Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 8


Скачать книгу

besluit Marné. Maar hoe kan sy dit aan Nicolette doen? Arme tant Mathilda sal môreoggend moet verduidelik dat sy nie terugkom nie, maar hoe gaan Nicolette dit verwerk?

      “Is jy kwaad vir my, Marné?” vra Nicolette bekommerd.

      “Natuurlik nie, my poplap. Ek het maar net gedink. Ek sal nog ’n rukkie wag en dan …” Sy swyg en kyk om toe die deur oopgaan en Mathilda met ’n strydlustige uitdrukking op haar gesig die vertrek binnekom.

      “Nicolette, liefie, ek is dood van die honger en dors van al die trappe klim. Sal jy gou kombuis toe draf en Elvira vra om vir ons almal koek en tee te bring?” vra Mathilda en neem op ’n stoel voor die kaggelvuur plaas.

      “Ek sal die koekies dra en nie een laat val nie, tannie,” beloof Nicolette gretig, spring op en draf uit die kamer.

      “Nou moet ons vinnig praat, Marné,” sê Mathilda en wys na die stoel oorkant haar. “Kom sit, kind.”

      “Het tannie en tant Renate rusie gehad?” vra Marné terwyl sy op die stoel plaasneem.

      “Rusie? Glo my, liefie, dit was ’n tweegeveg en dit het so byna op ’n moord uitgeloop!” Sy snuif onstuimig. “Renate en haar sondige grootheidswaan is verantwoordelik vir al die twis en tweedrag, al die ellende en hartseer in hierdie ou plek. Dat ’n mens so onregverdig kan wees! Ilze is nie mooi genoeg na haar sin nie en die arme Nicolette is ’n stommerik, daarom is hulle nie belangrik nie. Dis altyd net Vincent … Vincent … Vincent!”

      “Nogtans is hy ook nie gelukkig nie, tannie,” sê Marné partydig.

      “Dalk nie, maar hy word darem bevoordeel. Die arme Ilze is ’n kind met ’n minderwaardigheidskompleks en die liewe Nicolette … Ek dag ek foeter ou Renate met haar eie kierie oor die kop toe sy my vertel sy het jou in die pad gesteek!”

      Marné lag geamuseerd. “Ek wens tannie het! Ek is net jammer ek moet Nicolette teleurstel, maar ek is nie spyt om weg te gaan nie.”

      “Maar, liefie,” begin Mathilda bekommerd, “is jy gretig om weg te gaan? Ek bedoel nou maar: sal jy dit nie dalk oorweeg om aan te bly as Renate jou met rus laat nie?”

      “Asof sy sal! Tant Renate speel al te lank baas in Flaminke-huis, tannie. As ek Nicolette versorg, wil ek geen inmenging van tant Renate of enigiemand anders hê nie. Ek was dankbaar oor tannie se hulp, want tannie ken haar, maar … Ek is jammer, tant Mathilda, maar ek sal net wag totdat Nicolette vanaand slaap en dan na tant Kobie-hulle toe gaan.”

      “Ai toggie.” Mathilda sug beswaard en rig ’n pleitende blik op Marné. “Sal dit jou van plan laat verander as ek jou die versekering gee dat ou Renate voortaan nie weer sal inmeng met jou versorging van Nicolette nie, hartjie? Dis wat sy my beloof het, Marné. Sy is selfs bereid om jou om verskoning te vra en by jou te pleit om te bly.”

      “Dis ’n bietjie moeilik om te glo,” sê Marné skepties.

      Mathilda glimlag vonkelend. “O, ek het behoorlik met haar gal gewerk, kind! En toe ek dreig om saam met jou my tasse te pak en pad te gee, toe staan die ou siel amper op haar knieë voor my! Ou Renate is trots, maar sy is nie onnosel nie. Sy weet sy kan nie sonder my klaarkom nie.”

      “ ’n Afperser, dís wat tannie is,” sê Marné laggend en skud haar kop. Sy vervolg ernstig: “Ek wil niks met tant Renate te doen hê nie. Ek gee nie om om opdragte van tannie te ontvang nie, want tannie ken Nicolette, maar ek gaan nie toelaat dat tant Renate my weer probeer verneder nie.”

      “Dis alles klaar gereël, Marné. Dan bly jy?” vra Mathilda hoopvol.

      “Mag ek en Nicolette tant Kobie-hulle besoek?”

      “Vanselfsprekend. Dis een van die vereistes wat ek gestel het, anders het ek nou my tasse gepak,” antwoord Mathilda met ’n selfvoldane glimlag.

      “In daardie geval sal ek aanbly, want dis Nicolette wat ontstel sal word as ek spoorloos verdwyn.”

      “Dankie, Marné. Nou moet jy my verskoon. As ek vir Nicolette moet wag om ons tee te bring, kry ons dit eers om middernag. Die kind speel alte graag in die kombuis,” sê Mathilda.

      Waarom vrees Nicolette vir Vincent? wonder Marné. Sy wou tant Mathilda daaroor uitgevra het, maar dit sal eers moet wag. Moontlik sal tant Kobie weet, want dis duidelik dat Nicolette die De Ridders as haar vertrouelinge beskou.

      Marné stap vinnig in die gang af na die sydeur. Sy wens sy kan ophou glimlag, maar haar lippe het ’n eie wil. Sy maak die sydeur oop en glimlag breër toe sy Erik in die lig wat uit die gang val voor haar sien staan. “Hallo, Erik. Tant Mathilda sê jou ouma het vir my ’n geskenkie gestuur.”

      Hy lyk ’n oomblik van stryk gebring, maar dan vee ’n glimlag oor sy lippe. “Het sy? In daardie geval …” Hy maak sy arms oop. “Hier is ek: jou geskenkie.”

      “Moenie laf wees nie, man! Wat het jou ouma vir my gestuur?”

      “Laat ek jou waarsku, meisiekind. Tant Mathilda is ’n kompulsiewe leuenaar met ’n skewe sin vir humor. My ouma het gevra ek moet jou kom haal om ’n rukkie te kom kuier, want sy mis jou. Kom jy saam?”

      “Graag, dankie.” Sy trek die sydeur agter haar dig en loop saam met hom na sy bakkie toe. “Lekker! Ek hoef nie deur die modder te plas nie.”

      “Stadsmeisie! Is dit die modder wat verhoed het dat jy kom inloer?”

      “Nee, Nicolette het verkoue gehad,” verduidelik sy en klim in die bakkie.

      Hy skuif agter die stuurwiel in en betrag haar ondersoekend. “Is dit die maanlig, of is jy bleker as vier dae gelede?”

      “Dis die maanlig,” antwoord sy met ’n gedwonge laggie.

      “Marné?” Hy lê sy vingers op haar wang en draai haar gesig na hom toe. “Ek ken die Brandenbergs. Hoe behandel hulle jou?”

      Die aanraking van sy vingers is warm en vreemd opwindend. Sy sluit haar oë en herhaal in haar gedagtes: Laura, Laura. Sy maak haar oë oop en haar glimlag is neutraal. “Tant Renate het my in die pad gesteek omdat ek nie haar bevele wou uitvoer nie en –”

      “Uitstekend! Ouma Kobie kan nie wag dat jy in Eiland-huis kom intrek nie. Waar is jou tasse?” val hy haar in die rede.

      “Moenie my laat huil omdat ek uit jammerte vir Nicolette besluit het om tant Renate se verskoning te aanvaar nie,” verwyt sy.

      “Dan bly jy?”

      “Het ek ’n keuse, Erik? Nicolette is klaar afhanklik van my, moontlik omdat ek heeltyd by haar was terwyl sy siek was. Tant Mathilda het gedreig om saam met my te vertrek, daarom het tant Renate ingestem dat ek voortaan self oor Nicolette se versorging kan besluit.”

      “Dit klink nie soos die Renate Brandenberg wat ek ken nie. Sy vergeef nie maklik nie en sy maak nooit toegewings nie,” sê hy met ’n frons van kommer tussen sy wenkbroue.

      “Sy kan ’n ander kinderoppasster kry, maar sy sal nie tant Mathilda kan vervang nie,” redeneer Marné.

      “Tant Mathilda het haar reeds gewaarsku sy gaan aftree sodra sy sewentig is, en dis oor ’n paar maande. Nee, Marné, ek glo tant Renate wou nie regtig hê jy moes weggaan nie.”

      “Om watter rede?”

      “Ek wens ek het geweet. Maar wat van die ander huismense?”

      “Ilze kuier op Twiswaters by ’n vriendin, en tant Rentia … Sy glo ek het net Nicolette se oppasster geword omdat ek hoop om met Vincent te trou.”

      “Het jy?”

      Sy gluur hom aan. “Is jy nou net so simpel soos tant Rentia, Erik de Ridder?”

      “Nee, sy is besitlik, maar ek is nuuskierig. Meisies vind die kroonprins van Flaminke-eiland gewoonlik onweerstaanbaar.”

      “Ek hou van hom,” sê sy met impulsiewe eerlikheid. “Hy is bitter ongelukkig omdat sy ouma hom nie wil toelaat om te boer nie. Ek wonder soms of