Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 8


Скачать книгу

Laura Viljoen nie! Sy kon Vincent se tweelingsuster gewees het, want sy het haar neus opgetrek vir ’n eenvoudige ou tannie soos ek wat maar net ’n doodgewone huisvrou is. Na Lukas wou sy nie eens kyk nie. Die goeie Lukas … Reken, Marné, hy was ’n voorman in Sebastiaan se staalfabriek toe ’n yslike staalstaaf deur die onverskilligheid van twee nuwe werkers op hom geval en sy been verbrysel het. Hy kry ’n goeie pensioen, daarom is dit nie vir ons nodig om hier op Flaminke-eiland te woon nie. Maar hy het as ’t ware saam met Sebastiaan oud geword en Sebastiaan was bewus van Lukas se liefde vir die platteland. Toe Sebastiaan se vrou sterf … Hy wou ook wegkom uit die stad uit, daarom het hy na Flaminke-eiland toe gekom en ons saamgebring.”

      “Het hy toe al geweet hy het kanker, tannie?”

      “Ek dink so. Maar hy was toe nog bedrywig in die stad met al sy fabrieke en ander sakebelange, en soms het hy net naweke hier gekuier. Mettertyd het sy siekte erger geword en sowat vyf jaar gelede het hy Erik opgelei om hom met sy talle verpligtinge te help. Sebastiaan het bekwame en betroubare bestuurders, maar Erik is sy ore en oë,” vertel Kobie trots.

      “Hou Erik nie van Ilze Brandenberg nie?” gooi Marné ’n klip in die bos, gretig om die gesprek terug te bring na hom toe.

      “O, hulle groet oor en weer en gesels soms oor Nicolette, maar hulle is blote vriende soos wat jy en hy is. Ek sal so bitter graag my kleinseun gelukkig getroud wil sien voordat ek my oë finaal sluit, maar Laura wil hom nie met rus laat nie …” Haar blik rus pleitend op Marné. “As jy nou my kleinseun kan liefkry, Marné …”

      Marné voel verleentheid in vlamme op haar gesig uitslaan. “Wat sal dit my baat, tannie? Ek is nie Laura nie,” sê sy. Daar is ’n asemrigheid in haar stemtoon.

      “Erik sê nie veel nie, maar ek kry die indruk hy is besorg oor jou. Hy hou van jou geselskap, want hy soek nooit na ’n verskoning as ek hom vra om jou te gaan haal nie. Ek meen nou maar: as jy hom kan liefkry, vra hom om met jou te trou.”

      “Tant Kobie!” Sy staar Kobie verbaas aan en lag. “Hy sal al sy respek vir my verloor as ek so iets doen.”

      “Ek glo nie, hartjie. Dalk sien hy jou dan as vrou raak. Vra hom sommer elke dag totdat hy gewoond raak aan die gedagte. Ek meen nou maar: dis ’n desperate situasie en dit vereis ’n desperate oplossing, want ’n oujongkêrel …” Sy buig vertroulik nader. “Oujongkêrels word nooit oud nie, Marné. As hulle nie aan hartversaking beswyk nie, sterf hulle aan ondervoeding, want hulle eet verkeerd. Ek sê maar net.”

      “Ek wil nie Erik se dood op my gewete hê nie, tannie, daarom sal ek tannie se voorstel ernstig oorweeg,” antwoord Marné vroom en vonkellag in Kobie se oë.

      Vincent sien Rentia die Victoriaanse sitkamer binnekom. Hy vou sy arms, keer sy rug op haar en staar fronsend deur die venster.

      “Vincent? Asseblief, my seun, moenie my ignoreer nie. Ek moet ernstig met jou praat,” pleit sy.

      “Het Ma Marné al om verskoning gevra?” vra hy bruusk.

      Sy snak hard na haar asem. “Vincent! Verwag jy dat jou eie moeder haar moet verneder en ’n diensmeisie om verskoning vra?” vra sy gekrenk.

      Hy swaai om na haar toe, ’n uitdrukking van grimmige afkeur op sy gelaat. “As Marné ’n diensmeisie is, wat is Ma? Ouma Renate se stuurjonge en afhanklike? Dink daaraan, Ma! Ons hele spul is ouma Renate se gedienstige slawe, want ons is almal te bang om haar teen te gaan. Marné werk minstens vir ’n salaris, maar ons teer soos parasiete op ouma Renate. Ons is mense sonder trots!”

      “Maar ons is Brandenbergs, Vincent! Almal op Twiswaters weet ons hoef nie te werk nie, want jou ouma is fabelagtig ryk.”

      “En as ons wil werk? Ilze is intelligent, maar Ouma wou haar nie toelaat om ’n onderwyseres te word nie. O, my slinkse ouma het nie omgegee dat Ilze ’n nuttelose graad kry nie, maar toe sy besluit sy wil onderwys gee, was daar skielik nie geld vir verdere studie nie. En wat van my?” vra hy verbitterd.

      “Jy het nooit van studeer gehou nie, my seun, en –”

      “Ek het!” val hy haar kras in die rede. “O, ek besef maar te goed ek het net ’n gemiddelde intelligensie, maar as ek die studierigting kon volg waarin ek werklik belangstel, sou ek ’n sukses daarvan gemaak het. Ma het geweet dat ek ’n boer wil word, maar het Ma my ooit gehelp? Het Ma ooit probeer om ouma Renate te oorreed om my na ’n landbouskool of -kollege toe te stuur?”

      “Jou ouma sou nie na my geluister het nie.”

      “Ons het hope ryk vriende. As Ma my werklik wou help, sou Ma by hulle om hulp gaan aanklop het. Of Ma kon gaan werk het, al was dit in ’n kafee op die dorp. Glo my, ek sou elke sent met rente terugbetaal het as Ma net bereid was om die opoffering ter wille van my te maak.”

      Rentia staar hom verdwaas aan. “Jy weet nie wat jy sê nie, Vincent. Jou ouma sou my uit Flaminke-huis verdryf het as ek in ’n kafee gaan werk het. En om by my vriende geld te bedel … Ek is een van die Brandenbergs!”

      “Een van die ruggraatlose Brandenbergs. Weet Ma wat wens ek? Ek wens Ma het die durf gehad om in ’n kafee te gaan werk en ons kinders saam met Ma te neem. Miskien was ons dan ’n normale gesin; miskien het ons mekaar geken en liefgehad.”

      “Maar ons sou van armoede gekrepeer het!” protesteer Rentia ontsteld.

      “Arm maar trots. Ek verkies dit. Wat is ons nou? Ek moet soos ’n kleuter na Ouma toe draf as ek brandstof vir my motor nodig het. Wanneer laas het Ma ’n nuwe rok gekoop? Ouma besluit oor wat ons eet, wat ons aantrek, wat ons elke dag doen. Ouma besluit selfs wat ons mag dink of nie.”

      “Vincent, asseblief … wat het in jou gevaar? Jy het nog altyd ons leefwyse aanvaar. Ek weet jy was trots op die feit dat jy die kroonprins van Flaminke-eiland is. Waarom het jy nou skielik in opstand gekom?” vra Rentia verward.

      Hy byt hard op sy tande. Daar is ’n kwaai trek om sy mond en sy besef met ’n skok dat hy man geword het. Sy voel vrees in haar binneste oprank: het Vincent ’n meisie liefgekry?

      “Ek sal bitter graag met Marné wil trou, maar wat kan ek haar bied?” antwoord hy asof hy haar gedagtes gelees het.

      “Vincent, nee! Jy kan nie met ’n diensmeisie –”

      “Dis genoeg, Ma! Marné is ’n arbeidsterapeut, nie ’n ongeletterde meisie wat êrens uit ’n agterbuurt gekruip het nie,” val hy haar driftig in die rede.

      Sy staar hom ongelowig aan. “As dit waar is, waarom is sy Nicolette se oppasster?”

      “Sy het gesukkel om werk te kry, maar in plaas van om op haar tante te teer, het sy die werk as kinderoppasster aanvaar. En wat van haar klere, Ma? Trek sy soos ’n behoeftige diensmeisie aan?”

      “Wel … seker nie. Maar dis nie vir jou nodig om met ’n meisie uit die arbeidersklas te trou nie, Vincent. ’n Skatryk erfgenaam soos jy kan kus en keur. Of wil jy met haar trou om my te verkleineer? Jou ouma is net so gretig dat jy met die meisiemens trou. Is dit julle manier om my te verneder?” vra Rentia gegrief.

      “Genugtig, Ma, is Ma nie die dogter van ’n plaasbestuurder nie? As Ma genoeg was vir my pa, waarom is Marné nie goed genoeg om my bruid te wees nie?”

      “Omdat ek nie kan glo dat jy Marné Jordaan liefhet nie. Jy dans net weer na ou Renate se pype, want sy het my verseker dat jy met die meisiemens gaan trou. Toe, erken dit, Vincent. Jy en ou Renate konkel saam om my te verkleineer.”

      Hy staar haar in stilte aan en sug moeg. “Nee, Ma. Ek het Marné lief en ek is bereid om met haar te trou. Die vraag is: sal sy my ooit liefkry?”

      “Die arme dingetjie sal oor haar voete val om jou bruid te word en jy weet dit! Trou dan met haar as jy so graag wil, Vincent, maar ek waarsku jou: ek sal haar nooit as my skoondogter aanvaar nie,” krys Rentia. Haar stem tril van magtelose woede. Sy ruk haar om en storm by die deur uit.

      As Marné inwillig om met hom te trou, skud hy die stof van Flaminke-eiland vir goed van sy voete af, dink Vincent terwyl hy deur