en moes gewees het. Dis sulke tye wat sy dink dit sal beter voel as sy vir Makkie ’n besoekie bring.
Maar die liewe Makkie tog. ’n Perfekte herhaling van die geskiedenis. En Ossie is nie ’n Klaas Ligthart, wat sy vrou kon optrek nie. Kyk nou maar die kinders. Daar is Malie, skielik getroud en dit nogal in ’n yslike wit rok wat haar boepie wys. Boet deug vir niks anders as tweedehandse motors en olierige motorfietse nie. Sover sy weet, werk hy darem. Die twee jongstes toon ook nie veel belofte nie. Berrie is Ossie vanself wat net in ’n kleiner vormpie ingedruk is, en Ria is klaar vryerig, ook nie te fluks by die skool of by die huis nie. So hoor Corlia maar vir Makkie kla.
Elna is die enigste een in wie daar veel steek. Daar was ’n tyd, hier rondom veertien, vyftien jaar, dat die meisiekind nogal probeer netjies hou het in die huis, en in die kombuis reseppies beproef het wat sy juis van Corlia gekry het. Maar of sy sedertdien moed verloor het en of dit maar net ’n tienergier was, weet jy nie.
Om eerlik teenoor haarself te wees, onthou Corlia dat daar ’n tyd was toe sy dit sterk oorweeg het om te vra of sy Elna nie by haar kan vat nie. Self, so het dit vir haar duidelik geword, sal sy nooit vir Christopher ’n sussie kan gee nie. En sy het saans wakker gelê en in haar verbeelding gesien hoe sy die bruinoogdogtertjie van kop tot toon aantrek, hoe sy die haartjies versorg, haar leer hoe om die beste van haarself te maak. Haar later laat studeer, alles soos wat hulle dit vir Christopher sou doen.
Gelukkig het sy besin voor sy dit nog met Klaas bespreek het. Twee faktore het haar weerhou; eerstens die toeloop wat so ’n reëling aan die Osman-familie sou bied, en tweedens Christopher self. Hy was te jonk om ’n sê in so ’n saak te hê. Gestel hy verwyt hulle later dat hulle ’n onnatuurlike gesinsituasie geskep het?
Soms deins sy self terug vir die donker stilte wat haar seun omhul sedert hy volwasse geword het. So onleesbaar. Wat dink hy? wonder sy soms met iets soos paniek. Waarom wil hy tog nooit van hart tot hart gesels of sommer net skerts nie? Met Klaas gesels hy nog soms, maar dis of hy hom terugtrek wanneer sy die biblioteek binnekom. Het Makkie hom dalk op ’n dag voorgekeer en vertel hoe armoedig hulle grootgeword het? Of verwyt hy haar omdat sy haar, en dus vir hom ook, so van haar bloedfamilie afskei? Of is dit doodgewoon die mediese studie wat hom vroeg sinies en somber maak? Om kadawers te dissekteer gaan tog seker nie in sy klere sit nie.
Goed, sy sou vir Elna kon vat en na haar hand grootmaak, en waarskynlik sou dit Christopher kon help om die gemis aan ander kinders uit te skakel. Dis vir ’n enigste kind moeilik om die natuurlike storms in die lewe te verwerk as hy sonder konflik grootword. Broers en susters slyp mekaar. Die rede waarom Corlia ten slotte teen die stap besluit het, was dat Christopher en Elna, om dit eenvoudig te stel, later jare op mekaar verlief sou kon raak. Sy, Corlia, sou hom op die familieskap kon wys. Maar wie sê hy sou hom daaraan steur? Agterna gesien, besef Corlia dat sy naïef was. Wie sê Makkie en Ossie sou die kind afgee? Of, erger nog, sê nou hulle het haar probeer verkoop?
Toe, een aand, ’n paar maande terug, gebeur dit dat Christopher saam met sy ma na die Osmans toe is. Sy klein motor was vir diens by die motorhawe en Corlia sou hom met die teruggaan by ’n klas aflaai. Hulle het pas in die sitkamer aangekom en plaasgeneem, toe Elna van die kombuis se kant af deurkom om te groet. Sy was egter nie alleen nie. Daar was ’n man by haar, ene Ponter glo; nie onaardig van voorkoms nie en beleef genoeg, maar die feit dat hy lewenslank bloot in ’n werkersklas sou val, was oor sy ganse wese gestempel. Oomblikke lank, terwyl hy aan Christopher voorgestel word, het die twee jong mans teenoor mekaar gestaan. Corlia is aangegryp deur ’n vreemde patos. Teenoor haar seun se vanselfsprekende verfyning was die ander man se manierlikheid effe lomp. Tog was daar iets, iets in die atmosfeer wat Corlia bygebly het. Sy onthou die hondse aanbidding in sy blik toe hy na Elna kyk, en die ligte aanraak teen haar rug van sy werkershand met die growwe naels en bultende are.
Maar iets anders bly vir Corlia Ligthart uit daardie versteende oomblik by. Dit was iets wat sy aangevoel eerder as waargeneem het. Dit was ’n stroom, ’n onderstroom wat asof vanself ontspring het. Christopher? Was dit haar seun? Lank het Corlia daardie nag wakker gelê en gewonder. Dalk het Christopher maar net ’n erotiese gevoelentjie ondervind. Elna het ’n frilletjiesbloes aangehad met smallerige bandjies oor die skouers. Dit was hoogsomer, want op pad terug het Corlia kanferfoelie deur die oop motorvenster geruik en gewonder of haar seun dit ook gewaarword, en of hy nog dink aan die meisie se vel wat sonbruin en soepel onder die dun materiaal was.
En die hand, daardie besitlike, begerige, spiervaste hand van Ponter teen haar rug, was onbewus suggestief. Het dit vir Christopher opgehits?
Hoe ook al, Corlia was sedertdien uiters versigtig. Vir Christopher het sy nie sommer weer saamgevat nie. Toe vertel hy haar onlangs ongeërg dat hy vir Elna ook gesien het by die gesamentlike byeenkoms van die Ring se jongmense. Phoebe het hom soontoe saamgesleep.
Wat Corlia Ligthart vanaand gedoen het, het sy uit die moed van haar oortuiging gedoen. Dis waar wat sy vir Makkie gesê het, Christopher het maar onlangs begin uitgaan met Phoebe van Duifhuis, en min dinge in haar seun se ontwikkeling kon vir Corlia meer genoeë gee. Dit was die bekroning op die jare lange vriendskap van haar en Klaas met die Van Duifhuise. Was sy ’n Fariseër om met Makkie hieroor te gaan praat? O, sy is so moeg van hierdie ewige stryd in haar binneste. Maar stel jou net voor: die pragtige Elna loop op Christopher toe en soen hom. Wat moet Phoebe dink? En al stel hy daarna vir Elna voor as sy niggie, eerste indrukke kan so blywend wees.
Hoe Makkie nou ook al haar suster se versoek aan Elna sal oordra (en ontaktvol sal dit wel wees), dit moes eenvoudig gedoen word. Sy is jammer vir die pyn wat dit Elna kan aandoen, maar sy beroep haar op die meisie se begrip vir omstandighede. Liewer die wig te vroeg indryf, as te laat. ’n Erger gedagte nog is dat Elna die domastrante Berrie en die vryerige Ria – of erger nog, die torrerige Boet – kan saambring en hulle pyl op Christopher af. Dit kan die einde van die brose, onryp verbintenis tussen hom en Phoebe wees.
Dis geen geheim nie dat Van Duifhuis wil probeer om vroeg af te tree om gesondheidsredes. Ook dat daar net een logiese opvolger vir hom as dekaan van die fakulteit is, en dis Klaas. Die hele situasie kan net baat by ’n stabiele verhouding tussen Phoebe en Christopher. Dis so logies. So verrykend na albei kante toe.
Dis nie dat ek ontaktvol wou wees nie, dink Corlia in die groeiende skemer. Dis net dat ek veel het om te onthou, en veel om te vergeet. En die twee, vergeet en onthou, stry teen mekaar met ’n siedende krag wat hom laat voel in elke faset van Corlia Ligthart se bestaan. Soms kom daar so ’n namelose verlange in haar op na die vervloë dae van swaarkry en versmading, dat sy inderhaas in die motor klim en na haar suster toe ry. Sulke tye besef sy helder: waar jy die swaarste gekry het, daar lê jou grootste verbondenheid.
Dikwels word sy deur haar herinneringe byna lyflik teruggeplaas in haar meisiejare, toe kêrels haar begin raaksien en uitneem het, en sy allerlei plannetjies bedink het om hulle weg te hou van haar ouerhuis. Sy sou byvoorbeeld by ’n buurhuis wag om opgelaai te word, asof dit háár huis is. En tuisbesoeke het sy ontmoedig. Toe Corlia in Pretoria begin werk en vir Klaas ontmoet, het sy nagelaat om hom na haar ouerhuis in ’n swak deel van Johannesburg te nooi: haar pa en ma was reeds dood en begrawe. Maar sy weet nou, dit sou geen verskil aan Klaas gemaak het nie.
Klaas het iets van haar gemaak. Toe hy eers ’n pos as junior dosent by die universiteit gehad het, was daar finansiële voordeel sodat sy vir ’n graadkursus kon inskryf. Briljant was sy nie, maar slim genoeg, en sy het hard gewerk en sukses behaal. ’n Beskeie pos by die universiteit gekry. Haar lewe het op vaster spore begin loop. Die gesukkel om ’n baba te behou, totdat Christopher gekom het. Sy het opgehou werk om al haar aandag aan sy grootmaak en opvoeding te wy.
Klaas weet dat sy moeilik grootgeword het, maar hy weet nie alles nie. Helder onthou sy haar skoolklere; die wye, smaaklose, uitgediende rokke, die tuisgemaakte onderklere met haar ma se stempel van onhandigheid in elke naat en lyn. Haar pa was ’n volslae alkoholis en die ergste is dat haar ma, eintlik ’n oulike vrou, saam begin drink het. Met tye het hulle hulle reggeruk, en het dit goed gegaan … tot hulle maar weer in die verslawing verval. Haar pa was ’n goeie elektrisiën en die tye wat hy nugter was, het hy werk gehad en het hulle ’n gawe gesinslewe gedeel. Andersins was daar bestaansnood, hoe later hoe erger. Later maatskaplike hulp. Meestal ook woningnood, sodat hulle ’n tyd lank in