaronder en die enkelstring egte pêrels om haar nek, waarin sy vanoggend in die eg verbind word. Sy het nie juis soos ’n bruid gelyk nie, maar sy was net so pragtig soos ’n bruid. Selfs haar bruidegom moes twee keer kyk om seker te maak dat sy wel die meisie is met wie hy vanoggend in die huwelik tree.
Mevrou Hugo kyk op haar polshorlosie en merk dat die egpaar en hul gaste nou-nou sal opdaag, want die huwelik sou reeds om tienuur voltrek word.
Mevrou Hugo het haar baie goed van haar taak gekwyt en die klein onthaal is ’n reuse-sukses. Selfs oubaas Lafras prys haar kookkuns hoog aan. Dewalt en Natasha kan haar nie genoeg bedank vir al die moeite wat sy gedoen het met die voorbereiding van die driegang-maal nie.
Na ete vertrek die bruidspaar na Sonskynbaai waar hulle twee weke lank sal vertoef. Die drie gaste vertrek saam met hulle terug huis toe.
Die twee weke in Sonskynbaai is vir Natasha van die aangenaamste in haar lewe. Ook Dewalt, ondanks die feit dat hy haar nie werklik liefhet nie, geniet hul verblyf langs die strand ten volle.
Waar hulle nou op ’n rots langs die strand staan om van die see en die meeue afskeid te neem, besef albei dat hulle die afgelope twee weke baie na aan mekaar gelewe het en dat hulle nou deur ’n onsigbare band gebind word wat voorheen nooit bestaan het nie.
Dewalt sit sy arm om Natasha se smal skouers en trek haar werktuiglik teen hom aan. Natasha is egter al gewoond aan hierdie ongeërgde gebaar wat vir hom net so min beteken as die onpersoonlike goeienagsoen wanneer sy saans in sy arms lê.
“Hoe voel jy nou oor ons huwelik, my meisie? Glo jy nog dat dit nie sal slaag nie?” hoor sy Dewalt se stem bo die gedruis van die golwe.
Daar is ’n onpeilbare blik in haar donker oë wat stil in die verte oor die see staar. “Wel, as daar nie iets voorval wat dit kan ontwrig nie, Dewalt, glo ek dat dit kan slaag,” sê sy versigtig. “Dis net jammer dat ons môre weer moet huis toe gaan. Ek voel ons het nog ’n week of twee nodig om mekaar beter te leer ken voordat ons na die gewoel van die alledaagse lewe terugkeer.”
Dewalt kyk haar met ’n skewe glimlaggie aan. “As dit jou beter sal laat voel, ou swartkoppie, kan ons met plesier nog twee weke hier aanbly,” sê hy tegemoetkomend. “Daar is geen dringende werk wat tuis op my wag nie en daar is werklik geen haas nie.”
Die volgende twee weke vlieg vir Natasha soos ’n droom verby en die dag van hul vertrek breek gou aan.
Ek sal hierdie salige vier weke altyd onthou, dink sy met ’n sug van genoegdoening toe hulle voor die hotel wegtrek. Haar gedagtegang word egter deur Dewalt onderbreek.
“Voel jy gereed om die lewe saam met my aan te pak, mevrou De Meyer?” terg hy haar.
“Ek behoort nou gereed te voel, Dewalt; ons is mos darem al vier weke getroud …” glimlag sy.
Dewalt se hartlike lagbui laat haar meteens stil word. “Jy laat die vier weke klink asof dit vier jaar is, my vrou,” laat hy nog steeds laggend hoor. “Ons huwelikslewe het maar pas begin, jong. Daar lê nog ’n hele leeftyd voor.”
Dewalt is die hele ent pad in ’n vrolike luim. Vol grappies en gelag hou hulle die middag voor hul tuiste in die Drakensberge stil.
Mevrou Hugo is baie bly dat hulle eindelik weer tuis is. Sy bedien hulle met tee en daarna gaan pak Natasha hul tasse uit terwyl Dewalt sy pos nagaan.
Sy is nog besig met die laaste tas, toe hy hul slaapkamer met ’n breë glimlag binnestap. “Natasha, my meisie, jy sal nooit raai watter goeie nuus ek pas ontvang het nie!”
“Wag, laat ek raai,” glimlag sy. “Jou draaiboek word verfilm en –”
“Nie net die draaiboek nie,” val hy haar opgewonde in die rede, “ook die ander manuskrip is vir televisie aanvaar. Besef jy wat dit vir my beteken, ou kleintjie?”
“Ja, ek besef dat jy oornag feitlik ’n miljoenêr geword het,” sê sy, self ook opgewonde. “Baie geluk!”
“Meisiekind, jy is my gelukbringertjie,” lag hy en soen haar op die punt van haar fyn neus.
Natasha wil net weer voortgaan met die uitpakkery,