Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 8


Скачать книгу

haar eiendom. Dans hy nie na haar pype nie, onterf sy hom. Sy het selfs sy verhouding met Nicolette vertroebel. Hy het blykbaar nooit enige kontak met haar gehad nie, totdat ek hom na die speelkamer geneem het.”

      “En nou is Vincent en Nicky versoen?” vra Erik ongelowig.

      Marné aarsel. “Ek wens dit was so eenvoudig, maar toe Nicolette vir Vincent gewaar, het sy histeries van vrees geword. Sy het gesê hy is sleg. Arme Vincent was so verward, want hy het nie geweet waarom sy hom vrees nie. Hy sê hy het haar nog nooit enige fisieke leed aangedoen nie, en ek glo hom.” Sy kyk vraend na hom. “Weet jy dalk iets, Erik?”

      Hy skud sy kop. “Tant Mathilda het al dikwels gekla dat die drie Brandenberg-kinders nie normaal grootgemaak word nie, want Vincent word deur sy ma en sy ouma verafgod en weggehou van Ilze en Nicolette. Dis asof die Brandenberg-dogters nie vir hulle ma of ouma bestaan nie. Moontlik voel Nicky haar broer se vyandigheid aan.”

      “Hy was nie vyandig toe hy saam met my na die speelkamer toe gekom het nie. Hy was bitter ontsteld oor Nicolette se reaksie. Nicolette se onskuld laat haar glo almal is goed. Ek vermoed iets het gebeur wat haar Vincent laat vrees,” sê Marné mymerend.

      “Of iemand kon iets vir haar gesê het. Het jy tant Mathilda uitgevra?”

      “Ek kon nie, want Nicolette het nog nie gaan slaap nie.” Sy ril van die koue. “Kan ons maar ry, Erik? Jou ouma se kombuis is heelwat warmer as jou bakkie.”

      Hy glimlag skuldig. “Jammer, maar as ek nie nou met jou gepraat het nie, het ek nie weer ’n kans gekry nie. My ouma het klaar besluit jy is haar persoonlike eiendom,” sê hy verskonend en skakel die enjin aan.

      Waarom kan Erik haar nie die hof maak nie? vra sy haar af en voel dan soos ’n yslike gek. Sy is mondig, intelligent, selfstandig en tot dusver ten volle in beheer van haar emosies. Sy geniet dit om saam met mans uit te gaan en ’n paar maal was sy selfs ’n klein bietjie verlief, maar sy het nog nooit ’n gek van haarself gemaak nie. Waarom voel sy so ongewoon aangetrokke tot Erik? Is dit omdat sy weet hy het Laura Viljoen nog altyd lief? Ja, dis logies, want solank hy iemand anders liefhet, hoef sy nie te vrees dat hy haar sal liefkry nie. Sy wil nie trou nie – nie voordat sy minstens dertig is nie – maak sy haarself wys, maar voel tog nie gelukkig nie.

      Marné staar verdwaas na Vincent, wat met ’n ruiker rooi rose en ’n groot doos sjokolade in sy hande op haar afgestap kom.

      Hy kom voor haar staan en hou die geskenke na haar toe uit. “Vir die mooiste meisie in my lewe,” sê hy en buig galant.

      Toe sy nie reageer nie, pleit hy: “Asseblief, Marné, jy gaan tog nie my geskenke weier nie?”

      “Vincent!” skree Rentia, haar stem skril van woede, en storm nader. “Wat het in jou gevaar, my seun?” Sy gluur Marné met ’n byna tasbare minagting aan. “Háár soort is maar te gretig om in ’n ryk erfgenaam se arms te val. Waarom mors jy jou geld op haar?”

      “Ma!” Sy gesig vlam van vernedering. “Ek is ’n man van sewe en twintig. Ek kan seker self besluit vir wie ek ’n geskenk wil gee?”

      “Nie as jy Flaminke-eiland wil erf nie,” sê Rentia nydig. “Wat sal jou ouma sê as sy hoor jy dra geskenke vir ’n diensmeisie aan? Om liefdeswil, my seun, onthou wie en wat jy is. Jy is ’n Brandenberg, die kroonprins van Flaminke-eiland. Jy kan met die rykste meisie in die kontrei trou. As jy ’n verhouding met háár aanknoop, sal jy jou goeie naam verloor.”

      “Hoe, mevrou Brandenberg?” vra Marné met ’n ysige stem. “Ek is miskien ’n diensmeisie, maar ek is nie minder trots op my goeie naam as wat jou seun op syne is nie.”

      “Jóú goeie naam?” Rentia lag honend. “Jy is ’n kleinniggie van een van my skoonma se behoeftige vriendinne. O, ek weet alles van jou. Jou tante het tot vervelens toe pleitbriefies aan my skoonma geskryf totdat sy ingestem het om jou as haar diensmeisie aan te stel. Maar dis al wat jy is: ’n diensmeisie wat Nicolette moet versorg. As jy dit waag om weer met my seun te praat – of net na hom te kyk – sal ek sorg dat jy in die pad gesteek word.”

      “Ma, bly stil!” bulder Vincent. “Ek laat my nie langer voorskryf nie. As Marné my wil hê, trou ek môre met haar!”

      Rentia staar hom verbysterd aan. “Jy is dronk! Ek gaan nou dadelik vir jou ouma vertel wat jy agter haar rug aanvang. Ons sal hoor wat sy te sê het,” tier sy en storm na die trap toe.

      Vincent kyk sku na Marné, wat stil en strak voor hom staan. “Ek kan nie vir jou sê hoe jammer is ek oor my ma se gedrag nie, Marné. Wat … wat maak ons nou met jou geskenke?”

      “Tant Mathilda hou van blomme en sjokolade,” sê Marné met ingehoue woede en stap vinnig by die voordeur uit.

      Renate stamp hard met die kierie op die vloer om ’n einde aan Rentia se tirade te maak. “Dis beter,” sê sy toe Rentia swyg en haar vraend aankyk. “Het jy gesê my kleinseun het ’n ruiker en sjokolade vir die pragtige Marné Jordaan gekoop?” verneem sy ingenome.

      “Ek het dit al twintig maal gesê!” bars Rentia met hernude verontwaardiging en afguns uit. “My seun koop vir ’n diensmeisie blomme! Hy koop nie eens op Moedersdag vir my ’n bossie blomme nie, maar hy dra ’n duur ruiker agter ’n armoedige diensmeisie aan. Ek wonder wat sy gedoen het om soveel geskenke van hom te ontvang!”

      “Ek sal nie weet nie en dit pla my ook nie,” sê Renate onbesorg en kyk met ’n slinkse glimlaggie na Rentia. “Sê vir Vincent ek wil met hom praat. ’n Ruiker is te alledaags. Hy moet vir haar juwele koop, sodat sy besef hy is gretig om met haar te trou.”

      7

      Die bloed dreineer uit Rentia se gelaat en sy gryp na die katelstyl asof haar bene weier om haar gewig langer te dra. Sy staar die grynsende Renate swygend aan terwyl verbystering en ongeloof mekaar afwissel in haar oë. “Nee!” fluister sy skor. “Nee, dis nie waar nie. Ma hou my vir die gek.”

      Renate glimlag vermakerig, hoog in haar skik met die uitwerking wat haar skokaankondiging op haar skoondogter gehad het. “Ek was nog nooit ernstiger in my lewe nie, Rentia. Ek kan nie wag om Vincent met Marné getroud te sien nie.”

      Woede wis haar vrees vir Renate uit en Rentia krys onbeheers: “Nie solank ek leef nie, Ma! Ma dra die beursie, daarom kon Ma my eie seun van my vervreem, maar ek is en bly sy ma. Ek sal nie toelaat dat hy met ’n sentlose diensmeisie trou nie. Wat het in Ma gevaar? Al die jare het Ma daarop aangedring dat Vincent net met ryk meisies uitgaan, maar nou is Nicolette se oppasster skielik goed genoeg vir my seun. Mý seun, Ma. Ma besit hom nie!”

      Renate hou aan glimlag en Rentia verbrokkel innerlik. Sy praat in die wind, besef sy met ’n opstuwing van bitterheid. Vandat sy die dag as Martin se bruid haar intrek in Flaminke-huis geneem het, het sy besef dat Renate haar altyd soos ’n indringer sal laat voel. Haar skoonpa was hoflik maar eenkant, en sy het nooit ingemeng met Renate se reëlings nie. Renate het slegs een vereiste aan Rentia gestel: om te sorg dat daar ’n erfgenaam vir Flaminke-eiland is. Vincent se geboorte is luisterryk gevier en Renate het uit die staanspoor sy opvoeding behartig. Daar is nouliks notisie geneem van Ilze en Nicolette se geboortes en toe dit blyk dat Nicolette nie normaal sou ontwikkel nie, het die kind ’n verleentheid vir die Brandenbergs geword.

      Arme Nicolette … Miskien, as Martin nie so kort na haar geboorte gesterf het nie, sou hulle lewe anders verloop het. Sy was altyd jammer vir Nicolette, maar haar skoonma het haar daarvan oortuig dat Nicolette ’n skandvlek op die trotse naam van die Brandenbergs is. Ilze is vir haar ’n teleurstelling, wat sy is geen skoonheid nie en haar beheptheid met geleerdheid en werk irriteer haar. Maar Vincent is die middelpunt van haar bestaan. Ná Martin se dood het haar liefde vir haar seun toegeneem, totdat sy besef het dat sy nie bereid is om hom met enigiemand anders te deel nie.

      “Kyk wie praat,” dring Renate se stem tot haar deur. “Het jy so gou vergeet dat jy die dogter van ’n plaasbestuurder van een van my oorlede man se plase was, Rentia? Glo jy ek sal jou ooit kan vergewe dat jy agter my rug met my seun in ’n landdroskantoor getroud is? ’n Sentlose