druiwestok vermos het.
Hy weet hy moet sy tante gelukwens, maar die woorde wil om der dood nie na sy lippe styg, op sy tong vorm nie. Want hy voel geen geluk in sy hart nie. ’n Swaar depressie rem aan hom. Hy kom agter, terwyl hy die wyn doelloos in die glas skommel, dat hy onafgebroke op die stemme en voetstappe van die terugkerende jongmense wag.
Onlogies verwag hy Elna terug soos hy haar maande gelede gesien het: met somerbruin hals en arms onder die frilletjiesbloes. Natuurlik is dit nou winter. Hy vind dat hy hom eintlik geen voorstelling van haar kan maak soos sy vanaand moet lyk nie. Eintlik is sy vir hom merendeels ’n skim, ’n blote atmosfeer.
“Hoe lyk dit, jy is mos speelman,” por Ossie hom aan. “Speel dan vir ons ’n ietsie op die vrou se musiekie, ou Chris. Kragtie, ons vier mos.”
Wat hy netnou graag wou doen, lê nou laag in Christopher se gemoed. “Soos wat?” wen hy tyd.
“Hoe ry die boere,” stel Ossie kordaat voor.
“Ek ken dit nie uit die kop uit nie, oom.”
“O, dan speel jy seker daardie hoë soorte goete. Soos Elna. Tjeers.”
Christopher wonder of hy en Ossie dieselfde onder “hoë” musiek verstaan. Hy wonder of selfs hy en Elna dieselfde daaronder kan verstaan.
Dan hoor hy die stemme buite opklink. Elna s’n, rinkelend in die koue soos geslypte glas. Boet s’n is hoog en stuitig. Die laer dreun moet Ponter wees.
Hy het uit die aard van die saak min vir sy neef Boet te sê. Die afgelope tyd is hy taamlik bedaard, maar hy het sy ouers ’n lewe gely, soos wat Christopher van sy ma se vertellinge kon aflei. Hy loop met ’n staalpen in die been nadat hy van ’n gebou af gespring het om weg te kom van die polisie wat hom oor “kattekwaad” agternagesit het.
Dit, dan, is die familie wat sy ma nie graag voor Phoebe van Duifhuis wil presenteer nie. Durf hy haar verkwalik? Met ’n halwe gedagte onthou hy dat hy Phoebe moet gaan uitneem vanaand. So het hulle afgespreek. Maar die aand is nog jonk, noudat die donker in die wintertyd vroeg toesak. Hy sal verseker nog gaan.
Dan is die drie in die deur, en Christopher vind dit ineens nie moontlik om hulle ten volle aan te kyk nie. Dis asof hy namens hulle beskroomd voel. Dan ag jy jou tog hoër as hulle, beskuldig hy homself. Jy wil hulle beskerm teen jou reguit, ontledende blik.
“O, wat vier ons? “ vra Boet, maar dring nogal nie aan om saam te vier nie. Tot Christopher se verligting loop hy, nadat hy met die hand gegroet het, deur kombuis toe, waar spoedig die klank van eetgerei opklink. “Julle het nog nie geëet nie,” onthou hy skuldig, half bly om met ’n verskoning weg te mag kom, half spyt oor die onvermydelike mislukking van sy sending.
Op ’n manier is hy tog bly dat Elna ondersoekend na die glase met wyn kyk. Dit spreek daarvan dat hulle nie, soos Makkie sê, gewoond is aan “dronknes” nie. Hy bly nog staan nadat hy uit sy stoel verrys het toe hulle binnekom.
“Sit, jong, magtie,” beveel Ossie, wat die opstanery nie bra verstaan nie.
“Dankie, oom, daar is eintlik net iets wat ek met Elna wou bespreek.” Noudat hy die moed gehad het om die versoek te lug, voel hy mateloos verlig. ’n Oerinstink van manlike oorwinning woeker in sy gemoed as hy sien hoe Ponter se kop opruk. En wat sal hy tog kan doen as ek hom regtig die stryd om ’n meisie aansê? wonder Christopher en herken die tikkie arrogansie in homself.
Te blikkies, besluit hy dan. Dit sal tog gebeur dat ek my deur so ’n vent daarvan laat weerhou om met my niggie te praat.
Maar dis Elna wat sy planne verydel. “Ek kan nie dink,” sê sy, “dat ons geheime het nie.” En sy haak by Johnny Ponter in. Sy, ja, met die wit haarband hoog teen haar voorkop en haar kurwes verberg onder die wollerige roomgeel jassie, soek as ’t ware beskerming by die man, en vind daardeur die moed om haar neef direk aan te kyk.
“Dis … dis net ’n sakie,” sê laasgenoemde, wat steeds nog staan.
“Jou ma het dit al klaar bespreek,” sê sy. Haar oë hou hom gevange, groei in omvang en intensiteit totdat die twee bruin vlakke een word.
“Dis juis na aanleiding daarvan,” gebaar hy.
“Hier is nêrens waar ons kan gaan nie,” sê sy. En haar hand, die warm hand – dit móét warm wees, besluit hy koorsagtig – bly lê in die nessie wat Johnny Ponter se elmboog vir haar vorm.
“Ons kan … as jy nie omgee nie, my motor is hier buite.” Wanneer hy besef dat hy pleit, trek hy moer. Verduiwels, hy ken ’n soort lewe waar mens kan praat, normaal en diepsinnig kan praat, oor enige kwessie wat op jou hart lê. Al dink sy ouers hy is geslote, in sy hart weet hy die pad na hulle toe is altyd oop. “Meneer Ponter, dit sal nie lank wees nie. Sy is tog my niggie, jy hoef nie bang te wees …”
Dan, asof in ’n droom of ’n waas, sien hy hoe Elna stadig haar hand van Johnny Ponter se arm af wegtrek. Noudat dit blyk dat sy aan sy wens gaan voldoen, voel hy ’n opwelling van verklarende woorde in hom. “Dis net,” praat hy nog half oor sy skouer, “ ’n soort misverstandjie. Ek dink my ma het haar nie taktvol uitgedruk nie, en sy voel bitter sleg daaroor.”
Die laaste deel is seker nie heeltemal onwaar nie, besluit hy as hy, met sy hand liggies onder Elna se elmboog, effens skuins agter haar stap omdat die paadjie te smal is vir twee langs mekaar.
Hy maak die linkerhandse motordeur vir haar oop.
Hoe vanselfsprekend, dink sy, en onthou selfs in haar ontreddering om haar voete teen mekaar te hou as sy dit binnetoe swaai. In die motor is dit warm (hy het seker die verwarmer op pad hierheen aangehad) en sy voel die netheid aan, die koestering van versorging en goeie orde in die intieme binneruim. Dit bring ’n ontsettende vreemdheid in haar, asof sy vanuit ’n koue nag na ’n verligte gesinskamer staar.
As daar weerstand in haar was, verbrokkel dit nou, sodat sy ademloos, van binne uit stil, langs Christopher sit. En sy dink: Johnny Ponter het my vanaand gevra om met hom te trou. Sommerso half skertsend, voor Boet, asof hy alleen met haar nie die moed sal hê nie. Hy het gesê: “Hoe lyk dit, gaan ons twee dan ons goedjies saamgooi om plek te maak?” Dit was nadat sy hom vertel het van die nuwe baba wat oënskynlik by haar ma op pad is.
Goedjies saamgooi. Watse goedjies tog, het sy gewonder, en vaag gedink aan Dopper Joris van haar skooldigbundel. ’n Borsspeld vol met rooie klippies … bulsak … printjie met die plage van Egipteland. En ’n buiteseiltjie, wat sy vir hom moet wees.
“Wel, julle sal nou óf moet trou, óf moet vat,” het Boet gelag, en Elna kon onnoembare grappe in sy stem hoor broei.
Hoe kan ek, wonder sy nou met beklemming. Hoe durf ek, as dit nie die soort lewe is wat ek begeer nie? En op grond waarvan durf ek ’n ander soort lewe begeer? As ek maar net Elna Osman is, van die rooidakhuisie tussen die bulterige wildekweek en met die vis- en skyfiereuk en die fabrieksrook wat saam met elke noordewindjie kom?
Gedurende die maande wat sy vir Johnny ken, was sy nog nie by sy ouers aan huis nie. Dalk moet sy nou gaan, in haar soeke na helderheid. Dalk moet sy elke looppaadjie beproef, al moet sy dan honderd keer soekend op haar eie spoor terugdraai.
“Elna,” sê Christopher, “ek weet nie wat om vir jou te sê nie. Daar is eintlik niks wat ek kan sê om ongedaan te maak wat my ma gedoen het nie.”
“Nee, ek is bevrees daar is nie,” ontmoedig sy hom, nie omdat sy wil nie, maar omdat dit op hierdie oomblik die enigste logiese antwoord is.
“Dan het ek verniet gekom. Maar ek het tog geglo daar is iets wat ek kan sê, al spreek my gesindheid net tot jou. Terloops, my ma het vir my gesê dat sy met jou ma gepraat het, nie met jou nie.”
“Ek het gehoor. Ek was in die gang. Wou haar gaan groet. Ek hou … ek het nogal altyd van haar gehou.”
“Maar nou nie meer nie?” Hy sit na haar toe gedraai.
“Dit voel of ek iets verloor het; iets van die min dinge wat vir my waarde gehad het. Ek het nie geweet julle soort lewe is so nie. Ek het gedink