ons stap net daarvan af. Dis sommer ’n meningsverskil. En ‘there is a point at which there is no point’, soos ’n slim skrywer gesê het.”
“Ek is mos nie gewoond dat julle baklei nie,” sê Klaas. Hy trek ’n vuurhoutjie bo sy vars gestopte pyp, en die bekende swaelreuk dryf tussen hulle in. “Moet ’n verskil dan nou ’n geskil word?”
“Nee,” sê Corlia, en sy kom agter presies hoe groot Klaas se helende invloed oor haar is. Sonder hom, met ’n Ossie Osman aan haar sy, was sy maar niks meer as Makkie nie. “Nee, dit was eintlik nie so erg nie. Ek is jammer, Christopher.”
Hy knik sy eie skuld in haar rigting.
“Is dit ’n saak waaraan iets gedoen kan word?” vra Klaas. Sy pyp damp blou en warm en helend.
“Ja,” sê Christopher. “Daar is, maar ek sal dit doen.”
“Wat wil jy doen?” vra Corlia.
“Ma weet tog. Lapwerk probeer doen. Hoewel ek twyfel of ek iets kan heelmaak.”
“Waarvan praat jy?” vra Klaas Ligthart.
“Ma het vir Elna Osman verneder. Ek gaan om dit te probeer regstel.”
Hulle staan en kyk hoe hy sy leerbaadjie, reeds saf gedra, optel en aantrek. Die kraag staan regop om sy nek, en dit lyk ineens vir Corlia asof sy nek die afgelope oomblikke kragtiger geword het, asof daar ’n toestroming van stuwende bloed was.
Toe hy in die portaal uitstap, wil Corlia agter hom aan beweeg, maar sy voel Klaas se weerhoudende greep op haar arm.
Christopher gaan by die voordeur uit, en slegs ’n vlugtige koue windtog verraai dat hy wel hier was.
3
Die Osmans gebruik ’n dowwe tipe gloeilamp in die sitkamer. By iets soos ’n woonkamer het hulle nooit uitgekom nie. Enersyds benodig hulle nie sterker lig nie, want hulle is nie lesers nie, behalwe Elna, en sy lees in haar kamer. Andersyds was die gloeilamp maar altyd daar. Dit hou reeds ’n ewigheid. Wie sê ’n gloeilamp het ’n kort lewensduur? Hierdie een weet seker as hy blaas, gaan dit donker bly.
En sonder dat enigeen dit spesifiek agterkom, begunstig hierdie einste gloeilamp die sitkamer van die Osmans met ’n tikkie versagting, ’n smeerseltjie romantiek. Oupa en ouma Simons, grootouers van Makkie en Corlia, kry in die ovaal raam teen die muur ’n vrome piëteit in hulle gesigte wat selfs die derderangse portretmaker met sintetiese hulpmiddele nie daar kon inverf nie.
Die verslete plekke op die Chesterfield-rusbankstel raak onsigbaar, en ’n verwelkte glorie herleef in die blomme van die bekleedsel. Die vertoonkas vol snuisterye, Makkie se groot trots deur al die jare heen – hiervan kan menige kinderhandjie wat ’n klap gekry het, getuig – neem ’n eteriese kwaliteit aan. In die onseker lig kan die klaterige ornamentjies net sowel van dieselfde oorsprong wees as dié wat die Ligtharts met kundigheid en smaak op hulle ekonomiese oorsese reise aangekoop het.
Kyk byvoorbeeld daardie twee porseleingestaltetjies wat lyk of hulle ’n minuet dans, dink Christopher. Hy kan die musiek daarvan as ’t ware in sy ore hoor: die minuet in G van Beethoven, of die een uit Don Juan van Mozart, of selfs die minder bekende een van Boccherini. Die maatslae pols in sy kop. Hy jeuk om te stap na die ou serfyntjie in die hoek, die een wat sy ma so graag wou hê, maar wat logies tant Makkie se stukkie erfenis was. Ironies dat die lewelose artikels vir sy ma meer waarde as die besitters daarvan gehad het. Eintlik was daar slegs twee stukke wat as erfgoed bestempel kan word: die orreltjie, en die geelhoutkis wat sy ma wel in die portaal het.
Hy wonder of hierdie ding nog kan speel. Maar vra sal hy nie. Hy is geen virtuoos nie, maar het ver genoeg gevorder, danksy sy ma se pantoffel, om hom goed te kan help, hetsy met of sonder bladnote. Soos tuinmaak by sy pa, is musiek sy spesiale stokperdjie. Maar hier sal dit seker nie veel waardering uitlok nie. Tuis het sy ma nogal die gewoonte om soms na hom te kom sit en luister, met geslote oë en hande in die skoot gevou, wat hom altyd grootliks vlei omdat hy sy beperkinge ken. Of is sy net trots omdat sy hom suksesvol gedryf het in die kleinjare toe hy lui was vir oefen? Die gedagte aan sy ma vervul hom met skerp spyt. Hulle woordewisseling van flus lyk nou, van ’n afstand beskou, oordrewe en beskamend heftig.
Daarby sal hy Elna dalk nie eers te sien kry nie. Tant Makkie sê sy is saam met Boet en Johnny Ponter kafee toe, maar dit raak nou al ’n hele tydjie. Dus sit hy maar hier by die twee grootmense. Waar sou Berrie en Ria wees? Lê seker in die kamer, of by maats of op straat. Hy moet met sy ma saamstem dat Elna die enigste ster tussen die vyf is.
“Het oom Ossie-hulle al geëet? Moenie dat ek julle ophou nie.” Hy dink daaraan dat hulle tuis ook nog nie geëet het nie. Dis eintlik nog vroeg in die aand, skerp skemer nou eers. Maar hulle aandete is gewoonlik vroeg omdat daar meestal aandafsprake is.
“Nee wat,” sê Makkie, waaruit hy nie kan aflei of hulle wel nog moet eet nie. Sy is seker bang dat sy hom sal moet uitnooi om saam te eet. Met ’n soort verbasing dink hy daaraan dat hy nog nooit saam met hulle aan tafel was nie. Hulle het as familie eintlik nie veel aan mekaar nie.
Dan oormeester Makkie se nuuskierigheid haar. “Sustruisie was ook vanmiddag hier,” sê-vra sy.
“O …” Die kreunklankie is nie vraend of bevestigend nie. En so weet Makkie nog nie of hy weet nie.
“Ons het darem groot nuus, ou Chris,” kondig Ossie uiteindelik aan. Hy weet hy mag nie juis “Chris” sê nie, maar dit verskaf darem soveel gemeensaamheid. As alles volgens plan verloop, sal hy wat Ossie is binnekort ’n dokter ken vir wie hy “ou Chris” kan noem. Dit kan voorts die einde van al hulle siekteprobleme beteken. Chris sal tog nie vir sy eie familie rekeninge stuur nie. Dit lol om altyd by ’n staatsdokter uit te kom.
“Ossie, jy moet nou asseblief nie … ek weet nie eers verseker of …” gooi Makkie halfhartig wal.
“Sal jy nie weet nie? Sal ek nie weet nie? Ek vra jou nou, ou Chris, as ’n man vyf kleintjies gehad het, sal jy nou nie weet as die sesde op pad is nie? Sal jy nie ’n gedagte hê dat jy darem ’n doring is nie, h’m?” Ossie lag onderlangs, maar dis meer suggestief as wanneer hy sou skater. Dis of hy nie eers oor genoeg lewensdrif beskik om hartlik te kan lag nie, dink Christopher. Hy weet nie wat hy aan die man het nie. Hy is mal oor gewone, eenvoudige mense, maar dan met ’n bietjie oorspronklikheid van gees.
Oor die “groot nuus” kan hy niks meer as ’n skewe glimlagtrekkie geproduseer kry nie. Hy vind die gedagte selfs aanstootlik, en verag homself daarvoor. Terloops wonder hy of sy ma weet, en wat sy daaroor te sê sal hê. Hy bekyk Ossie Osman tersluiks: die verkalende kruin van sy ronde kop, sy stoppelbaard waarin hy skynbaar so tuis voel soos in ’n ou, vertroude kleed; die ontbrekende voortand, met die omringendes in ’n swak toestand. Christopher kyk na die pap maag, die gekreukelde werksbroek, en reken weer eens dat hy sy ma te hard beoordeel het.
“Ek sê, ou Chris, moet ’n man nie daarop drink nie?” dring Ossie aan.
“Hygend, Ossie, ’n mens sal sê ons is gewoond dronknes hou. Wat moet Christopher van ons dink?”
“Aag, Christopher? Hy’s Chris. En wat kan hy dink? As hy maar so baie gehad het om te wys soos ek. Of het jy dalk, hè, ou Chris?” Ossie pomp sy swygsame familielid in die ribbekas met sy elmboog. As hy wegstrompel kombuis toe, groot en lamlendig, bly Christopher hinderlik bewus van die aanraking in sy ribbes. Dit voel soos voos kolle.
Toe Ossie terugkom met ’n bottel soetwyn waarop ’n flambojante etiket pryk, berus Makkie sugtend en haal glase uit die buffet. Dis dik glase met ’n patroon op. Hy verbeel hom daar lê óú vuiligheid in die groewe. Die patetiese viering gryp hom op ’n vreemde manier tog aan die hart. Hy dink aan die drankkabinet tuis, en die glase na hulle soorte: vir rooiwyn, witwyn, sjerrie, likeur. Hy sien sy pa se oniksring in die lig van die staanlamp terwyl hy met geoefende slag skink, sien selfs die knappe draaiing van die bottel sodat geen druppel mors nie.
’n Verskeurdheid vat in hom pos. Het hy nie ’n rukkie terug aan sy ma gesê dat hy ’n basiese lewe verkies, wens dat hy snood grootgeword het nie?