Louisa du Toit

Louisa du Toit Omnibus 5


Скачать книгу

senustelsel, holtes en organe. Dit …”

      “Dankie dat jy my daaraan herinner jy loop medies. Ek is erg beïndruk.”

      “Kom nou,” sê Christopher. “Is jy van plan om dit vir my moeiliker te maak as wat dit is?”

      “Natuurlik is daar ’n ons en ’n julle. By ons maak ’n man nie sommer ’n motordeur vir jou oop nie, en staan nie op as jy ’n vertrek binnekom nie.”

      “Bely jy of spot jy?” Want hy weet waaragtig nie met watter van die twee sy besig is nie. Hy het haar nooit voorheen geken nie, hoogstens van haar geweet. En met iets tussen verbasing en waardering besef hy nou dat sy ’n eie persoonlikheid het, en dat sy weet hoe om daarmee te werk.

      “Dalk albei.”

      “Waarom bly jy hier by jou ma-hulle?” wil hy weet. Hy sit na haar toe gedraai en wens hy kon nog nader aan haar skuif sonder dat sy dit verdag vind.

      “Dis goedkoper. En selfs ek moet iemand hê.”

      “Waarom sê jy ‘selfs ek’?”

      “Ingeval jy dalk te kenne wou gee dat ek nie een van hulle is nie. Want ek is een van hulle.”

      “Jy hoef hulle nie weg te smyt nie. Jy kan net jou eie paadjie loop. Soos my ma gedoen het. Wel, jou ma seker ook, maar ek weet minder van haar af.”

      “As ek soos jou ma moet word, ander uit die pad stoot om my eie paadjie te kan loop … nee dankie, dan bly ek liewer onder.”

      “Sy is nie werklik so nie. Asseblief, jy moet verstaan. Sy is ook net ’n verskeurde mens.”

      “Is dit verkieslik, sou jy sê? Moet ’n mens nie maar liewer heel bly nie, al is die produk dan minderwaardig?”

      “Jy is nie minderwaardig nie,” sê hy met stil, innige klem.

      “Wanneer het jy dit ontdek?” Sy klink nou behoorlik snipperig.

      “Nou pas. Ek kan met jou gesels, makliker amper as met Phoebe.”

      “Raai, die naam Phoebe klink vaagweg bekend. Maar moenie vergeet ons is familie nie, my liewe neef. Familie moet kan gesels, anders, waarna lyk dit?”

      “Phoebe is … ag, ek het sommer hardop gedink. Jy sal natuurlik nie belangstel in wie sy is nie.”

      “Tensy sy die dogter is van die dekaan van jou pa se fakulteit. Ek is geweldig geïnteresseerd in die dogters van die dekane van fakulteite aan universiteite.”

      “Jy is nie sarkasties nie, nè? Ek wil net seker maak.” Het sy ma tog nie dit alles grootdoenerig uitgeblaker nie?

      “Natuurlik. Selfs ek moet ’n wapen hê.”

      “Wat doen jy, Elna? Watse werk het jy? Ek het ’n vae idee dat jy kantoorwerk doen, maar verder niks.”

      “Ag, by ’n bouvereniging.”

      “Watter?”

      Sy noem die naam.

      “Maar dis nie sommer nie,” sê hy. “Dis ’n prestige-vereniging.”

      Moet sy nou sy goedkeuring kry oor waar sy werk? Maar sy word tog oorval deur die drang om aan iemand te vertel. Sedert sy vanmiddag tuisgekom het, waar die besoek van haar tante en die aanddrukte en die algemene atmosfeer nie bevorderlik vir so ’n aankondiging was nie, loop sy met die brandende nuus van die onderskeiding wat haar vandag te beurt geval het.

      “Die nuwe baas het my vandag laat roep,” vertel sy in ’n toon van egte beskeidenheid, “om te vra of ek kans sien om in die plek van sy persoonlike sekretaresse waar te neem. Sy het siek geword.”

      “Maar geluk!” Hy, die ingekeerde, ontdooi onverwags spontaan en vou sy hand om hare. Dit is warm, haar hand. Soos hy gedink het.

      Hy kom agter dat die aanraking haar ontsenu, asof sy liggies wil begin beef, of reeds begin beef het? Maar hy kry hom nie so ver om sy hand weg te neem nie.

      “Jy is die eerste vir wie ek vertel,” sê sy. “Ek wou dit vir my ma vertel, maar toe spring sy my voor met ’n ander soort nuus.”

      “Jou pa het ons al daarop laat drink,” onthou hy.

      “Red my siel. Ewenwel, toe hoor ek later jou ma se stem in die sitkamer en ek loop soontoe. Ek het seker gedink ek kan dalk vir haar vertel.”

      “En toe hoor jy …” Hy voltooi nie die sin nie, want dis nie nodig nie. Soos dit nie vir haar nodig was om hare te voltooi nie.

      Hy sit lamgeslaan.

      En so, weerloos in sy spyt en gestrooptheid, kan hy ten volle onder die invloed kom van die namelose soetheid wat daar van haar uitgaan, die onweerstaanbare warmte. Dat sy sy niggie is, sê net mooi niks. Sy is ’n vrou, en sy raak hom ten diepste.

      Sy greep op haar hand versterk, word klouagtig as dit opskuif teen haar jasmou. Die volgende oomblik, hy weet nie hoe nie, is sy vas teen hom, sny haar tand in sy lip en hoor hy haar liggies kreun.

      Ongerief? Genot? Hy wil nie weet nie, wil nie uitvind nie. Kan nie uitvind nie, want hy ken homself meteens nie, weet nie wat in hom gevaar het nie. Hy sal net altyd hierna weet dat hy nie anders kon optree nie.

      Dan kom die besinning, as sy haar met krag en weerstand teen hom verset. Hy los haar onmiddellik, hoewel hy die verbreking van die intense stroom wreed en pynlik vind.

      “Elna, ek is jammer. Ek weet nie wat my besiel het nie.”

      “Toe maar, ek weet.” Sy hyg, en hy vermoed selfs dat sy huil. “Dit was net maar vir jou ’n versoeking om een van ‘ons’ uit te toets. ’n Donker versoeking, voorwaar – en ’n veilige een, ver van jou blink lewe en jou Phoebe en jou ma.”

      Die motordeur vlieg oop, en die koue stroom na binne.

      Wag, wil hy roep. Wag, in ons soort lewe gee ’n man ’n meisie by die voordeur af.

      Maar hy wil nie hê dat sy hom in sy gesig moet uitlag nie.

      4

      Makkie bly maar klaerig, wat ’n ondraaglike toestand in die huis skep. Sy is moeg, en raas meer namate sy minder doen. As hulle haar eindelik so ver kry om ’n dokter te gaan sien (en hoe lank moes sy nie wag voor dit haar beurt was nie), is dit eintlik ’n verligting dat hy haar vir ’n onbepaalde tyd in die bed sit.

      Dit skep vir Elna ontsaglik veel werk en verantwoordelikheid, maar sy sien kans hiervoor wanneer sy op haar eie kan wees. Na hartelus ruim sy op wanneer sy saans van die werk af kom. Sy maak net die middeldeur toe en sorg dat sy saggies te werk gaan, sodat Makkie nie hond se gedagte kry nie.

      Maar Makkie gee nie juis om nie. Sy lê daar in die bed, moeg en traak-my-nie-agtig. Dit is asof sy sommer ten volle ingegee het noudat sy ’n wettige aanleiding gevind het.

      En Elna maak huis skoon. Dose, blikke, houers, jare en jare se opgegaarde briewe en nuttelose kennisgewings, brosjures, advertensies. Sy werk soos ’n besetene, merk met genoegdoening hoedat die rakke leër word sodat daar oplaas vir alles plek is. Met oorreding en geldelike bydrae van haar kant het sy vir Ossie en Boet so ver gekry om buite hand by te sit en selfs ’n tydelike tuinhulp te huur. Dit lyk reeds aansienlik beter. Die gras is natgelei nadat dit gesny is met die argaïese grassnyer wat onder stof en spinnerak weggepak gestaan het. Nou het die kikoejoe weer ’n kans om die wildekweek in te haal.

      Die paadjie word gelyk gemaak, sodat die hekkie kan toemaak. Met alle onkruid verwyder, lyk dit sommer leefbaar. Elna koop kappertjiesaad en plant dit aan weerskante van die paadjie wat stoep toe lei. Dit sal sorg vir ’n paar spatsels kleur.

      Want die lente begin aanbreek – vanjaar nogal vroeg.

      Waarom doen jy dit? vra sy haar af. Wil jy jou bloot onder werk begrawe, of het jy dalk ’n voorgevoel dat die huis in die een of ander stadium netjies sal moet wees? Sy probeer nie antwoord nie, want dit sal beteken dat sy te diep in haar eie gemoed moet delf. Of te diep in die