sou hy haar probeer red het,” protesteer Marné geskok.
“Ek glo hy sou. Laura was nie ’n sterk swemmer nie en die spruit het oor sy walle geloop, maar Erik swem soos ’n vis. Ek weet hy sou haar probeer red het. Die ooggetuie was onbetroubaar, want hy was nog nie die volgende oggend nugter toe die polisie hom ondervra het nie.” Mathilda sug en skud haar kop. “Maar jy ken die ou mensdom, Marné. Dis tog so lekker om die slegste oor ’n ander te glo.”
“Glo die dorpenaars Erik is verantwoordelik vir Laura se dood?”
“Nee, hartjie, hulle oordeel is genadiger, maar ou Renate en Rentia is die kwaadstekers. Foei, hulle kan sterf van jaloesie omdat Erik ’n suksesvolle man is, terwyl die arme Vincent nie veel meer kan doen as om mooi te lyk nie.”
“Erik sê Vincent sal ’n goeie boer wees.”
“Sonder twyfel, maar ou Renate wou van hom ’n advokaat of ’n dokter gemaak het. In haar oë is ’n gewone boer ver benede die stand van die aristokratiese Brandenbergs.”
Marné kyk op haar polshorlosie. “Dis byna drie-uur. Sal ek solank na tant Renate se kamer toe gaan, tannie?”
“Maak so, hartjie. Dis die eerste deur op linkerhand op die derde verdieping.” Mathilda trek haar gesig vies. “Dis wat hierdie ou tronk nodig het: ’n hysbak. Wanneer ek oor die triljoene trappe kla, ignoreer die ou siel my. Wag maar, een van die dae koop ek vir my ’n kierie en gee voor ek kan nie meer trappe klim nie.”
Marné glimlag en staan vinnig op. “Kom kyk of ek nog lewe as ek te lank wegbly, tannie. Ek twyfel of ek en tant Renate oor ditjies en datjies gaan gesels,” waarsku sy en loop vinnig uit die vertrek.
Solank sy onthou dat sy welkom is in Flaminke-huis, herinner Marné haarself toe sy Renate se kamer binnegaan en aan die voetenent van die bed bly staan.
Wat ’n kamer, dink sy en kyk om haar rond. Die mure is vol familieportrette in goue en swart rame, en op die talle tafeltjies staan ornamente styf teen mekaar uitgestal soos op ’n vlooimark. Die vertrek is oorvol meubels en in die middel van die kamer lê Renate in ’n groot hemelbed.
Renate klop hard met die kierie op die vloer en Marné kyk vinnig na haar. “Dis beter. Ek het jou nie hierheen genooi sodat jy jou aan my kamer kan vergaap nie, Marné, maar om die versorging van Nicolette met jou te bespreek. Ek verneem sy het verkoue.”
“Ja, tannie, maar sy is al beter. As dit môre ’n sonskyndag is, sal ons ’n entjie gaan stap.”
“Gaaf. Ek verstaan Mathilda het jou ingelig dat jy slegs tot middagete aan diens is. Jou middae en aande is vry en my kleinseun sal jou geselskap hou.”
Marné frons onthuts. “Is Vincent veronderstel om my elke middag en aand geselskap te hou?”
“Waarom nie? Ek het jou aanvanklik uitgenooi om te kom kuier, maar jou tant Annie het daarop aangedring dat jy moet werk. Dis waarom ek jou die pos as Nicolette se oppasster aangebied het, maar ek beskou jou nogtans as ’n gas in my huis. Jy en Vincent is albei jonk. Julle sal goeie geselskap vir mekaar wees.”
“Dankie, tannie, maar ek het reeds ander vriende op die eiland. Vincent het sy eie belange. Ek kan onmoontlik van hom verwag om my elke dag geselskap te hou,” sê Marné beslis.
“Vincent gehoorsaam my onvoorwaardelik. Hy het reeds opdrag gekry om jou oral heen te vergesel.”
“Ook na Eiland-huis toe?” vra Marné uitdagend.
Renate se oë vernou merkbaar. “Dan is jy van plan om my bevele oor die De Ridders te verontagsaam?” vra sy, haar stem dun van ingehoue argwaan.
“Ek is nie vier en twintig uur per dag in jou diens nie, tant Renate. In my vrye tyd kan ek doen wat ek wil.”
Renate sit orent, haar donker oë die enigste teken van lewe in haar uitgeteerde, skedelagtige gelaat. “In Flaminke-huis is my woord wet, dogter. Wil jy hê ek moet jou opstandige gedrag aan jou tant Annie rapporteer?”
“My vrye tyd is my eie tyd,” sê Marné beslis.
“In daardie geval …” Renate wys met ’n benerige vinger na die deur. “Gaan na jou kamer toe en bly daar totdat ek besluit het wat om met jou te doen!”
6
Marné staar Renate onthuts aan en bars impulsief uit van die lag. “Liewe land, tant Renate, ek is nie een van jou kleinkinders wat jy kan hiet en gebied nie. Om my soos ’n stout kind na my kamer toe te stuur … Ek is jammer, tannie. As ons nie kan ooreenkom oor my diensvoorwaardes nie, sal ek nou onmiddellik my tasse gaan pak en Flaminke-huis verlaat.”
Renate gluur haar met hooghartige minagting aan. “Ek word nie teengegaan in my eie huis nie, dogter. Besef jy watter eer dit is om in Flaminke-huis te woon en soos een van die huismense behandel te word? Weinig mense op Twiswaters het al die voorreg gehad om deur die Brandenbergs onthaal te word, maar jy wóón hier. Daar is talle ander wat jou die voorreg sal beny om ons so intiem te ken.”
“Ek geniet dit om Nicolette te versorg, maar as ek daarmee sou voortgaan, doen ek dit op my eie voorwaardes,” sê Marné.
“Nee! Jy is ontslaan, Marné. Jou tant Annie het my duidelik laat verstaan dat jy die werk nodig het, maar aangesien jy nie bereid is om my opdragte stiptelik uit te voer nie, sal ek jou nie ’n uur langer onder my dak duld nie.” Renate swyg, ’n slinkse lig in haar oë. “As jy my om verskoning vra, kan ek jou heraanstelling oorweeg aangesien jy nie maklik elders werk sal kry nie.”
Genade, presies wát het tant Annie aan tant Renate geskryf? wonder Marné onthuts. Dis waar dat sy graag wil werk en haar eie geld wil verdien, maar die toelae wat sy uit haar oupa Nico se boedel ontvang, voorkom dat sy ooit gebrek ly. Dank die hemel vir oupa Nico en tant Annie, want haar toelae verhoed dat sy tant Renate se gewillige slaaf moet wees.
“Nicolette se welsyn is my eerste prioriteit, tant Renate. Sy is gelukkig by die De Ridders en ek hou ook van hulle. Ek is nie Nicolette se tronkbewaarder nie. As ek haar nie gelukkig kan maak nie, verkies ek om uit my pos te bedank. Verskoon my, asseblief,” sê Marné met ’n hooghartigheid wat dié van Renate ewenaar, draai om en stap na die kamerdeur.
“Marné, wag!” roep Renate. Sy is geskok oor die verloop van sake. Sy was nie van plan om Marné af te dank nie. Sy het gehoop dat haar dreigemente Marné sou oortuig dat sy die enigste gesag in Flaminke-huis is, maar sy het Annie Hofmeyr se pleegdogter geheel en al onderskat. “Marné, kom terug!” roep sy weer, maar Marné maak reeds die kamerdeur agter haar toe. Renate kyk wild om haar rond en druk die koperknoppie langs haar bed om ’n huishulp te ontbied.
Marné bly voor die toe deur staan en haal diep asem. Dis die einde van haar verblyf in Flaminke-huis, dink sy wrang. Sy is nie jammer nie – behalwe wanneer sy aan Nicolette dink – want sy het nooit welkom gevoel in die koue ou huis nie.
“Jy is ’n ster, Marné,” sê Vincent onverwags langs haar en laat haar verskrik na haar asem snak. “Ek wens ek het die moed gehad om so met my ouma te praat.”
“Het jy ons gesprek afgeluister?” vra sy kwaai, maar terselfdertyd geamuseerd.
“Hoe anders? In Flaminke-huis vind alle gesprekke agter geslote deure plaas, daarom leer jy van jongs af om met jou oor teen die sleutelgat te luister.” Sy oë rus bewonderend op haar. “Jy was manjifiek, Marné! Ek verkrummel soos ’n gemmerkoekie wanneer my ouma net kwaai na my kyk, maar jy … Ek wens ek kon so reguit met ouma Renate praat.”
Hulle beweeg stadig met die trap af. “Wat verhoed jou om dit te doen, Vincent? Jy is ’n man van sewe en twintig, nie ’n kleuter nie.”
Hy frons en lyk ongelukkig. “Dis nie so eenvoudig nie. My oupa Tinus het Flaminke-eiland aan ouma Renate bemaak, daarom moes selfs my oorlede pa na haar pype dans. Maar hy was gelukkiger as ek, want sy het hom toegelaat om die suiwelboerdery te behartig.” Bitterheid laat sy mond vertrek. “Oupa Tinus het nie my pa probeer dwing om ’n professionele man te word nie; hy het hom aanvaar soos hy is. As