wil ernstig met juffrou Jordaan praat,” sê Rentia styf.
“Môre, nie vandag nie. Dis hoog tyd dat sy Nicolette ontmoet,” sê Mathilda beslis en begin wegstap met Marné op haar hakke.
“Hoekom hou tant Rentia nie van my nie?” vra Marné fluisterend.
Mathilda lag gedemp. “Jy is jonk en maer en te pragtig vir woorde, hartjie. In ou Rentia se oë is dit ’n allerverskriklike oortreding, want jy herinner haar aan die meisie wat sy eenmaal was. En dan is daar nog Vincent. Foei, die arme siel kan haarself nie help nie, maar sy vrees die dag as Vincent besluit om te trou, want dan sal sy vrou, in plaas van sý, die septer swaai in Flaminke-huis.”
“Maar ek gaan nie met Vincent trou nie, tannie!”
“Dis nie wat Rentia glo nie, want sy beskou elke mooi jong meisie as ’n bedreiging. Sy is boonop besitlik oor Vincent, want haar dogters is vir haar ’n teleurstelling. Sy sal hom nie graag met ’n ander vrou wil deel nie.” Mathilda bly staan. “Hier is jou kamer nou: kleiner en baie geselliger as daardie saal van ’n lila suite. Jy en Nicolette deel ’n badkamer. Jy gee nie om nie, Marné?”
“Glad nie, tannie.” Sy gaan die vertrek binne en glimlag onwillekeurig toe sy die vrolike muurpapier met bypassende gordyne sien. “Dit lyk nuut. Ek bedoel die gordyne en die muurpapier. Die res van die huis … e …”
“Is ’n bietjie gehawend?” vra Mathilda toe Marné blosend swyg. “Weet ek dit nie, kind! Die matte is deurgetrap en die gordyne kan nie gewas word nie, want hulle sal uitmekaar val. Ek het al dikwels met ou Renate gepraat, maar sy sê Vincent se bruid sal eendag haar eie stempel op Flaminke-huis wil afdruk, daarom laat sy die ou plek soos dit is. Daar steek seker waarheid in, maar intussen skaam ek my om deurgeskifte lakens op ons gaste se beddens te sit.” Sy plaas Marné se tasse op die bed. “Sal ek jou help om uit te pak, hartjie?”
“Nee dankie, tannie. Ek wil graag weet waar alles is.”
“Maak dan so, Marné. En as jy klaar is, loer by die kamer links van jou in. Dis Nicolette se kamer en Ilze sal nog by haar wees. Kom soek my maar as ek met enigiets kan help,” sê Mathilda en trek die kamerdeur agter haar toe.
Marné loop stadig na die venster toe. Dit het ’n uitsig oor die eiland en ’n gedeelte van die meer. Die gras is uitsonderlik groen en net hier en daar speel die herfsblare wegkruipertjie in die bladwisselende bome. Sy kyk met honger, hoopvolle oë, maar sy kan nie Eiland-huis van haar kamervenster af sien nie. Voortaan sal Flaminke-huis haar tuiste wees, maar dis in Eiland-huis saam met Erik, tant Kobie en oom Lukas waar sy werklik tuis sal voel, besef sy. Sy draai onwillig weg van die venster om haar klere uit te pak.
Vincent bly verwonderd staan toe Renate op ’n stoel met ’n regop rugleuning plaasneem. “Gaan Ouma nie in die bed klim nie? Die ooreising om die trap op en af te klim, kan nadelig vir Ouma se hart wees,” sê hy besorg.
“Dan beskik jy nou oor besondere kennis van die toestand van my hart, Vincent?” vra sy honend. Sy sien hom bloos en lag ’n skraal, uitgedroogde laggie. “Ek gaan jou nie bly maak en sê ek is ’n hartlyer nie; inteendeel, dokter Van Aswegen sê as ’n bus my nie omry nie, word ek lag-lag honderd jaar oud. Maar dis nie waarom ek jou gevra het om hierheen te kom nie.”
“Ouma wou oor Marné praat?” Hy glimlag. “Sy is ’n gebore prinses, Ouma! As ek kon, het ek môre met haar getrou. Ek is wraggies die gelukkigste man wat ek ken. My bruid is nie net skatryk nie, maar boonop beeldskoon! Dankie dat Ouma haar vir my gekies het.”
Sy betrag hom met openlike jammerte. “Soms, Vincent, wonder ek wie is die domste: jy of Nicolette.”
“Waarom beledig Ouma my?” vra hy gekrenk. “Wat het ek nou weer verkeerd gesê?”
“Jy is ’n man van sewe en twintig, maar jy is so naïef soos die ongelukkige Nicolette. En noudat ek daaraan dink – jy sal nooit slim wees nie, want die enigste ding waaroor jy intelligent kan praat, is melkkoeie en suiwelboerdery.”
“Wat het dit met my huwelik met Marné te doen?” vra hy stug.
“Alles! Ek het gesorg dat Marné hierheen kom, maar dit gaan van jou afhang of sy jou bruid gaan word of nie. Gelukkig beskik jy oor genoeg sjarme. Maak die meisie die hof en gedra jou te alle tye soos ’n ware heer. Ek het Annie Hofmeyr goed geken in my jeug. Ek glo sy het Marné streng grootgemaak, daarom moet jy die dogter uiters versigtig benader.”
“Goeiste, Ouma, ek ken meisies. Ek gaan Marné nie probeer dwing om met my te trou nie. Ek hoop net sy het genoeg vrye tyd om saam met my uit te gaan.”
“Ek het klaar daaroor besluit: Marné sal net tot middagete na Nicolette omsien en daarna sal sy vry wees om te doen wat sy wil. Met haar middae en aande vry, sal jy hope tyd tot jou beskikking hê om haar die eiland en die dorp te wys en haar beter te leer ken.”
Vincent glimlag stralend. “Ouma is ’n ster! Ek sal –”
“Ek het nog nie klaar gepraat nie, Vincent,” wys Renate hom tereg. “Wat ek jou oor Marné se erfenis vertel het, bly tussen ons. Jy mag onder geen omstandighede toelaat dat Marné agterkom dat jy bewus is van haar erfenis nie. En dan is daar jou praatsieke ma. Sy het reeds openlik gewys dat sy Marné as ’n indringer beskou. Nie sy of Ilze – of selfs Mathilda – mag weet wat ek en jy vroeër bespreek het nie. Is dit duidelik?”
“Ja, Ouma, maar my ma sal die wêreld warm maak vir Marné as sy glo sy is ’n fortuinsoekster wat hoop om ter wille van Flaminke-eiland met my te trou,” maak hy kapsie.
“Laat jou besitlike ma aan my oor. Sy sal dit nie waag om my bevele te verontagsaam nie.” Renate wys na die deur. “Nou wil ek alleen gelaat word. Sorg jy net dat jy my nie teleurstel nie.”
“Ek sal nie, Ouma.” Vincent maak die kamerdeur agter hom toe en glimlag ingenome. Selfs al het Marné Jordaan nie ’n sent op haar naam gehad nie, sou hy oor sy voete geval het om haar die hof te maak. Daar is genoeg mooi gesiggies op Twiswaters, maar tussen hulle lyk Marné soos ’n skitterende diamant tussen ’n klomp gruis. Dis jammer dat hy Erik de Ridder gevra het om haar in Johannesburg te gaan haal; hy kon sy ma se motor geleen het. Aan die ander kant: Marné sal nooit so ’n buffelagtige vent soos Erik de Ridder bo hom verkies nie – daaroor het hy nie die minste twyfel nie.
Marné klop aan Nicolette se kamerdeur, wag ’n paar oomblikke en klop harder. Links van haar gaan ’n deur oop en ’n meisie verskyn. Die meisie hou haar wysvinger waarskuwend voor haar mond, trek die deur agter haar dig en stap na Marné toe.
Dit kan net Ilze wees, dink Marné, want sy is beslis ouer as sestien. Ilze het ’n vol figuur en is korter as sy. Sy het rooiblonde hare en haar gesig is besaai met bruinrooi sproete. Sy kyk in Ilze sy vyandige, groot, groen oë en glimlag aarselend.
Ilze bly voor haar staan met ’n diep frons tussen haar wenkbroue en vra nydig: “Is dit nou werklik nodig dat sy so mooi moet wees? Maar ek kon dit seker verwag het. As jy arm is, is jy gewoonlik mooi. Waarom is ek nie in ’n agterbuurt gebore nie? Ek sal my vrekkerige, ryk ouma sonder om te huiwer vir ’n mooi gesig verruil.” Sy merk die verwarring op Marné se gesig en lag spontaan. “Ek is jammer, maar ek voel nou heelwat beter.” Sy steek haar hand uit na Marné. “Ilze Brandenberg. Hallo, Marné, en welkom in hierdie koue ou kasarm.”
“Hallo, Ilze,” groet Marné, wat nog nie seker is of Ilze ’n vriend of ’n vyand is nie. “Hoekom dink jy jy is lelik?”
Ilze beduie met haar wysvinger na haar gesig. “Sproete. My ma het my vertel haar pa het soos ’n kalkoeneier gelyk. Daarby is my neus te spits en my mond te groot. En ek sukkel met my gewig, maar dis pure frustrasie wat my deurentyd honger maak.”
“En ék is te maer en my hare is te wit en ek wens ek was so kort soos jy,” sê Marné net gedwonge erns, maar haar oë vonkellag in dié van Ilze. “Is ’n mens ooit tevrede met jou voorkoms?”
“Jy kla met ’n witbrood onder jou arm, mens.” Sy sug diep en vra nuuskierig: “Gaan jy ’n salaris kry om Nicolette te versorg?”