meisie trou?”
Vincent fluit sag deur sy tande. “Nee, Ouma. Die meisiemens is ’n fortuin werd!” hy frons onbegrypend. “Maar waarom het Ouma haar nie net uitgenooi vir ’n kuiertjie nie? As sy al haar tyd saam met Nicolette gaan deurbring, sal ek nooit ’n kans kry om haar beter te leer ken nie.”
“Hoe lank sal sy hier gekuier het? ’n Week? Twee weke? Dit wil sê as sy sou instem om by wildvreemde mense te kom kuier. Gelukkig het Annie in haar briewe daarvan melding gemaak dat Marné sukkel om werk as ’n arbeidsterapeut te kry. Toe het ek aangebied om Marné in diens te neem om Nicolette te versorg.” Renate glimlag slinks. “En dan is daar nog Annie Hofmeyr. Ek twyfel of sy ’n verhouding tussen jou en haar niggietjie sal goedkeur, want jy is ’n leeglêer, Vincent.”
“Ek het nie nodig om te werk nie – dis wat Ouma my al die jare laat verstaan het – want ek gaan Flaminke-eiland erf,” sê hy.
“Jy gaan, maar dit beteken jy sal met ’n ryk vrou moet trou.” Renate plooi haar lippe grimmig. “Jou pa was ’n sot, want jou ma was ’n kerkmuis. Sy teer al die jare op Brandenberg-geld. Jy gaan nie dieselfde fout begaan nie.”
“E … ja. Maar hoe lyk die Marné-meisie? Ouma kan nie van my verwag om met ’n heks te trou nie, selfs al swem sy in die geld,” maak hy halfhartig beswaar.
“Ek weet nie hoe Marné se pa gelyk het nie, maar die Hofmeyrs is mooi mense.” Sy frons. “Wat maak dit in elk geval saak? As ’n meisie ryk genoeg is, kan jy haar liefhê ter wille van haar geld.”
“As geld so belangrik is, waarom maak Ouma nie vrede met oom Sebastiaan nie? Die ou man is fabelagtig ryk, want hy besit –”
“Stil, Vincent!” Renate se vel span styf oor haar wangbene, haar oë glimmende kole van haat. “Sebastiaan het my my lewe lank sonder rede gehaat. Hy is jaloers op my omdat ek vir sy broer ’n seun en erfgenaam gegee het terwyl sy vrou kinderloos gesterf het. Hy is jaloers op my drie kleinkinders – veral op jou. Hy was nog altyd die renegaat, want hy heul met arbeiders soos die De Ridders. Sebastiaan was nog nooit die trotse naam van die Brandenbergs waardig nie.”
“Dan sal ons niks van hom erf nie?” vra Vincent afgehaal.
“Wie sê hy het iets om na te laat? Hy woon soos ’n kerkmuis in die huis wat deur die plaasbestuurders van Flaminke-eiland bewoon is. As ek nie uit die goedheid van my hart vir hom ’n woonplekkie gegee het nie, het hy seker nou op straat gesit.”
Vincent frons verward. “Maar besit hy nie ’n hele aantal fabrieke nie? ’n Sementfabriek, ’n verffabriek en –”
“Het jy al ooit van sy fabrieke besoek?” val sy hom vinnig in die rede. “Natuurlik nie, want hulle bestaan nie.” Haar oë vernou agterdogtig. “Of het jy gehoop as jy mooi broodjies by ou Sebastiaan gaan bak, sal hy besluit om jou die erfgenaam van sy fiktiewe fabrieke te maak?”
“Ouma weet ek sal nie. Oom Sebastiaan woon al tien jaar lank op die eiland, en ek het nog nooit met hom gepraat nie.”
Renate ontspan merkbaar. “En so moet dit bly. Ons kies ons vriende, Vincent. Sebastiaan is nie welkom in my huis nie. Verbeel jou, hy eet saam met die De Ridders aan tafel!”
“Nie meer nie. Tant Kobie de Ridder het vir tant Mathilda vertel oom Sebastiaan is deesdae bedlêend.”
“Ek is ook bedlêend. ’n Ongelukkige invalide, maar ek is nie van plan om dood te gaan nie.” Sy kyk hom streng aan. “Jy het my opdragte, Vincent. Behandel Marné Jordaan soos ’n prinses. Ek sal met Mathilda reël dat Marné oorgenoeg vrye tyd het om saam met jou uit te gaan.”
“Goed, Ouma,” antwoord hy oënskynlik gedweë en draai vinnig weg na die deur toe.
Laat sy ouma maar praat en dreig – hy sal hom nie in ’n huwelik laat dwing nie. Nie met ’n meisie wat soos iets uit ’n nagmerrie lyk nie. Hy sal Marné Jordaan met soveel minagting behandel dat sy binne ’n paar dae haar tasse sal pak en terugkeer Johannesburg toe, besluit hy. Hy glimlag ingenome, oortuig daarvan dat hy sy probleem opgelos het.
Marné leun vorentoe op die bakkie se passasiersitplek en kyk ontsteld deur die swiepende reënveërs na die water wat oor die laagwaterbrug spoel. Sy draai na Erik langs haar en sê gespanne: “Die bakkie gaan wegspoel, Erik. Draai liewer terug dorp toe.”
“Ons kan dit nog doen,” sê hy bruusk, sy oë effens geskreef, sy kneukels wit op die stuurwiel. Hy kyk nie na haar nie, maar asof hy haar vrees kan aanvoel, vervolg hy paaiend: “Die spruit loop nog nie sterk nie, Marné. Ek sal nie jou lewe in gevaar stel nie, maar sou iets gebeur, is ek ’n sterk swemmer.”
“En ek verdrink lag-lag,” sê sy skerp.
’n Glimlag vee oor sy mond. “Nie wanneer ek naby is nie. Toe, druk jou ore en oë toe. Ons is nou-nou veilig op die eiland.”
“Ek dink my ooglede is van skok gevries, want ek kan nie eens my oë knip nie.” Sy sluk droog met die geluid van die spattende water in haar ore. “Is dit werklik nodig dat ons so stadig ry?”
“Word die vonkproppe nat, bly ons net hier staan. Hoekom maak jy nie jou grimeertassie oop en borsel jou hare nie? En jy het ’n vuil streep op jou wang. Ons is byna tuis, maar soos jy nou lyk, gaan jy ’n baie swak indruk maak,” sê hy terwyl die bakkie stadig oor die laagwaterbrug kruip.
“Kyk wie praat! Jy daag vuil en verslons op ons deurdrumpel op, maar ek moet soos ’n skoonheidskoningin lyk ter wille van die spul Brandenbergs wat my klaar as ’n diensmeisie beskou. Ha!” bars sy gekrenk uit.
“Bouers is veronderstel om verslons te lyk,” spot hy, “maar die neusoptrekkerige Brandenbergs steek jou dalk in die pad as jou voorkoms hulle nie aanstaan nie. En dink net hoe teleurgesteld Nicolette gaan wees.”
“Weet sy ek kom hierheen?” vra Marné, onbewus daarvan dat sy haar nie langer oor die laagwaterbrug kwel nie.
“My ouma het haar vertel. A … ons is veilig deur!” hy kyk na haar en glimlag onnutsig. “Vergeet van jou grimeertassie, meisiekind. Ek het net gesorg dat jy jou vir my vervies sodat jy van die gevaar kon vergeet.”
Haar emosies huiwer tussen ergernis en dankbaarheid en toe glimlag sy oorwonne. “Dankie, Erik, maar miskien moet ek tog my hare borsel en my grimering opknap … en my hande was. Jy en jou bakkie is die ene sement.”
“Die reën het ons vertraag, want dit was al twaalfuur. Kom jy saam na my oupa-hulle toe? Ouma Kobie sal jou graag wil ontmoet en boonop moet ek by Eiland-huis verbyry.”
“Eiland-huis?” vra sy belangstellend.
“Dis wat ons dit noem, want almal het moeg geword om van ‘oom Sebastiaan se huis’ te praat. Ry ons daarheen?”
“Graag.” Sy glimlag spontaan, vreemd gelukkig oor sy uitnodiging. ’n Mens kan nie meer as twee uur lank saam met iemand in ’n motor ry sonder om te besluit of jy van hom hou nie. En sy het klaar besluit: sy hou van die ruwe Erik de Ridder.
Sy het altyd geglo bouers is aardse, minder intelligente mans, maar Erik kan oor enigiets gesels: van opera tot filosofie. Dis tog jammer dat hy nooit die geleentheid gehad het om universiteit toe te gaan nie, want hy is ’n belese man en opsigtelik intelligent.
“Hoekom het jy ’n bouer geword, Erik?” vra sy aarselend.
“Omdat dit skeppende werk is. Ek begin met ’n kaal stuk grond en ek skep iets wat hopelik nog sal staan lank nadat ek nie meer daar is nie. En ek maak mense gelukkig, want ek bou vir hulle ’n droom. Dit gee vir my ’n gevoel van bevrediging om hulle vreugde te sien wanneer ek daarin slaag om hulle drome werklik te maak,” antwoord hy, sy stem diep en warm.
“Dan bou jy net woonhuise?”
Hy huiwer. Daar is ’n frons tussen sy wenkbroue. “Die afgelope twee jaar vandat ek terug is op Flaminke-eiland, ja. Voorheen het ek in Johannesburg gewerk, maar daar … Ek geniet dit meer om huise te bou.”
Hy bring die bakkie tot stilstand en Marné