Renate soek ’n ryk bruid vir haar kleinseun. Jy gaan nie dalk ryk erf nie?” vra hy agterdogtig.
Sal hy nog haar vriend wees as hy weet van haar erfenis? wonder Marné en besluit om nie die kans te waag nie. Sy glimlag gedwonge. “Dalk, as ek my vroom gedra, laat my tant Annie my eendag iets erf. Bygesê, as ek haar oorleef,” antwoord sy speels.
Hy kyk haar in stilte aan en stap met die stoeptrap op na die voordeur van Eiland-huis. “Stap binne. Ons het die sitkamer vir oom Sebastiaan ingerig, want dis die warmste vertrek in die huis.”
Die man op die hoë hospitaalbed is maer en uitgeteer en sy vel is byna deursigtig, maar sy merk die helder lig in sy donker oë toe hy haar gewaar.
“Annie! Annie, is dit werklik jy?” vra hy skor en probeer orent kom.
8
Erik tree vinnig nader en help Sebastiaan met onverwagte teerheid om teen die kussings terug te leun. “Dis Marné Jordaan, oom. Tant Annie is haar voog. Sy is Nico Hofmeyr se kleindogter. Sy versorg mos nou vir Nicolette. Onthou oom nou?” vra hy paaiend.
Marné sluk ’n paar keer aan die pynknop in haar keel en trane van medelye brand agter haar ooglede. Waarom is die ouderdom so sonder genade? vra sy haar met ’n gevoel van opstand en hartseer af. Die man op die foto in Nicolette se album was aantreklik met ’n selfversekerde voorkoms, maar die uitgeteerde man in die bed is reeds vriende met die wagtende dood. Pyn en verwarring het die lig van opwinding in sy donker oë geblus en hy staar haar met die waterige, dowwe oë van ’n oumens aan. Sy hare is sneeuwit, sy gesig is ingevalle en daar is iets hopeloos in die weerlose trek om sy mond.
Sy tree nader aan sy bed en neem sy kneukelrige, kragtelose regterhand in albei van hare. “Bly te kenne, oom Sebastiaan. Ek lyk glo soos my tant Annie, daarom het oom my met haar verwar.”
“Ja … ja …” prewel hy, maar sy oë sien haar nie raak nie. “Annie met die maanlighare en die koringblomblou oë … Maanskyn en blomme … Niemand was mooier as die jong Annie Hofmeyr nie.”
“Tant Annie kuier by ’n vriendin in die Kaap, maar ek kan haar vra om te kom kuier as oom haar graag weer wil sien,” stel Marné onseker voor en kyk vraend na Erik. Hy knik.
“Nee … nee … daar is nie genoeg tyd nie.” Asof die besef hom nuwe krag gee, rig hy ’n deurdringende blik op haar. “Het Annie jou grootgemaak?”
“Ja, oom. My ma is kort ná my geboorte dood en tant Annie het my voog geword.”
Hy knik. “Ek onthou, ja. Ek en my oorlede vrou was by jou doopplegtigheid. Het Annie jou vertel?”
Durf sy hom sê dat Annie nooit melding van hom gemaak het nie? Sy wil hom nie seermaak nie, maar sy sal soos ’n skurk voel om vir ’n sterwende man te jok.
Sy druk sy hand sag. “Nee, oom. Ek was onbewus van oom se bestaan totdat ek hierheen gekom het. Tant Annie het nooit eens oor tant Renate of enige van die ander Brandenbergs gepraat voordat sy my vertel het van tant Renate se versoek dat ek Nicolette se oppasster word nie,” vertel sy onwillig, bekommerd oor die uitwerking van haar woorde op hom.
Hy knik, ’n tevrede glimlaggie om sy lippe. “Ek het dit verwag. Annie het nie ’n stamboek nodig gehad om haar een van die adel te maak nie. Sy is ’n gebore dame. Gaan dit goed met haar? Is sy gesond?”
“Dalk té gesond, want soms het sy selfs te veel energie vir my,” antwoord Marné glimlaggend.
“En jy help vir Nicolette?”
“Ja, oom.”
“Maar hoef jy te werk, Marné? Kan Annie jou nie finansieel help nie?” vra hy dringend.
Sy lag. “Nie my tant Annie nie, oom Sebastiaan. Sy glo dat arbeid edel is. Sy het haar lewe lank onderwys gegee. Tant Annie glo ’n mens moet die waarde van geld ken. Sy wil nie hê ek moet as ek eendag iets erf, dit verkwis nie.”
“Sy was altyd ’n verstandige vrou,” sê hy goedkeurend. “Sy het op jou doopdag gesê –”
“Ek onthou nou!” onderbreek Marné hom opgewonde en bloos dan verleë. “Ek is jammer ek het oom in die rede geval, maar ek wonder sedert my aankoms hier waar ek oom se naam gehoor het. Nicolette het vir my ’n foto van oom gewys wat so bekend gelyk het, maar ek kon oom nie eien nie. Ek het nou eers onthou: tant Annie het ’n foto van oom, met my op oom se skoot, in een van haar ou fotoalbums. Ons het jare gelede deur die album geblaai. Sy moes my vertel het op wie se skoot ek op die foto sit, maar ek het weer vergeet.”
“Maar Annie het nie geweet nie …” Hy sluit sy oë. Daar is ’n glimlag op sy gelaat en sy asemhaling word langsamerhand rustig.
Marné kyk vraend na Erik en hy knik. Sy neem haar hande weg van oom Sebastiaan se hand, buk impulsief nader en soen hom op die voorkop. Hy maak sy oë oop en daar is ’n glans van geluk in sy oë voordat hy hulle weer sluit. “Tot siens … Annie,” prewel hy en sink onmiddellik weg in die newelwêreld van slaap.
“Moenie huil nie, Marné,” sê Erik gedemp toe hulle die gang binnegaan en hou sy sakdoek na haar uit. “Sy einde sal ’n verlossing wees, want sy lyding was lank. Ek is net dankbaar jy kon hom besoek, want hy het lanklaas so baie gesels.”
“Dalk het ek hom onnodig uitgeput,” sê sy skuldig. Sy druk haar trane droog voordat sy die sakdoek teruggee.
“Dis belangriker dat ons sy laaste dae gelukkig maak. Hy het so gretig uitgesien na jou kuiertjie en noudat jy hier was … Hy lyk gelukkig. Ek glo hy sal die dood nou makliker tegemoet gaan.”
“Verwag jy dat hy binnekort sal sterf?” vra sy ontsteld.
Sy uitdrukking is stroef, maar sy oë verraai die pyn. “Ek kan hom nie terughou nie, Marné. Oom Sebastiaan is oud genoeg om my oupa te wees, maar hy was meer soos ’n pa vir my. Ek sal altyd dankbaar wees oor sy vrygewigheid teenoor my oupa en ouma.” Hy glimlag gedwonge. “My ouma sien uit na jou kuiertjie. Kom ons stap kombuis toe. Julle kan kuier terwyl ek die bouers gaan betaal.”
“Hoe kom jy en Erik oor die weg, Marné?” vra Kobie reguit toe hulle oor Erik begin gesels.
“Erik is altyd vriendelik en bedagsaam teenoor my, tant Kobie, maar hy lyk dikwels stroef en in homself gekeer. Soms voel ek soos ’n oorlas in sy teenwoordigheid.”
“Laura … Laura Viljoen,” sê Kobie sag, mymerend. “As hy net kan leer om die verlede te begrawe en voortgaan met sy eie lewe.”
“Het hy haar nog altyd lief, tannie?”
Sy sug en skud haar kop. “Ek sal nie weet nie, Marné. Jy sê self Erik is in homself gekeer. Hy praat nie oor die dinge wat in sy binneste aangaan nie.”
“Was … was Laura baie mooi?” vra Marné en hoop vurig dat sy nie die hinderlike prikkie van jaloesie in haar binneste aan Kobie verraai nie.
“Mooi?” Kobie pers haar lippe hard saam, haar uitdrukking afkeurend. “O, sy was seker mooi. Beeldskoon, het die mense gesê, maar skoonheid is soms veldiep.”
“Was sy blond of donker?”
“Donker. Sy het raafswart hare en pragtige, donkerbruin oë gehad. Ek dink sy het te maklik geglimlag, maar die mans het gedink haar glimlag is verleidelik. Sy was lank en pragtig gebou met ’n vol figuur, maar nie vet nie. Selfs die orige Lukas het hom aan haar vergaap,” vertel Kobie vies.
“Het sy dikwels hier kom kuier?” vra Marné en voel skielik soos ’n indringer in die gesellige kombuis. Wie weet, dalk het Laura op hierdie selfde stoel gesit, dink sy, en sy kriewel ongemaklik rond.
“O, sy was ’n paar maal hier, maar dan moes ek haar in die sitkamer onthaal en my beste teeservies gebruik. Erik het my duidelik laat verstaan die wonderlike Laura was ’n meisie uit ’n skatryk huis, en boonop ’n stadsmeisie. Sy het nooit in Eiland-huis oornag nie, seker omdat ons te eenvoudig vir haar was. Sy het in die hotel op die dorp tuisgegaan en dan het Erik haar daar besoek. En glo my, hartjie,