van ’n korrespondensiekursus?”
Ilze glimlag wrang. “Ek het honneursgrade in Frans en Latyn … en ek is vier en twintig, werkloos, sentloos en gefrustreerd.”
“Dis fantasties! Ek bedoel die feit dat jy tog gestudeer het,” sê Marné bewonderend.
“Nie werklik nie. Ek sit as ’t ware gestrand op die eiland, want my ou motortjie haal nouliks die dorp. Tant Mathilda laat my soms toe om koek te bak, maar my ma kry die stuipe wanneer ek ons kok wil help. Ek moes iets doen om myself besig te hou, anders het ek lankal ’n klip aan my enkel gebind en van die hangbrug afgespring.”
“Is hier ’n hangbrug op die eiland?” vra Marné belangstellend.
Ilze lyk ineens ongemaklik. “Ja … ja, maar niemand gebruik dit nie, want dis nie meer veilig nie.” Sy glimlag en haak by Marné in. “Ek is bly jy is hier, want jy is darem geselskap. Nicolette is pragtig en dierbaar. Sy het op die mat voor die kaggelvuur in die speelkamer aan die slaap geraak. Sy sal jou nie te veel las gee nie, want sy speel ure lank met haar pophuis en poppe. Kom saam.”
Marné volg Ilze die speelkamer binne en sien hoe ’n beeldskone meisie stadig regop sit en die slaap met haar vingers uit haar oë vryf. Kan daar werklik iets met Nicolette skort? wonder Marné ongelowig. Donkerbruin hare met ’n koper skynsel, dig en krullerig, pas soos ’n pet om Nicolette se kop. Haar groen oë is amandelvormig, omraam deur donker wimpers, en haar gelaatstrekke is fyn en egalig. Haar liggaam is dié van ’n tiener, fyn en vroulik. Nee, sy kan nie glo dat die verstand van ’n kind in die liggaam van so ’n pragtige meisie is nie.
“Is jy my sussie se maatjie? Gaan jy nie my maatjie wees nie?” vra Nicolette. Haar spraak is duidelik, maar haar stem is dié van ’n kind en sy beklemtoon elke tweede of derde woord.
“Nee, Nicolette, Marné is jou spesiale maat, maar ek en sy gaan ook maats wees,” sê Ilze en help haar orent.
“My beste maatjie?” hou Nicolette vol, haar oë pleitend op Marné gerig.
Marné sluk droog en probeer glimlag, maar ingehoue trane laat haar lippe bewe. Sy loop nader en neem Nicolette se hande in hare. “Jou beste maat, Nicolette. Boesemvriendinne.”
“Boesemvriendinne,” klank Nicolette die woord en lag uitgelate. “Dan sal ek jou al my plekke wys. En dalk vertel ek jou al my geheime. Hou jy van geheime, Marné?”
“Natuurlik. Beste maats het altyd geheime.”
Nicolette pluk haar hande uit dié van Marné en hardloop na die naaste venster toe. “Hoera, dit het opgehou reën! Kom ek gaan wys jou my eerste geheim.”
Marné kyk na Ilze met ’n onuitgesproke vraag in haar oë terwyl Nicolette na die deur toe storm.
“Waarheen gaan jy, Nicolette?” vra Ilze vinnig.
Nicolette betrag haar ongeduldig. “Jy is darem dom, Ilze. Dis mos net my en Marné se geheim. Toe, kom nou, Marné. Ek wed jy sal baie van hulle … van my geheim hou.”
“Kan jy vinnig hardloop?” fluister Ilze bekommerd vir Marné.
“Nogal. Ek draf gereeld,” antwoord Marné gedemp, glimlag gerusstellend en sê harder: “Ek en Nicolette sal voor donker terug wees, Ilze. Sien jou.”
Dit sal nie vir haar langer nodig wees om soggens te draf nie, dink Marné terwyl sy by die voordeur uitdraf in ’n poging om by Nicolette te bly. Nicolette is ’n bondel energie, want sy hardloop draaie om haar en spring met albei voete in elke modderpoel.
“O, nee!” roep Marné uit en sy bly doodstil staan.
Nicolette hoor haar uitroep en kom besorg nader. “Het jy seergekry, Marné? Het jy jou toon gestamp? Ek het eendag my toon gestamp en toe bloei dit, want ek het nie skoene aangehad nie.”
“Nee, my toon makeer niks nie, maar jy spring met jou skoene in die modderpoele en dan spat jou sweetpak vol modder.” Sy kyk bewonderend na Nicolette se drafskoene en sweetpakbroek. “Dis sulke mooi skoene en jou sweetpak is pragtig.”
“Wil jy dit hê? Jy kan dit maar kry, Marné, want ons is nou maats,” sê Nicolette groothartig.
“Nee … nee, my tant Annie het genoeg klere vir my gekoop, maar sy het my gevra om dit mooi op te pas. Ek wil nie my klere en skoene laat vuil word nie.”
“Sal sy met jou raas?” vra Nicolette bekommerd.
“Ek dink sy sal hartseer wees, want klere kos geld. Boonop hou ek van skoon skoene en klere.”
Nicolette staar haar swyend aan. Toe lag sy opgewonde en sê: “Ek hou van alles waarvan jy hou, want jy is my beste maatjie. Ek wil ook skoon skoene en klere hê.”
“Ek is bly,” sê Marné verlig. “Probeer om nie in die modderpoele te trap nie. Toe, jy kan die leier wees. Jy loop voor en ek loop agter jou aan, maar onthou dat ek nie my klere mag vuilsmeer nie.”
“Ek is hier!” jil Nicolette en draf stadiger om die reënpoele te vermy.
Waarom het nie een van die Brandenbergs haar meer inligting oor Nicolette se toestand gegee nie? wonder Marné terwyl sy die babbelende Nicolette volg. Op die oomblik is Nicolette ’n vrolike, onskadelike kind, maar wat gebeur as sy teengegaan word? Word sy ooit aggressief? Tant Mathilda … sy sal vanaand vir tant Mathilda oor Nicolette uitvra.
“Ons is amper daar!” roep Nicolette en draf terug na Marné toe.
“Waar?”
“My eerste geheim. My beste geheim.” Sy wys in die rigting van ’n kol bome en Marné herken die sandsteenwoning wat tussen die bome sigbaar is.
“Eiland-huis waar tant Kobie en oom Lukas woon?” vra Marné verras.
Nicolette knik heftig. “En Erik en oom Sebastiaan! Almal dink Flaminke-huis is my huis, maar dit is nie. Dis Ouma Renate se huis en dis oud en lelik, nes sy. Eiland-huis is mooi en warm, soos tant Kobie en oom Lukas en Erik. Dis my regte huis.”
“Maar dis jou geheim?”
“Ja, want hulle weet nie,” antwoord Nicolette en kyk vyandig na Flaminke-huis wat teen die horison uittroon. “Jy hou ook meer van Eiland-huis, nè, Marné?”
“Ja, en ek hou ook van die mense van Eiland-huis, maar ek ken nie vir oom Sebastiaan nie.”
“Hy slaap vreeslik baie, want hy is siek. As hy wakker is, praat ek met hom en dan glimlag hy so ’n bietjie. Tant Kobie sê hy is te siek om te lag.”
“Maar vandag slaap hy net, Nicky,” sê Erik onverwags skuins agter hulle.
Marné swaai om na hom toe, voel haar hart in haar bors ruk en weet nie of dit skok of blydskap is nie.
Nicolette storm by haar verby. Sy gooi haar arms om Erik se nek, druk haar kop teen sy bors en hou dan een van sy hande vas. “Jy is terug!” sing sy en dans voor hom rond. “Tant Kobie het gesê jy kom terug, want ek het gehuil. Maar nou is jy terug.”
Erik steek sy regterhand uit en krap haar krulle deurmekaar. “En ek het vir jou iets saamgebring van Johannesburg af, asjas. Toe, draf vooruit en gaan vra my ouma om die pakkie vir jou te gee. Maar moenie raas nie, want oom Sebastiaan slaap.”
“Dankie! Dankie! Dankie!” jubel Nicolette, los sy hand en huppel weg terwyl sy sing: “Ek gaan tog ’n presentjie kry! Ek gaan tog ’n presentjie kry!”
Marné luister verstom na die helder klank van haar stem en kyk op na Erik. “Sy sing pragtig! Het niemand al daaraan gedink om haar sang- of klavierlesse te laat neem nie?”
“Sy kan sing, maar sy sal nooit die teorie van musiek kan verstaan nie.” Nadenkend voeg hy by: “Maar voëls ken ook nie enige teorie nie, en nogtans sing hulle pragtig.”
“Jy is lief vir haar?”
Hy glimlag stadig. “Ek is bly jy sê ‘lief’ en nie ‘jammer’ nie, want