antwoord hy beslis.
“Waarom nie, oom? Dis seker nie nodig om geheimsinnig te wees nie,” sê Marné verwonderd. “Ek weet mos nou tant Annie ken die Brandenbergs.”
“Het jy nie gesê jou tante het nooit oor Sebastiaan gepraat nie, ounooi?” vra Lukas en kyk haar deurdringend aan.
Marné voel haar wange tintel en weet dat sy bloos. “Wel … Nee, sy het nie, oom. Sy het dikwels oor haar ouers gepraat, maar sy het nooit te veel oor Twiswaters te sê gehad nie.”
“Omdat hier nooit veel gebeur nie,” sê Kobie en staan op. “Wie wil nog pannekoek hê?”
“Ses was genoeg vir my, dankie, Ouma,” sê Erik en kyk na die kombuisvenster. “Die reën het opgehou. Wat van nog ’n koppie koffie? Daarna sal ek jou na die Brandenbergs toe neem, Marné.”
“Moet ek regtig gaan?” vra Marné impulsief. Onmiddellik daarna voel sy soos ’n yslike gek, maar sy voel beter toe sy die warmte in Kobie en Lukas se oë sien. “Tannie het nie dalk ’n skottelgoedwasser nodig nie? Ek is lief vir tuinwerk ook!” vervolg sy skertsend.
“As die keuse myne was …” Kobie swyg en kyk vraend na Erik.
“Nicolette het jou nodig, Marné, maar jy sal gou agterkom sy kuier graag hier,” sê hy en staan op.
“Jy sal altyd meer as welkom wees om te kom inloer, liefie. Maak die Brandenbergs jou vies of behandel hulle jou nie na wense nie, kom jy reguit hierheen,” sê Kobie beslis.
“Drink nog ’n koppie koffie …” begin Lukas, maar swyg verras toe die geklop van perdepote voor die agterdeur opklink. Hy stap haastig na die venster toe. “Ek kon dit verwag het! Die laventelhaantjie en sy rietperd is hier.”
Kobie beweeg na die agterdeur toe en maak dit oop. “Opskud, Vincent! Dis ’n koue wind en ek is nie lus vir kroep op my bors nie. Nee, wag, vee jou stewels behoorlik af voordat jy my skoon kombuisvloer vol modder trap. Toe-toe! Die wind sal my bors laat toetrek.”
Lank, donker en … en mooi, som Marné vir Vincent op toe hy in die agterdeur verskyn, en glimlag dan oor haar gedagte. Erik is aantreklik op ’n ruwe, manlike manier, maar Vincent is mooi met ’n skoonheid wat ’n mens nie by ’n man verwag nie. Sy merk die uitdrukking van verbasing op sy gesig toe hy na haar kyk en hou haar gelaat uitdrukkingloos. Sy kan raai wat die hovaardige vent dink: die diensmeisie is sowaar mooi! Wie weet, dalk vra hy vanaand aan sy spieël wie die mooiste is: hy of die behoeftige diensmeisie.
“Juffrou Jordaan! Dis ’n voorreg om jou te ontmoet,” sê Vincent hartlik en loop met sy hand uitgesteek op haar af. Sy ouma Renate is ’n ster, dink hy ingenome. Sy het nie net ’n skatryk bruid nie, maar ook ’n beeldskone een vir hom gekies.
“My hande is die ene stroop, want ons het pannekoek geëet,” sê Marné en hou haar arms langs haar sye. Sy maak haar oë wyd oop en vra onskuldig: “Is jy een van Erik se bouersvriende?”
Vincent se gesig vertrek minagtend. “Beslis nie! Ek is Vincent Brandenberg, die toekomstige eienaar van Flaminke-eiland.”
“En?” vra sy belangstellend.
Hy frons onbegrypend. “En wat?”
“En wat doen jy?”
Vincent huiwer en Erik verduidelik vroom: “Marné wil weet waarmee jy jou besig hou as jy die dag moeg word om te wag dat jou ouma doodgaan, Vincent.”
“Erik, nee,” sê Kobie betigtigend. “Ons het nie almal die gawes ontvang nie.” Sy draai na Marné toe. “Vincent is alte lief vir diere, Marné. Hy is ’n suiwelboer.”
“Bog!” kom dit ergerlik van Lukas. “As die knaap nie eens kan onthou om ouer mense te groet nie, hoe sal hy kan onthou om ’n koei te melk?”
Vincent ignoreer Lukas en kyk na Kobie. “Ek is jammer as ek my maniere vergeet het, tant Kobie, maar ek het daarna uitgesien om juffrou Jordaan te ontmoet.” Hy draai na Erik toe. “Ek waardeer jou ouma se gasvryheid, Erik, maar dit was jou plig om juffrou Jordaan onmiddellik na Flaminke-huis toe te bring.”
“Jy is ’n mooi een om van plig te praat, Vincent,” sê Erik spottend. “Dit was nie my plig om Marné in Johannesburg te gaan haal of haar na Flaminke-huis toe te neem nie, maar as jy ons sal verskoon, sal ek en sy nou daarheen ry.”
“Maar ek het haar kom haal!” protesteer Vincent.
“Hoe? Gaan jy haar tasse op jou perd laai en saam met haar agter die perd aan huis toe draf?” vra Erik treiterend.
“Natuurlik nie! Ek en sy kan stap, want ek is seker juffrou Jordaan sal graag meer van die eiland wil sien. As jy nie haar tasse wil bring nie, sal ek hulle later kom haal.”
“Dankie, meneer Brandenberg, maar ek sien nie kans vir ’n geploeter deur die modder nie,” sê Marné gelykmatig. Sy groet, bedank Kobie en Lukas en kyk afwagtend na Erik. “Sal ons ry, asseblief, Erik?”
“As jy heeltemal seker is jy wil nie my ouma se diensmeisie wees nie,” terg hy. Hy sien dat Vincent merkbaar verbleek en stap laggend saam met Marné uit die kombuis.
“Wat ’n liewe meisie,” sê Kobie goedkeurend. “Nicolette is ’n gelukkige dogter om Marné as ’n oppasster te kry.”
“Wat is Erik so eie met Marné, tant Kobie?” vra Vincent agterdogtig. “Het hy so gou van Laura Viljoen vergeet?”
“Gou? Jy praat van dinge wat agttien maande gelede gebeur het. Niks sal my gelukkiger maak as die moontlikheid dat Erik sal vergeet nie, maar …” Sy sug verwese. “Marné is ’n warm, spontane kind. Sy en Erik is klaar vriende, maar ek hoor nie huweliksklokke lui nie, Vincent.”
“Solank Erik onthou Marné is ons gas en nie ’n oorlas van hom maak nie,” sê hy ergerlik.
“Wat praat jy nou, knaap?” vra Lukas onthuts. “Ek was tog by toe jy Erik gevra het om julle nuwe diensmeisie in Johannesburg te gaan haal. Wat is Marné nou? ’n Gas of ’n diensmeisie?”
’n Donker blos van verleentheid kruip oor Vincent se nek en gesig. “Dit was ’n blote misverstand. My ouma ken Marné se mense, daarom beskou ons haar meer as ’n gas en ’n vriendin as iemand wat in ons diens is.” Hy beweeg weg na die agterdeur toe. “Tot siens, oom … tannie. Ek wil graag daar wees om Marné te verwelkom.”
“Tot siens, Vincent,” groet Kobie en staar Lukas in stilte aan toe hy uit is. “Daar is êrens ’n slang in die gras, Lukas,” tob sy.
“Daar is, vrou, en haar naam is Renate,” beaam hy en skud sy kop gekwel.
Mathilda Fourie staan langs Marné in die voordeur van Flaminke-huis en wuif vir Erik toe hy met sy bakkie vertrek. Hulle gaan die ontvangsportaal binne. Mathilda maak die voordeur toe, plaas haar hande op haar heupe en betrag Marné van kop tot tone.
“Ag, ek kan sommer sien jy het ’n liewe hartjie, Marné, want in hierdie huis leer ’n mens om selfs die skelmste ou duiwel uit te ken. Haai, foei, kind, jy bibber van die koue. Wag, ek gryp jou tasse en neem jou na die lila gastekamer toe.” Mathilda wikkel haar neus ergerlik. “Verbeel jou: lila! Klink soos iemand se naam, en al die tyd is dit ’n doodgewone, pienkerige pers.”
“Ek sal my tasse dra, tannie,” sê Marné skuldig.
Mathilda glimlag tergend. “Dink jy ek lyk ’n bietjie oud en afgeleef, hartjie? Moenie dat my plooie en grys hare jou mislei nie. Dis nie vet hierdie nie, dis die ene spiere!”
“Sê net as ek moet help, tannie.” Marné kyk belangstellend om haar rond. “Wanneer kan ek Nicolette ontmoet?”
“Sommer nou-nou,” antwoord Mathilda terwyl hulle met die trap opstap. “Ou Renate kruip in haar troonkamer weg en die pieperige Rentia het met ’n watersak in die bed gekruip omdat drie druppels reën op haar kop geval het. Die liewe Ilze hou Nicolette geselskap. Ilze kan buierig wees, maar nou ja, sy het haar redes. A, hier is ons nou! Dis ’n lekker warm kamer,